My vreugdes en frustrasies

Dagboek, Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 26 & 27 is Panda Pusha Playa dae

Small black car on a tow-in truck

Liewe Dagboek, nee ek het nie die Lotto gewen nie. Die manne by die petrolstasie dans elke keer as hulle my klein karretjie sien intrek vir petrol en dan sing hulle eers vir my die Lotto-rympie: Panda, Pusha, Playa.

Nou staan my Panda met ‘n gebreekte koppelaar (dis nou ‘n clutch, nè!) en Hester moes hom vanoggend Pusha. Vandag kan ons nie Playa nie. Ek het gisteraand, toe ons vir Karen by die bushalte gaan haal het, gevoel die clutch trap in soos ‘n marshmellow wat te lank in die son gelê het. Toe ek dit vir my man noem, weet hy te vertel dat ek my verbeel.

“Dit kom daarvan as jy met jou slippers rondry.”

“Dis nie slippers nie. Dis sagte stewels.”

“Dit lyk vir my soos slippers.”

 Vanoggend het ek skoene aangehad. Daai wat nie lyk soos slippers nie. En toe ek die clutch intrap, glip my voet amper deur die vloerbord. Ek het nogtans die kar uitgetrek, maar net buite die motorhek het ek besef dat ek òf winkel toe en terug kan ry (40+ kilometer) in een rat, òf ek kan die Panda terugstoot tot in die garage.

“Mansmens! Ek ken my kar. Ek wéét as iets verkeerd is. Slippers inderdaad.” My bek was sommer dik.

En natuurlik het ek die hele Sondag in ‘n toestand van paniek deurgebring, Candy Crush gespeel in die middel van die nag en amper niks geslaap nie. Nie omdat ek regtig gestrand is nie, maar oor my siek kind. Hierdie klein karretjie het ‘n naam: Pandosie. Hy het my oor baie jare heen getrou oor baie kilometers gedra. Dis my kind. As ek hom moet afgee, sal ek weer tjank soos wat ek destyds getjank het oor my Opel Kadett: Dettie by name. Ek word lief vir my wiele. Nou word Pandosie ook oud – 10 jaar op die kerfstok, 100,000 kilos op die klok.

Vanoggend vroeg het ek reëlings getref om Pandosie by die Fiathandelaar in Shelly Beach, waar al sy dienste gedoen word, te gaan aflaai. Hy sal darem seker terug wees voor die einde van die week. Dalk.

Hoekom voel dit dan vir my asof Meimaand 2019 daarop uit was om my treiter? Nie op te hou om my te klap totdat ek bloedneus is nie? Nee, nou is ek sommer net swaarmoedig.

Eers ‘n grappie of twee.

Die bure het almal die spektakel kom gade slaan toe die Panda op die vragmotor gelaai is. “Ma, hulle dink jou kar word ge-repossess,” sê Karen. Nee, darem seker nie regtig nie.

Buurman-by-die-hek en buurman-langsaan het kom hulp aanbied. Wonderlik hoe hierdie mense weet van saamstaan en hulpverlening.

Maar ek kan sweer die ander bestuurders op die pad het ‘n gesamentlike sug van verligting geslaak – die ou vrou se swart karretjie is bekend (berug) hier rond.

Toe ons uiteindelik by die winkel uitgekom het, het ek weer ‘n heerlike vars Franse brood gekoop met ‘n kannetjie van hulle sop-van-die-dag. Terwyl Karen besig was om die sop in te skep, het ek kouevleis vir my man bestel. Ek het gekyk hoe die dame dit sny en weeg en toe dwaal my aandag – en my voete – weg na ‘n ander toonbank. Toe ek uiteindelik onthou het om my pakkie vleis te kry, het sy so ewe agter my rug haar oë gerol en vir Karen geknipoog met daardie tipiese “Oumense! Jy kan hulle nêrens heen vat nie” uitdrukking op haar gesig. Sy het nie besef dat sy met ma en dogter te doene gehad het nie. Karen het haar ook nie reggehelp nie, haha.

Wag, laat ek opstaan en gaan kyk wat gaan aan in die kombuis. My man wil vanaand Doc Martin kyk. Hy dra al heelmiddag vir my eetgoedjies aan. Hy het seker noual genoeg boete gedoen oor die slippers-ding.

Follow Dis Ekke

22 Comments

  1. Ag baie sterkte … Hoop die foutjie klaar gou op!

  2. My motor is ook tien jaar oud en gaan môre na die ‘dokter’ toe vir ‘n koppelaar (clutch) probleem!

  3. Dis die lekker van ouer wees, hulle dra vir ons goedjies aan om ons sag te maak vir tv stories. Anders as toe ons in ons prille jeug was. Toe was die fokus op ander gebiede…omgewings…wat ook al.

  4. Ag siestog, ek en ma hoop Panda kom gou reg. Hier by ons maak pa ook so as hy weet hy het nonsens aangejaag. hahah.

  5. Ek hoop jou Pandosie is sommer binnekort weer spiekeries.
    Die oërollers moet oppas, binnekort is dit hulle beurt.

  6. woordnoot

    Aaaa…..die liewe Pandas! Jy het sopas ‘n blog losgemaak in my kop…oor ons Pandatjie. Ons sn se koppelaar het ook so paar maande gelede gebreek….sterkte en ek hoop Pandosie is vinnig terug op sy plekkie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Woordnoot. Die garage het vanoggend laat weet hulle kry geen fout nie (?! ek kon hom nie in rat kry nie), maar hulle sal mooi toets en my vanmiddag lat weet. Oulike karretjies, nè.

  7. Moet nou net nie vir my sê jou man was reg oor die slippers nie 😂😂😂 miskien gaan die ou by die garage ook vir jou so sê. Grappies op ‘n stokkie… ek dink nie jy moet weer Dagboek skryf nie; die lewe speel saam en gee jou iets om oor te skryf. Hopenlik is jou kredietkaart veilig!!!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Nee, dit was toe nie die slippers nie. Die hele kabaal is toe die man se skuld. Jip. Ek gaan daaroor vertel in my volgende dagboekinskrywing.

  8. Anonymous

    Ai, ai, die was blykbaar nie jou maand nie. Maar, ek moet sê ek het geniet om daarvan te lees! Dankie en ek hoop Pondosie is gou weer tuis en gesond!

  9. Lekker gelees! Hoop sy word gou gesond.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Baie dankie, Dr. Christa, ek hoop om Vrydag weer my gunstelingwiele terug te hê. Ek het jou op jou blog gaan loer en ‘n paar interessante artikels gesien. Ek gaan beslis daar kuier. Baie dankie vir die inloer op my blog.

  10. Kostelik beskryf, soos gewoonlik! Ek hoop dis nie ‘n te ernstige fout nie.