Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

My eiers

Lê-Jou-Eier: Ek is bang vir vergeet

Image obtained from Pixabay free download

Voordat ek dit ook vergeet, moet ek julle eers inlig dat ek op die oomblik nie kan kommentaar lewer op ander se blogs nie. Ek het al gaan huil by WP, maar kry nie die probleem opgelos nie. Ek kan nie bepaal of WP my dalk die mond gesnoer het en of alle bloggers my geblok het dat ek nie kan saamgesels nie. Ek kan wel saampraat wanneer daar kommentaar gelewer word op my eie blogs, of op ‘n blogpos waar ek voorheen reeds besig was met ‘n gesprek. Ek gooi nou maar net my hande in die lug en los ‘n “like” net om te wys ek het gelees. As julle dalk my kommentaar in julle spambox vind, laat weet my asseblief. Ek is nou sonder water en sonder geselskap. 😭 Weer eens, baie dankie aan almal wat hulle eiers hier op my erf kom lê.


Nou, in verband met “vergeet”. My moeder het by my gewoon (later jare in ‘n ouetehuis baie naby aan my huis), tot kort voor haar dood op 96-jarige leeftyd. Sy was redelik helder van verstand tot ‘n jaar of twee voor haar dood en daarna het haar geheue merkbaar agteruit gegaan. Teen die einde het sy wel nog my pa onthou (oorlede in 1990), maar sy het haar kinders se name begin vergeet. Sy het jarelange vriende en gebeurtenisse vergeet. Ek dink die grootste skok ooit was toe ek die dag besef het dat sy nie weet wie ek is nie.

Ek het die middag na werk gou by die ouetehuis ingehardloop om vir haar iets af te lewer. Dit was etenstyd en ek het by die eetsaal ingeloer en haar gegroet. Sy het my baie vriendelik teruggegroet, maar was duidelik nie bewus van my identiteit nie, heelwaarskynlik omdat sy my nie in die eetkamer verwag het nie. Dit gebeur soms met my ook dat ek byvoorbeeld my dokter in die slaghuis raakloop en dan vir ‘n oomblik eers moet dink wie hy is, net omdat hy nie ‘n wit jas aanhet of in sy spreekkamer is nie, maar vir my is hy tog ‘n relatiewe vreemdeling – jou eie kind moet jy tog kan herken, enige tyd, enige plek?

Daarna het ek haar versigtig begin uitvra oor gebeurtenisse van die verlede en soms saam met haar deur foto-albums geblaai. Dit het gou vir my duidelik geword dat die mense waarvan ek gepraat het of wat sy in die fotos gesien het, geen herinneringe wakker gemaak het nie. Die ergste van alles was dat sy besef het iets is verkeerd en sy het dit eendag vir my gesê ook: “Ek is so alleen. Ek onthou dan niemand meer nie.”

Dit is wat my angsbevange maak, want ek is baie geneig om sekere tydperke in my verlede baie diep te begrawe, omdat daar slegte dinge gebeur het waaraan ek nie herinner wil word nie. Dis my coping mechanism. Dan gebeur dit soms dat iemand my herinner aan ‘n sekere gebeurtenis, iets wat ‘n goeie herinnering behoort te wees, maar ek kan dit nie onthou nie, want ek het daardie tydperk in my lewe “gebêre” in my diepste gedagtegang. As ek soveel tydperke uitsny uit my bewussyn, gaan ek dalk soveel gate in my geheue hê dat ek glad nie die kloutjie meer by die oor kan kry nie? Gaan ek dalk eendag na my fotos kyk en hierdie blogs lees en besef dat ek nie ‘n idee het wie hierdie vrou is wat hier geskryf het nie?

Juis daarom probeer ek nou om met volle mag elke dag te lééf en te voel, met die hoop dat iets daarvan iewers gaan vassteek. Net sodat ek nie heeltemal alleen is wanneer ek wel begin vergeet nie.

Net voordat ons nou almal vreeslik morbied raak – ek onthou darem nog die bloggerskring en hoop ek kan een van die dae weer lekker saampraat en kommentaar lewer.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, klik op die volgende InLinkz skakel:

Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

 

Follow Dis Ekke

32 Comments

  1. Ai Hester, ek verstaan hierdie vrees van jou ook te goed. Noudat jy dit noem, besef ek ek het lanklaas ñ kommentaar van jou af gekry. Jy lê defnitief nie in my spambox nie.

    • Ag WP sal seker darem weer help. Ek het ‘n soortgelyke probleem gehad ‘n rukkie gelede. Ongelukkig is ek op die vry plan, so ek het nie toegang tot hulle coding om dit sommer self te gaan regmaak nie.

  2. Daai kommentaar ding het met Man met die hoed ook gebeur. Dis hoekom ek hom maar retire het.

    Die eniste ding van my wat tans verbeter in my forgettery…en dit verbeter met rasse skrede. Nou maak ek notas sodat ek nie moet vergeet nie, maar dan vergeet ek waar die notas is. Ek kan my nie indink die dag as ek nie meer mense en plekke herken nie, dit is die wreedste manier om dood te gaan.

    • My onthou was darem nog nooit te sleg nie, net selektief. Sommige goed vergeet ek met graagte. Ek dink dis die ergste deel van alzheimer of dementia – wanneer die persoon bewus is daarvan dat hulle besig is om kontrole te verloor oor hulle gedagtes.

