Dit was in die dae voordat die deursnee Afrikaanse mans begin het om naskeermiddel en cologne te gebruik. Aan hierdie reuke het ek my pa herken: skeerseep, Kolynos tandepasta, ‘n tikkie Brylcreem om sy hare in bedwang te hou en Wilson’s XXX Extra Strong pepermente. Dit was sy Sondagreuk. Sy kerkreuk.
Sondae het ons twee keer kerk toe gegaan, soggens en saans. Iewers in die middel van die week het ons ook biduur toe gegaan in die aand. Soms was daar ook spesiale kerkdienste op ‘n Saterdagaand. Die kerkdiens self het gewoonlik so tussen twee en drie ure geduur, behalwe as daar ‘n doopdiens was of nagmaal, dan het ons nog ‘n uur langer kerk gehou.
Dis dan ook geen wonder dat ek my pa se kerkreuk so goed leer ken het nie. Ek het gewoonlik tussen hom en my ma in die kerkbank gesit. Die twee van hulle het nie net opgetree as my ouers wat gesorg het dat ek my bybelversies en godsdiens ingekry het nie, maar hulle het om die beurt ook gedien as my boekstutte wat my regop gehou het wanneer ek met my bybel voor my oë aan die slaap geraak het. Dan het hulle my weer regop gepluk om te staan wanneer die gemeente gesing of gebid het.
My pa was definitief die meer simpatieke een wat my dikwels toegelaat het om met my kop op sy skouer te lê en slaap. Eienaardig eintlik, want hy was ook die strengste waar dit by godsdiensopvoeding gekom het. Tog was hy geduldiger as my ma; ek was immers sy tiende en jongste kind, my ma se vierde, wat beteken dat hy heelwat meer oefening gehad het as sy. Wat my aanbetref, het hy ook ‘n meer gematigde humeur gehad as my ma, hoewel my broers dalk nie sou saamgestem het met hierdie siening nie.
In elk geval, so het die elf- of twaalfjarige ekke weer eendag ‘n bietjie ingedut op my pa se skouer, met een van sy Extra Strongs in my kies, en ek het so ‘n bietjie gekwyl op die boonste naat van sy baadjiemou. So met die wakkerwordslag het ek die nat kol waargeneem en dit was nie eens nodig om tannie Marie in die ry agter ons se ogies op die nattigheidjie te sien fokus nie – ek het geweet ek is in die moeilikheid.
Ek het so ewe saggies weer my kop neergelê op my pa se skouer en hard probeer om die taaiigheid en die ergste nattigheid uit te suig voor die afsluitingslied- en gebed. Die probleem is egter: hoe meer ek gesuig het, hoe groter het die kol geword. Ek het so stilletjies oorgeleun na my ma se kant toe en haar kantsakdoekie uit haar mou gepluk om die nat kol by te kom, maar daai sakdoekies was nie juis absorberend nie. Die skielike reuk van eau de cologne het my pa se neus so effens laat kreukel. Toe gee ek vir tannie Marie ‘n waarskuwende kyk en besluit om my mond dig te hou. My pa het niks opgelet nie, of so het ek gedink, maar terug by die huis het hy die pak opgevou en my ma gevra om dit by die dorp se droogskoonmakers in te handig.
My ma het beslis niks agtergekom nie, want by haar sou ek nie so maklik verbygekom het nie. My pa se pakke is gereeld ingehandig om skoongemaak te word, want hy het niks daarvan gedink om Sondagmiddag na kerk gou ‘n braaivleisvuurtjie aan te steek daar in die veld buite die dorp nie. Op sulke dae moes my ma voor die kerkdiens reeds al die vleis, slaaie en braaibroodjies voorberei het sodat my pa dit in die kar kon laai. My pa het daaraan geglo dat ‘n mens buite in die natuur vleisbraai met die hout wat jy in die veld vind en ek dink … dalk was die kerkdienste vir hom ook soms ‘n bietjie lank. Hy het nie kans gesien om eers huis toe te ry, ander klere aan te trek en dan weer “veld toe” te ry nie.
