Ek kan nie glo die eerste helfte van Junie is reeds verby nie. Junie is gewoonlik ‘n heerlike maand hier by die Suidkus en hierdie jaar is nie ‘n uitsondering nie. Die weer is lieflik – helder sonskyndae, ietwat knyperig-koel vroeg smôrens en laatmiddag, maar merendeels windstil en die water is verfrissend. Ek swem nie meer hierdie tyd van die jaar by die strand nie, maar die vakansiegangers en die surfer boys geniet dit.
Vuurpyle en sardyne: Junie is natuurlik ook die tyd wat die vuurpyle begin blom en volgens oorlewering volg die sardyne kort op die hakke van die eerste blomme wat teen die blou lug uitskiet. Sardientjiekoors loop alweer hoog. Ons het nog nie sardyne gewaar nie, wel dolfyne en walvisse, maar ons kan darem al spog met fotos van vuurpyle. Die foto heelbo is die naweek geneem by Uvongo langs die Parkrunroete. Onder is nog ‘n foto wat geneem is by Uvongostrand, by die ou pier waar vissermanne mekaar eersdaags gaan begin verdring. Visvangtyd het aangebreek.

Rolbal Hibiscustoernooi: Daar het 40 spanne van vier persone deelgeneem en die spelers het van heinde en verre gekom wat elke jaar in Junie aangebied word. Ons het ‘n elke oggend fotos gaan neem vir opdatering van webtuiste en sosiale media. Pandosie het heen en weer geflits tussen die omringende dorpies en deelnemende klubs. Werk dus – maar van die plesierige soort.
Die Groot Trek na Amsterdam: Hierdie deel van die werk is nie so plesierig nie. Ons het begin om webtuistes oor te skuif na ‘n nuwe internetbediener in Amsterdam. Ná baie navorsing het die senuwees geknaag toe die eerste paar pogings om databasisse en lêers oor te plaas, klaaglik misluk het. Dis toe dat Karen (slim kind) besef het ons internet is bloot te stadig en sy het afstandstoegang (remote access) van ‘n rekenaar met toegang tot veseloptika (fibre optics) in Johannesburg verkry om die oorplasings te doen. Onmiddellike sukses. ‘n Internetboer wat by die Suidkus woon, maak báie slim planne. Maar is tegnologie nie wonderlik nie?
Internetradio ook: Dis nog ‘n ding wat my fassineer, goeie musiek en goeie geselskap wat beskikbaar is met die druk van ‘n rekenaarknoppie. Ek skakel so nou en in op die program wat die blogger A.J. Vosse weeksaande aanbied. Opdatering Feb 2020: Hy is nou op Saffer Radio , so teen 19:30 (Suid-Afrikaanse tyd) daar uit Ierland. Dan luister ek na sy musiek terwyl ons ‘n hond uit ‘n bos gesels op die radiostasie se chatkanaal. Ons het verlede week ‘n bietjie nostalgies geraak oor Suid-Afrikaanse bands en hy het my binne ‘n halfuur meer geleer van hulle musiek as wat ek in ‘n leeftyd geweet het. Skakel gerus in om te luister en saam te gesels – dis groot pret. 🤔Wie onthou nog vir Master Jack?
Die man in die huis: Hy raak seker ook maar verveeld as die twee vroumense so rondloop, en dan kuier hy op en af in ons kompleks. Siende dat ons nie ‘n tuin het nie, spandeer hy sommer sy tuinlus by die bure. Een van sy dankbare vriendinne het vir hom ‘n sjokoladekoek gebak vir sy moeite. Ek gun hom die soetigheid, maar o wee, ek merk op dat ek hierdie jaar vir hom groter grootte sweetpakbroeke moes aanskaf vir die winter. Dalk kan ek die dames versoek om liewer vir hom slaai voor te sit wanneer hy daar kuier?
Op soek na Aidan, ontmoet ons vir Patricia: Aidan is ‘n drie-jarige seuntjie wat by sy ouerhuis weggeglip het om die strate te gaan verken. Ons was net terug van ons strandlopie af, toe ons gehoor het dat hy vermis is. Die polisie was gou op die toneel en ons het almal in verskillende rigtings gespat om te help soek. Ek en Karen het eers in die omgewing van die rivier gesoek en toe weggedraai, teen die heuwel op, waar ons geroep reaksie ontlok het – Patricia het oor die heining gevra of ons op soek is na ‘n kind. Sy het ‘n kleintjie van drie jaar voorgekeer halfpad teen die heuwel op en die onwillige rakker by ‘n gewillige buurvrou gelos om die owerhede in kennis te stel. Sy het aangebied om ons te gaan wys waar hy is. En daar trek Patricia weg en maak kleingeld van daardie heuwel. Sy loop skoon onder my uit, terwyl sy land en sand gesels en haar nie steur aan my tong wat uithang nie. Sy is 76. Die polisie het saam met ons by die huis aangekom, want toe het hulle ook alreeds ‘n oproep gekry. Aidan was veilig en die res van ons het doodmoeg huis toe gestrompel. Maar ek wil teruggaan om by Patricia te gaan kuier, sommer binnekort. Dalk kan ons nog ‘n bultjie of wat saam uitloop.
