My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Déjà vu and all that jazz

Daardie kriewelgevoel van déjà vu het my vanoggend weer getref. Soms voel dit vir my asof my lewe in ’n kringloop beland het hier by die see. Dit moet iets te doen hê met die laid back lewenstyl wat ons handhaaf. Of dalk is ons net baie diep ingegrawe in hierdie gemeenskap. Gedeelde smart en vreugdes. Ek gaan dit mis wanneer ons eendag hier weggaan.

Gisteroggend was ons haastig op pad na die oudioloog toe om my gehoorapparaatjies te laat balanseer. Die oorinfeksie het so min of meer opgeklaar die afgelope paar weke sedert ek die hoortoestel gekry het en die linkeroor (die probleem-oor) het begin om my gehoor te oorheers, terwyl die regteroor besluit het om terug te trek in ’n staat van hibernasie 🙄

Op pad by die hek uit sien ons daar brand ’n liggie op die paneel voor my. “Pandosie sê sy remligte werk nie,” lig ek vir Karen in en sy spring uit om te gaan kyk. “Jip, die een aan die linkerkant is dood,” bevestig sy. Ai tog, die verkeerspolisie is volop hier in die vakansieseisoen. Op pad Port Shepstone toe probeer ek om die remme so min as moontlik te gebruik terwyl ons albei terugdink aan die vorige embarraserende episodes (meervoud) waar ons in padblokkades beland het.

“Ten minste sal ek hulle hierdie keer kan hoor wanneer hulle met my praat.” Maar ek gril so liggies, want déjà vu and all that jazz, jy weet?

Nadat my ore gebalanseer is, ry ons gou by ons gunsteling dienssentrum in en verduidelik die penarie. Pandosie is ’n moeilike karretjie en om sy remlampies te vervang is ’n gekompliseerde affêre, dit weet ons uit dure ondervinding. Die vorige keer het Ouboet besluit om dit self te doen en hy het al sy seën nog voor brêkfis weggevloek. Die hele ligpaneel moet afgehaal word om die gloeilampie te vervang. Die personeel verstaan en maak vir ons ’n opening in hulle vol kalender.

Baie vroeg vanoggend wroem Pandosie weer uit sy slaapplek. Onmiddellik gaan die deur regoor ons oop: “Where are you going this time of the day? Do you need help?” Dis ons gemeenskap – ons sien om na mekaar. Nee wat, beduie ek deur die oop motorvenster, ek moet net gou Pandosie se remligte laat vervang. “Will you need a lift back? No? Are you sure?” Maar ons is oukei en sal nou-nou weer terug wees.

Die vriendelike tegnikus kom doen sommer gou die werkie buite in die parkeerarea, want as jy weet wat jy doen, is dit mos baie maklik. “Can you switch on the park lights for me?” versoek hy. “Oh, I never drive in the dark and wouldn’t know where to find that setting,” sê ek verontskuldigend. Daarsy. Déjà vu and all that jazz, jy weet? Ek is seker ek het hierdie selfde storie ook vir die padpolisie vertel die vorige keer toe ons gestop is. Hy lag en doen self die nodige.

Terwyl ons wag, neem Karen foto’s van die son wat opkom oor die see en knoop ’n gesprek aan met ’n personeellid wat ’n wilde katwyfie voer. Sy lyk nes die Beurtkat, net kleiner en fyner gebou, en ons dink haar magie is ’n bietjie rond … dalk ’n werpsel op pad? “O nee, ons hoop nie so nie, want ons wil haar laat regmaak, maar sy is nog te wild om te vang.” Ons gesels oor die kostes van katkos, sterilisasie en die algemene versorging van wilde katte.

Nog voordat die son behoorlik op is, is Pandosie weer goed belig en ons wil betaal, maar die tegnikus weier om geld te aanvaar vir die ‘klein werkie’ wat vir ons so baie beteken. “Skenk net ’n blik katkos vir die versorging van die katte,” vra hulle. Dit is die stoffasie van ons gemeenskap.

Ons ry stadig oor die brug om ’n laaste foto van die opkomende son te neem en dan brul Pandosie teen die heuwel op. En net anderkant die heuwel waai die wit handskoentjie om te beduie ons moet aftrek op die skouer van die pad. Déjà vu and all that jazz, jy weet mos, nè? 😲

Ek hou stil, draai die venster af en kyk na die vriendelike beampte wat beduie dat dit ’n roetine-ondersoek is, en vra vir die lisensie. Hoekom? Die lisensie is mos op die kar se ruit geplak . Sy hou haar hand uit en ek knip my oë verward. Karen leun oor en gee vir haar my bestuurslisensie. “Sorry, officer, my mother is a bit hard of hearing,” maak sy verskoning. Wat? Ek het dan R32,000 se hardeware in my ore! 🤔 “Sy het drie keer gevra!” fluister my dogter. “Ja, maar almiskie!” Dis baie vroeg in die oggend. En déjà vu …

Die beampte besluit om liewer nie verder te karring met die dowe ou vrou nie. Ek kry my lisensie terug en ons trek baie besadig terug in die verkeerstroom. Moenie brul nie, Pandosie! Die beampte waai ewe vriendelik. Dis ons gemeenskap.

Follow Dis Ekke

24 Comments

  1. Jy vertelskrywe so dat ek voel of jy hier neffens my sit en gesels. Hehe…déjà vu….jou belewenisse is kostelik.

  2. Ai, ai, toe kry jy toe die verkeerspolisie. Gelukkig was Pandosie se ligte reg.

  3. Ek het hierdie nou baie geniet! Kostelik geskryf, Hester. Jy kan nou nie meer doofheid as verskoning gebruik nie.

  4. Ooooo nou toe, dit klink sooooo bekend. Die motors, oge en ore wat sukkel met ons afgetredenes. Baie bly ook om te hoor almal sien na ander om. Dis lekker om in so n gemeenskap te kan bly. Lekker prentjie wat jy hier geskilde het. Mooi sonsopkoms ook. Mooi loop doer aan die anderkant van die wêreld.

  5. Daai wolke is omtrent mooi, hoor. Dankie tog Pandosie was 100% toe julle afgetrek is

  6. Wat een geluk dat Pandosie helemaal in orde was… Enne: mooie luchten!

  7. Pragtige fotos. Jy het my lekker laat giggel. So bly julle is in ‘n omgee omgewing en mense wat julle lief het

  8. woordnoot

    Dis pragtige fotos…en ek glo die willekat het darem kos gekry…dis mos waaroor die omgee gaan!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, die kattenood is hoog hier. Mense laat nie hulle diere steriliseer nie, gaan dump doodeenvoudig die ma-kat en kleintjies op een van die strande. Daar is baie mense wat hard werk om die katte te vang, te laat steriliseer en dan weer vry te laat waar hulle gewoond is om te bly, maar solank die breë publiek nie deelneem aan ‘n aktiewe sterilasie-projek nie, word die probleem al hoe groter. Nou is dit ‘n bakleiery tussen diegene wat probeer sorg en die ander groep wat sê hulle skep net ‘n nuwe probleem.

      • woordnoot

        Ons het so situasie gehad by n groot winkelsentrum maar een vrou het so stadig maar seker die geveg gewen. Dit bly maar n probleem. Ek persoonlik voel dat as daar nie n veearts aan boord is wat “goedkoper” sterilisasies doen nie sal dit n probleem bly want hulle vra darem vrek baie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Die DBV help uit en die publiek kan bydra vir die koste deur geld in ‘n spesifieke rekening in te betaal, maar dan is daar ‘n lang waglys.