Vandag is die derde dag wat daar nie water in ons krane is nie. Ons tel onder die gelukkiges; op verskeie plekke in hierdie area is mense al 12+ dae sonder water.
Ek sit en lees die beriggewing op die internet en sosiale media. Daar is beweringe van sabotasie en munisipale amptenary se onbeholpendheid (of ongeëergdheid). Daar is sprake van wettige aksie, petisies en klagstate. In die sosiale media word die kommentaar elke dag in merkbaar meer dreigende formaat geformuleer, rassisme word bygesleep en politiek word blameer. Daar is duidelik waarneembare paniek, veral omdat die skoolvakansie binnekort aanbreek; nie net is daar die gevaar van inkomste en werksgeleenthede wat verlore sal gaan as die vakansiegangers nie opdaag nie, maar ook die wete dat nog bykomers in die gebied meer druk sal plaas op die skaars waterbronne.
Mense is om die beurt woedend, filosofies, moedeloos en baie pleit om hulp. Daar word waterstasies opgerig om drinkwater te voorsien, maar ook dit word deel van die probleem. Sommige mense is selfsugtig: een egpaar bring ‘n hele trokkie vol leë houers, spoel eers almal uit en vermors ‘n hele paar liters water op hierdie manier, neem daarna nog twee ure in beslag voor die tenk om al die houers te vul. In die snerpende koue wind staan oumense en ouers met klein kindertjies en wag vir hulle beurt. Baie van hierdie persone het al in meer as een ry gestaan vir die dag, want teen die tyd dat hulle beurt aanbreek, is die tenk leeg.
Onder by die strand waar daar nog ‘n flou straaltjie water in die pype is, probeer ‘n paar pensioenarisse om houers te vul, maar die wind waai die water weg en hulle kan nie die houers tot daar bo by die stortkoppe oplig nie – gelukkig is daar jongeres wat kan help om die houers omhoog te hou. Daar is nog barmhartiges wat op sosiale media uitnodigings plaas vir diegene in nood om water te gaan haal by hulle huise. Een vrou gaan selfs sover om mense met babas te nooi om die kleintjies by haar huis te kom bad.
My eie probleme lyk meteens nie meer so dringend nie, alhoewel dit darem lekker sou wees om ‘n slag te bad en hare te was. As gevolg van die swaar reën van die afgelope tyd het die wasmasjien stilgestaan en ons sit met ‘n berg wasgoed, en baie min skoon klere. Ons het ‘n watertenk buite in die tuin wat ons gebruik om water aan te dra vir die toilets; die modderspore oor die wit teëls wat van die voordeur af tot in elke badkamer loop word net geïgnoreer. Skottelgoed word een keer ‘n dag gewas. Gelukkig is gebottelde water nog beskikbaar en ons gaan koop by die naaste winkelsentrum of maak vol by vriende. Ons situasie is nog nie naasteby so desperaat soos in ander huishoudings nie.
Die son skyn vandag vir die eerste keer in baie dae. Ons is pas genooi om by ‘n vakansieoord te gaan bad, maar eers gaan ons strand toe om die son te gaan geniet voordat die wind opkom.
Hier "blok" Ek!
Hierdie waterkrisis wat oral kop uitsteek is rerig erg vir my. Ons wat af wil trek Wes Kaap toe maak my skoon benoud as ek elke keer met die droogte gekonfronteer word. Maar wat vir my veral erg is, is waar die menslike faktor inkom agv swak beplanning of hetsy sabotasie vir politieke gewin.
HesterLeyNel
Ja, en dan moet jy maar versigtig wees wat jy sê ook, anders beland jy in ‘n slegter posisie as wat jy reeds is.
Hier "blok" Ek!
Aan die kort en krulhare het “hulle” ons beet… die politici…
HesterLeyNel
True that
scrapydo2.wordpress.com
Nee wat dis nou gladnie lekker nie. Wat n gemors. Ek kry regtig die ouer mense en mense met klein kindertjies jammer. Dis darem baie gaaf van die park om jul n geleentheid te gee om te kan was en skoonmaak.
HesterLeyNel
Ja, dis goed om vriende te hê wat omgee.
scrapydo2.wordpress.com
Dis hoe dit veronderstel is om te werk. In nood help almal maar waar hul kan.
HesterLeyNel
Wel, gelukkig is ons water weer in die krane (weet nie vir hoe lank nie) en die reën is ook weer terug. Wasgoed hoop op.
scrapydo2.wordpress.com
Dis goeie nuus. Ek hou duime vas dat water en reën uitkoms bring. Sterkte met al die wasgoed.
HesterLeyNel
Dankie 🙂
travel460
Hester! Ek is rerig geskok. Hoe op die aarde het dit nou gebeur! Nie water in julle krane nie.!
HesterLeyNel
Dis blykbaar ‘n algemene ding hier van verlede jaar Desember af (het ook net voor die skoolvakansie begin). Almal praat van sekere faksies “holding our water at ransom”, maar dit word net altyd gesê dit word intern ondersoek. Soos jy weet, is daar altyd mense wat oorreageer, so ek spreek liewer nie ‘n mening uit nie.
travel460
Al wat ek kan sê, is sterkte. Ek sonder my stortwater, is ñ totale nul op ñ kontrak.
HesterLeyNel
Self. Hierdie emmertjie-lappie-bad werk nie vir my nie.
ekmyselff
Sterkte – heng dit is woes.
HesterLeyNel
Dankie 🙂
Anne
In my town having no water now and then has become the norm. What IS distressing is how much water continues to flow down the streets as a result of leaks in the aged, and now fragile, infrastructure. Our municipality is bankrupt and owes millions to various service providers … a situation that is becoming ALL too common in this country!
HesterLeyNel
We have the same situation here. This whole region is in a state of decay. So sad.
trommeltjies
Ai, wat sal ons nou hiervan sê, dis n katastrofe. Jammer vir julle. Te midde ons erge droogte het ons datem nog water in die krane en werk ons blitsvinnige stort nog.
HesterLeyNel
Ja, dit kan dalk nog ‘n rukkie neem voordat ons watertoevoer herstel is. Ons het vanmiddag gou die nodigste klere gaan was en almal in die stort gespring by ‘n vakansieoord so ‘n paar kilos van ons af. Dit meen dat ons darem beter voel vir die dag.
Tannie Frannie
Ons was sopas bioetjie minder as ‘n dag sonder water en wat dit aan my gemoed gedoen het, is skrikwekkend – daardie magtelose woede en verontwaardiging wat maak dat mens sommer die hond wil bydam! Sterkte, Hester.
HesterLeyNel
Dankie, ons voel darem beter na vanmiddag se bad en twee bondels wasgoed wat ons by die vakansieoord gedoen het. Ons hoop maar weer dat dinge môre beter sal lyk.
Lewies Mymer
Om politiek te maak van watervoorsiening is bleddie krimineel.
HesterLeyNel
Niks is meer heilig nie; ek is nie eens verbaas oor die dinge wat gebeur nie. Weet ook nie hoe om dit te probeer regmaak nie.
rondomtaliedraai
Sterkte Ek hou al my duime vas
HesterLeyNel
Dankie 🙂
Kameel
Ek sug nou net baie baie diep. Ek wil nie meer sien hoe alles so agteruit gaan nie. Sterkte Hester!!!!
HesterLeyNel
Dankie Kameeltjie
coetzee2014
Hoop die water, vloei gou weer. Ek kry gewoonlik, so ‘n knop op my maag, as daar iets met die watertoevoer, wat ek self moet na kyk, want ons het ‘n put, verkeerd is. Gewoonlik, as daar gaste is.
HesterLeyNel
Ja, die water het in die middel van die nag iewers aangekom, weet nie vir hoe lank nie. Water uit ‘n put klink op die oomblik na ‘n “veiliger” alternatief.
Eveline Lenderink
Geen water! Vreselijk, veel sterkte.
HesterLeyNel
Dankie Eveline
aj vosse
Ja… eerste werld probleme! Dankie dat jy my herhinder om meet te wardeer wat ons nou al vergeet om the wardeer!
(Hier wil hulle nie vir water betaal nie, hulle reken as dit verniet uit die hemel val moet dit verniet in the krane aankom!)
HesterLeyNel
Hier ook. Hier wil hulle alles verniet hê of anders brand hulle af dit wat hulle wel het.
aj vosse
Sorrie, ek moet die Ingelsman se word gebruik hier… SAD!!!
HesterLeyNel
Ek hoop hulle sorteer die gemors binnekort uit, want ek en Karen moet weer JHB toe gaan vir besigheid – ek is nie gelukkig daarmee om my man alleen te los onder sulke omstandighede nie. Dankie tog vir goeie vriende wat bystand verleen.
aj vosse
Ons kan maar net hoop…
Abrie Joubert
Met die min water en verbod op karwas in Kaapstad is daar voordele “maar vrou ek mag nie die kar was nie…” op die oomblik reen dit buite maar ai damme is steeds net 36.7% vol tenoor 56% verlede jaar en 100% in beide 2013 en 2014
HesterLeyNel
Sjoe! En aan hierdie kant is ons vanoggend bly om blou lug te sien vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd. Selfs die wind wat waai is welkom, want dit sal die wasgoed droog waai – ons het water van gister af.