My ma het pligsgetrou vir ons almal draklere ingepak sodat ons die kerkklere sommer daar agter ‘n groot klip of ‘n bos kon uittrek, maar my pa was gewoonlik te haastig om te begin vuurmaak. Sommerso in sy pak klere (sien bewyse in die foto hieronder – jammer vir die swak kwaliteit). Dan moes die pak natuurlik weer skoongemaak word voor die volgende kerkdiens. Dit was ook my pa se Sondagreuk: die reuk van veldbossies wat brand en agterna die geur van braaivleis. Volgende Sondag sou hierdie reuk vervang gewees het deur die chemikalië wat gebruik is om sy pak skoon te maak

Ons braai vleis in die veld Sondagmiddag na kerk. Sien die Namakwalandse klipkoppies en ‘n kokerboompie in die agtergrond.
Hout. Dit was nie my pa se Sondagreuk nie; dit was sy elkedagse reuk. Hy het die pragtigste houtwerk gedoen. Ek onthou sy “werkskamer” met sy groot houtwerkmasjiene op die onderste vlak van die dubbelverdieping woonhuis. Dit was sy heiligdom en hoewel ek baie ure daar deurgebring het om te kyk hoe hy werk, het ek goed geweet dat ek aan niks mog vat nie. Dit maak nie saak nie, al wat ek wou doen is om doodstil te sit en kyk hoe hy werk.
Tot vandag toe kan die reuk van hout wat vars gesaag of geskaaf is my onmiddellik terugplaas in my kinderjare. Dan sien ek weer my pa besig om planke te saag of om pote te draai vir die meubels wat hy gemaak het en ek ruik die houtskaafsels, die olie, terpentyn en vernis. Ek ruik my pa.
Herrie
Uitsonderlike mooi herhinneringe. Langs jou pa staan ‘n gnaroe bos.
HesterLeyNel
Jy het skerp oë Herrie. Ek het ‘n vermoede dis wat ons ‘n taaibos genoem het – een met vruggies soos peperkorreltjies. Ek ken nie die term gnaroe (“knaroe dink ek het jy dit op Liesbet se skoen”) genoem. Verduidelik bietjie hoe lyk die bos wat jy so noem?
Tannie Frannie
My pa het ook sulke pakke gedra met die windmakerlapelle. Hoe geseënd is ons om so geliefd te gewees het!
HesterLeyNel
Is waar Frannie. Ons het dit kindertyd as vanselfsprekend aanvaar; ek wens ek het toe beter geweet.
Toortsie
Ek hou van jou pa.
HesterLeyNel
Dankie Toortsie en val maar in die ry – almal het van hom gehou. Ek dink dit was respek vir die soort man wat hy was.
Toortsie
Ja, hy klink soos ‘n liewe man.
HesterLeyNel
Nee, nie ‘n liewe man nie, daarvoor was hy te afgetrokke, selfs onbetrokke by tye. Daar was net iets wat mense na hom toe aangetrek het – dis moeilik om te beskryf.
Anne
I loved reading every word of this. Hester, you have drawn us into a very special memory of your Dad and of the times we grew up in. The olfactory memory is a strong one indeed. Thank you for sharing.
HesterLeyNel
Thank you Anne. I’ve said many times that our parents were not as involved in every aspect of their children’s lives as the modern parents appear to be. Since I started to write about these memories, I’ve been rethinking that statement.
Anne
Times were different: the love was there in abundance, just different expectations of how to show it.
HesterLeyNel
True, I’m beginning to understand that.
Abrie Joubert
‘n Ander wêreld Hester. Baie mooi herrinering aan jou pa. Kerkdienste 2/3 ure?
HesterLeyNel
Dankie Abrie. AGS kerk op die platteland in die sestigerjare. Drie ure was ‘n skaflike tyd vir ‘n kerkdiens.
seegogga
mooi herinneringe . snaaks hoe geure jou bybly
HesterLeyNel
Is dit nie? Daar is niks wat jou so vinnig terugpluk in die verlede as ‘n bekende reuk nie.
coetzee2014
Baie mooi. My pa, het ook sulke pakke gedra, maar my pa, het nooit, vleisgebraai nie en eendag gesê, as hy moet braai, sal hy nooit vleis eet nie.
HesterLeyNel
Nee! Wat het hy teen ‘n gebraaide skaaptjoppie gehad?
coetzee2014
Dit is vir my eintlik snaaks dat jou pa gebraai het, in ons omgewing, het bitter min, van daardie geslag se mans gebraai. Ons seuns, het later die braaivleisding begin. Ek dink nie, dat hy iets teen ‘n skaaptjoppie gehad het nie, hy het immers ‘n paar duisend gehad, waarvan hy die mees slagbare van kon kies.
