My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Ek ly nie aan slaaploosheid nie – hoekom is ek wakker?

Slaaploosheid is ‘n vreeslike aandoening. Vir slaaploosheid is daar gewoonlik nie regtig ‘n rede nie. Om net gewoonweg nie te kan slaap nie, is altyd te wyte aan ‘n rede. Redes. Wat my so elke dan en wan tot só ‘n mate pla dat ek soos ‘n gesoute insomniak lyk die volgende oggend. Leepoë wat op my wangbene rondskommel. Plooigetrekte mond wat nie wil lag nie. Frons wat spreek van ure se marteling. En ‘n hoofpyn soos ‘n voorslag-babbelas.

Wat het my nou weer wakker gemaak? Slaaploosheid se maai. Daar was Iets. Sulke grr-grr-geluide. Seker weer rysmiere wat by die vensters ingekom het. Dis drukkend warm. Kan nie die vensters toemaak nie. Daai grr-grr is sowaar die blixem in my muskietnet. ‘n Bruin besie. Dieselle klein wetter wat my tamatieplant se blare vreet dat dit lyk soos chantilly lace. Nou moet ek opstaan. Uit by die venster. Kan jou mos nie Doom nie. Dan trek my neus toe. Jy weet dit, nè? En hoor nou hoe raas daai see weer vannag. Smaak my die branders klop aan die voordeur. Is dit hooggety? Kan nie my lig aansit om te kyk hoe laat dit is nie. Dan grom die Monster in die kamer hier onder weer vir my. Selfoon. Lê seker nog onder in die kombuis. Nou is my neus ênniewy toe. Kan netsowel opstaan. Trap, moet jy nou nie staan en neuk om te kraak nie. Yskas. Jip! Grasgroen skil. Bloedrooi vleis. Pikswart pitte. Suikersoet. Middernagfees. Wie het al die waatlemoen opgeëet??? Dors. Die gebottelde water smaak dan ook nou sout? Wat gaan áán op die Suidkus? Die Mislike Paliteit moet minder double cab bakkies koop en hulle waterprobleme oplos. WHAA!!! Donderweer. Sulke kronkelende kettings daar aan die see se kant. Bed toe. Rustelose bene. Spieroefeninge help niks. Eina. Oe. Krampe! Op! Staan op! Sjoe, dit was erg. Daar begin dit nou reën. Dit sous. Hoor ek? … ja … tik … tik … Dóg ek is nie simpel nie. Die vloer is nat. Handdoek. Hoe kan my blaas nou weer vol wees? Ek was dan nounet daar? Atiesjoe! Atiesjoee. ATIESJOEEE!! Ja, moes mos die kat veearts toe vat in die reën gister. Lig wat brand daar onder. Nou het ek die Monster wakker gemaak. Mmm, neus is oop. Dink ek sal nou weer kan slaap.

“Sit af daai lig! Ek probeer slááp!”


Image by Erik Erik from Pixabay

Follow Dis Ekke

53 Comments

  1. Ek ken die so goed! En dan as dir huis wil wakker, is ek eers reg vir slaap. Kostelik Hester, met simpatie.✏📚👌

  2. ‘n Erge scenario – maar ai, so kostelik vertel 😀

  3. Eish ek ken daai ding Dis wanneer jy en jou kop nie vriende is nie

  4. Hierdie klink soos ń nagmerrie, Hester. As ek nie geslaap kry nie, is ek eenvoudig die volgende dag ń 0 op ń kontrak. Eintlik ń -3.

  5. Gebeur met my ook van tyd tot tyd, eish dis rof

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Jy weet dan. En dan moet jy stilletjies wakker lê om nie jou huismense wakker te maak nie. My man ly aan ‘n pynlike rugprobleem en ek probeer om hom nie te steur nie.

