My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Jou ma moes jou kleintyd al doodgelê het

Elke Namakwalander wat sy kleintyd in hierdie harde wêreld geleef het, sou op die een of ander stadium hierdie uitspraak òf gelewer òf aangehoor het. Namakwalanders is bekend vir hulle op-die-man-af uitsprake.

Dis ‘n gesegde wat onder uiterste provokasie toegesnou word, omdat jy nie die woorde kan vind om uiting te gee aan jou woede, pyn, frustrasie, skrik of magteloosheid nie. Maar jy wil darem die sondaar laat verstaan dat hy nie geskik of welkom is om hierdie deel van die aardbol met jou te deel nie. Sulke tye val jy terug op die sêgoed van jou kleintyd.

Ek het dit gister vir my man gesê. En hy lag nog steeds.

My man is ‘n poetsbakker wat niemand se fyner gevoelens ontsien nie. Veral nie myne nie. Hy vang my nie dikwels uit nie, want ek ken kom al te veel dekades om op te noem. Maar soms glip hy by my verby soos ‘n paling.

Gister het ek ‘n afspraak gehad met my mediesefondsverteenwoordiger. Hulle doen een keer per jaar huisbesoek by die oues van dae, waarvan ek nou een is (ha-ha, dit klink na ‘n grappie, ek kan nie glo ek het dit gesê nie, dit klink nie moontlik nie – is dit nou so wraggies, huh?). Enniehoe, hulle kom neem jou bloeddruk, toets jou suiker en cholesterol, en bepaal jou HIV-status en jou Liggaamsmassa-indeks (LMI), ens. Alles in die gerief van jou eie huis.

Die punt is net, sulke goed is nie gerieflik of privaat, veral nie privaat nie, want in my huis is daar ‘n man. Hy is alomteenwoordig, hy laat hom nie uitsluit nie en hy het ‘n opinie omtrent alles. My HIV-status is negatief, bloeddruk, suiker en cholesterol in die kol, want ek let op wat ek eet en kry genoeg oefening, en die man kry niks om te kritiseer of die spot mee te dryf nie. Tot sy frustrasie.

Die skaal, dieselfde soort as wat ek gebruik, en die meetband word uitgepak. Hy weet ek het die afgelope paar maande hard gewerk om die einde van die jaar feesseisoen se vetjies weg te werk. Hy weet ook dat ek suksesvol was en sy frustrasie (sy “lyding” noem hy dit) oor die voortslepende rigiede beleid van geen suiker / geen oortollige koolhidrate ken geen perke nie. Nou hou hy hierdie gemeet en geweeg met groot belangstelling dop.

“Trek uit jou skoene,” sê hy, en neem ewe galant my hand om my op die 5 cm hoë skaal te help. Nou toe nou.

Ek staan mooi stil, kiertsregop, en die dame kyk na die lesing. “Raait,” sê sy en maak ‘n aantekening op haar vorm. Ek kyk wat sy geskryf het en my bloed stol in my are. Wat? Waddehel? Dit kan nie wees nie. Nie op my skaal nie. Nie in my boeke nie. Iets is verkeerd. Ek skuifel my voete en buig vooroor. Daar wys dit tog. Maar ek ken hierdie skaal; as jy mooi stilgestaan het en die lesing eers geneem is, sal dit nie verander nie, maak nie saak hoe jy vroetel nie. 

Toe kyk ek vir die man: “Het jy op die skaal getrap toe sy my geweeg het?” vra ek.

Stilte. Maar die gesig spreek boekdele.

Ek klim van die skaal af, druk die reset-knoppie en klim weer op. Beduie woordeloos aan die dame om die lesing, hierdie keer die regte een, weer te neem.

“Jou ma moes jou kleintyd al doodgelê het,” sis ek deur my tande vir hom.


Image credit: clipart-library.com Angry Woman Cartoon #1761837
(License: Personal Use)

Follow Dis Ekke

40 Comments

  1. O genade, maar ek lag vir julle! Manlief behoort my glad nie te vergewe as ek daardie sêding teenoor hom gebruik nie. Glad nie.

