Vandat ons hier ingetrek het, dreig ons al om die volmaan te gaan besigtig van die Umtentweni walvisdek af. Ons is egter versigtig vir rondry in die donker en moes wag vir Ouboet se kuier.
Net gou wys hoe lyk die uitsig vanaf die valvisdek deur die dag: ek het hierdie fotos op my Facebook bladsy gewys, maar skoon vergeet om dit darem op my blog ook te plaas. Die dek is geleë min of meer halfpad tussen ons woning in Sea Park en Port Shepstone (Umtentweni, Port Shepstone 30.728884, 30.463449). In die fotos kan Port Shepstone regs agter op die horison gesien word. Die uitsig is asemrowend op ‘n mooi helder dag. In die fotos kan Port Shepstone regs agter op die horison gesien word. Die dek is ingerig met braaivleisplek, vuurput en ‘n toilet (en sekuriteitskameras).
Karen het hierdie fotos van die volmaan geneem op 17 Julie hierdie jaar. Die laaste foto is geneem in die rigting van Port Shepstone. Op hierdie foto kan jy die straal van die vuurtoring se lig sien links bo – die lig weerkaats op die water van die Mzimkhulurivier. Dit is die grootste rivier aan die KwaZulu-Natal Suidkus en Mzimkhulu beteken inderdaad “groot plek” in isiZulu en isiXhosa. Wat vir my besonder mooi is van hierdie foto, is die weerkaatsing van die straatligte op die brug oor die rivier.
En laastens – net om te wys ons was daar 😉 – hier is Ouboet en Ouboet se ma op die dek. Ek was grieperig en het koud gekry, vandaar die Eskimo-uitrusting. As jy jonk is en die bloed warm, EN as jy gewoond is aan Gauteng se bittere koue, kan jy in die middel van die winter die walvisdek en die volmaan aandurf in heelwat minder klere.
Una
Dankie dat jy hierdie spesiale volmaan met ons kom deel het. Jou fotos is wonderlik, en jy en Ouboet lyk beide baie goed! Ons vries hierdie kant van die land, Hester, regtig.
HesterLeyNel
Ons het ‘n baie lekker dag gehad, maar ek wag in spanning – die winter gaan nog toeslaan.
joke_dev
Een heel mooi uitzicht en de maan staat te pronken aan de hemel. Knap!
HesterLeyNel
Dankie Joke 🙂
Anne
Dit is so lekker om weer van jou te hoor – en daardie volmaan is wonderlik!
HesterLeyNel
Dankie, Anne, dis lekker om weer hier te kuier.
Bondelsgedagtes
Wow die fotos is so so mooi, ag ek wil ook daar wees…
HesterLeyNel
😊
Kameel
Mooi mooi! Wanneer ons weer Suidkus toe gaan, gaan ek die dek opsoek.
HesterLeyNel
Vat jou verkyker saam om walvisse te kyk. Wens ek het een van daardie fênsie kameras gehad waarmee ek tot daar diep in die see kan afneem.
woordnoot
Oe…dit is wondermooi!!! Sou baie graag eerder daar wou wees!!
HesterLeyNel
Nou weet jy wat doen ek heeldag. Ek verstaar my. ‘n Namakwalander by die see, dis al wat ek is.
woordnoot
Ek sou ook😁
Toortsie
Die mooiste foto’s.
HesterLeyNel
Dankie Toorts. Dis eintlik nog mooier in werklikheid, want ons bedeesde kameras kan nie reg laat geskied aan so ‘n toneel nie.
VirgoC
Dis pragtig daar🌻
HesterLeyNel
En meeste daarvan so ongerep. Daar is nie regtig ‘n pad af na daardie strand toe nie – jy moet voetslaan om daar te kom.
Olga
Pragtige foto’s.
HesterLeyNel
Dankie, dis ‘n pragtige wêreld.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Ek is mal oor die mooi foto’s van Karen. Maanbetotterd van kleinteyd, sit ek baie volmaan nagte en kyk en kyk. Dit voel of die volmaan my siel voed. Maar, die volgende oggend is die nek maar styf van opkyk, hehe! 😉
HesterLeyNel
Ek was as kind baie beïndruk met die maan en as jongmeisie was daar natuurlik niks meer romanties as ‘n maanligaand nie – totdat die Amerkaners in my matriekjaar daar geland het! Hulle het vir ewig my romanse met die maan bederf.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Die Amerikaners se stappery is weer fantastiese onthou saam my pa. 😉 Kyk nou hoe kyk ons verskillend saam.🤗
HesterLeyNel
In ons verskille lê die opwinding van vriende se geselskap.
Vuurvliegie se lekkervurigeaffêre
Amen
perdebytjie
Fluister…. dalk het hulle nie regtig daar geland nie!Daar is mos deesdae sulke teorieë met bewyse, dat dit alles nonsens was.😄😄
HesterLeyNel
Ek het dit ook al gelees. Laat jou wonder hoeveel leuens ons in die verlede vir soetkoek opgeëet het.
Aletta - nowathome
Pragtige foto’s Hester! Ek kon nog nooit die maan so mooi afneem nie!
HesterLeyNel
Dankie Aletta. Ek het nounet vir iemand genoem dat die hele panorama soveel mooier is in die werklike lewe. Ons beskeie kameras kan nie reg laat geskied nie. Maar ek sê ook altyd dis onmoontlik om ‘n swak foto te neem in hierdie omgewing.
perdebytjie
Oe, dis pragtig…daardie maan is asemrowend mooi!
HesterLeyNel
Jy moet daar staan en dit sien met die gedruis van die branders in die agtergrond! Met volmaan is daar gewoonlik heelwat mense wat op die dek of sommer in hulle motors sit en kyk (en ‘n warmmakertjie drink op ‘n koue aand).
Dr Christa van Staden
Dit is pragtig, ons sou soos ouboet aantrek, ons koue is erg. Spot sommer, ek het koud gekry in die aand toe ons in Johies was
HesterLeyNel
Ons temperature is natuurlik baie gematig. Dagtemperature gaan selde onder 18°. Die probleem is dat ons nou, ná vyf jaar aan die kus, nie meer gewoond is aan lae temperature nie. Ek is baie gemaklik hier rondom 27°C.
Dr Christa van Staden
Jy weet dan Hester! Hier sak die kwik na 10 as dit reën in die somer!
HesterLeyNel
Eish
trommeltjies
Pragtig Hester. Ons kry maar koud hier innie Kaap in.
HesterLeyNel
Dankie Trommeltjies. Ek hoor die groot koue kom nog.
aj vosse
Sheppie… nou, daars vir jou ‘n plek!! Laat my terug dink aan my jongmans dae!!
Mooi fotos… daai Nikon van Karen is ‘n wenner. Wat se lense het sy gebruik vir die mooi oranja maan foto? My lense is vlenters… ek kry nie mooi “close-ups” nie! 😉
HesterLeyNel
Net die ingeboude lens – factory issue. Ons dra nie duur toerusting saam na donker in die aand of op plekke wat ons nie goed ken nie. Dis ‘n Nikon Coolpix L840.