  6. Ek slaap baie goed as ek lekker gelag het. Na ek hierdie gelees gaan ek goed slaap 🙂

    Op skool het. my ma my ‘n bruin sent bruin besie betaal om hulle te vang. In die aande kon jy ‘n flits tussen die riete waarteen die boontjies opgerank het sien rondbiggel. Die rose was ook ‘n goeie bron van kapitaal.

    • Sjoe ek sal nog storie daaroor kan skryf!!

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Skryf! Laat ons hoor. Ek is seker ek is nie die enigste slaaplose wese nie en die res van die wêreld dink mos slaap is net so maklik as om jou oë toe te maak.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek is bly ek kon jou aan die slaap sus, Abrie 😀😁😂 Daai besies met hulle harde doppies is ‘n nagmerrie. Nie net raas hulle nie, maar hulle stook die kat ook op en sy probeer hulle jaag – al bo-oor my bed.

  7. Jammer dat ek nou so lekker lag, maar dis kostelik geskryf, Hester!
    Ek weet presies hoe dit voel en het op die lange duur besluit genoeg is genoeg.Depressie het my weereens geslaan nadat ek “wyslik”opgehou het met my medikasie. Nou is ek terug daarop en slaaploosheid is iets van die verlede.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek weer, moet liewer wegbly van chemiese hulpmiddels, want dit maak my behoorlik slaap siek. Ek moet jou ‘n storie daaroor vertel.

  8. En as jy eers wakker is, is jy behoorlik wakker. 😁

  9. Slaaploosheid kuier my elke aand. Ek het jou beskrywing geniet.

  10. Nou het ek heerlik gelag. Sien die hele prentjie voor my. Daardie vlieënde miere wat hul vlerke afgooi op die kombuisvloer. Daardie torretjies wat so doe-doem teen alles vasvlieg. Nog nie hier vlieënde miere gesien nie maar wel torretjies. Gelukkig weet ek nie regtig wat slaaploosheid is nie. Ek het egter ook genoeg slaap per nag nodig ander is my kop sommer dik die volgende dag.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek moet jou sê – Natalse muskiete, besies, insekte en ander vlieënde gedoentes is groter, sterker en meer raserig as wat ek in die res van die wêreld teëgekom het. Hulle kan ‘n hele huis uit die slaap hou.

      • Stem nogal saam met Natal se reuse insekte. Dis grillerig in elke geval. Hier is sulke vielike swart GROOT Kakkerlakke. Gisborne cockroaches word hul genoem. Spesiaal NZ geteelde goed!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Hahaha, ons het ook sulke grotes, maar hulle vang jy maklik en raak ontslae van hulle. Dis die klein vlieënde kakkerlakke waarvoor ons altyd op die uitkyk is. Hulle verdwyn deur elke skrefie en gaatjie as jy hulle nie gou genoeg in die hande kry nie.

  11. woordnoot

    Ek weet hoe dit voel. Het in SKotland begin borriemelk drink en het selfs ‘n dure pak slaaptee persent gekry…..maar nee! Ek het gelukkig darem nie trappe nie, so ek kan rondwandel en niemand weet dit nie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis ‘n voordeel as jy kan rondloop. Ek raak soms só verveeld …

    • Natal se vlieënde paddas is net so groot… en dis onmoontlik om te slaap soos hulle tekere gaan.
      Jammer oor die slaaploosheid Hester, maar ek het jou vertelling geniet.

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Ag Kameel, as ‘n mens nie so baie slaap nie, het jy meer tyd om te leef. Maar soms raak dit eensaam in die middel van die nag.

        • Jy het darem altyd vir….. amper sê ek Trekklavier…. Kerkorrel om jou geselskap te hou 😊

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Nee, ek kan nie liedjies luister nie, dan slaap ek nooit weer nie. Ek live stream deesdae FM Radio. Klassieke musiek laat my lekker slaap.

  12. Ek het dit nou so geniet. Ek sukkel om jou te follow. Wat doen ek werkeerd?

  13. 😂