My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Hou die weer dop vir die eerste twaalf dae van die nuwe jaar

Ontbyt op die stoeptrappies saam met die huisplante.

… het die oumense altyd gesê, want dan weet jy hoe die weer homself gaan gedra vir die res van die jaar. As dit op die eerste dag van die nuwe jaar warm en droog was, gaan die hele Januarie ook warm en droog wees. Dag twee tot twaalf bepaal op dieselfde manier elke maand se weer tot en met Desember, die twaalfde maand.

Al wat ek op kan staat maak is dat die oumense maar baie twak gepraat het, en ek hoop dit geld vir hierdie sêding ook. Die eerste twaalf dae van hierdie jaar het dit by die emmervol gereën, die woeste winde het uit alle rigtings gewaai, dit was bibberkoud en helwarm, die son het gebrand en die wolke het ’n dak oor ons koppe gevorm. Nie op afsonderlike dae nie, nee, ek bedoel al hierdie dinge het feitlik elke dag van die twaalf dae gebeur, alle seisoene op een dag. Die een oomblik ploeter ons deur water, die volgende oomblik verskroei die son ons. Ons bly van klere verwissel en rondhardloop agter wasgoed aan wat nat reën buite. Die enigste konstante faktor is die wind. Elke dag van hierdie twaalf dae waai die wind ons murtu. Weersgewys gaan dit ’n aaklige jaar wees.

Maar newwermaaind, ons het hierdie twaalf dae gebruik om klaar in te trek en ’n begin te maak om die verwaarloosde tuin te tem. Die huis begin voel soos ’n tuiste en met Siya se hulp is ons besig om die tuin onder die knie te kry. Dis nogal harde werk vir ’n tuin wat beslis nie groot genoeg is vir ’n vrugteboord en ’n hok vol hoenders nie. Ek noem dit die pottuin, want die plante staan oorwegend in potte.

Ons het die oorgroeide en verdorde plante wat ons in die voortuin gevind het uitgehaal, die mierneste verwyder en nuwe grond en bemesting gegee. Toe het ons van ons eie plante ook aangedra. Al die potte is verskille kleure en kort ’n bietjie afskuur en verf. Volgens die reëls moet die potte almal okerkleurig wees 🙄 hoe saai. That is not going to happen. Op die oomblik staan hulle almal soos soldaatjies in ’n ry reg teen die muur, want ons hou die gang van die son en die plante se reaksie dop voordat hulle ’n finale staanplek kry.

Ek wil ’n hoekie inrig waar daar skadu in die namiddag is en ’n tuintafeltjie daar insit saam met die skaduplante. Intussen eet ons ontbyt en drink oggendtee voor op die stoeptrappies (foto heel bo).

Ons het ’n stukkie tuin langs die huis wat ons deel met die brandweerkrane. Op die oomblik lyk dit soos ’n woestynland. Ek het solank die oorgeëerfde watervalletjie daar ingesit en ons het kompos ingewerk. Die brandweerkrane moet oop, sigbaar en toeganklik wees, wat beteken dat ons die boskasie moet verminder en ’n paar stepping stones insit voordat ons daar kan plant.

Daar is natuurlik steeds die kombuistuin op die patio wat Karen nou besig is om uit te brei. Die kruie word ook oorgeplant in nuwe grond en Karen beplan ’n paar byvoegings.

Dan …

Dan is daar ’n tuintjie oorkant die pad voor ons voordeur wat deel uitmaak van die gemeenskaplike gronde. Daar is mooi plante – die boom is vol stag horns, lugplante en varings, en agter is ’n lieflike lobster claw, lelies en anthuriums. Alles vreeslik oorgroei en uitgedroog in sommige gevalle. Totale verwaarlosing. Ons het oortollige plante en ek soek ’n beter uitsig. Dus dink ek: ’n onopsigtelike coup d’etat in die loop van die volgende twaalf maande, of hoe? 😜

Die weer moet net saamspeel.

Follow Dis Ekke

11 Comments

  1. ‘n Nuwe jaar, ‘n nuwe tuin … julle werk hard so tussen in die nat /warm /droog/ weer nat weer. Ek hoop jy sal later vir ons wys hoe julle tuin lyk.

  2. Die weer is ontrent deurmekaar! As ek na ons eerste 12 dae kyk gaan ons ‘n winderige warm/koud, mistige en droog, met ‘n bui reen hier en daar he! Gister sommer so uit die blote reenbui gehad en dis nie eens on reen seisoen nie.
    Lekker tuin maak!

  3. Praat jy wat Lippe het, die weer is ongekend!! So Bly julle is tuis in die nuwe plek en jou humor steek steeds uit na alles wat julle deur is. Julle doen goed

  4. Ek hoop die ou mense is verkeerd. Ons het ‘n ongekende hittegolf, en mag dit asb nie die res vd jaar so gaan nie! Snags 11nm is dit nog 26 grade, bedags 39 grade.

  5. woordnoot

    En so sorg die nuwe plek en die tuine en die weer dat julle iets heerliks het om mee te begin! Geniet dit. Dalk n paar before en after fotos??