Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dagboek, Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 23 was kos ‘n hoë prioriteit

Eisbein

Image from Pixabay

Liewe Dagboek, voedsel is altyd prioriteit nommer een in my lewe. Ek hou daarvan om te eet, maar het geen probleem met WAT ek eet nie. ‘n Piesang saam met ‘n sny roosterbrood is ‘n ete, nie waar nie? Blykbaar nie. My man wil “kos” hê – synde rys, vleis en aartappels. En ek veg om groente by te voeg, want sy gesondheid is nog ‘n prioriteit. 

Nou hoekom is ek skielik so met kos gepla? My dogter, wat nog steeds in Johannesburg is, is eintlik die kok in die huis en ek vergeet soms dat kos nie vanself gaar kom nie. 

“Die probleem is, wanneer jy nie honger is nie, mag niemand anders honger wees nie,” gee die man sy misnoeë te kenne.

Dis ‘n baie onregverdige stelling. Die waarheid is dat ek heeldag loop en peusel aan vrugte, slaaiblare, kaas, watookal in die yskas is en dus is ek nie honger nie – ek hou net daarvan as my kake roer. As iemand anders kook, eet ek heerlik saam. Geen probleem daar nie.

Ek sorg ook dat sy soort kos gekoop word en daar is genoeg daarvan in die vrieskas / yskas. Dit moet net gekook word. Dít is dan die probleem – ek vergeet net om te kook. Dis ook nou nie ‘n moerse probleem nie, want die restaurante hier rond bied almal die rys-vleis-aartappels kosvariëteite aan as wegneemetes. Ek raak net besig en vergeet om te gaan koop.

“Kan jy nie net sê jy’s honger nie?” raak ek nou ook ‘n bietjie warm om die kiewe.

So enniehoe, gister het ek onthou om beesvleis uit te haal om te ontvries vir ‘n bredie. En vandag het ek besig geraak en vergeet van die bredie. En die man het honger geraak en besluit om self te kook – wat hy goed kan doen. Maar hy verstaan toe nie die werking van die drukpot so goed nie. Toe ek die kabaal daar onder in die kombuis hoor, het ek gaan ondersoek instel. 

By hierdie pot, wat nie elektries is nie, moet jy die deksel toemaak en dan die – nou wat is daai dingetjie se naam? dis ‘n skuiwertjie wat jy vorentoe druk om die pot te seël sodat die stoom kan opbou. Die skuiwertjie is toe nog oop en ek probeer dit toedruk, maar hy wil nie. En daar staan en blaas die pot al sy stoom uit, wat beteken die water gaan opraak en die kos gaan brand. En die pot wil nie seël nie en hy wil ook nie toelaat dat ek die deksel afhaal nie.

Dis toe dat die man hardhandig raak, want sy kos is in daai pot …! Uiteindelik het hy die pot oopgekry en die kos oorgelaai in die slow cooker, wat wel elektries is. Nogal ingeprop en alles, maar skynbaar het hy vergeet dat die slow cooker ook ‘n skakelaar het waar jy hom moet aansit en die hittegraad stel. Die man het duidelik baie lanklaas vir homself gekook. Ek het die pot maar net aangeskakel en niks gesê nie. 

Enniehoe, die slow cooker is na sy aard mos nou maar slow in completing the task en toe ek nou staan en wonder watter soort rys-vleis-en-aartappels op so ‘n kort kennissgewing gaargemaak kan word, besef ek dat die gasstoof se vlammetjie maar flouerig is. Iemand het vergeet om die gasbottel te gaan inruil, ham-pam-pam, en dit lyk of die man nou wil huil van die honger. Gister se hamburger lê ver.

So neem ek toe die enigste intelligente uitweg. Gryp die motorsleutels en my beursie. Laai beide die leë gasbottel en die hardekoejawel drukpot, wat ons gou uitgewas het, in die karretjie en ons trek af na Kwagga toe. Hulle maaltyd van die dag is eisbein. Die man begin glimlag.

Hulle bring toe vir ons daar twee yslike eisbeins, met ‘n ruim porsie kapokaartappels en van hulle eie tuisgemaakte sauerkraut, heerlik gegeur met speserye en ‘n bietjie bacon daarby. En twee bordjies met slaai. Ek het die ding so beskou en my man gevra of ek ‘n stukkie van sy eisbein kon kry, want ek sou duidelik nie by magte wees om my yslike stuk vleis en bykosse op te eet nie. Ek kan heeldag aanmekaar eet, maar nie so baie op ‘n slag nie.

En ons hét geëet. Die tweede eisbein is ingepak om huis toe te gaan. Kwagga se kos is van uitstaande gehalte. Dis ‘n klein restaurant / wegneem-ete plekkie daar langs die Suidkuspad (Marine Drive) net so ‘n entjie buite Sea Park, Southport op pad Port Shepstone toe. Teen die tyd toe ons hier klaar was, het die man al breed geglimlag.

Daarvandaan is ons terug Southport toe om die wederstrewige drukpot in te handig by die besigheid waar hulle vir seker sy knoppies en skuiwertjies sal uitsorteer, maar nie voor Maandag nie. As gevolg van die protesoptogte kan niemand by die werk kom nie. By die kafee langsaan wou die man roomys koop, maar ek het ‘n stokkie voor daardie plannetjie gesteek. Iemand moet sorg dat hy ‘n gesonde leefstyl handhaaf en soms onthou ek om my plig na te kom.

