My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Nie die 80’s nie. Ek het darem fotos van die 70’s

Liewe Una, jy het gevra dat ons fotos plaas van onsself wat geneem is in die 80’s. Blykbaar het ek ietwat in die agtergrond van my gesin se lewe gestaan in daai dekade, want ek het presies drie fotos van myself – aldrie saam met my kaalbasseuntjies in die tuin en in die water. Hulle gaan nie gelukkig voel as ek hulle naakfotos oor die internet versprei nie.

Jy het ‘n foto van jouself geplaas waar jy 26 jaar oud was en ek het darem fotos van myself waar ek ongeveer dieselfde ouderdom was. Dis natuurlik in die 70’s geneem, want my geskiedenis gaan ‘n bietjie verder terug as joune.

Die foto heel bo is geneem in 1970 – ek was dus 19 jaar oud. Soos jy kan sien, het ek destyds al ‘n aksie gehad teen skoene. Maar let op hoe lekker loop ek oor die los klippe. Die foto is geneem by Simon van der Stel se kopermyn naby Carolusberg, Namakwaland.

Hierdie een is geneem in 1971. Net Ek, neem kennis van hierdie haarstyl – ek dink ons het dit die shaggy dog style genoem. Die perm! en daai pose! Eintlik het ek my lewe lank reguit hare gehad. By my pa (van Duitse afkoms) geërf.

Hierdie een is ‘n amptelike identiteitsfoto wat my destydse werkgewer laat neem het. Ek het by die hooftak van die Barclays Nasionale Bank in Pretoria, by Kerkplein, gewerk. Ek dink dit was 1972/3. Let op die donkerblou crimplenerokkie – ons uniform wat alle personeellede gedra het.

Ons is getroud in 1976. Hier het ek die krulle laat uitsny. My hare vertoon baie rooi in die kunsmatige lig wat die kameraman gebruik het. Ons is oujaarsaand in die Burgersparkkerk in Pretoria getroud en die fotos is buite in die park geneem. Ek het baie rooi pigmentasie in my hare en jy kan dit nou nog soms sien (tussen die grys hare) in die fotos wat in direkte sonlig geneem word.

Follow Dis Ekke

54 Comments

  1. Foto’s van mijzelf uit vroegere tijden bezit ik niet.
    Des te meer koester ik mijn herinneringen.

    Nu is het blijkbaar de mode om vooral veel selfies te plaatsen?
    Ook daar doe ik niet aan mee.

    Toch heb ik met plezier jouw blog bekeken.

    Vredelievende groet,

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die inloer, Rob. Ek koester ook my herinneringe. Ek het verlede week die opmerking gemaak dat die Woodstock konsert in my laaste skooljaar plaasgevind het. Toe sê my een seun ek is “ancient” en die ander een wou weet of ek gebore is voordat die wiel uitgevind is. Ek het hulle daarop gewys dat my generasie die rekenaar uitgevind het. En dink net, in my laaste skooljaar het die Amerikaners maan toe gegaan. Wonderlike, opwindende jare.

  2. woordnoot

    Wow Hester!!! Ek beny daai bruingebrande kaalbene op daai klippies! Pragtige fotos en pragtige vrou!

  3. Jy het ń paar kosbare fotos hier bymekaar, Hester. En jy sal nie glo nie, maar ek sien Karen in jou eerste foto raak! Dalk die bou.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Una. Karen lyk baie soos ek, behalwe vir die bruin oë en donker hare (maar het jy die rooi koperglans in haar hare ook raakgesien?).

  4. O jinne, maar dis mooi jonge Hester! Acient my voet, ons het dekades se ervaring en ons harte en denke nog jonk en op en wakker! Mooi, mooi!

  5. Wauw je was een mooie vrouw hoor!

  6. Pragtige foto’s, dankie vir die deel.

  7. Pragtig. Almal van hulle. Ek was ook ‘n kaalvoetkind, tot my ma se ergernis.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, my arme ma. Ek het altyd in die kerk my skoene so stilletjies uitgetrek en onder die bank ingestoot. En my pa ‘n hoofouderling.

