‘n Toe bek, is ‘n heel bek sê die spreekwoord. Ek noem dit ‘n #pynindiegat om die heeltyd te voel asof daar van my verwag word om saggies te trap, so asof ek op eiers loop. Sit ek my voet te hard neer, gaan die kakeiergeel die fan strike.
Verskoon my Frans, maar blykbaar is kragwoorde omtrent die enigste ding wat deesdae uit my mond mag kom sonder die dreigement dat ek in die hof en/of tronk sal beland. Wat die res aanbetref, moet ons mos deesdae ‘n hele nuwe taal aanleer sodat jy nie ‘n woord gebruik wat polities nie korrek is nie. Sosiale media, veral, het in ‘n mynveld verander en jy moet versigtig wees waaroor jy gesels.
Rassisties. Oor hierdie een wil ek nie eens gesels nie. My boodskap aan wit, swart, bruin en enige ander kleur waarvan ek nie weet nie: steek jou race card in jou gat en hou hom daar.
Geloof. Ek het ‘n groot geloof in die inherente goedheid van die mensdom (natuurlik word ek so elke nou en dan uit my skoene geskok). Ek probeer om ‘n “goeie” mens te wees – een wat nie ander seermaak of aanstoot gee nie, hoewel ek dit soms onwetend doen. Andersins speel geloof nie regtig ‘n rol in my lewe nie. Los my maar uit die vervelige debatte asseblief.
Geslagsrolle en seks. Besluit asseblief watter geslag jy is of wil wees en hoe jy jou sekslewe wil bedryf in joue eie PRIVATE space. Ek wil nie weet waar hoe en met wie jy dit doen nie.
Body shaming. My gewig word vir my ‘n probleem wanneer ek nie in my klere pas nie of wanneer ek nie met gemak oor my maag kan buig om my tekkies vas te maak nie. Jou gewig word vir my net ‘n probleem wanneer ek heeldag op Facebook moet vaskyk in maeres, vettes, rekmerke, rimpels, los maagvelle (jimmel, mag ek hierdie woorde gebruik?) en die getwis daaroor in die kommentare moet lees.
Mens, wanneer jy voor my staan, sien ek nie jou kleur of liggaamsbou nie; ek sien ‘n mens wat dieselfde sorge, smarte, vreugdes en siektes verduur as ek. Jou seksuele voorkeure maak nie saak wanneer ons gesels oor ons tuine of die reënval nie. Die kerk waaraan jy behoort of die godheid wat jy aanbid is jou saak. Al wat ek WIL raaksien is ‘n persoon met wie ek kan gesels en dalk mee kan vriende maak.
Dis blote goeie maniere om nie so te leef dat ander mense aanstoot neem oor jou leefwyse en dit wat by jou mond uitkom nie. Indien daar dalk onverhoeds ‘n glipsie van die tong plaasvind, vra ek sommer noual om verskoning.
Een ding is egter seker. Ek gaan nie op ‘n straathoek staan en jou salueer omdat jy “anders” dink nie. Ek gaan nie ‘n nuwe onbekende taal aanleer net sodat almal gelukkig kan voel nie. Ek gaan ook nie met ‘n “askies-my-asseblief” houding rondsluip nie. Ons het almal ons eie duiwels waarmee ons stry; ek het nie tyd of lus vir jou stront nie. As jy nie hiermee kan saamleef nie, hou verby. “Do not pass Go. Do not collect R200.” Met ander woorde, moenie vir my ‘n #pynindiegat wees nie.
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die paddatjie of die InLinkz skakel net daaronder:
http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=762615
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
wegkruipertjie
Amen (skuus die pun) op daai een. Ons is almal mense, behandel my soos jy behandel wil word en ek doen dieselfde
HesterLeyNel
Presies
Lewies Mymer
Vat jy daai amen so uit my bek uit! Se ek dus maar sela.
Kameel
Sjoe jy is kwaai vandag…. is dit die hormone wat pla 😨 Ek voel nou soos Woestynkind… kom ons drink maar ‘n glasie wyn en wees vriende. Ek hou van jou beskrywing oor hoe jy na ‘n mens kyk… die wêreld sou ‘n beter plek gewees het, het ons almal so gelewe.
HesterLeyNel
Dankie Kameel, nee ek is nie kwaai nie – dis maar my lewensuitkyk. Mense kan so onnodig kras en veroordelend wees. Ek haat dit. Ek is baie vreedsaam, tot iemand my in ‘n rigting probeer dwing waar ek nie wil gaan nie.
sonell
Baie goed gesê! 1000 likes!!
HesterLeyNel
Dankie Sonell☺
perdebytjie
Sjoe, uitstekend gestel Hester! Ek stem absoluut saam oor alles.Deesdae loop mens omtrent op eiers en as jy uit konteks aangehaal word,kan dinge warm raak.Ek wonder of ons oor ‘n paar jaar woorde soos swart,wit,bobbejaan,aap,vark,esel…in ons woordeskat gaan hê?