  3. Auwh Hester, hoe meer blogs ek lees kom ek self agter dat ek eintlik ook bang is vir van die goed wat julle noem. Alzheimers is erg, ongeag of dit ouerdom verwant of geneties is – ek dink dit is die mees eensaamste siekte ooit, maar ek glo ook dit is baie erg vir geliefdes wat daaraan blootgestel word.
    Ek het niks van jou in my spam nie, en ek het jou ook nie geblok nie, daarvoor hou ek hopeloos te veel van jou….. en van jou blogs…. en van jou oor die vingers raps… en, en, en WP kom by asb!

    • 😄 Dankie Elanè. Ek dink daar is baie dinge wat almal van ons in gemeen het, maak nie saak hoe oud ons is, watter kleur of van watter geslag nie.

  4. Sjoe – aangrypende foto! Hoop jy vind gou die fout op jou kommentare.

  5. Sommige van my kommentaar raak ook weg. Ek hoop jy loer darem by jou spam ook?

    Ek leef die afgelope 4 jaar nou saam met die vergeet ding en is besig om my sienin g te verander

  6. Die aftakeling van mens se liggaam is erg, maar die vernietiging van die gees is dalk erger.

  7. Dit is maar n ding om te weet jy weet nie meer nie. Ek het juis n vriendin van 80 jaar wat ek gevra het of sy nie maar dr toe wil gaan omdat sy al meer en meer vergeet. Omdat ek haar redelik goed ken kom ek agter dis nie normale vergeet nie. Sy het toe een of ander toets gedoen(haar dogter het dit gedoen) en sy sê dit is beslis dementia. Sy sê sy sal dr toe gaan. Ek hoop sy doen dit want hoe gouer daar gehelp word hoe vinniger kan die agteruitgang stadiger gemaak word.

  8. Liewe hier kry ek ‘n beklemming in die bors met die lees van jou stuk. Hoop jy is spoedig weer met ons.

    • Ek het weer vir Akismet genader om te help en hulle was taamlik vinnig die laaste keer, maar vir nou kan ek tenminste antwoord as julle met my gesels 🙂

    • Jy lê toe in ons spam boksie… maar ek weet nie hoe im jou daar uit te kry nie. Jy wil weet wat het van die kalf geword. Daar is huistoe gestuur vir gereedskap om hom uit te grawe…. ek dink ek is saam huistoe gestuur want ek onthou nie die gegrawery nie. 🙁

      • Wel, ek is net bly hy was darem toe geredde! Dankie, ek het my lot gaan bekla by Akismet en dit lyk asof my kommentare nou weer aanvaarbaar is.

  9. Wat ‘n pragtige, diep mededeling.
    Vergeet is deel van ons lewe. My een ouma was baie oud en kon nie onthou nie, so dit was al kleintyd ‘n realiteit in ons lewe en dit maak my nie bang nie. Dit was egter vir my ma ‘n verskrikking en toe sy haarself vang dat sy vergeet, het sy aanvanklik woedend geword. My skoonma besef nie dat sy regtig nie onthou nie. Vir haar is dit genadig, vir ons is dit bietjie erger.
    Ek aanvaar dat ek dalk ook maar verkalkte are sal hê soos my voorgangers en dat die vergeet maar sal kom. Nie een van my voorgangers het Altzheimers gehad nie, net demensie.
    Ek jan al vir baie jare nie name onthou nie. Dit het my eers ontstel, toe het ek dit aanvaar, toe het ek nie eers meer probeer nie! Tans is ek besig met ‘n eksperiment om die blokkasie te verwyder. Ek vertel vir myself en almal wat my ken, dat ek eintlik goed is met name. Uitstekend. Dit wil lyk of my onderbewussyn begin reageer en name begin terugkom. Dalk werk dit!
    Sterkte met jou vrees vir vergeet. Ek wens vir jou dat jy end-uit helder sal bly, maar ook dat die spoke uit jou verlede sal gaan lê en jy die vreugdevolle tye in dardie verbande tyd sal begin onthou. Sterkte

    • Dankie Toortsie. En jy is nie die enigste een wat sukkel met name nie – ek vergeet my lewe lank al name en gesigte vinniger as wat ek met hulle kennis maak, maar my man beweer dis omdat ek nie genoeg belangstel in mense om hulle te onthou nie. Daar is nou ‘n onaangename gedagte.

      • Dis beslis nie die rede hoekom jy dit nie onthou nie. Ek het al my eie naam vergeet en my kinders se name is gereeld soek! Ek hou mos van my en my kinders!

        • Haha, en jy het nie eens baie kinders nie nè?

        • Nie so baie nie, net so baie op ‘n slag!

        • Twee op ‘n slag is nie baie nie 😛 My pa het ses dogters gehad by sy eerste vrou en hulle het so tussen 2 en 3 jaar verskil in ouderdom. Hy het meer as een dag hulle name deurmekaar gekry. Teen die tyd toe ek gebore is (enigste dogter in die tweede huwelik / laatlam) het hy sommer kortpad gesteek en my Sussie genoem.

        • 😁

  10. My vrees eintlik maar vir myself hoekom ek nie regkry om te presteer volgens die gawes wat mense dink ek het nie. Maar dis ‘n ander storie.

  11. Ek hoop jy kan al kommentaar lewer op ander blogs, ek weet daar is ook ‘n manier om deur Facebook kommentaar te lewer.

    • Ja dankie, ek het toe reggekom. Dit lyk my die probleem is by Akismet (die virusprogram wat ons hier gebruik); hulle dink ek is ‘n virus. 😀

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: