My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Ons besoek die terrein van die Slag van Bloedrivier

By Ladysmith besluit ons om weg te draai na Dundee toe om die terrein van die Slag van Bloedrivier te besoek. Net omdat. Ons het lanklaas gesien hoe lyk die wêreld buite die inperkings wat die Grendeltyd ons opgelê het. Ek en Oudste (en Brakanjan, die skaaphond) reis per motor met die N3 langs van Johannesburg af Suidkus toe. Brakkies gee nie om vir die ompad nie. Hy sit al van Johannesburg af penorent op die agterste sitplek om die kom en gaan van motors op die snelweg dop te hou.

Van Dundee af gaan ons nog 43 km ry tot by die terrein van die veldslag tussen die Trekkerboere en Dingaan se Zoeloe-impi’s. Die meeste daarvan grondpad. “Met laeprofielbande, Ma!,” sê Oudste effe verwytend. Hy ry immers met ‘n nuwe vuurwa. Ma knik net, sy het ook daardie soort bande op haar karretjie. En ons is nou in die Zulu Kingdom waar jy gewoonlik maar hop scotch speel tussen die slaggate. Voorwaarts en laat waai al met die waspore langs. Ons is nou op die spoor van geskiedenis.

Dis warm en die wind waai die stof wat die wiele opskop deur die oop vensters in. Ons bokspring so ‘n bietjie op die grondpad en ter afleiding bied ek vir Oudste ‘n geskiedenisles aan, so reg uit my matriekhandboek. My seun ken nie die Trekkergeskiedenis so goed nie. Hy’t in ‘n ander era grootgeword, toe ons voorsate se doen en late reeds veroordeel en langs die pad uit die skoolboeke verdwyn het.

Brakkies klou kiertsregop vas aan die leersitplekke en luister saam. Ons het gebel en vir hom spesiale toestemming gekry om ook die museum en terrein te besoek. Langs pad verwonder hy hom aan die beeste en skape wat in die veld wei en sonder toesig heen en weer oor die pad loop. ‘n Skaaphond sonder skape, noem Oudste hom. Dalk kan ons ‘n klein skapie langs pad koop om vir hom saam te neem huis toe? Ek wonder watter soort Trekkerhond hy sou uitgemaak het. Bedags vee oppas en snags onder die wa slaap. Het die Trekkers hulle honde saamgevat daar van die Kaapkolonie af? Darem seker, ja.

By die Bloedrivier-museum verwonder ons onsself aan die graniet-kakebeenwa en lees die Gelofte wat die Trekkers vanaf 7 Desember 1838 elke dag afgelê het tot ná afloop van die veldslag.

Die vriendelike personeel van die museum speel vir ons ‘n DVD wat die verloop van die veldslag uitbeeld. “Dit het alles gebeur soos wat my ma vertel het!” sê Oudste half verbaas vir die gids. Yay, Ma! Daar is nog dinge waarvan sy meer weet as haar spruite. Ons kyk na die uitstalling van gebruiksartikels, wapens, kleredrag en ‘n voorbeeld van die vegwaens wat gedurende die veldslag gebruik is. Die wa lyk ongelooflik delikaat en kwesbaar in sy houtraam met net ‘n seilbedekking. Daar is foto’s van die Trekkerleiers. Andries Pretorius was veertig jaar oud toe die Slag van Bloedrivier plaasgevind het. Dieselfde ouderdom as Oudste. Vir die eerste keer klim die geskiedenis uit my matriekhandboek en word ‘n ware storie van regte mense: Trekkerboere en Zoeloes wat geglo het in die saak waarvoor hulle geveg het – ‘n land waar hulle in vrede kon woon en vooruit boer.

Net ‘n klein entjie van die museumgebou bekyk ons die replikas van 64 vegwaens en die kanonne, in brons gegiet, in die formaat van die laer waaruit die Trekkers hulleself verdedig het. “Kyk net hierdie laeprofielbande waarmee die Trekkers deur vol riviere en oor heuwels en grasvlaktes getrek het,” sê ek vir my seun.

Ons loop binne die laer rond en kyk na die walle van die seekoeigat aan die een kant van die laer, die Ncomerivier, later herdoop tot Bloedrivier, aan die ander sy. Oudste maak ‘n video en ek hoor die verwondering in sy stem. Ek dink nie enigiemand in ons families het aan die Groot Trek deelgeneem nie. Ons familie aan beide kante is afkomstig uit die Kaapkolonie. Dalk was ons voorsate deel van die Hensoppers. Of die Hanskakies. Tog is hierdie veldslag ook deel van ons geskiedenis.

Ek staan en wonder oor die magte wat deelgeneem het aan die veldslag: die Trekkerboere wat hulle gesinne agtergelaat het en myle ver per ossewa gereis het op pad na UmGungundlovu om deel te neem aan die strafveldtog; die swart helpers wat binne die laer vee en perde opgepas het gedurende veldslag; die Zoeloes wat hulle mense agtergelaat en dae lank te voet gehardloop het oor die Zoeloelandse grasvlaktes om gehoor te gee aan hulle koning se opdrag om hulle grondgebied te beskerm. Was hulle almal bang? Bevrees vir hulle eie lewens? Bekommerd oor diegene wat hulle agtergelaat het? Aangevuur deur die geloof dat hulle aan die kant van geregtigheid sou veg? Of was daar net die wete dat daar geen omdraaikans was nie?

Ek het ‘n kort opsomming van die Slag van Bloedrivier saam met ‘n paar foto’s vir AJ Vosse van die blogtuiste Ouch My Back Hurts gestuur en hy het dit in die Oktober-uitgawe van sy maandelikse tydskrif vir SAFFER Worldwide Radio geplaas. Besoek gerus die skakel https://online.pubhtml5.com/aqbh/uwey/#p=8 om hierdie en ander artikels te lees.

Hier is ‘n paar van die foto’s wat ons in die laer geneem het:

Ons ry met die Brug van Versoening oor die Ncome-Bloedriver. Links van die brug is daar nog water in die rivier, maar aan die regterkant lê maer Ngunibeeste in die droë rivierloop. Die 16de Desember 1838 was hierdie rivier vol water en die stroom het sterk en vinnig gevloei. Die Zoeloes, wat van die westekant af aangeval het, het gesukkel om deur die rivier te kom.

Ons is op pad na die Ncome Museum aan die anderkant van die rivier. Hierdie museum is opgerig om die geskiedenis en die kultuur van die Zulu-nasie uit te beeld. By die hek moet ons egter onverrigtersake omdraai – hulle maak nie vandag oop nie. Dis ‘n groot teleurstelling.

Ons pak die terugtog oor die grondpad aan. In die pad staan ‘n koei wat verseg om pad te gee sodat ons veilig kan verbyry. “Dis ‘n koei, nie ‘n bul nie en sy sal niks aan ons doen nie,” verseker ek my seun. Ek sien hoe hy ‘n oomblik lank sy oë toeknyp en ek wonder of hy bid vir sy nuwe kar. Dan ry ons stadig en versigtig om die koei. Sy bly doodstil staan. Nes ek gesê het.

Op pad terug begin hy weer mor oor die grondpad. Ek pluk ‘n boekie uit wat ek by die museum gekoop het en begin voorlees oor die verloop van die Slag van Bloedrivier. Dis goeie terapie op ‘n grondpad in ‘n kar met laeprofielbande. En dit laat ons ‘n rukkie lank vergeet van die wêreld waarin ons nou leef. Die Grendeltyd-regulasies bly vir eers vergete.

Ons kry slaapplek by die Kwakunje B&B, ‘n pet friendly gastehuis in Dundee, in ‘n ronddawel met ‘n grasdak. Daar is DSTV, ‘n stort met warm water en ‘n deur  “gemaak vir hobbits,” sê Oudste. Ons stamp om die beurt ons koppe dat ons sterre sien. En hoekom is dit elke keer so snaaks dat ek myself besimpeld wil lag terwyl my hoofpyn al hoe erger word? Ons bespiegel dat die deur van die hut die inwoners dwing om respek vir die woonplek te toon – jy moet laag buig om toegang te verkry.

Met ons vroegoggend vertrek uit Dundee, sien ons hoe laag die miswolke oor die koppies hang. Ek onthou die beskrywing in die gidsboekie van die mis wat swaar oor die laer gehang het die nag van 15 Desember 1838. Die bekommernis waarmee die Trekkers hulle geweerpanne probeer dighou het sodat die kruit nie nat word nie. Die verbasing van beide Trekkers en Zulus toe die digte mis die oggend van 16 Desember opgeklaar en die twee partye mekaar op ‘n kort afstand van aangesig tot aangesig beskou het. Wat het deur hulle gedagtes gegaan?

Follow Dis Ekke

Please find information about the coronavirus here SA Coronavirus South African Resource Portal

23 Comments

  1. EK het nou lekker gelees en onthou ons laaste besoek in daardie gebied omtrent tien jaar gelede. Dit is geskiedenis wat moet nie weggesteek word nie! Ek is bly die museum is oop en het gelag oor “By die hek moet ons egter onverrigtersake omdraai – hulle maak nie vandag oop nie” by die ander een. That is par for the course 🙂

