My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Dinge soos vissmeer wat uit die mark verdwyn en leemtes laat

Die aankondiging dat Redro en Peck’s Anchovette vissmeer uit die mark gaan verdwyn het my nie juis ontstel nie. Ek het dit immers jare laas gekoop. Maar mens se gedagtes hardloop soms op vreemde paaie en ek het skielik onthou:

  • Van Karen wat as klein dogtertjie haar broodjie dik gesmeer het met vissmeer en dan tamatiesous oorgegooi het vir ekstra smaak. Blegh! Dit moet sooibrand se moses wees. Tamatiesous is nog ‘n produk wat in onguns verval het in my huis.
  • Van my ouer broer wat op my ma se versoek een skoologgend vir sy lastige laatlam-kleinsussie toebroodjies moes maak. Hy het nie teëgepraat nie (hy sou dit nie waag nie), maar ek het eers gedurende pouse ontdek dat die laag peper tussen die broodjies dikker was as die smeersel vissmeer. Daardie aand aan tafel het ek egter wraak geneem – ek het met kleur en geur uitgebrei hoe heerlik vandag se toebroodjies was, en “Mamma, kan Ouboet asseblief elke dag van nou af my broodjies maak?” Mamma was entoesiasties bly. Hy het nie ‘n woord gesê nie. Mens moet versigtig wees rondom vrypostige en snipperige kleinsussies.
  • Van my eerste swangerskap wat my nege ellelange maande laat ly het onder oggend-, middag- en aand-naarheid. Ek het ‘n dieet gevolg van growwe bruinbrood met vissmeer en ‘n tamatie met elke maaltyd, afgerond met ‘n botteltjie Coca-Cola. Kon niks anders inhou nie. Die sooibrand! Ek was elke dag by die apteek om ‘n stropie te kry wat die simpatieke apteker vir my aangemaak het om die sooibrand te beveg. “Toemaar Mevroutjie,” het hy getroos, “hulle sê dat sooibrand gedurende swangerskap beteken dat jou baba baie hare gaan hê.” Nee, hy het toe amper geen hare gehad nie. Hy het nou nog nie baie hare nie. Hy het wel ‘n rooi kors suuruitslag op sy vel gehad. Ná hierdie swangerskap het ek afgesien van vissmeer en tamaties, maar Coke was nog lank my voorkeurdrank.

Kleintyd het ons sommige Sondae ná kerk by oom Wally en sy nuwe vrou gaan kuier. Ek dink nie sy het geweet hoe om tee te maak nie, want sy het altyd vir ons botteltjies Coke, elkeen kompleet met sy eie strooitjie, voorgesit as drinkdingetjie. Ek het gereken die glasbotteltjies is baie ghrênd en dat ek eendag wanneer ek my eie huis het, ook die botteltjies Coke so aan my kuiergaste gaan uitdeel. Helaas, Coke se samestelling het verander en vir die laaste paar dekades koop ek ook nie meer hierdie koeldrank nie. Dit smaak net nie meer dieselfde nie en ek wil nie koeldrank uit ‘n plastiekbottel hê nie.

Nou onlangs, hier uit die bloute, verdwyn my geliefkoosde sjokolade toe ook uit die winkels. Beacon se Almond and orange smooth dark chocolate het die mark verlaat. Op my navraag het hulle net ‘n e-pos gestuur om te sê hulle maak dit nie meer nie. Eish! My seuns het begin soek in hulle omgewing en pakkies aangestuur – ek wag vir die pakkie daar van die Kaap af met die laaste tien plakke wat beskikbaar was in die winkel. Daarná sal daar ‘n tjoklitleemte in my lewe wees.

Wat het geword van Lay’s se lightly salted chips – die enigste skyfies wat ek ooit gekoop het? Weg. Chocolate log? Weg.

Hoekom praat ek die heeltyd oor eetgoed? Daar is soveel ander leemtes. Wat het geword van my kleintydbeloftes aan myself? Ek sou ‘n motor ry soos my pa se Zephyr met die SieBieJoe registrasienommer. In my sitkamer sou daar ‘n mooi diggeweefde grys mat soos my ma s’n wees, die een waarop ons skaars mag geloop het. Ek sou ‘n Singer naaimasjien met ‘n trap gebruik, soos my ma s’n, om my eie klere te maak.

Maar my mark het verander.

Ek het nie ‘n mat in my klein woonkamertjie nie – te warm in hierdie klimaat. Ek gaan nooit my eie Zephyr bestuur nie. Ek sal nooit weer my voete onder my ma se kombuistafel instoot en kyk hoe sy vir my ‘n rok maak op haar ou Singer naaimasjien nie. Ek kan nooit weer Sondagoggend in die kerk my hand in my pa se baadjiesak druk en ‘n XXX Strong Pepperment uitvroetel om aan te suig nie. Die pepermente is darem nog te koop, maar my pa se baadjiesak is weg.

Nooit. Dis ‘n vreeslike lang tyd. ‘n Groot leemte.

Ek het gister die laaste botteltjie Peck’s Anchovette op ons plaaslike supermark se rak gekoop. Net sommer. En growwe bruinbrood by die plaaslike bakkery. Ek gaan met smaak elke dag ‘n snytjie brood eet en terugdink aan vergange se dae, totdat my laaste voorraad ook op is.

