My vreugdes en frustrasies

Woordwarrel, My pa

Woordwarrel 4 November 2021: een dag saam met Pappa

Ek is vyf jaar oud en ek sit voor in die kajuit van Pappa se Bedfordlorrie. Hy laat my nie meer toe om agter op die oop bak te ry nie, want ek en Colin het eendag op en af gespring in die bousand wat agter op die lorrie gelaai was. Ons was so verdiep in hierdie spel dat die lorrie skoon onder ons uit gery en albei van ons hard met die sandpad kennis gemaak het. Niks oorgekom nie, maar Pappa was skoon bleek van angs en irritasie met ons stoutighede.

Colin is my maatjie, net so oud soos ek, en ons is vandag met ‘n bouvrag op pad na die plasie waar hy saam met sy mamma en pappa woon. Colin kan net Engels praat en ek net Afrikaans, maar ons gesels land en sand aanmekaar en verstaan mekaar baie goed. Colin se pappa is besig om ‘n nuwe waenhuis aan te bou en Pappa gaan hom help.

Pappa is ‘n argitek en bouer en hy verdien ‘n ekstra geldjie vir ons met hierdie naweekwerkies. Ek gaan saam omdat Mamma werk en ek nie alleen by die huis kan bly nie. Dis vir my die heel lekkerste ding om te doen, om saam met Pappa rond te ry na die boupersele en die plekke waar hy ekstra werkies gaan doen. Vandag is ekstra spesiaal omdat ek met my beste-este maatjie gaan speel terwyl Pappa werk.

Ons speel die graagste by die ronde sementdam op die plaas, want selfs so vroegoggend brand die Namakwalandse son jou vette uit as jy nie in die skaduwee bly nie. Langs die dam staan ‘n hoë windpomp wat elke nou en dan ‘n kreun gee soos iemand met erge maagpyn. Dan rammel die pyp wat oor die muur van die dam hang en spuug ‘n blerts water in die dam. Die water loop maar baie stadig in, want die wind is stil vandag.

Ons mag in die dam swem, maar ons mag nie water mors nie, want water is kosbaar in hierdie omtes. Die boerbokke en die paar melkkoeie wat Colin se pappa op die plasie aanhou, drink hierdie water en Colin lei sy mamma se groentetuintjie nat daarmee. Pappa hou ‘n oog oor ons terwyl ons speel, want hoewel ons albei goed swem, is dit gevaarlik om klein kindertjies alleen by die dam te los.

Nie een van ons het ‘n swembroek nie. Ek vou sommer my rok se soom onder by my broekie in en Colin swem in sy onderbroekie. Ons soek klein paddavissies in die water en gril vir die slymerige mos wat teen die binnewande van die dam vasklou. Wanneer ons dors word, drink ons van die water wat die windpomp uitspoeg. Daar is nie geld vir koeldrank nie en kinders drink nie koffie saam met die grootmense nie. Koffie gee ‘n kind vlooie in die maag.

Middagete is die toebroodjies wat Mamma vroegoggend vir ons ingepak het en die yskoue karringmelk wat Colin se mamma van die plaashuis af gestuur het saam met een van die kombuiswerkers. Soms kry ons van die magou wat sy van mieliemeel maak. In die kosmandie is ook vir ons elkeen ‘n lekker potgebraaide hoenderboudjie saam met ‘n bruin sousie waarin ons die toebroodjies doop.

Ná die ete speel ons in die koelte onder die peerbome wat nie hierdie jaar vrugte dra nie. Dis baie droog en die reën bly weg. ‘n Paar van die werfhenne loop ook tussen die bome rond en skrop vir iets om te eet. Ons soek vir die weglê-eiers, maar kry vandag niks, want hierdie henne is wetsgeleerd en steek hulle eiers goed weg.

