My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

‘n Halfeeu het in ‘n oogwink verbygegaan

Dis net ‘n bietjie minder as ‘n halfeeu gelede wat ek my mondigwording gevier het hier in Durbs. Daardie jare moes ons een-en-twingtig wees voordat ons wetlik erken is as “oud” genoeg om ons eie lewens te reël, te stem, te trou sonder ouerlike goedkeuring, en om drank en sigarette te koop. In werklikheid het die meeste van ons die ouerhuis reeds op agtienjarige ouderdom verlaat om te studeer of te werk en onsself te onderhou. Maar een-en-twintig was die ouderdom waarop ons die simboliese sleutel ontvang het om aan te dui dat ons die nes verlaat het en nou ons vlerke kon sprei.

Ek het destyds in Pretoria gewoon, my ouers in Durban, en ek het besluit om hierdie belangrike verjaardag by die ouerpaar deur te bring. Ek het ‘n vriendin saamgenooi en ons twee het met die trein van Pretoria af gery. Dit was ‘n goedkoop manier van reis, doodveilig en makliker as om van lughawe tot lughawe te sukkel.

By die ouerhuis het ons gekoek en getee en kopstukke gesels. Later die aand het nog ‘n vriendin ons kom oplaai in haar Mini Cooper om saam met haar en nog twee ander meisies die verjaardag behoorlik te gaan vier tydens ladies’ night by ‘n klub in Umbilo. Ek is seker die “viering” het bestaan uit ‘n glas skoon Coca-Cola, sonder ys – dit onthou ek, maar die res van die viering het skoon by my geheue uitgewaai. Kon dus nie te wild gewees het nie. Dink ek. Wat ek wel onthou, is dat ons voor die uittog na die klub eers by haar huis langs die swembad gesit en kuier het. Haar kêrel, of dalk net ‘n tydelike hingsel, het daar opgedaag in ‘n bont Hawaii hemp en kortbroek en die geselskap begin domineer terwyl hy al om die swembad geparadeer het. Kort voor lank was sy hemp oopgeknoop om sy borshare en goue ketting ten toon te stel. Heel onvanpas, want niemand het geswem nie en dit was nogal ‘n koel aand. Dis seker my verwondering aan hierdie spektakel wat die res van die aand se gebeure so oorskadu het dat ek nie eens kan onthou wat verder gebeur het nie.

Gelukkig is die borshare en ketting nie saam na die klub toe nie. Maar hoekom karring ek nou hier oor warm Coca-Cola, borshare en goue kettings? Dis glad nie waaroor my storie gaan nie. My storie gaan oor herinnering van ‘n halfeeu gelede wat niks van die voorafgaande insluit nie.

Die dag na die klubbesoek, het my vriendin en ek vroegoggend saam met die ouerpaar op ‘n bus gespring en Durbanstad binnegevaar, piekniekmandjie aan die arm. Daardie jare was dit nie nodig om met jou motor stad toe te ry, parkeerplek te gaan soek en verder voet te slaan oral heen nie. Busse was volop, goedkoop en gerieflik. Ons wou die hawe besoek, die slangpark, die akwarium en natuurlik moes ons die dolfynvertoning sien. In die bus het ons gekwetter soos voëltjies, tipiese plattelanders, want dis wat Pretoria eintlik maar was – ‘n groot plattelandse dorp. Die ander passassiers het geamuseerd gesit en luister na ons opgewonde pratery en moes seker onderlangs gegrinnik het toe beide ek en my vriendin skielik om die dood nie kon onthou wat ‘n slang in Engels is nie en ons wil dan nou gaan kaartjies koop vir die slangpark. Mense hier rond praat mos net Engels, nie waar nie? Ag, sê een van ons – wie? – vra sommer vir tickets for the slêngpaak, hulle sal wel verstaan. So met die afklimslag groet al die ander passassiers met ‘n lag in die stem: “Enjoy your visit to the slêngpaak!” Vriendelike mense, die Durbaniete.

Ons het gegril by die slêngpaak, die dolfyne en ‘n enkele pikkewyn luidkeels toegejuig en ons verwonder aan die visse in die akwarium. En toe sien ons die advertensie vir ‘n harbour cruise op die Sarie Marais. Dit kon nie hoër of laer nie, ons moes op daardie boot kom. Ons het ons laaste kleingeld bymekaar geskraap om dit te bekostig, want R1,40 per persoon vir ‘n halfuur se bootrit in die hawe was nogal baie geld wanneer jy platsak is na ‘n dag se jolyt. En daar sit ons toe voor op die dek, kiertsregop soos Namakwalandse meerkatte, en verkyk ons aan al die water rondom ons, groot bote wat voor anker lê, hyskrane wat op en af beweeg en mense wat heen en weer skarrel soos ‘n besige miernes.

