My vreugdes en frustrasies

My eiers

Lê-Jou-Eier: Tjoppie koppie, tjoppie koppie, àfkop

Image obtained from Pixabay CCO Creative Commons

Hierdie week se uitdaging is Sulke vriende het ek nie nodig nie, verwysende na daardie toksiese soort mense wie se vriendskap nie in jou lewe waardeer word nie.

Hierdie uitdaging het nou vir my ore aangesit, want by nadenke het ek besef dat ek nie juis vriende het nie. Ek het nie eens ‘n hele hand se vingers nodig om my vriende te tel nie. Nou kan ek nie besluit of ek dalk een van daardie toksiese mense is wat almal probeer vermy en of ek (nie heeltemal onbewustelik nie) mense op ‘n afstand hou. ‘n Kombinasie dalk?

Ek het beslis voorheen vriende gehad. Die meeste van daardie “vriende” het my lewendig ontval toe ek ‘n verbod op alkohol in my huis ingestel het. Nog ‘n paar het gesneuwel toe ek begin weier het om toe te laat dat mense in my huis rook. Die laaste ontslapenes het heengegaan toe ek die vriendskappe so een vir een onder die guillotine geplaas het. Tjoppie koppie, tjoppie koppie, àfkop.

Daar was die vriendin wat hoog en laag gesweer het dat haar dag nie volmaak is tensy sy tenminste eenkeer met my gesels het nie, selfs al is dit oor die telefoon. Ek was natuurlik gevlei en het haar nogal geglo tot haar tienjarige seuntjie op ‘n dag die aap uit die mou gelaat het: “Ag Mamma, jy sê vir almal so”. Tjoppie koppie, tjoppie koppie, àfkop.

Dan was daar die kollega wat jarelank elke dag saam met my gedurende middagete die strate ingevaar het op soek na koffie, toebroodjies en ‘n sitbankie waar ons rustig kon rook. Sy het die mees interessante huwelikslewe gehad, glo my, ek het elke woord daarvan gehoor, elke etenstyd: hoe hy haar kop in toilet gedruk en die ketting getrek het, hoe sy hom met ‘n hoëhakskoen ‘n gat in die kop geslaan het. Never a dull moment. En sy het mý skouer gekies het om op te huil! Ons het op ‘n stadium getrek en ek en my vriendin het kontak verloor. Na jare het ons mekaar weer raakgeloop en ek is genooi om te kom kuier. Haar destydse man was in die tronk (nee, ek weet nie hoekom nie) en ek het die hele aand geluister hoe haar huidige boyfriend haar verniel. Nie een keer gevra hoe my lewe verloop het nie. Tjoppie koppie, tjoppie koppie, àfkop.

My heel beste vriendin het nà ‘n paar biere (wat sy gedrink het) een aand besluit dat haar nuwe boyfriend te veel aandag aan my gee. Ek is gevra om haar huis te verlaat, wat ek met groot spoed en ‘n dankbare hart gedoen het. Oukei, sy was gekletter en het seker die lewe deur ‘n ander bril beskou, maar glo my, hy was die lelikste, vaalste ou mannetjie wat ek ooit in my lewe gesien het. Geen persoonlikheid nie. Tjoppie koppie, tjoppie koppie, àfkop. Maar dit was nie die einde van die storie nie.

Ongeveer vyftien jaar later bel sy my uit die bloute, vreeslik vriendelik, asof niks ooit skeefgeloop het nie en asof ons mekaar sommer net nou die dag nog gesien het. Sy moes ‘n sterwende familielid kom besoek in ons stad en wou weet of ek haar op die lughawe sou kom haal om by die familielid se huis af te laai (‘n rit wat ongeveer drie ure sou duur, aangesien ek redelik ver van die lughawe af woon) en dan kan ek haar weer vroeg die volgende oggend oplaai en terugvat lughawe toe. “Ag toe man, dit sal mos lekker wees om so ‘n bietjie te kuier!” Ses ure lank in die kar terwyl ek jou heen en weer vervoer? Jy moet jou kop laat lees. Ek het die telefoon sonder om te groet baie beskaafd doodgedruk en het nog nooit weer van haar gehoor nie.

So daar is die rede vir my gebrek aan vriende – ek het skynbaar ‘n ongesonde aantrekkingskrag vir patalogiese leuenaars, psigopate en gebruikers. Ter wille van my eie gesondheid moet ek sonder vriende bly. Ek het nog steeds kontak met mense wat ek deur die jare ontmoet het en met wie ek op ‘n informele vriendskaplike voet verkeer. Soms kuier ons saam. Meer dikwels gesels ons op die net.

Maar dit sal nie weer gebeur dat ek sommer iemand in my lewe sal toelaat wat daarop uit is om met my kop te smokkel nie. Remote control vriendskappe werk goed vir my.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

34 Comments

  1. Jy het gesonde grense. Ek raak lief vir mense en dan vreet ek vreeslik baie op. Partykeer probeer ek beskaaf ‘n bietjie afstand skep ter will van my eie humeur, maar ek gee gewoonlik weer in. Nie dat vriende ooit by my aan huis kom kuier nie. Ek moet verseker ongasvry wees. Ek weet net nie hoe nie.

    • Comment by post author

      Ek ontvang ook nie graag mense in my huis nie en ek gaan kuier ook nie by vriende nie. Ons kuier gewoonlik by ‘n vakansieoord se braaiplekke of by ‘n eetplek in die buitelug as die weer dit toelaat. Dis net makliker en gee ons ‘n kans om uit die huis te kom. Ek ly kronies aan cabin fever.

  2. Interessant. Food for thought too 🙂

  3. Ek sal maar versigtig trap daar by Hester😝😄

  4. Ek neem maklik mense uit vir koffie of ete. Ek dink tog ek sal lekker by jou kuier.

  5. Ons almal het seker al in die strik van toksiese vriendskappe getrap en lelik tweede gekom. Dit maak mens versigtig.

  6. Ek het altyd gedink as ek ses pelle het om my eendag grafwaarts te dra het ek genoeg vriende. Ek kom egter nie daarby uit nie–maar as die ou liggaam veras word is ses draers ook nie nodig nie.

  7. Toe besef jy dat jy nie juis vriende het nie!!! Miskien moes jy nie dié onderwerp gekies het nie 😀😀😀 Ek trap versigtig om daardie tjoppie koppie…. afkop.

  8. Nou vertel jy nogal soos ek dit ook sien. Daardie uitsuiers en ruglêers weet om my uit te kies. Ek kan mos nie nee sê nie ten koste van myself. As ek egter genoeg het moet hul maar mooi loop dan tjop ek ook die koppe mors af.

  9. Ek is ‘n groot “loner” en dit frustreer mense nogal baie, soos laasnag toe my man weer vir my sê, jy het so baie mense wat van jou hou en ek hom terug antwoord, ja, en netso baie wat my glad nie kan verdra nie. Maar ek en ‘n brak by my voete laat my voel of ek in die hemel is, wat afgerond word met ‘n boek in die hand.

  10. Hi Hester ek het hierdie keer gewik en geweeg maar nie daarby uitgekom nie. As ek guillotine gehad het het ek ook oorweeg om die vriendskappe te beeindig klink na pret: Tjoppie koppie, tjoppie koppie, àfkop! Ek gaan hierdie keer wel deelneem. As ek maar liewer sondr ‘n radikale gevolg maar behoort oulike storie te maak. Weer ‘n laerskoolstorie.