HesterLeyNel
Daar word mos nou nuwe woorde uitgedink wat “veilig” is om te gebruik. Dalk moet hulle spesiaal vir ons op-die-oomblik-benadeeldes ‘n nuwe woordeboek uitgee.
perdebytjie
Ek is net so geïrriteerd oor die weglating van vroulike vorme in Afrikaans en natuurlik “leerlinge” wat nou skielik “leerders” geword het!!
HesterLeyNel
Ek was nog ‘n skolier! Haai weet jy, die weglating van die vroulike vorms is vir my nogal ‘n goeie ding (taalgewys), want ‘n dokter is ‘n dokter, so ‘n onderwyser kan maar ‘n onderwyser wees – dit maak dit makliker om te praat / skryf. Dan kan beide onderwysers dalk dieselfde salaris ook kry as die taal-onderskeid verval.
perdebytjie
Dis ook waar, maar dis weereens ‘n bedekte vorm van politike korrektheid. Die taal word m.i. verarm daardeur. Dis seker maar persoonlike opinie.
HesterLeyNel
Reg, dit is net verskille in opinies. Hoe ons die verskille hanteer, is wat vir my belangrik is.
scrapydo2.wordpress.com
Daar het ons dit nou mooi uiteengesit gekry. Leef en laat leef. Respek is al wat nodig is dan sal dit goed gaan. Lyk soms asof sommige ouens nie wil hê dat mens as mens erken moet word nie. Hoe lyk die weer daar? Hier dreig nou n sikloon wat ons glo teen vanmiddag kan tref.
Een uiterste na ander maar dis die natuur.
HesterLeyNel
Dankie Ineke, ek begin dink dat goeie opvoeding iewers deur die krake val deesdae. Hier by ons is die weer nog dieselfde – nat, winderig en buitengewoon koel vir hierdie tyd van die jaar. My seun in Gauteng sê dis natterig daar by hulle ook en die een in die Kaap rapporteer elke dag warm, droeë weer. Julle moet veilig bly daar; ek hoop die sikloon veroorsaak nie te veel skade nie.
scrapydo2.wordpress.com
Skade is nogal groot maar gelukkig het ons die ergste vrygespring. Woeste wind en reën gehad wat ook nodig was. King tide, na die Full moon spektakel, het alles vererger met vloede en skade. Ek glo steeds dat die maan alles beinvloed.
HesterLeyNel
O ja beslis, jy kan duidelik die maan se invloed waarneem as jy kyk hoe die weer verander saam met die stand van die maan. Jammer oor die skade, maar ons hoop die ergste is nou verby.
scrapydo2.wordpress.com
Dankie. Vandag net buie maar n ysige suidewind wat temperature van gister se amper 30 grade laat daal het na 15 grade. Maar ons kla nie. Dit het gereën. Hul het weer n stuk oor Kaapstad gehad wat net 50 liter water per dag kan kry. Dis nie n grap nie.
HesterLeyNel
Ja en nou sit ons met die probleem dat die gebottelde water industrie in ander dele van die land onder druk geplaas word, omdat die bottels water aan Kaapstad geskenk word. Almal is bang dat die pryse sal opgaan.
scrapydo2.wordpress.com
Bose kringloop!
HesterLeyNel
Jip
Travel460
So ń bek…mond moet stroop kry!(gits, is dit hoe ons dit sê? Of is dit suiker?) Jy slaan die spyker op die kop, Hester. Sien, dis hoekom ons by jou lees. Jy is eerlik en opreg.
HesterLeyNel
Jêm! Haha, dankie Una dat jy tyd maak om te lees so deur jou werkvakansie en vir die kompliment.
Lewies Mymer
Raak gese! ook my sentimente.
HesterLeyNel
Dankie, ek is bly dat daar nog ander mense is wat saamstem. Ons wil almal graag spesiaal wees, maar ek is nie lus vir die ouens wat spesialer (my woord) wil wees as ek nie.
lekkervurig
Tjeers en hiep-hiep-hoera, Hester. Ek wou nog sê, toe sê jy dit reg.
HesterLeyNel
Dankie lekkervurig, ek voel sommer beter na so ‘n bietjie stoom afblaas.
Abrie Joubert
Na ek in Desember aan ‘n fietswedren deelgeneem het was my saal (of was die my besluit) vir my ‘n pyn in die gat gewees. Dus verwelkom ek enige beroepe wat pyne in die agterstewe sal verminder.
Hester ek ken mos ‘n vriendelike en invloedryke en belangrike persoon… was nie van plan om te post nie maar het (nog onvolledig) en het die 12 00 cut of vir inlinkz gemis. Sal jy asb so gaaf wees?
HesterLeyNel
Ek sal so maak. Die nuwe uitdaging is geplaas en gereed vir jou om die bal veldaf te skop!
Abrie Joubert
Dankie. Sal op die laatste die naweek skop.