  2. woordnoot

    Haha! Ek sal dit nie waag om daai een te sê nie, want die Oom se skouertjies sal dan eers sleep!

  3. 😆

  4. Ooooo ek ly onder sulke manne…. skoonseuns ingesluit. Maar daardie woorde sal ek ook nie kan sê aan Ken nie. Gee jou man ‘n goeie klap op die rug en sê ek sê “Bravo dat hy sy straf soos ‘n man kan vat!!”

  5. O genade. Ek skater, dis in soortgelyke gedoente as daar by ons ingeweeg word.

  6. My man en jou man klink of hulle vanaf dieselfde tipe akker af kom… Myne ook baie altyd te sê en soek altyd ‘n geleentheid om ‘n eiertjie te lê oor ietsie veral as dit beteken iemand gaan kan lag oor sy sêgoed.
    Vir myne kan ek dit sê, want hy verstaan te goed hoekom ek dit vir hom sou sê. Myne sal nes joune dink dis baie snaaks. 😆

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis nie almal wat hierdie soort humor snap nie, maar ons ken mekaar gelukkig goed. Buitendien kan ons nie lank kwaad bly nie, want met wie gaan ons dan gesels?

  7. Klink soos die soort ding wat my pa en broers sou gedien het…. en ekke maar nie met enige iemand nie..

  8. 😂

  9. Die ou bogger! Bly jy kon dinge regstel. Hy kort n paar warm klappe met sy stuitigheid!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek moet my paplepel inspan!

      • Ek het ook altyd n lekker paplepel gehad toe ek vir die kleintjies skool gehou het. Hul was baie skrikkerig vir hom. Ek het meer met hom beduie as om te slaan.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dit was sekerlik in die dae voordat ‘n paplepel as ‘n onwettige dreigement beskou sou word. Een van my onderwysers het ons sommer met bordveërs gegooi – onhou jy die houtblok met die vilt aan een kant waarmee die swartborde skoongemaak is?

        • Ek het ook sulke borduitveer-gooiers gehad. Dit was in 2005/6! Die Indier hoof het self baie hardhandig met kinders opgetree. Ek het n klop stoute wettertjies gehad. Die ouers het gevra dat ek hul bietjie moet regsien. Hul was egter heel okay as hul in die klas was sonder om hul te foeter. Buite was hul soos wilde perde.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek het nie ‘n groot geloof in lyfstraf nie. Ek dink dis vernederend vir ‘n kind, maar ‘n diskrete raps so nou en dan, kan nogal help.

        • Ek het ook nie regtig nodig gehad om regtig te straf nie. As daar n probleem is het ek dit aan die hoof oorgelaat om saak op te los en ook gter n toe deur.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          By ons skool het hulle ook nie juis geslaan nie. Maar … daar was detensie. En dit was die prefekte se werk om detensieklasse waar te neem. Ek weet nie vir wie straf groter was nie, die oortreder of die prefek.

        • Op die oomblik as die kind herhaalde male oortree kan hy in die hoek gesit word. Eintlik is jy as grootmens veronderstel om mooi, rustig te plet dat hy tog asseblief nie so moet wees of maak nie. Teen daardie tyd voel ek lankal om sy nek om te draai.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek moet ongelukkig met jou saamstem.

  10. Bwhahahaha! Hoe lekker lag ons nou want ek en ma kan daai prentjie sien! Ons ken van sulke stoutighede. Hy klink na die dierbaarste siel ooit! 😀

  11. Ek het nou heerlik gelag, dankie Hester!

  12. Hahaha, mens karring nie met ń vrou se gewig nie!!!

  13. So ‘n terroris. Ek sou dieselfde gese het as ek jy was. Hahaha. ‘n Vrou se gewig is heilig.

  14. Ai… die trane rol die kant!!
    Al sy harde werk om jou op jou tone te hou… en dit toe verniet!
    Gee daai man ‘n medalje… en neem hom uit om te gaan vreet… en suip!
    Hy verdien elf uit tien vir daai poging… en dat hy my so laat lag het!!
    DANKIE!!!
    🤣🙃😂😉😃😁
    Nee… maak dit twaalf uit tien!!
    Ek lag nou nog…