‘n Entjie verder aan, in Sunwich Port, het ons ‘n ander gasbottel gekry. En ons het verby die koekiewinkel gery. Koekies is ook nie ‘n prioriteit op my lys van goed wat ek as in belang van sy gesondheid beskou nie. Op pad huis toe het ons by die Banana Shop gestop en vrugte opgelaai. Dit het die vrede herstel totdat ek ‘n pakkie koeksisters voor sy neus weggeraap het. Nee, ek voel nie skuldig nie – vrugte is baie lekkerder en daar is nou ‘n hele sak lemoene in die kar. En piesangs. Ek gaan die naweek die voorrade verder aanvul.

Terug by die huis, ná ‘n baie lang uitstappie, het die heerlikste geure daar van die slow cooker se kant af uitgeborrel.

“Mmm-hmm, daai kos gaan sommer netnou reg wees,” verklaar hy ingenome.

😳 Sjym, hy het regtig honger gely.

En so, liewe Dagboek, is nog ‘n dag om en my huisskoonmaakproses is ietwat vertraag. Ek hoop ek kry klaar voordat ek hierdie dagboek toemaak aan die einde van die maand.

#LeesMet#Gees: Ek moet vir Wolfie vertel dat ek aangesluit het by ‘n Facebookgroepie wat hulleself die Lekkerleesboekrak noem. Die skakel is (https://www.facebook.com/groups/lekkerlees/). Hulle bespreek hier, op informele wyse, boeke wat hulle besig is om te lees, beide Afrikaans en Engels. Ek het nog nie saamgesels nie, kyk net eers wat praat die ander ouens, maar dit lyk asof daar nou ‘n hele paar boeke beskikbaar is waarin ek sal belangstel.


Image by Lynn Greyling from Pixabay

Follow Dis Ekke

19 Comments

  1. Una

    Jy moet nou maar verlief daarmee neem dat gaan voortgaan met jou Dagboek skrywes. Ek is reeds te gewoond aan jou wêreld om dit nou ontneem te word.

    • HesterLeyNel

      Dankie, maar ek dink dit kan vrek vervelig word, veral wanneer ons begin vasval met werk 😁

  2. I suppose that this is pork…and it must be extremely delicious!

    • HesterLeyNel

      Yes, we had smoked eisbein (pork knuckles) for lunch at a small family restaurant yesterday. It was delicious. My daughter normally cooks for us, but she is visiting her brother in Johannesburg and I keep forgetting to pay attention to the details of good housekeeping – like cooking for instance, hahah. I’m busy with a thousand things and don’t get round to feeding my husband properly. So, for the past two weeks we have been eating out most everyday.

      • Great, dear Hester! I support your position regarding cooking! I’m good at that…but I prefer other things to do 🙂 🙂 🙂 So, you enjoy a wonderful time out! Splendid! 🙂

  3. Aitoggie, hoe LUS skryf jy my nou vir die kos in daai slow cooker…

    • HesterLeyNel

      Ja, dit word koel en dis tyd vir heerlike vleiserige warm sop en bredies.

  4. Mmmmm lus kry ek nou …

    • HesterLeyNel

      Haha, nou waar is jy vandag tog? Ek het vroeg vanoggend beesstert in die slow cooker gesit. Vanmiddag eet die man weer sy vingers af.

      • Ek kon nie onderaan jou bladsy reply nie. Daar is so n gesiggie wat sê nie beskikbaar.
        Die etery bly maar n gedoente. Hierdie naweek is Sussatjie en Mammie weg vir die naweek en ek en Bertus het gister en vandag saam middagete “uit”-geëet en gisteraand het ek aandete gemaak.

  5. HesterLeyNel

    Aarde tog, hierdie aanmerking wat ek gemaak het, was eintlik vir Tina bedoel en toe spreek ek die verkeerde suster aan! Ek is darem bly jy en Bertus het soveel tyd saam gehad. Soms wil ‘n ma alleen met haar kind kuier, al is dit net ‘n paar minute.

  6. woordnoot

    DIs nog nie winter hier nie…en ek lus nou al bredies en sop en al daai lekker warm kos…maar ek is ook hiper lui…ek moes vir te lank kos kook om my en my kinders aan die lewe te hou. SO ek verlees en verlustig my maar aan jou skrywe….. ek is ook deel van die Lekkerleesgroep maar het maar nog min deelgeneem….

    • HesterLeyNel

      Ek hou van die soort kos wat ek alles in een pot kan gooi, want om rondom die stoof te staan en dans is nie my idee van pret nie. Die slow cooker kan verbasend baie soorte geregte hanteer. Mense bak selfs koek daarin, maar daarvoor is ek gans te lui.

      • woordnoot

        Ek dink ek het een keer in die 20 jr wat ek my slow cooker het afval gemaak….my man glo nie in elektriese goed wat aan is as niemand tuis is nie😂

        • HesterLeyNel

          Ek ken nog so ‘n man.

  7. Glimlag ek nou vir julle manewales (spelling) rondom kos. Hoog tyd Karen kom terug…maar dan is daar nie meer rede vir uiteet nie.

    • HesterLeyNel

      Sê jy nou. Nou gaan ons weer gesond eet.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: