My vreugdes en frustrasies

Blommetoer-2023

Ek is nie ’n goeie passasier nie, dis vir seker

City Sightseeing Red Tour Bus Cape Town South Africa

Veilig terug na ons dagreis per bus en per boot

Vliegtuig, bus, boot en motor het net een ding in gemeen gehad tydens ons Namakwaland Blommetoer 2023 – ek was elke keer die onwillige passasier, nie die bestuurder van die voertuig nie. Dis nie iets waarmee ek ooit gemaklik is nie.

Ons eerste dag in Kaapstad was geoormerk om ’n paar besienswaardighede te besoek, net Karen, Oudste en ek, want die Chef en familie moes werk en skoolgaan. Dus het ons gemaak soos toeriste en op die boonste vlak van die rooi bus gespring daar by die V&A Waterfront. Hierdie bus se kaartjies maak daarvoor voorsiening dat jy by verskillende besienswaardighede kan afklim, rondkuier en dan wag vir die volgende rooi bus om verby te kom sodat jy verder kan reis. Ons het grootoog verby die Mount Nelson Hotel en deur Distrik Ses gery, nie afgeklim by Kirstenbosch, die Monkey Jungle en World of Birds nie, ons vergaap aan Duiwelspiek en ’n rukkie later Tafelberg se voorkant, maar ons het gesit tot in Houtbaai. Ek was nogal redelik op my gemak in die bus, wat baie sê, want ek is nie ’n goeie passasier nie.

Die berge. Ek gaan die prentjies van die berge goed vasgelê in my geheue. Oudste moes my herinner wat die name van die Tafelbergreeks is – Duiwelspiek, Tafelberg, Leeukop en Seinheuwel. Hier is nie berge aan die Laer Suidkus nie, net die see en goue strande 😊Hoe gelukkig is ek nie om hierdie vakansie tussen twee oseane te reis en die beste van twee wêrelde te geniet nie.

Hout Bay area in Cape Town. View of bay and surrounding mountains. Chapman's Peak Drive toll road visible on the other side of the bay, winds its way between Noordhoek and Hout Bay on the Atlantic Coast.
Amper in Houtbaai. Daar anderkant teen die berg loop Chapman’s Peak Drive sy draaie.

Ons was net betyds vir middagete in Houtbaai en het die heerlikste vars vis geëet by die Lookout Restaurant and Bar. Onoortreflik! Eenvoudige vis en tjips was nog nooit so lekker nie. Dit was die bederfie wat Oudste spesiaal versoek het. Iets wat ook hy in sy jonger jare leer ken het.

Toe moes ons saampiekel na Karen se bederfie vir die dag – die bootrit na Duikereiland, deesdae beter bekend as Seal Island. Ons het gaan kyk na die duisende (of is dit miljoene? 🤔) robbe wat soos vrot velle op die gladde rotse rondlê in die son.

Oudste is ook nie altyd gemaklik wanneer hy passasier speel nie, maar Karen is opgewonde, want sy is ’n professionele passasier wat selfs vir Pandosie net bestuur wanneer haar ma definitief nie beskikbaar is nie. Ek en Oudste maak dus soos goeie Musketiers, klim op die boot en smaail vir die kamera.

Die uitvaart was heel skaflik, selfs met die sterk wind wat gewaai het, want ek en Oudste sit onder die afdak. Net Karen hol op en af van die voorste oop dek na die agterste oop dek en swaai haar kamera soos ’n professionele fotograaf. Hoe verder ons vaar, hoe rowwer word die see. Digby die rotse waar die robbe lê en sonbrand, laat die skipper die boot luier in die golwe (die “skommel” beduie die behulpsame kroegman) en dis wat die boot doen – hy skommel van die een rots na die ander, soms lig die voorste dek op sodat ek moet vasklou aan die sitplek om nie af te skuif nie, dan draai die boot homself dwars en lig sy een ribbekas op en ek staar in ’n groot rob in die oë en ek houvas aan die regop paal voor my om die waarheid te sê ek klou aan die paal soos ’n mak aap of dalk soos ’n wafferse paaldanser met net een voet op die grond en die boot weet nie meer waar sy bo en sy onder is nie en waar is my kinders watter soort ma is ek twee van my kinders is skoonveld en ek doen pole dancing en ek los die paal gryp die kroegman aan sy borshare en vra waar is my kinders? Op die voorste dek mevrou, seg hy en ek verstaan dat hy geensins bekommerd is nie. Ek ruk myself reg, los sy borshare en gaan soek my spruite, nie ’n maklike taak nie, want as ek vorentoe mik, ruk die boot sy kop op en as ek linkerkant toe loop, kantel hy na regs. En die robbe verwonder hulle aan die spektakel wat die ou vrou in die boot veroorsaak.

Uiteindelik, ná ’n lang ewigheid, brul die boot se enjin weer en ons vaar uit die skommel deur meer gematigde waters op pad na die hawe. My spruite kom weer te voorskyn en ek bedaar. Nou moet ons weer op ’n rooi bus kom, want die motor staan by die Waterfront en ons moet nog by ons slaapplek kom. Op pad na die bushalte steek ek en Karen albei vas by die roomys-stalletjie. Ons het letterlik jare laas pienk roomys geëet, want dit kry jy nie sommer by die Suidkus nie. Natuurlik is ons amper laat vir die bus en kom so draf-draf, lek-lek daar aan net voordat die bus vertrek.

