My vreugdes en frustrasies

My pa

Dit was my pa: oom Ley en Elvis se sloffies

By Melbosstrand

In die dae van weleer toe ons kennis gemaak het met die rubber strandplakkies, het ons hulle sloffies genoem. Die winkel het dit adverteer as beach thongs. My liefde vir hierdie skoeisel het dus reeds in my kindertyd begin. My pa was ‘n man wat daarvan gehou het om netjies aan te trek en wou nie lekker byt aan die idee van sloffies dra nie.

Ek en my ma het vir ons elkeen ‘n paar aangeskaf. Dit was so ‘n lafenis in die snikhete somer, maar my pa s’n het merendeels buite op die agterste trappies gelê. Het hy dit ooit gedra? Eerlik, ek kan nie juis onthou nie. Op ‘n ou foto (hierbo – jammer vir die swak kwaliteit) wat op Melkbosstrand geneem is, sit hy met ‘n wit hemp en ‘n langbroek aan, darem met ‘n paar informele skoene sonder kouse. Hy sou sy klere net uitgetrek het om te swem. Ek dink hierdie was een van Melkbos se besonder winderige dae, want my ma dra selfs ‘n serp saam met haar rok.

Maar die storie van die sloffies het niks met Melkbos se wind te doen nie. Dit gaan oor die 4-jarige kleinding van ons destydse bure wat so ougat was, glad nie op die bek geval en baie lief daarvoor om by oom Ley te kom kuier. Die huise in ons myndorp het destyds net draadomheinings gehad en  pa het soms die kleine snip oor die draad getel om te kom gesels daar waar hy in die tuin gewerk het. My kamervenster het uitgekyk op die tuin en ek het vele van die gesprekke daar tussen die vrugtebome aangehoor.

Pa was eintlik ‘n terughoudende man, baie stil, maar hy was lief vir klein kindertjies en het die wêreld se geduld gehad met Elvis Presley – dit was wat die kleinding haarself gedoop het en ons het almal ewe gedwee ingeval en haar Elvis genoem. Dit het my menigmale laat proes, want die ware Elvis was, volgens my pa, “van die duiwel” en hy het geen tyd gehad vir hom of sy sang nie. Die kleine Elvis het egter sy hart gesteel.

Ek onthou die dag wat sy weer oor die draad getel is om die nuus te kom vertel van haar nuwe klein sussie wat die vorige dag gebore is en om sommer haar nuwe sloffies vir ons te kom wys. So al geselsend slof-slof sy so agter my pa aan en hy luister geduldig, vra op ‘n stadium vir haar wat die nuwe sussie se naam is. “Hendrik Verwoerd”, was die pront antwoord. Daar was ‘n oomblik se verdwaasde stilte en toe het my pa kliphard gelag.

Klein Elvis het haar lekker vererg: “Ag oom Ley, hou tog jou bekkie!” snou sy hom verontwaardig toe, wat hom net harder laat lag het. Dit was my beurt om verdwaas te wees, want sulke snipperigheid, maak nie saak hoe oulik dit was nie, sou net ‘n frons ontlok het as dit uit een van ons kinders se monde gekom het.

My pa se paar sloffies wat op die kombuistrappies gelê het, het volgende klein Elvis se aandag getrek en dit kon nie hoër of laer nie, sy moes ‘n entjie stap in oom Ley se sloffies, net om hulle te toets. Sy is met die sloffies deur die kombuis gang-af tot op die voorstoep en weer terug. Ek en my ma het met ‘n glimlag toegekyk, want ons het onmiddellik gesnap dat Elvis vreeslik hou van die klapgeluide wat oom Ley se ver-te-groot sloffies maak.

Dit was ook nie honderd jaar later nie, toe is sy weer buite by oom Ley om hom in te lig dat sy sloffies baie beter klap as haar eie. “O”, lag hy ingenome, “wat is dan fout met joune?”

“Ag, oom Ley, my sloffies klap sommer kak!” was die antwoord wat my pa heeltemal uitgeboul het. Ek dink nie ek het hom ooit voorheen so hard hoor lag nie. ‘n Rukkie later het hy die hele storie met groot smaak oorvertel aan klein Elvis se pappa en toe sy teruggetel is oor die draad, het oom Ley se plakkies wat so lekker klap, saam met haar huis toe gegaan.


