Dit was gister reeds ses jaar dat jy weg is. Dit voel nog so onwerklik. Soms verwag ek nog om jou op die tuinbankie te sien lê wanneer ek by die skuifdeur uitloop. Soms verbeel ek my nog dat jy daar in die sonkolletjie op die plaveisel lê en slaap.
Jy was ‘n paar weke oud toe ons jou gaan haal het om ‘n maatjie te wees vir Karen. Dit was 24 jaar gelede. Jy het agtien jaar by ons gebly en elke dag ons lewens verryk. Jy het in al daardie jare saam met ons getrek van huis tot huis, van een provinsie na die ander, sonder enige klagtes of probleme.
Jy was “net” ‘n huiskat, maar Ouboet was reg toe hy gesê het jy het ‘n wysheid gehad wat dié van mense oorskadu het. “She knows the cure for cancer; she’s just not telling.” “Sy ken die Lottonommers ook”, het Pa gebrom.
Hulle was reg, want jy het geweet hoe om ‘n eensame dogtertjie geselskap te hou wanneer haar ma moes werk, hoe om die bang van die donker in die nag weg te hou, hou om die ma self te troos met ‘n warm lyfie in haar bed toe sy so siek was na chemoterapie-behandelings.
Jy het altyd geweet presies hoe laat Karen van die skool af gaan kom en uit watter rigting. Sy het dit getoets deur soms ‘n ander pad van die skool af te volg, maar jy het by die regte hek gewag, op die regte tyd. Wanneer ons vir ‘n dag of twee weggegaan het van die huis af, het jy huis opgepas en presies geweet wanneer ons op pad terug was, want jy het sonder uitsondering by die hek gesit en wag wanneer ons teruggekom het.
In Johannesburg het jy geleer om hysbak te ry tot op die vloer van die woonstel waar ons gebly het. Omdat ons vloer- en woonstelnommer op jou halsband geskryf was, het almal geweet waar jy woon en vir jou die knoppie gedruk om die hysbak te bestel. Dalk moes jy liewer die trappe geklim het om daardie ekstra paar kilogramme te verloor! Jy was later so vet dat jy nie op die tafel kon spring om by jou kosbak te kom nie. Pa moes jou optel: “Nou moet ek met my af rug weer Otis speel”, was sy kastig kwasterige kommentaar. Nou mis Otis jou.
Ons weet baie goed dat, ten spyte van ons pogings om jou op ‘n dieet te sit, of miskien juis omrede daarvan, het jy om die beurt by al die bure gaan eet. Daar in Bloemfontein in die meenthuis het jy gereeld Spokie-hond van langsaan se hoender opgeëet en dan moes hy tevrede wees met hondepille. En Oom Jaap het jou biltong gevoer.
Daardie keer toe jy so siek geword het dat ons jou vir ‘n week by die dierehospitaal moes laat loseer, was ons vreesbevange dat die ergste sou gebeur. Ek onthou dat ek my kredietkaart aan die veearts oorhandig het met die opdrag dat sy elke moontlike stap moes neem om jou gesond te kry. Sy het dit reggekry en dankie tog, want daar het baie gebede opgegaan in ons huis, vir jou en vir my kredietkaart.
Jy het in almal se harte ingekruip en die hele buurt het altyd geweet wie jy is. Ons het nou nog nie uitgevind wie die vriendelike persoon was wat jou elke week gebad het daar in Florida Keys nie. Jy was altyd skoon en het na babapoeier geruik wanneer ons by die huis gekom het.
Nee, ons was nie bekommerd wanneer jy vir ‘n paar ure weggeraak het elke dag nie, want ons was heeltemal bewus daarvan dat jy rondkuier. Daar in die Vaal Driehoek het jy elke wintersmiddag op die buurvrou se dubbelbed in die son gelê en slaap. Sy het my vertel. As dit ‘n lekker windstil dag was, het jy oorkant op die ander buurvrou se stoepie gaan lê. Ek het jou gesien. Verstaanbaar, want ons huis was altyd soos die Ark, vreeslik besig met al die ander diere, mense en voëls op die erf. ‘n Ou dame soos jy het haar rus nodig gehad.
Jy was ‘n muisvanger van formaat, maar regtig, moes jy hulle altyd aandra huis toe? Ek is seker ander katte eet dalk die muise wat hulle vang, maar jy het joune in die bad kom sit sodat jy hulle kon doodspeel (letterlik). Dis ‘n bietjie onregverdig as jy jag maak op prooi wat nie kan ontsnap nie. Jy was die enigste kat wat ek ooit geken het wat nooit voëls gevang het nie, maar dan, Karen se mak voëls en duiwe het heeldag lank in en uit geloop by die huis. Muffin het selfs soms bo-op jou gesit en slaap. Jy het seker maar gedink dit hoort so.
Jy was nie bang vir honde nie, dis seker. Ons eie honde het jy met ‘n ysterhand regeer en selfs Bazil met sy 65kg gewigsvoordeel was maar versigtig vir jou. Ek onthou alte goed hoe jy die bure se twee Rotweilers op hulle plek gehou het en hoe jy die arme Duke oorkant die straat geterg het. Ek het baie dae gekyk hoe jy bo-op die hekpaal gesit en jouself tydsaam gebad het terwyl hy histeries gestaan en blaf het – ure aaneen. En hoekom moes jy altyd die ou tannie met die blou hare se poedel rondgejaag het? Jy het my diep in die verleentheid gestel daaroor.
Dankie dat jy so geduldig was met Ponsie toe die klein gifappeltjie by ons ingetrek het. Ek het gewonder of jy dalk eendag jou humeur gaan verloor en haar sou regsien omdat sy voortdurend op jou rug gespring en jou gery het soos ‘n wafferse jokkie. Jy was toe al seker ‘n bietjie te oud om jou regtig te vererg vir die “kinders”.
Toe jou kragte begin afneem het en jy al hoe maerder begin word het, het ons besef jy raak nou oud. Dit was net te gou; ons was nog nie gereed nie, maar toe jy op die punt gekom het waar jy nie meer jou kos kon inhou wat Otis so geduldig vir jou gevoer het nie, het ons geweet dis tyd dat ons moes afskeid neem. Jy het dit ook geweet toe ons jou daardie dag in jou blou gehekelde kombersie toegewikkel het en Karen jou vir die laaste keer na die veearts se spreekkamer toe geneem het.
Sy het jou weer teruggebring, agterna, en jy rus op ‘n spesiale plekkie wat ons vir jou uitgesoek het. Ons het vir jou ‘n pienk roos geplant en jy sal altyd in ons harte groei.
Tot weersiens.
Anne
A beautiful memory of a wonderful cat … I miss mine too … she used to sit on my lap and we watched birds together in the garden.
HesterLeyNel
Yes, cats (all pets) are so special and I mourn the passing of every single one of them as I would that of a human family member.
Hier "blok" Ek!
Die mooiste deernisvolle skrywe ooit – urgh Hester, net een van jou vele mooi fasette in hierdie lewe. Ek het elke letter vir myself gevat en jou kat het my so aan my eie ou vet huiskat laat dink, al verskil is sy mag nie meer uit die huis nie, want daar is mense/monsters om ons wat katte vergiftig en sy het doodsiek by die huis aangekom na so ekskursie – gelukkig kon my dogter haar deurgehaal het, en daarna is sy net tot huiskat verban!
HesterLeyNel
Ag siestog, dis so onregverdig dat diere altyd moet ly onder die mensdom se verval. Katte is mos op hul gelukkigste buite in die tuin.
Hier "blok" Ek!
You tell me… maar ja, eerder huiskat as vergiftigde kat.
Tannie Frannie
Dis die allermooiste brief aan die allerliefste kat…
HesterLeyNel
Sy was die dierbaarste ding ooit en my gunsteling warmsakkie vir die bed.
Tannie Frannie
Ai, hoe verlang ek nou na my dierbare Skoonlief – my drieuur-in-die-nag-maatjie…
dromer777
Dis so mooi ode aan ‘n katkind!
HesterLeyNel
Dankie 🙂 ons was baie lief vir haar
Eveline Lenderink
Ik kan me zo goed voorstellen dat je dit nog altijd voelt. Je hecht zo aan je huisdieren. ❤️
HesterLeyNel
Dit is so Eveline
seegogga
Pragtige ode aan n baie spesiale kat
HesterLeyNel
Dankie, sy was spesiaal.