HesterLeyNel
Noudat jy daarvan praat, ek kan nie juis onthou dat die res van die dorp se mense baie gebraai het nie. Tussen my pa en ons familievriende was dit egter ‘n instelling; die gunsteling manier van onthaal. Hy sou nie omgegee het om ‘n hele plaas vol skape te hê nie, maar ons het ons tjoppies by Robey Leibrandt se slaghuis gekoop in Springbok.
Eveline Lenderink
Wat een mooie man Hester .
HesterLeyNel
Hy was, Eveline, baie dankie.
Hier "blok" Ek!
Jou pa laat my so baie aan my kosbare oupa dink. Ek is mal oor hoe die oumense aangetrek het, elke dag was ‘n okkasie en ek dink rerig dat hulle opreg trotse mense was.
Nie daai soort trots van ek is beter as die volgende… rerig net trots op hul menswees en dit wat daarmee gepaardgaan. Jy het kosbare herinneringe van jou pa – dit is so groot voorreg xxx
HesterLeyNel
Ja, veral daardie dae toe die mans nog onderbaadjies en hoede gedra het, en ‘n sakhorlosie aan ‘n ketting – ek hou van die ou fotos. Ek kan nie onthou dat my pa ooit ‘n hoed gedra het nie, behalwe ‘n pet vir die son as hy buite gewerk het.
Hier "blok" Ek!
😁
VirgoC
Dit was so pragtig om te lees en sulke mooi memories van hom. Ek sommer gevoel ek is by julle toe jy skryf.
HesterLeyNel
Dankie jong, dis vir my lekker om so terug te dink oor die jare. Dit laat my ‘n bietjie vergeet van die hedendaagse vieslikhede op die nuus.
coetzee2014
ek het ‘n probleem. Slim kind, was op my rekenaar. As ek nou WordPress oopmaak, kort die heel boonste gedeelte, waar write en reader ens staan. Dus kan ek nie skryf nie. Ek gebruik Firefox. Enige raad, asseblief.
HesterLeyNel
Coetzee, jammer ek antwoord nou eers. Ons was onder by die see. Ek neem aan jy verwys na die Admin bar wat verdwyn het. Dis ‘n WP probleem, nie Firefox nie. Kyk net eers gou of jy dit kan regstel onder die Toolbar option. Ek het vir jou ‘n screenprint gemaak (kliek op hierdie skakel): https://prnt.sc/jjh5m5. In die print wys dit vir jou watter path om te volg en net onder dit wys hy vir jou hoe om die “Show Toolbat when viewing site” blokkie te tick. Scroll dan af en save jou settings. Laat weet my of dit werk.
coetzee2014
Ek het reg gekom, op Chrome. Dankie.
travel460
Jy vul ñ spasie in my eie lewe aan met jou skrywes oor jou pa, Hester. Die prentjies kry ñ nuwe lewe voor my oë, en dit doen goed. Om jou pa te vroeg te verloor, al was hy nie goed vir jou nie, laat altyd maar ñ leemte.
HesterLeyNel
Dankie Una. Ja, ek was gelukkig om my ouers te hê totdat ek my eie gesin gehad en gevestig was in die lewe.
sonell
Sulke spesiale herinneringe ❤️❤️
Griet
Dis ‘n besonderse mooi vertelling. ‘n Pa koester maar ‘n spesiale plek vir sy jongste… Laat my dink aan toe ons onlangs Johannesburg toe gery het, en my pa laat weet het dat hy ‘n rooster opgestel het vir huisskoonmaak as almal aanland. Die jongste kleindogter was hewig ontsteld, en oupa stuur toe ‘n boodskap: “Toemaar, Leane is Oupa se baba. Sy hoef NIKS te doen nie…” Konsternasie in die motor….
HesterLeyNel
Whaha, dis genoeg om ‘n burgeroorlog te veroorsaak.
perdebytjie
Ag dis nou so pragtig geskryf, Hester! Jou pa klink na ‘n besondere mens.
HesterLeyNel
Ek dink so, ja.
Kameel
Dis spesiaal om hom so te kan onthou Hester. Wou jou al vra oor jou Namakwalandse lewe… en nou het ek so ‘n kykie gekry.
HesterLeyNel
Namakwaland. Dit lê nog na aan die hart.