Dis die herinneringe wat na ‘n halfeeu weer in my kop ronddwarrel nadat ek hierdie week ‘n foto van dieselfde boot op ‘n oud-kollega se Facebook bladsy raakgesien het. Ek het haar vertel van my ervaring en sy het my onmiddellik verseker dat dit wel dieselfde boot was, en ek het dit bevestig toe ek op Sarie Marie Pleasure Cruises se webtuiste gaan kyk het. Hierdie maatskappy bestaan reeds vanaf die vroeë 1900’s en daardie selfde boot is in diens sedert 1965. Ons, ek, my ouers en my vriendin het op daardie boot rondgevaar in 1972. Amper ‘n halfeeu gelede. Ek was een-en-twintig! Dis ‘n lang leeftyd gelede, maar so vars in my geheue asof dit eergister was. Ek onthou my en my vriendin se opgewondenheid, die halwe glimlaggie wat op my pa se gesig gespeel het en my ma wat haar man se hand styf vasgehou het. ‘n Halfeeu gelede het in ‘n oogwink verbygegaan.

Ek het die foto hierbo by Sarie Marais Cruises se Facebook bladsy geleen en ek hoop nie hulle gee om nie, maar ek dink tog hulle sal verstaan.

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

32 Comments

  1. Hoe vlieg die jare soos n droom verby. Ek hou vd Sarie Marais naam in die Engelse Durban!

  2. Ag Hester watter lekker herinneringe. Sies vir daardie Durbaniete wat nie eers twee plattelandse meisies reggehelp het nie. Jip die Sarie Marais het heerlike herinneringe.

  3. Lekker gelees aan jou onthou onthou die very Imperials van Durban ook.💝

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Lekkervurig. Ek het nounet vir Lewies vetel dat ek destyds vir FNB (toe Barclays) in Durban gewerk het vir ‘n rukkie. Foreign Exchange toonbank. Die ou oorlogsweduwees het elke maand ingekom met hulle mans se oorlogspensioentjeks en dan het hulle sommer gebly vir ‘n geselsie. Ek het ‘n goeie skoot Queen’s English daar ingekry. Heerlike dae.

  4. Hester, dit is SO lekker om hierdie herinneringe van jou te lees!

  5. Dit was nou ‘n lekker lees!! Ekself het in Durban my matriek gedoen en my 21ste in Pretoria.. ek kan nie eers onthou wat het ons gedoen om dit te vier nie…

  6. Dit was so lekker om te lees en kan dink dit is omtrent ‘n wonderlike onthou:)

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie VirgoC 😊 My pa is baie jare gelede reeds oorlede, my ma meer onlangs, maar so ‘ herinnering bring hulle onmiddellik weer skerp en helder in ‘n mens se geheue.

  7. Ek sou ook so ‘n nootrit baie geniet het. 😊

  8. Daardie Sarie Marais boot onthou ek ook nog goed. As skool het ons getoer en ook op die S M gevaar. Baie kindertjies het nooit die see gesien nie en dan nog op n boot gevaar ook. Dit was groot avontuur gewees. Kannie glo dat hul nou nog bestaan nie.

  9. Jou viering van jou 21ste, klink vir my perfek. Wat ń heerlike tyd was dit nie toe jy sonder vrees op busse kon ry. Ek en my ma het so bus gery in Johannesburg, heerlike dae

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek het lang jare in my lewe bus gery in Kaapstad, Pretoria en Bloemfontein. Voorstedelike treine in die Kaap ook en in die laat 70’s nog het ek elke dag trein gery van Pretoria af Johannesburg toe om kursusse by te woon in Braamfontein. My dogter se eerste en enigste treinrit het sy gedoen saam met ‘n toergroep in 2010 en daarna het ons nog twee per per bus getoer in die Noordkaap en Mpumalanga. Voorstedelike busse en treine is vir haar ‘n vreemde begrip.

  10. Sarie Mareis, dat zongen wij ook in onze kindertijd en dat is al ‘even’ geleden 🙂
    Wat een herinnering!

  11. Lekker om so lekker te kan onthou. En lekker giggel ek vir Toorts se nootrit, water en so baie daarvan kan nogal ‘n bootrit in ‘n nootrit laat verander

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Heng ja, en ek is nie seker dat die boot voorsiening maak vir so ‘n noot nie. Ek weet dat baie van die fishing charters se geriefies maar taamlik primitief is 😁

  12. Ek en my man het iewers ná 1983 maar voor 1988 met ‘n RSG-toer Durban toe gevlieg. My eerste vlieg! (Eintlik mos maar net ‘n sprong oor die Drakensberge, nie eens ‘n uur lank nie.) Die hoofdoel was die Militêre Taptoe, maar dit het ook ‘n Sarie Marais-trippie ingesluit… Dis lekker om te onthou, dankie Hester.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit wys jou net hoe klein is die wêreld Christa eintlik. So baie van ons het op dieselfde plekke gewoon, gewerk en gekuier en na aan mekaar verbybeweeg – ongesiens en onwetend.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Back to Top
%d bloggers like this: