My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Wat doen jy met ‘n mol wat nie weet hoe om te mol nie?

Blesmol

Maklik – jy gee daai mol oor in die sorg van my dogter. Sy sal hom blitsvinning leer hoe om ‘n ordentlike mol te wees. Gister gaan doen sy en haar pa die gewone daaglikse rondte by die avokadopeerboom om te kyk of daar weer ‘n paar avos te oes is. Die volgende oomblik storm sy by die huis en, gryp haar kamera en skreeu: “Ma, Genis lek aan ‘n mol!”

“Daai goed byt! Kry die hond daar weg!” gil ek agterna. Ek weet, want dit was altyd my broers se grootste pret om molle uit te grawe en hulle dan op te stook om te baklei. Maar my dogter luister nie na my nie en ek hardloop om die simpel hond te gaan red. Daar bo by die hek lê sy amper plat op haar maag om die natgelekte mol af te neem en Genis hou toesig.

“Wat sou die mol hier buite in die volson op die grasperk doen?” wonder ek hardop. Gewoonlik is hulle sku vir sonlig en ek het nog nooit gehoor van ‘n mol wat stilstaan sodat ‘n hond hom kan lek nie.

“Ma, hy het probeer om ‘n tonnel te grawe, maar hy is nog te stoepit. Hy’s nog ‘n babatjie, kyk hoe wit is sy tande nog.” Ek gee die tande een kyk en jaag vir Genis aan huis toe. Die volgende oomblik kom my dogter weer teruggevlieg, gryp ‘n graaf en laat spaander. Wat nou?

‘n Rukkie later kom sy terug, doodtevrede. “Ek het nou vir hom ‘n gat gegrawe en hy het ingeklim en self begin grawe. Toe grawe ek vir hom nog een langsaan sodat hy makliker ‘n tonnel kan maak, en weet Ma, toe klim hy oor in die nuwe gat om daar te grawe. Elke keer as ek vir hom ‘n gat grawe, loop hy agter my aan en klim in die nuwe gat. Ek dink hy weet nou wat om te doen.”

Daar is natuurlik ‘n video gemaak: kyk net hoe ywerig skep hy die sand op met daardie voortande. Hy werk hom soos ‘n front loader met daai paar tande, grawe dan die sand onder sy lyf deur en skop dit uit die gat met die agterpote. Instink het oorgevat.

Toe ons vanoggend gaan stap, sien ons die netwerk van tonnels wat oor die grasperkie strek. Die mol-babatjie is geleer om ‘n mol te wees en sy pleegma is baie trots. O ja, en Wikipedia is geraadpleeg; dis glo ‘n blesmol. Vir my lyk hy maar taamlik harig.

Wel, tenminste is dit nie hier op ons grasperk nie; ek weet ook nou nie of al die bure so opgewonde gaan wees oor die oulike tonneltjies nie, maar daar is ‘n geredde mol op die erf.

Welkom Blessie!


Hierdie week se gasblogger vir die Lê-Jou-Eier uitdaging is Scrapydo2: “Wat doen n dier aan jou? Voel jy gemaklik in die geselskap van diere? Alles hang van jou reaksie af. Diere voel aan hoe die mens voel. Hul lees die menslike reaksies en gevoel soos n boek. Hierdie week gesels ons bietjie oor diere en hul maniere of reaksies op menslike optredes.”

Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=780871

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

47 Comments

  1. Wonderlik!

  2. Dis te dierbaar Hester!

    Ek dink hy is baie bly jou dogter het hom gehelp <3

  3. Ag jinne, dis regtig besonders! Jou dogter het ‘n slag met diere.Mooiste foto’s… mens kry nie sommer so ‘n kans nie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, dis die eerste keer in baie jare wat ek ‘n mol bogronds sien en hier is nogal baie van hulle. Ons het mos die heerlike sagte sandgrond.

  4. Hier sit ek nou hardop en lag vir die mol wat nie bles is nie, met ‘n peetma vanaf ‘n ander erf. Kostelik

  5. drkottaway

    Wow! What in the heck IS it?

  6. Ek dink jou dogter het haar roeping gemis. Sy moes met of tussen diere gewerk het. Hoop Blessie bly op sy stukkie grasperk en bou nie ‘n bruggie oor na julle toe nie 😀
    Ag daardie avos wat sommer so in die tuine groei daar by julle!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Blessie beter daar anderkant bly. Ons het sewe avobome hier in die straat op en alles wat straatkant toe val word opgepik deur wie ookal verbyloop. My seun het ‘n skottelvol afgemaak met ‘n vislyn toe hy hier was en in die week het hier ‘n munisipaliteitsbakkie met ‘n lang leer verbygery. Hulle snoei bome en toe “snoei” hulle sommer ‘n armvol avos ook wat ons kon deel.

  7. Griet

    Blesmol wat verseker ge-bless is. En nie sy einde met ‘n ongeluk met ‘n graaf raakgeloop het nie. In memoriam aan Bles. 🙂

  8. Wonderlike video. Hoop nie die molletjie hou sy lyfie eend en fikseer op sy pleegma nie!

  9. Hester, hierdie is die beste storie ooit! Jou meisiekind is my hero!!

  10. Mal hieroor en dink jou dogter is awesome!

  11. Te oulik van jou dogter! Wat n lekker storie!

  12. mammmmmiiieeeeee….. ek het die video veral geniet!

  13. Geweldug verhaal…ik zie het zo voor me gebeuren 🤣🤣🤣

  14. Jy het sopas my dag gemaak. Wat ‘n wonderlike storie en wat ‘n foto!! Dit laat mens sommer weer opgewonde oor die skepping en ‘n wonderlike kind wat soveel omgee! En selfs ou Genis wat dit goedgedink het om die mol te was in plaas van te proe.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie 😊 Ek was verbaas oor Genis se reaksie, want dit wat hy nie kan eet nie, stel hy gewoonlik nie in belang nie.

  15. Eerder schreef ik al over bijzondere dieren: https://robalberts.wordpress.com/2016/03/26/duinmollen-en-naakte-molratten/

    Maar jij maakt nu ook een bijzonder verhaal.

    Diervriendelijke groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Rob, dis interessant om te lees dat daar soveel verskillende soorte molle is. Ons het baie van hulle gesien waar ek grootgeword het in die sanderige semi-woestyn in Namakwaland (dis geleë net suid van Namibië in die Noordkaap provinsie van Suid-Afrika). As kinders het ons baie met hulle gespeel. Hier sien ons net die hopies grond wat hulle uitstoot in die tuin en ek was baie verbaas om hierdie enetjie bo die grond te kry.

  16. Fantastisch wat een mooie serie foto,s en video. Tja, mollen, ze kunnen je tuin behoorlijk onder handen nemen maar altijd ongezien.

  17. In ons tuin is kruipmolle wat hul tonnels net onder die grondoppervlak grawe. Ek leef gemaklik saam met hulle, maar ons twee honde dolwe die wereld om in ‘n poging om die molle te vang. Pragtige storie!

  18. Wow! What an interesting looking creature! Did you find him in your garden? I looked him up after watching the fascinating video!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Yes, we call them the garden moles and they can become quite a pest, especially when you are trying to grow vegetables. They eat their way through all the edible roots while the vervet monkeys feast on the fruits and leaves above ground. Gardening is always a challenge here. 😊

  19. Lekker gelees 😉
    Pragtige fotos, ek sou te bang wees vir daardie tande!