Toortsie
Bly julle het vir Aiden gekry!
HesterLeyNel
😊 ons was almal verlig. Ons was so bang dat hy in die rigting van die rivier beweeg het.
Anne
‘Master Jack’ neem vir my ver terug – dankie vir die herinnering! Dit is wonderlik dat julle vir Aiden gevind het.
HesterLeyNel
Dankie Anne, dis ‘n groot verligting vir almal.
kethuprofumo
I adore the plants you have there. All of them are so bright, so unusual! I guess their scent is enchanting too.
HesterLeyNel
No scent, I’m afraid, but their foliage and flowers are so flamboyant that we don’t mind. We do have lots of fragrant plants like honeysuckle, jasmine, yesterday-today-and-tomorrow and frangipani growing in the gardens, but none of these are indigenous.
kethuprofumo
Amazing, dear Hester! Your bees must be very happy. 🙂
rondomtaliedraai
Ooooo sulke kleintjies is ‘n handvol en jy moet hulle elke minuut dophou.
HesterLeyNel
Ja, ek is bly my dae van kinders is verby. Ek weeet nie hoe ek dit oorleef het nie. Ek weet ook nie hoe het hulle dit oorleef nie.
Una
Maak plek, ons trek ook Suid-Kus toe, daar gebeur dinge!
HesterLeyNel
Of dalk raak ons net meer opgewonde oor kleiner dingetjies? 😀 Dis mos maar ‘n klein dorpie hierdie.
scrapydo2.wordpress.com
Lekker hier by jou gekuier. Ek voel sommer die opwinding van die sardyne wat oppad is. Patricia vat nie nonsies van bulte nie. Bly sy het die ourjie veilig gehou. Hul besef mos nie van die gevare wat kan opduik nie. Jy sal Patricia se stories moet vertel dit gaan heerlik wees.
HesterLeyNel
Ek jeuk nogal om die mense hier rond se stories te vertel, maar nou-nou beland ek in die hof. ‘n Toe mond is ‘n heel mond, nè.
scrapydo2.wordpress.com
Stem saam en jy sal juis sien dat die ou waarvan jy praat gaanlees wat jy vertel en hul gaan gladnie daarvan hou nie.
woordnoot
Klink baie meer opwindend as hier in die koue Pretoria. Ek is bly Aiden se opspoor was ‘n goeie ene. Internet radio is ‘n wonderlike ding….maar ons het nog ‘n entjie om te gaan. Maar dis die pad om te gaan. Daar is regtig iets vir elke smaak.
HesterLeyNel
Dis vir my baie meer intiem as tv en ek hoef nie stil te sit voor die skerm nie. Jy dra sommer die radio saam op jou selfoon.
Kameel
Die lewe was ook heel interessanter toe ons tussen die mielielande gebly het. Toe jy van Aiden praat toe trek my maag saam…. dadelik aan daardie rivier gedink. Geniet die vuurpyle. Mooi loop!!!
HesterLeyNel
Dankie Kameel 😊
Bondelsgedagtes
ek wil op daai bankie kom sit…… eish, bly Aiden veilig
Tokeloshe.
Pragtige fotos!
Lekker herhineringe, ek moet eendag my storie van The 4 Jacks and a Jill Blog 😉
aj vosse
Hier by ons is die vuurpyle ook aan die blom… maar, dis somer! Geen sardyne hier nie… maar die lobster seisoen is oop! 😉
Baie dankie vir die noem… ek het maar stoksiel aleen aan ge ploeter gistraand! Pret!!
Julle moet plan maak om Vrydae aande ‘n draai te kom gooi… ek sal nogal laaik om ‘n spil Suid Afrikaaners as gaste te hé!! 🙂
HesterLeyNel
Ek sal probeer om ‘n klompie bloggers bymekaar te kry vir een Vrydagaand. Maar jy ken mos jou landgenote – Vrydagaande verdwyn hulle in die niet om elkeen sy eie vleisie te braai en ‘n glasie te klink. Dis die stilste aand van die week.
aj vosse
Dankie Hester… dit sal lekker wees om ‘n klomp van julle te probeer vermaak!
Vrydag aand jol!! Lekker pret! Miskien moet ons dit ‘n ander aand maak… en ‘n ander tyd? Ek is flexible!! 😉 (Omkoopbaar?? Maar… net vir lekker musiek!) 🙂
HesterLeyNel
Laat ek by die ander hoor. Dalk kan jy ‘n paar special requests doen?
aj vosse
Klink na ‘n plan… maar net vir julle! 😉
HesterLeyNel
Jy hoef nie name te noem nie.
aj vosse
👍🎵