Na diepe nadenke het ek besluit dat ek geen uitsonderlike talente het nie, behalwe ‘n vreeslike aktiewe verbeelding, wat beteken dat ek kan kies watter superpower ek op enige stadium wil besit. Vandag met (weer eens) geen water in die pype nie, sit ek by die huis rond met ‘n opstandige haardos en ‘n verslae gemoed. En ek wens ek kon so ‘n bietjie time traveling doen.
Ek het in Namakwaland grootgeword en daar leer ‘n mens om water spaarsamig te gebruik. Ons het almal die kuns aangeleer om in drie duim brakwater hare te was, jouself ordentlik te bad en dan sommer jou sokkies en skoolpêntie ook uit te spoel, gereed om môre weer aan te trek. Ek oefen tans baie hard om met een van hierdie vyf liter bottels water reg te kom, maar ek kan nie uitwerk in watter volgorde my ablusies moet plaasvind nie. Moet ek eers my tande borsel en dan my hare was, sodat ek daarna die ander belangrike dele kan bykom? Of moet ek eers hare was en vertrou dat die sjampoesmaak in my mond nie te onaardig sal wees nie? Dis sulke moeilike besluite. Ek reken dis tyd om in my tydmasjien te spring en te gaan bad in my geboorteland.
Andersins kan ek pylreguit na die Amerikaanse Wilde Weste vertrek, terug na daardie dae van tolbossies wat deur die wind in die stofpad aangedryf word, cowboys wat heeldag in die saal deurbring en die madames van die bordeel wat emmers vol water van die put af laat aandra om die manne te skrop. Ek sou met groot plesier die manne geskrop en sommer hulle bad gedeel het sonder om my neus op te trek vir die reuk van perdesweet. Water is water!
Of dalk kan ek terugbeweeg na die dae van die voortrekkers. Ek is seker hulle het ‘n bietjie skinny dipping gedoen as en wanneer hulle op ‘n rivier afgekom het. Dis nou te sê, as dit nie te veel moeite was om die lang sisrokke en bloemers uit trek vir ‘n behoorlike was nie. Ek is seker hulle het meer water tot hulle beskikking gehad as diegene van ons wat in hierdie spesifieke munisipale streek woon. Hier kan ek nie gaan bad in die rivier nie, want dit sal mos nou weer veroordeel word as public indecency en buitendien is die water vuil.
Nog beter, ek sou wat wou gee om daar tussen die ou Romeine te verkeer in een van hulle publieke baddens. Ek sal ‘n hele middag daar kan omkuier met vriende terwyl die slawe ons afspoel met rooswater en ons lang hare deurkam met welriekende olies. Dis net die beste tyd om in te haal op sappige skinderstories ook.
Nou weet ek al klaar wat jy wil vra: hoekom reis ek nie liewer in die toekoms in met een van daardie lugskepe waar mense, wasgoed en skottelgoed op wetenskaplike wyse skoon gestoom of gewaai word nie? Wat presies is dit wat hulle doen wanneer hulle in een van daai vlekvrye staal drukgange verdwyn en skoon aan die anderkant uitkom? Die ding is, met al die hedendaagse k@k beplanning en ondermekaar-bakleiery, wil ek nie die kans vat om die toekoms in te gaan net om uit te vind dat ek tussen nog ‘n spul vuil, onversorgde en onvergenoegde mense beland het nie. Jy weet? Die Zombies en die Walking Dead.
Totdat ek nou besluit het waarheen ek wil reis, sal ek nou maar in my karretjie spring en na ons naaste dorp ry om die leë waterbottels te gaan opvul.
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).
Toortsie
Sug bekommerd. Ons beplan maar om ons water op te vang vir toekomstige gebruik. Hoop dit werk!
HesterLeyNel
Ons het ‘n statiese tenk waar al die reënwater van die afvoerpype af versamel word, maar die tenk het al ‘n hele ruk hier gestaan sonder ‘n deksel voordat ons ingetrek het. Ons gebruik die water in die toilets en in die tuin en ons kook dit om skottelgoed te was, wat ons dan afspoel met skoon water. Dit help darem.
travel460
Daar gebruik jy nou sommer jou superpower om my ook in die geskiedenis terug te neem. Die Romeinse baddens klink die beste. Sterkte vir julle.