Hierdie storie oor my pa se plakkies is geskryf na aanleiding van scrapydo2 se kommentaar op my vorige blog Skryf-safari ek het my stapplakkies aan. Jy het melding gemaak van die klapgeluid van die plakkies en hierdie besondere herinnering in my geheue laat opspring.

Follow Dis Ekke

43 Comments

  1. Ek geniet jou stories uit jou kleintyd vreeslik! My eie groot liefde vir plakkies is ook alombekend tussen my familie.

  2. ‘n Wonderlike storie! Vandag is seker ‘n dag waarin ons albei ‘n bietjie oor daardie ‘sepia-dae’ dink!

  3. Dit het ek nou vreeslik geniet. Dink jy die manne daardie jare sou plakkies dra? Hulle was dan almal so ordentlik en netjies.

    • Andries Ley

      Natuurlik het ons plakkies (“dissipel tekkies”) gedra. Ek het selfs daarmee.berg geklim.

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Daarsy Kameel, daar het jy dit nou uit die bek van die jonger geslag – hallo broer! Dissipel tekkies, whaha, ek kan nie daardie een onthou nie. Ek onthou wel die Liewe-Jesus-sandaaltjies, maar ek dink dit was leersandale.

  4. Ek het nou lekker gelees hier by jou. Mooi vertel. Die klein Elvis was baie bekkig.

  5. Ps
    My boer hou ook nie van plakkies nie, ander dag n paar op n uitverkoping vir hom gekoop om na die hippie party te dra, moes oefen om met dit te kon loop ek het lekker gelag.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      😄 😃 😀 My man dood eerder as om sandale te dra. Hy’s ‘n hi-tech tekkieman. Ek het hom die laaste drie jaar in pantoffels ingeskel, want hy het oneindige probleme met bunions, maar die ydelheid tog!

      • Ooh ja, die boer ook, vellies, werk skoene en dan hi-tech tekkies, let wel, boere kleur. 🙂

  6. Ai nou so lekker gelees oor plakkies. Wat ek onthou van plakkies, is dat die dorings op my ouma se plaas, dwarsdeur gesteek het, maar dra het ons dit gedra!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek ken van daai dorings – ons het hulle dubbeltjies genoem. Ek sorg deesdae dat my plakkies ekstra dik sole het.

  7. Ek het die storie vreeslik geniet

  8. Hoe goed skets jy daardie toneel onder die vrugtebome. Daar’s niks wat mens se binneste so kan verteder soos die “bekkie” van ‘n bekkige kleutertjie nie.

  9. ❤❤❤❤❤

  10. Nostalgische groet,

  11. My pa het daai plakkies “toontrekkers” genoem … en volstrek geweier om dit te dra. Sy sandale moes gespes hê! Lekker gelees, Hester!

  12. Who’s the cutie with the pigtails?

  13. Griet

    En nou verstaan ek hoekom my kinders mal oor Oupa Dries is… en feitlik enige iets kan kwytraak en oupa het ‘n antwoord daarvoor 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink oupa Dries hou van al die aandag 😊 Met oupa Nic sou hulle heelwat versigter moes wees met wat hulle gesê het. Hy was in baie opsigte meer nougeset en ontoeganklik.

  14. Dis die oulikste storie

  15. Ek was as kind ‘n plakkiedraer. Ek het visplakkies gedra. En deur die jare die mooieres gedra wat mens in die winkels kry. Ek dink party mense se voet hanteer net ‘n plakkie kekkerder as ander.
    https://toortsie.com/2012/01/14/biegtyd/

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis seker waar. Jy moet onthou, op die platteland het ons basies altyd kaalvoet geloop. Die plakkies het maar net ‘n sool onder die voet verskaf om duwweltjies en gesmelte teer van jou voetsole af te hou. Een ding is seker, jy moet jou balans kan hou as die plakkies nat geword het, want dit verander in ‘n glybaan. Ek het onlangs weer twee pare boatshoes toegevoeg tot my bestaande versameling, veiligheidsomhalwe, veral as ons so op die rotse rondloop, maar dit bly net vyf minute aan die voete, dan irriteer die sandkorrels my. Ek bly maar ‘n kaalvoetklonkie.

  16. Julle het regtig hogere bure gehad! Elvis en Hendrik Verwoerd in een huis! 😁 Ek jan dink dat julle haar geselskap baie sou geniet.

  17. So ‘n lekker herinnering! Ons het daai plakkies “vissieplakkies” nav die vissiemotief.