Pink ice cream in sugar cone at HoutBay Harbour, Cape Town

Ons ry deur Kampsbaai, Clifton, Bantry Bay, ek tel die Twaalf Apostels en kan sweer hulle het aangeteel vandat ek hulle laas gesien het, verby die promenade by Seepunt en die Groenpunt ligtoring, en vergaap ons aan die Kaapstad Sokkerstadion wat ons tot dusver net op TV gesien het. Terug by die Waterfront slaak ek ’n sug verligting dat ons heelhuids aangekom het.

Ek voel verinneweer en swak. Ek is hier om blomme te sien en tyd met die familie te spandeer, nie om my binnegoed te laat rondskommel nie. Ek moet werk aan ’n plan om ons almal bymekaar te hou op vaste grond. As die eerste dag se vakansie só lyk, wat lê nog vir my voor?

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

28 Comments

  1. Jy het daai drafstap roomys verdien.💝

  2. Pragtige foto’s. Die afronding is die cherry op die dag… roomys

  3. Prachtige foto’s. Mooi land Zuid-Afrika. Ben in de jaren 2000 ook naar de robben gevaren. Prachtig is het daar.

  4. Dit is ok as ek lag vir die prentjies wat jy skilder…. of hoe? Oooo en daardie Roomys!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, how about that ice cream mmm. Natuurlik mag jy lag – so kom ons deur die dag met minder plooie en grys hare.

  5. Hester, askies maar jy het laat ek lekker lag vir jou woord skilderye. Ek lovit Om jou stories te lees, hoop hier Kom ‘n opvolg. Jou fotos is so mooi

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie, dis my kinders wat die foto’s neem en daar gaan beslis ‘n opvolg wees. Dit was ‘n epiese vakansie en ons familie het lekker gekuier.

  6. Your commentary is DELIGHTFUL and I find myself travelling around with you – with all those ups and downs. My daughter lives in Hout Bay, so I loved that part of your trip and look forward to more 🙂 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Thanks Anne, my sister also lived in Hout Bay for many years and I used to envy her, it is such a beautiful environment. It’s good to know that you enjoy my travels.

  7. Wat heb je dit mooi beeldend beschreven.
    Ik heb mee genoten van deze tocht.

    Ik kijk uit naar de volgende belevenissen.

    Zomerse groet,

  8. Bwahahaaa, lekker lag ek vir jou en die kroegman! Kostelike gedagtestroom wat jy hier gekryf het en ag, daardie woord “skommel” is so raak!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Frannie, my Chef-seun is nie beïndruk dat ek vir almal vertel dat ek die kroegman aan sy borshare gegryp het nie, asof ek nou tyd gehad het om te dink hoe ek moet gryp! Blykbaar is “skommel” ‘n bekende woord onder vissermanne – ek het dit maar onlangs leer ken toe my kinders leer visvang het van ‘n boot af.

  9. Ek het heerlik gelees en gelag… paaldansouma!

  10. Wat ‘n gedoente, van skommel, vashou en “dans”. Daardie beweging van boot kan die sterkste ou se maag laat omdop. Hul maak verniet of hul dit nie ervaar nie. Die roomys is beslis ‘n heerlike eindpunt. Lekker gelees, jy weet van mooi borduur met woorde.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Scrapy. Ek moet sê ek was soms ‘n bietjie benoud op daardie boot.

      • Die ongewone geskommel vang mens op die onmoontlikse oomblikke. Het met my tante in Durban hawe so ‘n gevoel gekry van ongemak omdat ek met my gesig na agterkant van boot gesit het. Die see was heel woelig en die boot se deinings het my amper gevang. Onthou dit nou nog. My tante was een van Helsedinge en sy’t nie veel simpatie gehad nie. Gelukkig toe ek wegkyk het dit dadelik beter gegaan.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het as kind so gely onder motion sickness, net vyf minute in ‘n motor het my dodelik siek gemaak. Ek kan nou nog nie agter in ‘n motor sit nie – moet by die voorruit kan uitkyk.

        • My ma was ook soos jy. Sy kon gladnie agter sit nie. Met ons twee weke bootreis vanaf Nederland na SA was my Ma nie baie uit haar kajuit nie. Sy het so nou en dan darem eetsaal toe gegaan. Ek dink dit moet erg wees as mens so karsiek/seesiek word.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dit is. Dink net hoe voel dit om vir twee weke lank aanhoudend naar, dronk en lighoofdig te voel. Jou arme ma!

        • Ek was maar ses jaar maar kan goed onthou dat regtig siek was veral die laaste dae. Sy’t nog vir kleinsus ook gehad wat toe amper drie jaar was. Kannie glo sy het dit oorleef as ek so daaraan dink.

  11. Jy het omtrent gepassasier p dag 1, gekar, gebus en geboot. Jou vertelling is heerlik beskrywend

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Positief. Ja, ek wou eintlik die helikopterding gedoen het (daar is verskeie ekskursies wat ingesluit word in die buskaartjie) daarvoor het my dapper kinders nie kans gesien nie. Die boot was vir my ietwat skrikwekkend – daai koue water.