Follow Dis Ekke

31 Comments

  1. DIe leemtes waarvan jy vertel is groot.

  2. “Nooit. Dis ‘n vreeslike lang tyd. ‘n Groot leemte.” Nou sit ek en dink betraand aan al my nooite. Jy het dié nou aan vissmeer vasgeknoop. Ek gaan my tuisgemaakte smeer Nooitsmeer doop.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek moet ophou droom oor gister. Vandag moet nog klaar geleef word – sonder chips, coke, tjoklits en vissmeer, maar daar is darem ander kompenserende faktore.

  3. Weet jy hoe mis ek chocolate log!
    Briljante skrywe en besondere manier waarop jy die verdwyning van artikels gekoppel het aan dinge wat nooit meer sal wees nie. … veral die xxx mints in jou pa se sak. Maak my skoon hartseer.

  4. Die ergste slag vir my was toe hulle baie lank gelede opgehou het om my parfuum te maak – dit was Masumi van Coty, heerlik geruik en was nie duur nie. Ek kon nog nooit ‘n plaasvervanger kry nie.

  5. Die verdwyning van gunstelinge is regtig n groot ding. Daar is sekere goed waaraan jy jare lank gewoond is en dan skielik is dit nie meer daar nie. Dink aan skere klere wat nommer pas is en dan skielik wanneer jy nuwes moet kry maak hul dit nie meer nie, sug, dis aaklig om weer te soek en iets anders te vind wat pas.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Sê jy nou vir my. Ek sê die anderdag vir Karen, mens kry mos nie meer ordentlike ligblou jeans nie. Ek het twee van Ronald Sassoon gehad, yonks ago, met sulke plooitjies aan die voorkant (soos chinos) en dit was ordentlike stovepipes. Ek het daarin geleef. Ek sal my stout boetie verruil vir een paar.

  6. Ai. Mens kry sommer heimwee. Maar jou wraak op jou Boetie was baie skerp

  7. woordnoot

    Ek was sommer siek toe ek hoor dis ook nou af van die mark af…eers Marmite en nou dit! Nie datek dit meer eet nie, maar die simboliek daaragter. Iemand wat net besluit het dis nou oor. Ons het kleintyd ‘n Ivory Bar gekry. DIt was loshande die beste sjokolade stafie ooit, maar dis al baaaiiieeee jare terug van die mark af. Ek smag na een…..

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Marmite? Ek het nie eens geweet nie, want ons gebruik al jare Bovril. Ek onthou dat ek wel baie kwaad was omdat OXO verdwyn het – vergeet om daardie verlies in my blog te noem. Mind you, daar was op ‘n tyd ‘n Cheese Marmite waarvan ek nogal gehou het, maar die prys het belaglik geraak en ek weier om belaglik te doen. Dis hoe ek afskeid geneem het van Marmite. Ivory – nope, kan nie onthou nie. Dalk ‘n wit sjokolade? Dan sou ek in elk geval nie daarna gekyk het nie. Wit sjokolade smaak aaklig en het jy geweet dis nie regtig sjokolade nie? “What’s white chocolate? Actually it isn’t even chocolate because it does not contain cocoa particles. It is just cocoa butter mixed with sugar, often with a little vanilla added for flavoring.” Wikipedia. So, nee, ek sou dit nie gemis het nie.

      • woordnoot

        Jip…Marmite ook. So ons hoop maar Bovril spring die lat vry. Ja…Ivory was wit sjokolade….my gunsteling is Dark chocolate…..

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Myne ook. Gelukkig eet my huismense net milk chocolate – hulle sê die dark chocolate is bitter. Die pakkie wat vandag van die Kaap af kom, is dus uitsluitlik my bederfie 😍

        • woordnoot

          Lucky fish!!

  8. Ek doen nie vissmmeer nie,🤢

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink wanneer ek die voorraad tans in my huis opgeëet het, gaan ek ook nie meer vissmeer “doen” nie 🤣🤣 Gaan dit nog goed met jou daar in die land van die warm sand?

      • Lol, ja ek gaan weer moet leer Afrikaans praat 😃😃 , my onnies bles my as hulle die sien. Dit gaan goed met my, baie blessed. Klink of goed gaan met julle, word nou warm daar. Hier het ons darem winter, 13-23 grade is wonderlik vir my, dan geniet ek dit werklik. So lekker om van jou te hoor

  9. Whhaaaaa, was nog besig. Maar die idee dat goed sommer netso verdwyn is hartseer. Dit laat mens dink aan wat en wie nie meer daar is nie. Baie skerp hoe jy jou boetie gevang het😃😃

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, ek dink dis die teenwoordigheid van mense vir wie jy lief was en wat sommerso langs pad weggeraak het, wat die grootste leemtes veroorsaak. Maar nouja, die lewe foeter voort sonder dat ek ‘n sê het.

      • Dis so mooi gesê en so waar die. En jy is reg, raak sommer net weg

  10. Ek is ook mal oor Lays chips. Hulle het ‘n pepper gehad waaroor ek gek was, en swart pepper &growwe sout. Toe hulle dit van die mark af haal, het ek vir hulle geskryf maar nooit iets terug gehoor noe. Hulle salt &viniger is ook njammies maar skaarser as hoender tande. Dis sleg as hulle gunstelinge van die mark afhaal, soos chocolate log en peppermintcrisp…marmite en ja vissmeer. Dit kom met soveel memories! Ek het hierdie skrywe geniet

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Bondels. Ek is bly ek is nie die enigste wat nog al hierdie ou lekkertes onthou nie. Ek voel deesdae soms uit pas met die lewe.

      • Ek voel ook daai verlies, dis asof mens se comfort verdwyn. Toe ek sit en dink aan jou blog het ek gewonder hoe maak mens dit beter. Al waaraan ek kan dink is om nuwe onthoue te skep..