Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 19 se spyker, wors en eiers

Aloes at Umtentweni Beach

Liewe Dagboek, ‘n spyker is ‘n ding wat ‘n mens groot plesier kan verskaf of tot waansin kan dryf. Of kan laat lag tot jy lê.

Ons het nog ‘n heerlike sonskyndag benut deur ‘n draai te gaan ry by Umtentwenistrand. Ek wou gaan kyk hoe vorder die skoonmaakproses ná die vloed. En ek het lus gehad om my bene te strek.

My man bly gewoonlik op die onderste terras van die parkeerplek, naby die ablusieblok en strandkafee, want hy kan nie oor die los sand loop nie. Hy is ‘n ou wat maklik vriende maak en gesels, veral as die geselskap vroulik van aard is, en vroue vrek oor hom. Hulle sit natuurlik nie op met sy knorrighede nie, so ek laat hulle maar bak in sy sonskyn. Dis ook tot my voordeel, soos wat ek al vertel het in ‘n vorige blog (My man kuier by ander vroue).

Ek was dus nie verbaas toe die dame wat toesig hou oor die motors, amper onmiddellik opgeduik het langs die bankie waar hy homself tuisgemaak het nie. Ek het gestaan en sukkel met sy ou selfoon, want ek wou graag fotos neem van die alwyne langs die strand wat nou besig is om hulle blomme uit te stoot. Volgens oorlewering moet die alwyne eers blom voordat die sardyne sal kom. Ek het nie veel notisie geneem van hulle geselsery nie, tot ek haar hoor sê het:

“Man, ek soek ‘n spyker”.

Effense stilte. Ek kyk na hom en grinnik vir die uitdrukking op sy gesig.

“Ek het gedink jy kan my dalk ‘n spyker gee.”

Sy knipoog vir my en ek onderdruk my glimlag.

“Ek gaan so strandlangs loop tot by die rivier,” sê ek, en maak my uit die voete.

Oral langs die strand is nog steeds bewyse van die vloed wat die rivier laat afkom het: yslike groot boomstompe op die rotse en langs die rivieroewer, hopies takke en riete daar hoog teen die duine wat wag vir ‘n vuurhoutjie – daar is te veel om weg te ry en dit gaan verbrand word. Dis ‘n langsame proses.

Terug in die parkeerplek en die geselsery is nog vrolik aan die gang.

“Ek het toe sommer ‘n handvol spykers gekry by daai jong ou in die bakkie daar anderkant,” lag sy. “Nou kan ek my sleutels ophang.”

Dan: “Hierdie man van jou is baie stout.”

“Wat? Ek het nie eens ‘n verkeerde wóórd gesê nie.” Hy is skoon verontwaardig.

“Nee, maar die stoutigheid lê juis in dit wat jy nié sê nie.”

Met die wegry stop ek ‘n geldjie in haar hand. “Dankie dat jy hom opgepas het,” sê ek.

Terug by die huis het ek die wors wat ons gister al moes geëet het, uit die yskas gehaal. “Wors en eiers vir jou?” vra ek. Hoekom vind ek dit skielik so snaaks? Die hie-hie ha-ha soort van snaaks.

Hy kyk my net aan. “Net wors, asseblief. Ek eet dit sommer met ‘n broodjie.”

Laatmiddag het ons nog ‘n paar episodes van Doc Martin gekyk en ‘n woordewisseling gehad oor my koue voete wat ek onder sy warm boude wil indruk. Die winter is op pad.

Dit was ‘n rustige naweek.

Follow Dis Ekke

20 Comments

  1. Ag, hoe lekker lag ek saam. Spykers, Wors en Eiers. Jy het my Maandag opgekikker met jou skerpte. Groetnis vir julle. Die aalwyne is mooi-mooi!

    • HesterLeyNel

      ja, is hulle nie. Verlede jaar het hulle nie juis geblom nie (en ons het baie sardyne gehad, haha), so ons hoop hierdie jaar is ‘n mooi jaar.

  2. Ek en ma het nou omtrent lekker gelag vir die spyker storie. Soos altyd is dit baie goed en mooi vertel en die foto’s is net so pragtig. Geniet die dag verder. xxx

    • HesterLeyNel

      Dankie Rambo, dieselfde vir jou en jou ma.

  3. Het hy haar gehelp? 😳😂

  4. Una

    Julle twee is oulik.🤗

    • HesterLeyNel

      Ek en hy? As jy nou ‘n vuurhoutjie en ‘n blik petrol as oulik kan beskryf, ja.

  5. So ‘n gespykery kan ‘n gemors afgee … 😯 😀

  6. Skerp….sal ek sê😋

  7. Ho ho, dit klink vir my na n interessante geselsie wat jou man en die karwag-madam gehad het. Dit klink of die naweek verder rustig verloop het. More begin die gewoel weer!

  8. Ek hou van die manier waarop jy sê laat hulle maar in sy sonskyn bak. Ek gaan daardie een onthou….miskien verruil ek dit vir “my kroon wat al hoër word” wat ek gebruik wanneer die vrouens sê ek lag seker aanmekaar by die huis vir my man se pittige sêgoed.

  9. Lekker lag ek en my man nou vir hierdie geskrewe stukkie…. ons sien al jou man se gesig terwyl gevra word, “”ek soek n spyker.

    • HesterLeyNel

      En hy het nie ‘n pokergesig nie, hoor? Dit wat hy dink staan op sy voorkop geskryf. Ek is altyd net te laat om die kamera in sy rigting te draai.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: