Noudat die Coronavirus ons tjank ‘n bietjie afgetrap en ons onverwags in onvrywillige isolasie geplaas het, sou mens verwag dat die inwoners in hierdie kompleks, waar die huise so nabymekaar gebou is, ook soos die Italjaners net vir mekaar sal waai en sing daar van die balkonne af. Nie so nie. Ons het almal harige diertjies wat moet uitgaan vir stappies en piepsie-wiepsies. Ons is nou meer sosiaal as ooit vantevore. Ek neem aan dis by gebrek aan sosiale interasksie in die winkels, kroeë en op die rolbalbane. Die dorp het leeg geloop en daar is sprake daarvan dat die strande dalk gesluit gaan word. Ons is nou regtig op mekaar aangewese vir vermaak, veral wanneer die mislike paliteit die water afdraai, ESKOM ons in die donker dompel en die intenet ‘n vroegtydige dood sterf by gebrek aan selfoonseine.
Dis asof die lewenstyl merkbaar meer laidback word hier in ons klein koningkryk. Indien soiets hoegenaamd moontlik is. Soos dit is, hang die teuels van konvensies en tradisies wat voorheen die norme van ons beskawing bepaal het, reeds heelwat slapper as wat elders die geval is. Ek let veral op dat die inwoners, waarvan ongeveer sewentig persent aan die verkeerde kant van sestig is, nie net meer saans ná donker op die common grounds gesien word in hulle pajamas nie. Nee, die pajamapaarties duur nou sommer van vroegaand tot skuins duskant middagete. Ons verkeer nou rustig saam in isolasie sonder om enigsins op te dress, want ons gaan tog nie juis êrens heen nie.
Ons kuier natuurlik nooit regtig in mekaar se huise nie. Selfs in die tyd voor Corona was dit nie nodig nie. Soos ek gesê het, die huise staan so ná aan mekaar dat jy nie eens jou stem hoef te verhef om jou bure te groet nie. Ons praat van nature altyd ‘n bietjie hard ter wille van die dowes onder ons wat ook deelneem aan die gesprek. Nee, ons sit rond voor of agter die huise op ons eie stoeptrappies en gesels dat die spoeg spat. Sonder maskers, ja. Ons gehoorsaam mos die reël van sosiale afstandhouding. Vir oefening loop ons saam met die honde in die straat af en gesels met die ander stoepsitters verder af in die ry. Dan draai jy daar onder by die rivier om en loop weer terug in een van die ander straatjies en gesels met die volgende blok se stoepsitters. Isolasie is goed vir ons sosiale lewe.
En ons doen dit alles in ons pajamas. Sonder japonne ook, ja – dis nog vrek warm hier.
Eienaardig. Die mans se pajamas bestaan blykbaar meesal uit net ‘n kortbroek. Daarby dra hulle dan sommer ‘n gewone hemp vir sosiale doeleindes. Vandat Jeffrey getrek het, loop niemand juis meer kaalbolyf hier rond nie, nie eens die enkele jong rammetjies wat hier woon nie. Dis net Hekkie wat dit nog soms waag sonder ‘n hemp, maar hy bly in die volgende blok en ons sien nie veel van hom nie. Dit laat my dink mans het heelwat meer inhibisies as vroue.
Die vroue is ‘n ander saak. Ekself lyk nie snags veel anders in my nagkabaai as in my dagklere, wat gewoonlik bestaan uit ‘n driekwartbroek en oorhanghemp nie. Dit verskil van my pajamas in net een opsig, naamlik dat die naghempies ‘n mooi boodskappie het soos ‘sweet dreams’ of ‘sleep all day, dream all night’. Woollies, ja. Reggeraai met die eerste probeerslag. Maar sommige vroue kan vir jou regtig uithang met die pajamas.
Vroegoggend loop ek by my agterdeur uit en sien die man in my huis gesels met ‘n kaalvoet nimf in pienk satynpajamas. Mooi. Vroegoggend is die hare al netjies gekam en ek sweer die gesig is ‘n bietjie ingekleur. Iewers in haar vroeë sewentigs, maar daardie lyf is to die for. En die broekie is kort en die hempie styfpassend. Die man is óf stiksiening of hy is ‘n moerse goeie pokerspeler, want hy roer nie ‘n ooghaar wat ongemak kan aandui nie. Hy gesels net geesdriftig voort oor die orgideë wat hulle gemeenskaplik kweek.
Ek verdwyn stilletjies terug in die isolasie van my eie kombuis en anderkant uit by die voordeur. Nie oor die satynpajamas nie. Nee. Regtig. Dis oor die gehoes wat losgebars het by die huis langsaan. Weet nie hoekom ek nou so koes vir die hoes nie, want tussen so ‘n spul oumense is daar altyd een wat hoes en proes. Of nies. Einste Jeffrey met die kaalbolyf en ek het altyd ‘n kompetisie gevoer oor wie die hardste en die meeste kere námekaar kan nies. Hy het altyd gewen met die klanke. Ek het altyd gewen met die aantal. Nou is ek die enigste wenner. Vir nou.