  8. Ek is absoluut mal oor jou foto’s Hester! Mag ek sê dis “cool”?

    Jou troufoto is vir my so mooi. Jy het pragtig gelyk. En ek is MAL oor jou hare, wens ek het die waagmoed gehad om myne so te sny. 🙂

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dank Net Ek. Natuurlik was ons cool. Dit was dan die tyd van die hippies en hard rock 😁

      • Ja ek is erg ongelukkig oor ek te laat gebore is. Ek sou bittergraag ‘n tiener in die 70’s ou wees en in my dertigs in die 80’s. alles was net soveel cooler gewees!

  9. Hester daardie oë van jou!!! Ek sou wat wou gee om jou as model voor my kamera te gehad het. Dan kon ons ook ‘n foto vir jou man geneem het met die klem op die oë. Jy was pragtig…al was jy ‘n kaalvoet klonkie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie, Kameel. My man sal jou dalk kan vertel dat daardie selfde oë vele vlamme in sy rigting gespoeg het. Haha, my kinders sê ek het hulle altyd die evil eye gegee!

  10. Jis! Jy was ‘n looker! (Nou net meer mature!)

  11. Ai, Hester, sulke mooie foto’s!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Frannie. Waar’s die dae? Soos blits verby. Ek wens ek was so slim soos my dogter wat nog altyd bewus was van die belang daarvan om elke oomblik te gebruik om herinneringe te skep en (geestes)blomme aan te dra.

  12. Stunning photos, dear Hester!

  13. Sjoe Hester jy is sekerlik die die” Mooie Meisjes, fraaie bloemen” waarvan Gert Potgieter so mooi gesing het. Baie mooi fotos en jy lyk nog steeds naby so!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Net meer verrimpeld en afgewater 😂🤣 Dankie Scrapy

      • Haha, mooi gestel. Daai rimpels word net meer en meer. Ek kyk nie sommer in die spieël nie(net in dowwe lig)

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Haha, laat jy my nou lag. Nee wat, ek moet maar my rimpels aanvaar, want die somer lê voor. Ek het verlede somer sulke zebra-strepies gebrand op my wange – bruin/wit/bruin/wit.

        • Haha nou laat jy my lekker lag. Ek hou van die zebra-strepies. Myne sal sulke wit halfmane onder my gepofde oe en wangetjies. Ek probeer egter om maar uit die son te bly want dis baie giftig hier in die somer.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, ek kom ook gans te veel in die son, maar dis die see se skuld!

        • Hier brand die son mens dood al is ons nie naby die see nie(ons bly steeds n eiland dus is almal maar n klip gooi van die see af) Dit het blykbaar met die son se direkte strale deur die verdunde atmosfeer te doen dat ons vrek van die hitte.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Nou toe nou, ek het nog altyd aan NZ gedink as baie nat, mistig en ietwat koud. Daar leer jy my nou iets.

        • Klimaatsverandering maak dat die somermaande uiters droog en warm is. Hier is telkens droogte geteisterde dele waar diere net nie kan oorleef nie. Hier is ook intensiewe boerdery. Baie diere en min weiveld. Dit her gegtig die afgelope tyd ten slegte verander

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ons ly ook al droog van Aprilmaand af en jy kan dit sien aan die plantegroei. Vir ons wat gewoond is aan die Natalse malse groen, lyk die wêreld nou maar vaal.

        • Dis maar sleg as mens die natuur so sien agteruit gaan. Die plaas ou oorkant die straat het geen grassie meer op sy weiveld nie maar die skape moet maar daaraan knaag. Hul wei selfs snags omdat hul nog nie genoeg geëet het nie. Dit maak my siels ongelukkig om die diere so te sien. Sommige mense het ook maar geen gevoel vir hul diere nie.

  14. Wow! Jy is ‘n beauty!

  15. Hester, daardie smeulende oë het seker baie harte gebreek! Sjoe, jy is pragtig.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Bytjie, maar wat die harte aanbetref – myne het ook soms in die slag gebly, so ek weier om skuldig te voel. Hahaha.

  16. Woww dis pragtig

  17. Wille wragtig vroumens… nou raak ek sommer heel on-PC… bliksem… hulle het mooies gemaak daar in die dorre droogte!
    Sorrie… ek sal verstaan as Jak en seuns my wil kom hang! 😉
    Goed om terug te kyk… en om te sien dat daai mooi karakter van jou nou helderder skyn!! 🙂