  2. Baie interessant Hester. Nooit eers geweet van die museum nie. Ek onthou bitter min van die slag van Bloedrivier; het nie in my skooljare belanggestel in Geskiedenis en al daardie datums nie. Altyd gedog die vrouens en kinders was by… en dat die vrouens gewere gelaai het. Sal bietjie moet oplees.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, daar was net 464 Trekkermans en hulle swart helpers wat met vegwaens gereis het. Dis ‘n wa wat kleiner is as die gewone trekwa en deur 8 osse getrek is teenoor die gewone span van 12 osse. Hierdie kommando is saamgestel om Dingaan se magte te straf vir die dood van Retief en sy volgelinge, asook die moorde langs die Bloukransrivier. Die vroue en kinders is agtergelaat in versterkte walaers en ‘n klompie mans om hulle te beskerm.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ons het in matriek ‘n Afrikaanse taal voorgeskrewe boek gehad, geskryf deur FA Venter, wat een in ‘n stel van vier was en gehandel het oor die Groot Trek. Die een wat ons gehad het (ek dink dit was Offerland) het spesifiek gehandel oor die Trekkers in Natal, insluitende die Slag van Bloedrivier. Venter se navorsing was fenomenaal en ek onthou tot vandag toe nog elke besonderheid soos wat hy dit beskryf het. Die boeke is nou weer in druk en ek oorweeg om dit aan te koop, maar ai tog, ek sukkel deesdae met die fynskrif. Ek wens ek kon dit in e-boekformaat kry.
      Ps. Nee ek jok, dit was Gelofteland. Die vier boeke was Geknelde land, Gelofteland, Offerland en Bedoelde land. Ek sien sy boek Man van Cirene, wat handel oor die kruisiging, is reeds as e-boek beskikbaar. Hy was een van my gunsteling Afrikaanse skrywers.

      • Ek het selfde probleem met fynskrif in boeke. By biblioteek aangesluit maar dit help nie, min boeke wat ek kan lees. Die boek oor die konsentrasiekamp (naam vergeet) het my oë net so oopgemaak vir wat eintlik in ons land gebeur het. Toe verstaan ek eers my pa se afkeur aan die Ingelse.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Het jy aangesluit by die biblioteek se e-stelsel (Libby)?. As jy ‘n biblioteekkaartjie het, kan jy hulle stelsel gebruik om e-boeke gratis te lees. Vra net jou biblioteekpersoneel daarna. Daar is selfs ‘n paar Afrikaanse boeke beskikbaar op die stelsel. Dis baie maklik om op jou rekenaar, selfoon of kindle te lees (Libby maak voorsiening vir al drie) omdat jy die font kan stel.

        • Ag maar jy is slim. Dankie… sal gaan uitvind.

  3. So ‘n boeiende vertelling! Ek het lekker saam met julle driemanskap gereis. Dit lyk na ‘n gedugte koei, daardie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee wat, die Ngunibeeste is gewoonlik baie mak. Hulle is gewoond daaraan om los rond te loop en hulle loop en wei die hele dag langs die paaie.

  4. Dit was lekker om hierdie te lees. Ek onthou toe ek n dogter was, het ons dit besoek. Daardie tyd was daar sulke jong boompies wat op die koppies daar rondom gegroei het. Van vêr af lyk dit soos mense. My klein boetie wat ook in die kar sy les gekry het, het die storie so gekyk en al gillend kar toe gestorm :” hol, hier kom die joeloes… hy kon nie zoeloes sê nie…

  5. Dankie Hester!
    Ja, dis goed om terug te kyk… ons geskiedenis bly belangrik, al word die kinders nie meer geleer van die goed nie! As ek nie mis het nie was my ma se ma se kant Trekkers – ek moet gaan navorsing doen! Miskien my ma se pa se kant ook want hulle is altwee (oupa en ouma) in die Vrystaat gebore…)

    Ek het lekker saam gery. Lyk my daai skaaplose skaaphond sal gou aanpas in die oop vlaktes!! 😁😁

  6. Dit is so jammer die kinders leer nie meer ons regte geskiedenis nie, dis tog so integrale deel van ons almal. Sou baie graag daardie terrein wou besoek, lyk wonderlik uit gebeeld.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Daar is baie van hierdie tipe monumente in KZN. Baie veldslae is hier uitgevoer. Lyk my beide boere en die zoeloes was maar ‘n veglustige groep. Dis eintlik verbasend, want my ondervinding is dat die zoeloes in die alledaagse omgewing baie vredeliewend is.

  7. Mooi gebied en geschiedenis. Heel interessant. Genoten van de foto’s!

  8. My dear Hester, today I have visited the main post-office & was informed that due to out crazy times the South Africa is closed for any sort of post! I will follow the updates to send you some special mood as soon as possible. It seems already in 2021. Crazy year, indeed! I hope your family & you are save enough from the present info current! 😉

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Yes, we are all doing well, thank you, Maria. Hope to hear the same from you. This was a crazy year indeed and I’m wondering which way the tide will turn in 2021. We are awaiting our summer season with great anticipation. We are allowed to swim at our beaches, but the weather is dismal and unpredictable. Hopefully this will improve towards the end of the year.

      • I’m glad to learn that your restrictions are getting milder. Hmmm…it is obvious that even the Nature doesn’t approve the present situation. I’m optimistic about 2021…at least about the end! 😁😂 I wish you wonderful beach time no matter the forecast!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Back to Top
%d bloggers like this: