My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Mymeringe oor die soektog na jou ander helfte

Die ‘ander helfte’ storie het begin by Vossie wat die ander helfte van sy blom verloor het, opgevolg deur Bondels wat begin wonder het oor die vermiste ribbebeen daar uit Adam se dae, en toe die vraag gevra het ‘hoekom soek ons na iemand in ons lewe? Is dit omdat daar ‘n leemte is? ‘n Hunkering? Something missing or broken? Dalk omdat jy nie vervuld “voel” nie?’

Nou wonder ek saam.

Ek voel nie eintlik soos ‘n ‘helfte’ nie. Ek reken ek is taamlik heel – effe afgeslyt, ge-patch en dalk ‘n bietjie verflenter – maar darem funksioneel. Waarna ek gewoonlik neig om te soek, is nie soseer ‘n ander helfte nie, want dan sal ek dalk met ‘n hele paar helftes opeindig wat nie lekker pas nie. En hoe las ‘n mens so ‘n spulletjie aanmekaar?

Nee, ek soek meer na ‘n persoon (of persone), iemand van wie ek kan sê: ‘you are my person’. Ja, ek het Grey’s Anatomy gekyk, so nou weet ons almal waarvan ek praat. En soms vind ‘n mens hierdie persoon, glo dit as jy wil. Maar dan stap die lewe met swaar stewels deur jou emosionele landskap en jou persoon raak weg tussen die krake op die sypaadjie.

Dis dan dat jy begin voel asof jou ander helfte geamputeer is. Wat nie regtig die waarheid is nie, want jou liggaam en jou brein kan nog steeds ten volle funksioneer. En jy is nie alleen nie, want daar is altyd mense rondom jou. Maar jy is steeds eensaam, want die één persoon na wie jy soek in die skare, is nie meer daar nie. Die één persoon wat jou by elke geleentheid ontvang met ope arms, wie se glimlag jou dag ophelder, wat elke keer jou oproep met vreugde beantwoord, wat luister en hoor, wat praat wanneer nodig en weet wanneer om stil te bly, wat saamlag oor grappies en ook ernstig kan wees, wat deel kan wees van jou lewe sonder om jou lewe oor te neem, wat nie wegskram van nabyheid nie, maar weet hoe om ruimte te laat, wat jou toelaat om jouself te wees.

Klink dit na ‘n tall order? Dit is. Dis hoekom jy jou persoon (en jou verhouding met jou persoon) so mooi moet oppas. Want as so ‘n verhouding verbrokkel, word jy wakker in die middel van die nag en besef jy kan nie bel of whatsapp om die donker te verdryf nie. In ‘n kamer vol mense sal niemand jou oog vang om te deel in jou binnepret oor ‘n grappie wat net jy en jou persoon verstaan nie. Daar sal niemand wees wat “hoor” hoe jy jou oë rol by die aanhoor van ‘n simpel aanmerking nie. Geen hand wat jou krom ruggraat ondersteun nie. Dis dan wat jy voel asof daar ‘n leemte is, “something missing or broken”.

Die probleem is dat dit nie altyd maklik is om jou persoon te herken of te behou nie. Hoekom? Want jy is so besig om te soek na iemand wat aan jóú behoeftes kan voldoen, dat jy iets belangriks vergeet – jou persoon het ook behoeftes. Jy wil so graag jou eie storie vertel, lag so hard oor jou eie grappies en huil so hard oor jou eie smart, dat jou persoon se stem wegraak. Dat jou persoon wegraak.

Dan ploeter ons maar voort met halwe blomme en vermiste ribbebene.

Follow Dis Ekke

48 Comments

  1. Jy verwoord dit so goed, hierdie leemte in mens se binneste wanneer dit wat eas weg is.

  2. “Maar dan stap die lewe met swaar stewels deur jou emosionele landskap en jou persoon raak weg tussen die krake op die sypaadjie.” Baie goed beskryf een baie waar.

  3. Ek verstaan ook van “my person.” Ek het een, al vir baie jare, en ek is ewig dankbaar dat sy steeds daar is.

  4. Jy is so reg: ons is geneig om van die behoeftes van ‘my persoon’ te vergeet want daardie persoon is so ‘reg’ vir ons dat ons eintlik net aan ons eie behoeftes dink.

  5. Baie goed geskryf mater. Ek is al ‘n geruime tyd besig om “persone” bymekaar te maak. In elke mens is daar genoeg potensiaal dat daar “iets” in haar of hom is wat jy van kan hou. So ek soek dit in almal wat ek ontmoet. ‘N glinster in die oog, glimlag of lekker lag, omgee hart, onnutsigheid of wat ookal. Instede van te soek na iets waarvan jy nie hou nie. Daar is soveel kosbare mense daar buite

  6. woordnoot

    Ek ken daai gevoel. Dis soms of daar net niemand is wat jou regtig verstaan nie. Op n stadium was ek omring met n klompie mense wat ek baie van wat jy noem kon deel. Die afgelope 10 jaar is ek n kluisenaar in my siel. Stoksieldodend alleen. Maar so stadig maar seker kruip daar weer een of twee nader. En ek laat hulle in.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis goed as jy dit weer kan regkry. Ek glo nie ek gaan ooit weer daardie gemaklike plato bereik nie. My dogter is die enigste persoon wat soms sien hoe lyk my siel.

      • woordnoot

        Ek kry dit reg….maar ek wonder tog of ek my hele siel werklik ontbloot. Ek glo nie mens wys regtig alles nie. My sus het my siel geken maar nou dat sy so ver is sien ons persoonlik niks van mekaar nie.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek dink nie ek sal dit ooit werklik doen nie Ria. Sommige geraamtes moet maar liewer in die kas bly, glo my, anders lees jy dalk môre daarvan op sosiale media. Ek het nie werklik soveel vertroue in my medemens nie.

        • woordnoot

          Mmmm….I know…🤗

        • woordnoot

          Mmmm….I know!

  7. Sjoe Hester… diepe waters… en onder draai die engeltjies rond!
    Nooit-ooit het ek gedink my ou halwe blommetjies sou sulke diepe denke uit bring nie! Nou’s ek sommer lus om te loop bier soek!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Tjom, jy kan mos nou nie toelaat dat ek jou tot drank dryf nie! Ek wil regtig nie hê dat jou vrou vir my moet kwaad raak nie. Soos dit is, bly ek deesdae in die moeilikheid.

  8. Jy het hierdie so goed aanmekaar geweef. Daardie ander helfte is nie beperk tot die teenoorgestelde geslag nie. Ek het my person in ‘n vriendin gevind en is ons vriendskap vir my baie kosbaar.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O jy het dit opgetel! Ja, ek het ‘n vaste geloof daarin dat jy maar liewer nie ál jou emosies en geheimenisse aan jou geliefde moet openbaar nie. Sulke kennis sweer soms onverwags onder die oppervlak en wanneer die liefde skeefloop, word dit gebruik as ammunisie. Maar moenie oorvertel dat ek sulke dinge sê nie, hoor? 😂😃

  9. Ek mis jou en ek wonder hoe ek anders kon geskryf het…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Frannie. Ek dink dis tyd dat Covid sy ry kry en jy terugkom SA toe, hoewel tegnologie darem die afstand baie korter gemaak het. Ek dink dis die fisiese afsondering wat ons almal nou laat smag na aanraking van die gemoed.

  10. Mooi geskryf, Hester. Net vanoggend oor die radio het die aanbieder ook gepraat van daardie net sommer mense en die dieper gevoels mense. Sy het elke oggend n kort stukkie oor die siel “Soul food SPA” noem sy dit.

  11. Soms soek mens te hard, dan is die teleurstelling groot, as jy besef dis nie die helfte nir. Maar die vreugde wete as jy met ‘n ewe siel te make kry, en daardie saam wees groei, dis ‘n loutere hemel geskenk.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dit is. Net jammer laasgenoemde kom nie so dikwels voor nie – maar oorweldigende dankbaarheid wanneer dit wel gebeur!

  12. Pragtig en waar.

  13. Jy het hierdie puik gestel, Hester! Selfs een of twee van mens se kinders kan in hierdie kategorie val.Ek persoonlik dink dat mens soms te hard soek en dan is dit eintlik hier reg langs jou.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jy’s reg Bytjie. Jou kinders bring gewoonlik ‘n ander (jonger) perspektief, maar jy wil hulle ook nie altyd “belas” met moeder se kwellinge nie. En daar is sekere aangeleenthede wat jy liewer met jou tydsgenote bespreek.