Colin se mamma roep van die huis af. Sy wil hê ons moet ‘n bietjie groente pluk vir môre se Sondagkos. Ons soek jong-ertjies en groenbone aan die ranke en pluk twee lekker groot blomkole. Ek weet dat ek en Pappa ook van die groente sal kry om saam te vat huis toe, want dis hoe dit hier werk: Alle besoekers op die plaas kry ‘n ietsie om saam te vat huis toe.

Wanneer die son begin water trek, gaan ons kombuis toe, want dis tyd vir Colin om die hanslammers te voer. Ons maak ‘n draai by die kraal waar die veewagter nou besig is om die bokke te melk en kry elkeen ‘n bottel met ‘n rubbertiet vol melk vir die hanslammers. Die klein bokkies sluk gulsig aan die melk en trap met hulle harde kloutjies in jou skoot terwyl jy hulle vashou. Hulle ruik na vars melk en die wilde kruiebossies waaraan die ma-bokke gepeusel het. Mamma gaan weer kla omdat ek en Pappa by die huis aankom en ruik na bok.

Dan gaan haal ons ‘n vol melkemmer by die stal waar die koeie gemelk word. Dis vir die gesin se aandete. Ons mag nie by die stal ingaan nie, want die koeie is moeilik en laat nie hulle melk sak wanneer kinders om hulle lawaai maak nie. Ons staan by die deur en kyk hoe die werkers die melk uit die oorvol uiers laat sjiers-sjierts tot in die melkemmers.

By die kombuisdeur gee Colin se mamma vir my ‘n meelsakkie met groente in, en twee Koffiehuisblikke met die metaaldeksels sorgvuldig toegemaak. Een blik is vol karringmelk en die ander vol bokmelk. Pappa het ‘n staande order ingesit vir die tyd wat hy naweke hier op die plasie kom werk en elke week bring ons die leë blikke saam met ons terug in die Bedford.

Op pad huis trek Pappa die Bedford op die sypaadjie voor die vis-en-tjips winkel in die dorp en koop genoeg kos vir ons aandete. Terug by die huis gaan ek gou bad en solank my nagklere aantrek terwyl ons vir Mamma wag om van die werk af te kom. Pappa was homself sommer by die buitekraan mooi skoon en gooi sy vuil wit oorpak saam met die klere wat ek aangehad het op die hoop in die waskamer. Dan steek Pappa die ou praaimusstofie aan en kook die bokmelk in ‘n aluminiumpot.

Wanneer Mamma van die werk af kom, is sy altyd bly om ons te sien, maar vanaand trek sy haar neus op ‘n plooi vir die reuk van effens aangebrande bokmelk en paraffien wat in die lug hang. Ek en Pappa gaan sit elkeen met ‘n enemmelbeker vol warm bokmelk by die tafel en ons eet sommer die vis en tjips so uit die wit papier waarin dit toegedraai is by die winkel. Mamma en Pappa is albei moeg gewerk hier aan die einde van die lang week en ons gaan nie nog skottelgoed ook vuilmors nie. Mamma moet nog ons kerkklere regkry vir môre, maar ek is so moeg dat Pappa my halfpad deur die ete optel en kamer toe dra waar hy my op die bed neerlê en toemaak vir die nag.

Lees nog stories oor my pa en my herinnerinne aan hom by hierdie skakel.


Die plasing #Woordwarrel inspirasievonk 4 November 2021 het eerste verskyn in die blog Lekkervurigeaffere. Lekkervurig het aangedui dat hierdie week se inspirasievonk gevind kan word in die prentjie wat heelbo aan hierdie blog verskyn. Gaan skakel jou #Woordwarrel in die kommentare onderaan haar blogpos.

Hierdie bloguitdaging word gesamentlik aangebied deur https://hesterleynel.co.za en https://lekkervurigeaffere.blog/.

Hoe dit werk:

Die aanbieders sal om die beurt elke Donderdag voor twaalfuur ‘n inspirasievonk in die vorm van ʼn spreuk, spreekwoord, gesegde, vreemde woord, of nuutskepping op haar blog plaas om die uitdaging af te skop.

Deelnemers word genooi om die vonk te gebruik en net eenvoudig te laat waai – gaan net daar waar die woordmuse en jou gedagtestrome jou lei in ’n malse maalkolk, in stroomversnellings, in stil waters of in ruisende valle, vlak of diep.

Daar is geen beperkinge op die tipe skryfsel wat jy wil pleeg nie. Skryf min woorde of baie, ‘n haikoe of enkelreël, opstel, gedig, resep of wat ook al die inspirasievonk losgeskop het in jou skrywersbrein.

Oopbek en loshande is die enigste reël.

  • Publiseer jou bydrae voor of op die Sondag wat volg op die datum van die uitnodiging.
  • Plaas die skakel van jou bydrae in die kommentaarblokkie (“comments section”) onderaan die blog waarin die inspirasievonk verskaf word om te verseker dat daar ‘n terugskakeling (“pingback”) na jou inskrywing sal wees wat deur ander lesers gevolg kan word.
  • Jy mag dit makliker vind om die twee aanbieders se blogs te volg om te verseker dat jy nie die inspirasievonk vir die week misloop nie.
  • Plaas gerus ‘n kopie van ons Woordwarrel-logo bo-aan of binne-in jou blog, sodat ander skrywers weet dat jou bydrae deel vorm van hierdie uitdaging.
  • Gebruik die hutsmerke #Woordwarrel #Afrikaans

Laai waai en geniet dit.

Follow Dis Ekke

19 Comments

  1. Hester, kosbare tye met pa. ‘n Skatkis vol oudag se onthouvuurtjies.

  2. Ag hoe heerlik is hierdie kindertyd. Dankie vir die lekker vertel.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Kameel. My pa was ‘n besondere man en eintlik is dit half ‘n probleem, want hy het ‘n benchmark daargestel waaraan geen ander man in my lewe ooit kon voldoen nie.

  3. Sorgelose dae en mooi onthou dinge. Dankie vir die deel, dis so mooi

  4. Hester, jy neem my terug na my jong dae: moenie water mors nie (what;s new?), geen geld vir koeldrank nie, gespeel in die sand en die veld, groente pluk … daar was altyd werk om te doen, maar daar was liefde – baie liefde. Ek het hierdie verhaal van jou gelede baie geniet.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Anne, hierdie terugflitse laat my telkens besef hoe leeg ons lewens gewrord het die laaste paar dekades. Alles is net ‘n gejaag na wind. Dis leklker om nou en dan stil te staan en weer na te dink oor dit wat werklike waarde het.

  5. Heerlik gelees aan jou kleurvolle terugflits. Dit gee my sommer heimwee na daardie dae. Het jul ook biesmelk gekook en dan geëet? Dit was een van my lekkerste ete, daars altyd orige biesmelk gekook spesiaal vir my. Ek kannie onthou dat my twee susters ooit dit geëet het nie. Die tietiebottel en lammers was ook vir my spesiaal. Ek ruik selfs sommer nou die reuk van die bokke. Ons het by vriende van my ouers in hul plaasdam geswem saam met paddavissies en -slyk, niks omgegee nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, ek het wel gehoor van biesmelk. Ek was mos maar ‘n dorpskind en het die plaaslewe so tweedehands leer ken wanneer ons by familie gaan kuier het of wanneer my pa odd jobs gedoen het op die plase rondom ons. Ek het dit altyd vreeslik geniet om so buite “op die vlaktes” te wees, soos my ma dit genoem het.

  6. Van Perdebytjie, per ongeluk op my blog….”Nou so lekker gelees, Hester. Jou manier van vertel het my meegesleur na die verlede. Pragtig geskrywe!”

  7. Hopelik lewer ek nou op die regte plek kommentaar.
    Ek het hierdie nou so geniet. Jy het ‘n manier om mens in die storie in te trek, sodat ek dit saam kon belewe. Jou pa klink na ‘n besondere mens.