Ek het gou “weggeloop by die werk” om te kom kyk hoe gaan dit met ons uitdaging Sê dit in Afrikaans en dis lekker om saam te gesels, so ek dog toe ek kan maar nog ‘n eiertjie kom breek. As iemand my nie keer nie, gaan ek die res van my lewe vreeslik idiomaties praat.
Sou darem graag wou weet waar is die manne met die skerpgemaakte tonge dan met hulle sêgoed? Abrie is sover die enigste die enigste haan onder die henne. So tussen hakies, het julle opgelet dat my dogter, toe sy die Lê-Jou-Eier logo vir ons ontwerp het, twee hane op die prentjie gesit het? Haha. Dit was skreeusnaaks, maar ek dog ek sal dit maar so los en kyk of iemand dit agterkom.
Wil net gou vertel van baie ou sêgoed wat in ons gesin teruggedateer het vir dekades lank.
Jy’s vandag weer in-en-uit by die deur soos Gert Bêrend se bont hond. Hierdie een het ontstaan in daardie jare toe niemand hulle deure gesluit het in die dag nie en die agterdeur het wawyd oopgestaan. Daar was net ‘n gaasdeur (om die vlieë uit te hou) wat heen en weer geswaai het, soos die outydse swaaideure van die dorp se kroeg. Die honde het ook daar ge-in en ge-uit. Maar wiedehel was Gert Bêrend? Ek kry die gevoel dat dit wel ‘n bekende persoon was daar in die omtes waar my ma-hulle gewoon het, want sy het altyd net so skalks gelag as ek haar uitgevra het. Nou weet niemand meer nie en ek sal vir altyd wonder oor die bont hond, maar ons gebruik nietemin die sêding in ons huis ook.
Nog een wat steeds by ons in gebruik is: Moenie daar op die werf vir my staat en skrou soos ou Diena Kôl nie***. Dis meesal my reaksie wanneer my man enige plek binne of buite die huis, of sommer van die buurman se erf af, begin roep en soek na my. Sy ongeduld laat hom nie toe om te wag op reaksie van my kant af nie en wanneer ek wel ‘n beurt kry om terug te roep, is hy in elk geval te doof om dit te hoor. My ma het my vertel daar was wel so ‘n tante in ‘n dorp wat ek nie sal noem nie, wat altyd so oor ‘n hele straatblok heen met haar buurvrou gestaan en skinder het. Ek sou dit beskou het as ‘n winskopie om al die skindernuus so eerstehands uit die perd se bek uit aan te hoor.
My pa se bydrae tot die gesprek wanneer iemand per ongeluk ‘n hoorbare windjie afgeblaas het: Hoor nou hoe praat ou Velbek!
Van my skoonma se kant af het ek verneem dat my man van kleins af altyd so “besig” was dat sy ouma opgemerk het hy is ‘n regte karretjie-wipgat oorkant klipgat (dink nou aan ‘n perde-karretjie wat oor ‘n klipperige pad ry, want ek dink dis waarop sy gesinspeel het, maar ek sal ook nie daarby sweer nie). Hy is van geaardheid ongeduldig en kan nie langer as twee minute stilsit of sy mond toehou nie. Ek noem dit hy het rooimiere in sy g@t. Ek ken van rooimiere. Destyds nog op laerskool het ek en my maatjie na skool buite by die hek gestaan en gesels tot ‘n klomp rooimiere ons beetgepak het. Dit was hoogsomer en droog en die miere was woelig. Waar daai goed byt, brand dit soos vuur. Ons het albei net daar in die straat ons mooi ligblou skoolrokkies oor ons koppe gepluk en net met ons blou skoolbloemertjies aan by ons onderskeie huise ingestorm. My ma het amper ‘n oorval gekry oor die onbehoorlike gedrag en my boude is goed afgestof, letterlik, want die verestoffer was mos ‘n handige lat.
***skrou is Namakwalands vir skreeu. Word dit in die ander landsdele ook gebruik?
Hierdie uitdaging sluit môre 12:00. As jy nou vannag nie kan slaap nie, is daar nog so ‘n paar ure tyd om ‘n bydrae te lewer. Ek seg maar net.
Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te geniet of om self ‘n eier te kom lê wat ons kan uitbroei en grootmaak, kliek op die volgende InLinkz skakel:
Vir die reëls van hierdie eier-boerdery, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke.
Nuwe onderwerpe word aangekondig elke Donderdag om 12:00 en sluit outomaties na een week.
rondomtaliedraai
Ek het al te lekker saam gelees
HesterLeyNel
😀
Toortsie
Lekker gelees! 😁
HesterLeyNel
😀
travel460
Jy het ń flippen interessante grootword tyd gehad, Hester. Sulke lekker sê-goed.
HesterLeyNel
Die platteland, veral daar ver noord in die Noordkaap, is ‘n planeet van sy eie. Ek is nou byna 50 jaar daar weg, maar kan nog steeds ‘n ander Namakwalander onmiddellik eien aan sy taal, aksent en lewenshouding. Daar is sekere eienskappe wat jou lewenslank bybly.
scrapydo2.wordpress.com
Dis nou n lekker uit my kontrei sê-goed. Het nog nie van hul gehoor nie. Haan onder die henne en boude afstof is bekend. Die karretjie een is mooi beskrywend. Ek ken ook van op n rooimiernes sit. Hul kruip oral in en byt waar hul kom. Kan die prentjie sien van bloemertjie dogtertjies wat huistoe hol.
HesterLeyNel
Ek gril tot vandag toe nog vir miere.
Kameel
Hester ek weet nie of Lambertsbaai deel van Namakwaland is nie, maar ek het in die drie weke wat ek daar by my sus gekuier het met mense te doen gekry wat totaal anders is as wat ek nog ooit teëgekom het. Ek het aan hulle lippe gehang met hulle anderse sêgoed en stories. Ek weet nie of ek ooit soveel gelag het soos in daardie tyd nie. Wat ek veral van gehou het was hulle plat op die aarde menswees. Vissersmantannie of miljoenêrsvrou het jou ewe tuis laat voel.
HesterLeyNel
Nee, streng gesproke word hulle nie onder Namakwaland geklassifiseer nie, maar die mense teen die Weskus af (Namakwalanders ingesluit) is bloedfamilie wil ek amper sê.
Abrie Joubert
Sjoe ek is ‘n haan onder die henne! en het daardie opmerking deel gemaak van nuuste henne onder die hane inskrywing.
My ma het eenmaal vir my gese: kyk daai bont hond. Ek het gekyk en nie ‘n bont hond gesien nie net ‘n wit hond met bruin vlekke. Vir my brein moes die hond minstens rooi, blou of groen ook gewees het om as bont te klassifiseer.
HesterLeyNel
Ek sal graag daai smartie box hond wil sien 😀