My vreugdes en frustrasies

Nuwe tydvak

My skaduwee

Sonbril, hoed en sunscreen cream doen niks vir my nie. Ek wens ek kan my hand uitsteek en vir my ‘n wolkie vang, of die son met klippe gooi voordat hy my verskroei. Ek probeer om in die koelte van my eie skaduwee te vertoef, maar net soos die digter toeka se tyd al uitgevind het, is dit ‘n onmoontlike saak.

“Grondmannetjie, ek sal jou kry!
Jy koggel en jy terg vir my.
Jy is my tot 'n las.
Al klop ek jou met die karwats,
Al spring ek weg, jy's veels te rats,
Jy klou my voete vas”.
Grondmannetjie, My Skaduwee - A G Visser

Binne die huis is dit koel, maar buite voel dit soos ‘n bakoond. Ons het twee groot afdakke, maar ons kan nie daar wegkruip nie, want die plante wat ons saamgebring het na die nuwe tuiste, staan daar in die skaduwee. Selfs die droogtebestande vetplante. Hulle kry net so swaar soos ons en die kokerbome daar uit die dorre Namibië en Namakwaland kyk ons verwytend aan. Ons nuwe rose wat ons met soveel sorg geplant het, sterf af. Selfs onder die afdak se skadu is dit warm. En die reën bly weg.

Daar buite op die erf groei nie eens ‘n hondepisbossie nie, net ‘n paar spekbome – te klein en uitgeteer om skadu te verskaf. Vergeet van grasperke. Die vorige bewoners van hierdie huis het die tuin so ge-“landscape” dat selfs die spekbome bakhand staan en soebat vir brak kraanwater. As ek so by die voordeur uitloer, sien ek net die plat verbrande aarde en ‘n lugspieëling op die teerpad aan die buitekant van die motorhek.

Bome. Ons moet bome kry wat ‘n bietjie skaduwee kan maak op hierdie erf, voordat die mislukte rotstuin voor die sitkamervenster begin smelt en die klippe verander in rooiwarm lawa wat straataf vloei.

My broer gee raad oor skadubome en ons val in die pad om kwekerye te besoek. Karen kom te hore van die Kazimingi Nursery Farm doer anderkant by Bredell, Benoni se kant toe en ons pak die reis aan met Morrie se lugverkoeling in die hoogste versnelling.

Kazimingi is ‘n groen oase en sommer gou het ons die twee bome wat ons soek: die vachellia karroo soetdoring en ‘n combretum hereroense russet bushwillow wat die rooiblaar of die raasblaar kan wees in Afrikaans. Ek kan ook nie worrie watse taal jy praat nie, jy moet net groei pappie, groei, want ek wil jou in skadu staan.

Bome op die trollie en ons is op pad om dit in die kar te laai, toe onthou ek dat ek nog altyd ‘n Little John bottle brush wou gehad het en ek laai dit ook sommer op. By die betaalslag, met pensioner’s discount nogal, pluk Karen haar kredietkaart ook uit om haar groeiende rain forest aan te vul. Een van die dae sal sy in ‘n ander kamer moet gaan slaap, want hierdie een word nou ingeneem deur huisplante. Enniehoe, dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Die bome word ingelaai. Morrie is ‘n middelslag groterige karretjie, maar die bome, veral die een met die dorings wat ons voorgeslagte glo gebruik het as naalde (en ek weet nou hoekom) is lank genoeg dat ons hulle so tussen die voorste twee sitplekke deur oor die rathefboom moet laat hang. Karen se werk is om die dorings van my lyf af weg te hou terwyl ek die kar bestuur, vir ‘n folterende 45 minute terug huis toe. Sy uiter so elke nou en dan ‘n gilletjie en vee ‘n bietjie bloedjies weg, maar wat ek ek nou daaraan doen? Ons moet huis kry. ‘n Huis met skaduwee in die tuin.

Ons nood vir skaduwee is hoog en Oudste besluit die bome moet vandag nog geplant word. Dus moet Morrie weer stomp omdraai om ‘n pik en ‘n paar sakke grond te gaan koop. Toe grawe die twee werkers onder toesig en bek-waai van die fotograaf. Laataand het hulle daar gestaan waar hulle gaan skaduwee maak, die twee groter bome … Little John se pot moet nog eers voorberei word.

Vroegoggend en ons draf almal uit om te gaan kyk of die twee geplantes die nag oorleef het. Hulle staan nog, en hulle maak skaduwee. Dis waar. Kyk maar self.

Follow Dis Ekke

17 Comments

  1. Anonymous

    Dit is nou omtrent 36 jaar gelede dat ons hier getrek het. Die tuin was vol gruis en vetplante. Ons het onmiddelik begin om inheemse bome te plant. Noudat die somers so warm en so droog geword het is ek baie bly want die natuurlike skaduwee van ‘n boom is veel beter as die van ‘n dak 🙂

  2. Op ons erf staan báie plante van Kazamingi af! Mag julle s’n ook so welig groei soos ons s’n

  3. Mag daai bome gedy en gou vreugde bring. Jou boomplanters verdien ‘n klop oppie skouer. Hulle was seker bly oor daai swembad.

  4. Aww, geluk met die skaduwee – en dankie vir die pyle 😉 Jou kaalvoetkinders is oulik.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      😁 dankie Frannie, ek moes darem seker maak julle weet waar om te kyk. Die doringboom is gekies juis omdat hy nie so ‘n digte blaredos maak nie, want dan gaan die grasperk heeltemal daarmee heen.

  5. Vertrou dis bome wat vinnig groei sodat julle kort voor lank in die skaduwee kan sit. Daardie dorings lyk maar gevaarlik.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, hulle sê ons behoort binne ‘n jaar ordentlike groot bome te hê. Ek hoop so. Die wilger is bladwisselend, verloor al sy blare in die winter en die doringboom se blare word net ‘n bietjie yler. Dis goed so, want in die winter soek ons daai son.

  6. Wel gedaan. Jy kan darem al jou voete in die skaduwee laat afkoel. Dis goed om inheems te koop. Hul is ook meer gehard as die ingevoerde goed. Jul het beslis nie tyd gemors nie. Nou gaan daar gegroei word! Lekker ook om ‘n swembad te hê. Mooi loop in daardie warm son.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Gesigsroom, lyfroom, sunscreen oil – dis deel van my alledaagse bestaan, want my vel voel soos perkament. Dit gaan lank vat om aan te pas in hierdie klimaat.

      • Ek glo jou goed wat aanpas betref. My trek van uit Bosveld na Secunda(Hoëveld) jare terug, was ook maar ‘n riller met al die vuil lug, koue winters en stof.

  7. woordnoot

    Toe die winde nou so vreeslik gewaai het, het die blare so gemors want ons huisie in die aftreeoord staan in skaduwee van verskeie reusebome. Toe het die Oom elke dag gemor maar nou is ons een van die koelste huise in die oord! Viva bome!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Sê ek ook, Woordnoot. Ek het aan die begin die “skoon” uitsig van hierdie erf vreeslik waardeer, want jy weet mos, in KZN kan jy nie verder as die volgende draai in die pad sien nie as gevolg van die welige plantegroei. Dit was soms benouend. Maar ek het nie geweet dit gaan so kokend warm word hier nie …

  8. Fantasties, Hester! Ek dink hulle staan op die regte plekke.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.