Die voortslepende waterkrisis aan die Suidkus waaroor ek vroeër reeds geblog het (sien Eerste Wêreld probleme), het die beste en die slegste karakter-eienskappe in die gemeenskappe na vore laat tree. Heel voorspelbaar.
Daar was diegene wat ingespring en probeer help het waar hulle kon deur water aan te ry, aan te bied dat mense kon gaan water haal in woonbuurte waar dit wel beskikbaar was en selfs vreemdelinge genooi het om te kom bad. Dan was daar natuurlik hulle wat gekla en gekerm en geweeklaag het en nie ‘n hand uitgesteek het om te help werk aan ‘n oplossing nie.
Daar was die gewone politieke moddergooiery, seker nie onverdiend nie, maar wel in sommige opsigte onwelvoeglik. Daar was ook die verwagte vingerwysing na amptenary wat nie hulle werk behoorlik doen nie, wat seker ook die waarheid is, maar moes dit op so ‘n kru wyse uitgedruk word?
So sien ek vanoggend op ‘n amptelike faceboek-groepie geskep vir hierdie doel, ‘n pos smekend om hulp vanuit ‘n afgeleë landelike omgewing, reeds twee weke lank sonder water. Daar is fotos geplaas van die waterpunt waar die gemeenskap gewoonlik hulle water verkry. Dis net ‘n regop sementpilaar opgerig op ‘n sementblad, waar water getap kan word om aan te dra huis toe. Ongelukkig is die kraan verwyder deur diewe; nie dat die kraan juis saak maak nie, want daar is in elk geval nie water in die pype nie. Daar is ook nie watertenks opgerig om die nood te verlig nie.
In die kommentaar op hierdie pos word die klaer kortweg aangeraai om ‘n kraan te gaan koop en siedaar! … daar sal water wees. Wat is die doel daarvan om ‘n kraan aan te sit, dit sal tog net weer gesteel word, meen ‘n ander. Wat van ‘n handpomp of ‘n stelsel waar elke persoon sy eie kraan moet bring, vra nog een – die water word mos gratis verskaf. Die verskaffing van krane sal net aanleiding gee tot meer diewery en ‘n verwagting dat krane aanhoudend op aanvraag vervang moet word. Ons het ‘n lui nasie geword wat verwag dat alles vir ons gedoen word.
Die feit dat daar nie water in die pype is nie, word heeltemaal veronagsaam. Bring net jou eie kraan, dit sal werk en plastiekkrane is goedkoop.
Die venynigheid van die hele bespreking het my naar laat voel. In daardie gebied, meer as ‘n halfuur se ry per motor van die groter sentrale dorp af, woon daar ou mense, siek mense, mense met babas en klein kindertjies, mense wat nie altyd ‘n werk het nie, mense wat nie eens elke dag ‘n brood kan bekostig nie, laat staan nog ‘n plastiekkraan.
Hoe onverdraagsaam tree ‘n groot deel van ons ou volkie tog op, hoe haatdraend, bitsig, ongevoelig en liefdeloos. Domonnosel ook. Is dit dan ‘n wonder dat ons na soveel jaar in hierdie land nog geen voet vorentoe beweeg het om mekaar op gelyke grond te vind nie?
Ek skaam my.
travel460
Hester, ek skaam my net so. Hoe ons sulke dom onnoselle voorstelle op sosiale media kan maak, gaan my verstand te bowe.
Hier "blok" Ek!
Dit is die norm, arrogansie baiekeer vd wat die meeste het omdat hulle onder die indruk is dat geld ALS kan koop.
HesterLeyNel
Of omdat hulle voel hulle is geregtig daarop om meer te hê.
Hier "blok" Ek!
Netso ‘n munt met twee kante soos gewoonlik.🤗
wegkruipertjie
Ons het 2 dae nie water gehad nie(storie vir ‘n ander tyd) en dit was vreeslik. Ek kan net myself inding wat julle moet deurgaan. Ek hoop dat daar gou weer sal water wees. Meer nog, dat die mense sal saamstaan eerder as saamslaan in die krisis. Sterkte
HesterLeyNel
Dankie, hier in ons dorp het ons darem nou weer oop krane, maar hierdie probleem bly hang soos ‘n swaard oor ons almal se koppe.
Hier "blok" Ek!
Hester, ek skaam my dood saam met jou. Ek werk met die armstes van die armes en ek sien daagliks dat genade met mekaar net ‘n woord is, en nie soos baie v ons wat onsself tog so maklik Christene noem omdat ons klaarblyklik glo, en dan baie kieskeurig besluit wie verdien die woord genade – wat op die einde ons redding as mens is!
HesterLeyNel
Dis verdomp tragies Elanè. Ek laat maar net my kop hang.
Lewies Mymer
Lekker om vinger te wys. Pleks die vingerwysers of probeer help of ophou om hulle te verlekker.
HesterLeyNel
Ja, maar hulle reken mos nou hulle betaal vir die water, dus mag hulle drink. Die res moet nou maar dors bly.
rondomtaliedraai
Baie sterkte
HesterLeyNel
🙂
Anne
Cry our Beloved Country. Our water supply is now switched off at night. When will this nightmare end?
HesterLeyNel
Anne, with our ever weakening infrastructure I’m afraid it can only get worse.
Aletta - nowathome
Dis vreeslik! Hier by ons in die Kaap gaan dit ook maar woes. Waterbeperkings word elke dag strenger!
HesterLeyNel
Die droogte ja en ‘n gebrek aan damme dalk ook. Ons groot wens vir julle is dat die reën sal opdaag om die droogte te breek. Wat hier aan ons kant so hartseer is, is dat ons ‘n oorvloed water het in riviere en dit reën meer as gereeld, tog is daar mense wat nie skoon water het om te drink nie. Gebrekkige infrastrukture in beide gevalle.
Aletta - nowathome
Dis waar!
scrapydo2.wordpress.com
Hoe tragies is dit tog dat mense so venynig teenoor hulpbehoewendes kan wees. Die ouens met die baie is in n mate tog maar die oorsaak van die omstandighede. NZ is bv n eiland wat omring word deur water. Die klimaatsverandering veroorsaak dat daar waterskaarste is. Nou moet daar gespaar word en beperkings word ingestel. Die houding is: Hoekom moet ek bespaar? Daar is genoeg in die dam. Probleem is daar is te veel mense vir die dam. Nou brom hul weer omdat daar vergroot en verbeter moet word. Ek wonder hoe hul sal reageer as daar geen water in die kraan is nie want daar is nie meer water nie. My hart gaan uit na daardie minderbevoorregtes. Ek hoop regtig dat daar uitkoms kan kom.
HesterLeyNel
Hierdie is die soort swaarkry waarvan die res van die wêreld niks weet nie, want dit word verberg agter ‘n politieke masker.
Birgit | Groove Is In The Heart
Met die droogte hier innie Kaap is dit ongelukkig ook ons voorland. Ek sien al klaar hoe selfsugtig mense is en baklei by die openbare fontein in Nuweland (Kaapstad). Dis vreeslik!
HesterLeyNel
Ja en dit is nie asof die land nie reeds genoeg probleme het op ander gebiede ook nie. Ek het nou-net jou artikel oor die Bo-Kaap gelees en besluit ek moet ‘n plan maak om te gaan kuier. Ek was letterlik in die vorige eeu laas daar vir ‘n vakansie.
Birgit | Groove Is In The Heart
Presies! As mense net vir ‘n slag bietjie wil saamwerk. Ons land het soooo baie potensiaal. (PS: Ek hoop jy kan binnekort innie Kaap ‘n draai kom maak 🙂
HesterLeyNel
🙂
aj vosse
Ai… wat kan ek bylas? Ek treur saam met julle!
Om te dink daar was ‘n tyd wat daai land andwoorde gehad het… en daar was ‘n tyd toe die reënboog helder in die afstand gelok het! Onbereikbare beloftes… ai, dis nie mooi nie!
HesterLeyNel
Dis ‘n bloeming skande dat die mense wat vir die regerende party gestem het so behandel word.