By die wasgoedlyn is Mina besig om gister se skoongewaste pajamas uit te hang. Ook wit. Sy dra altyd spierwit pajamas. Langbroek met loshanghemp. Ons groet en ek val in by haar gesprek met Melissa oorkant die straat. Sy en haar ma sit in die son. Hulle mag dalk pajamas aanhê. Dalk nie. Dis in elk geval dieselfde klere wat hulle gister aangehad het. En die dag voor dit.
Laer af in die straat loop Petuna met haar twee klein seuntjies af rivier toe. Al drie dra nog hulle onesies. In hierdie hitte? Kort op hulle hakke volg die blondine, Megan, met haar twee wolhaarbrakkies aan hulle leibande. Sy dra ‘n bont pakkie. ‘n Clown suit noem die man in my huis dit. Sy lag daaroor. Sy kan bekostig om te lag. Die jeug is nog in haar guns. Eienaardig dat die man die pienk satynpakkie miskyk en die clown suit raaksien. Snaakse wêreld.
Dis ‘n winderige dag en ons was nie vanoggend strand toe nie. Nou sit die son al hoog. Ek reken ek sal ook maar my pajamas uittrek en gaan hoe lyk dit buite die kompleks se hek. Of dalk moet ek die kat uit my bed skop en net weer inklim. Viva la isolasie.
Bondelsgedagtes
Love dit… alles is rustiger, die strate en die winkels. Asof die skepping dieper asem haal…
HesterLeyNel
Die mense wat ons wel teëkom, is opmerklik min gestres en vriendelik. Dis asof ‘n gevoel van verdraagsaamheid ingeskop het. Selfs die winkelassistente is vriendeliker en meer ingestel op die gemak van die kliënte.
Bondelsgedagtes
Dis wonderlik dat uit iets wat veronderstel is om sleg te wees, iets só goed kan kom
HesterLeyNel
Dis waar.
Anonymous
Ons, is maar net ons 3. Ons hoor én ruik, die varke, van die dogter van die huis, se varkboerdery, die reuk darem net as die wind, suid gedraai het. Dankie vir Netflixs, waaraan ek my nie jui steur nie, maar dankie vir die internet en Whatsapp. Die agterstallige plekke word nou geverf en geolie en die los skroewe, word vasgedraai. As dit veel langer duur, sal sommige plekke, dalk weer ‘n laag moet kry. Sterkte aan almal!
HesterLeyNel
Hierdie kant het besigheid onverwags opgetel. Die kliënte spring almal om hulle diense en produkte oor die internet aan te bied – wat natuurlik goeie nuus vir ons is.
woordnoot
Ek sit elke dag in die mediese sentrum…..al die sub praktyke is doostil. Geen siel by fisio, tandarts, sielkundige of sonar nie. Het vandag my eerste pasient gehad wat kom gehoor apparaat batterye koop het……EK is eintlik in isolasie…so in die mediese sentrum…. tot die dokters het omtrent geen pasiente nie.
HesterLeyNel
Ek en Karen was albei by die tandarts en hulle was nogal redelik besig, maar dit was vroeg in die week, Die gesondheidsorgers is nog op hulle poste. Ek kan gelukkig my huisdokter “sien” op Skype – komplimente van Discovery.
Kameel
Hoe lekker beskryf jy julle omgewing en sy mense. Ek is baie bly jy het oor die pajamas gepraat… ek klim ook al later in die bad en kom eers in klere net voor middagete. Lekker om so rustig die oggend te verwyl. 😊
HesterLeyNel
Ons was verlede week by die biblioteek en ek het heelwat te lese gekry – ook per kindle. Ek duik nou sommer enige tyd van die dag vir my bed en lees tot laat in die aand.
Positief
Is dit net ek wat nog werk, by die werk, met my self-geprakseerde masker en al?
HesterLeyNel
Jy is beslis in die minderheid.
Una
Jy laat jul isolasie na heerlike rustige opwinding klink, Hester. Ek is mal oor die nagklere-rondlopery!
Kameel
Dit gaan nie vir jou werk nie Una… as ek my nie misgis nie slaap jy in jou evasgewaad. Of was dit net daardie een aand toe jy deur die venster moes klim?
HesterLeyNel
Janee Una, wanneer die bloggers eers al jou geheime agtergekom het, kan jy nie eens ‘n onskuldige vraag vra nie.
Kameel
😇
Una
Saam met die kids dra ek spesiaal nagklere, maar dan moet die aircon heelnag aan wees…gloede, Kameel, gloede.