HesterLeyNel
🙂
Tannie Frannie
Aitog, Hester – “water, water everywhere and not a drop to drink…”
HesterLeyNel
Presies net so. Gelukkig is gebottelde water redelik goedkoop hier en ons drink in elk geval nie die ongesuiwerde water nie. Dis net as jy wil bad en daai kraan piepie so giets-gierts …
rondomtaliedraai
Ag ek is regtig jammer vir so gesukkel … Miskien moet julle ‘n boorgat oorweeg. Hoop die probleem word gou opgelos
HesterLeyNel
Ons het nie hier gekoop nie, dankie tog. Ons is mos nie kantoorgebonde nie 😄 en dis lekker om so van dorp tot dorp te verhuis. Ek is van plan om al langs die kus af te trek en oral vakansie te hou. Intussen huur ek en laat al die worries oor onderhoud, rates & taxes, septiese tenks en onderhoud aan my landlord oor.
rondomtaliedraai
Baie waagmoed maar ‘n baie slim plan
trommeltjies
Lekker om so heen en weer in tyd te kan kuier, ek sal ook van daai superpower hou.
HesterLeyNel
Dit sal lekker wees mits mens net die lekkerte kan gaan herleef, maar ek het so ‘n spesmaas dat jy maar die suur saam met die soet sal inkry.
scrapydo2.wordpress.com
Bly jou superpower lei jou gedagtes af van die werklike water gemors. Wat is die eintlike probleem? Geen opgaartenks? Pype? Water? Dis heel onplesierig om so te lewe!
HesterLeyNel
http://southcoastherald.co.za/238561/no-water-its-sabotage-admits-ugu/
scrapydo2.wordpress.com
In die tussentyd sit die inwoners met die gebakte pere!
HesterLeyNel
Jip
scrapydo2.wordpress.com
Het links vir my seun gestuur. Hy sê dis regtig sleg dat dit so gaan.
HesterLeyNel
Daar is nou verskeie petisies wat die rondte doen en die inwoners maak reg vir ‘n massa regsaksie. Sal maar sien wat word daarvan.
scrapydo2.wordpress.com
Tog kan mens eintlik niks daaraan doen nie want die skade is gedoen. Hul moet nou liewers planne maak om te verbeter.
HesterLeyNel
Maar dis die ding, hulle ontken eenvoudig dat daar probleme is, niemand weet wat die planne is om die gemors in orde te kry nie en niemand weet waar die miljoene rande in die begroting heengaan nie.
scrapydo2.wordpress.com
Ai toggie! wat n GROOT gemors. Klink nie goed vir toekoms nie
HesterLeyNel
http://www.ehowzit.co.za/news/municipal/details-of-case-ugu-opened-as-result-of-suspected-sabotage/
scrapydo2.wordpress.com
Dankie vir update
Kameel
Nee Hester!!!!! Daar is nie ‘n manier waarop ek in daardie cowboys se sweetwater sal bad nie. Ek bad in niemand se badwater nie 😈 Ek weet ook nie van die romeinse baddens nie… die boeke wat ek gelees het is dit die manne wat so heerlik bad…. en slavinne wat hulle afdroog en aantrek. Sterkte met die waterlrises!!!
HesterLeyNel
Dankie! Ek het vandag sulke pragtige modderbruin water – amper soos chocolate mousse 😜
Kameel
Agge nee Hester!!! Miskien moet jy in die see gaan swem…. met so ‘n sjampootjie op die sideline.
HesterLeyNel
Haha, weet jy hoe brand daai soutwater op strategiese plekke aan die einde van die dag, om nie te praat van die taai souterigheid in jou hare nie. Nee wat, dis maar net vasbyt en deurbyt totdat die probleem reggestel is.
Kameel
Ai Hester….. ek probeer help. As dit reën soos hier…. wat van ‘n lekker shower en harewas in die reën? Probleem is net dit is blikkieskoud so saam met die reën.
Ons kleindogter en kleinseun is oppad met hulle skool se graad 7 Sugar Bay toe vir die week. Hopenlik is Natal se weer hulle goedgesind.
HesterLeyNel
Ek is bevrees die weervoorspelling lyk nie goed vir Zinkwazi nie, maar kiddies is aanpasbare goedjies en gelukkig het hulle heelwat aktiwiteite (ook binneshuis) waarmee hulle die kinders kan besig hou. Ek weet nie wat gaan aan met ons weer nie, Kameel, dis horribaal, ek sit hier met ‘n dik sweetpak aan. Ons was die afgelope maand seker maksimum 3 keer buite op die strand, net vir ‘n vinnige draffie.
Kameel
Bly om te hoor Sugar Bay is nie net swem nie. Die onderwysers/resse wat saamgaan dra hoeka T -shirts met die woorde “Ek is ‘n graad 7 onderwyser!!! Wat is jou super power?” Pas mooi by jou week se challenge.
Verstaan ook nie die weer nie…. eendag wintersklere, volgende dag somersklere. Was gister kerktoe met kortmoubloes…. sit vandag hier met ‘n dikke wintersjapon.
HesterLeyNel
Dit gaan hier ook so.
Lewies Mymer
Pat maar net die hot spots.
HesterLeyNel
Ja goeie raad, maar daarvoor gebruik ons nou gebottelde water sien?, want kyk hoe lyk die water wat ons vandag ontvang https://hesterleynel.files.wordpress.com/2017/10/dscn0055.jpg
Spokie sny spoor
Dis vreemd om te dink dat julle nader aan die see meer waterprobleme dan ons het, hier in die hartjie van die bosveld, Alhoewel ons nie water vir tuine ens mag gebruik nie, het my krane darm nog altyd genoeg water. Sterkte aan jou kant …
HesterLeyNel
Dis eintlik ‘n skande Spokie, want hier hou die watertekort verband suiwer net met wanbestuur. Ons het al soveel reën gekry die afgelope paar maande dat ons amper aan vrotpootjie ly, maar dit help niks. Die ergste is eintlik dat selfs die hospitale noual sonder water is. Ons probeer maar grappies maak daaroor en die hele saak met humor hanteer, maar dit raak nou absurd.
dromer777
Ek wou eers kommentaar lewer dat jy darem jou sin vir humor behou het maar ek is nou so kwaad na ek daardie sabotasie berig van jou gelees het ek het my eie humorsin weg vererg🙈
HesterLeyNel
Dis om van te huil. Daar is ‘n “rural” gemeenskap wat al vanaf September sonder skoon water sit en nou die ongesuiwerde rivierwater gebruik. Ons is nog heelwat beter af.
dromer777
Skoon vergeet om darem vir jou sterkte te sê
HesterLeyNel
Dankie, ons sal vasbyt 😄
Hier "blok" Ek!
Genade Hester, is julle nog steeds waterloos – dit is ‘n skryende skande. Dankie tog jy kom vanuit die Namakwaland, want ek weet mense vandaar weet hoe om met respek met water om te gaan.
HesterLeyNel
😄 Dis waar, ons het van kleins af geleer dat water meer werd is as goud. Ons het darem vandag sulke modderige watertjies, maar daar is na bewering van die werkers wat aanhoudend die watervloei saboteer. Ons hoor soveel teenstellings, ekskuse en blatante leuens, ons weet nie meer wat om te glo nie. Deurdruk is al.
Hier "blok" Ek!
Damn, dit moet uiters frustrerend wees, juis omdat dit aan sabotasie toegeskryf kan word.
HesterLeyNel
Dit is
Hier "blok" Ek!
skreiende “Hestet”, skreiende 😉
HesterLeyNel
Bwahaha, maak soos my seun, blameer autocorrect!
Hier "blok" Ek!
Slimkind… 😊
Abrie Joubert
In die boek “My family and other animals” vertel Gerald Durell dat sy ma ‘n huis met ‘n badkamer op dieGriekse eiland Corfu gesoek het en die eiendoms-agent nie kon nie verstaan hoekom nie: “but all the villas are so close to the sea”. Lyk my dit is julle voorland
HesterLeyNel
Bwaha, nee regtig? Dalk is hulle seewater skoner as ons s’n. Daar is ‘n rede waarom daar varswaterstorte op die strande is.
Levensjutter
Een prachtig verhaal, maar ik begrijp dat jij nog steeds zonder water zit! Sterkte met vastbijten…. 😁
HesterLeyNel
Dankie vir die lees 🙂
Eveline Lenderink
Wat ontzettend vervekend. Aan water is hier nooit gebrek , de enige keer dat ik wat zuinig moest zijn was zo.n veertig jaar geleden toen we gingen kamperen. Je verteld het heel leuk maar het lijkt mij geen lolletje.
HesterLeyNel
Jy is reg, dit is uiters frustrerend, maar ‘n mens voel so hulpeloos dat jy maar later lag oor die situasie – dis beter as om jou humeur te verloor 🙂