Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dagboek, Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 18 is ‘n goeie tyd vir pizza

Seafood pizza

Liewe Dagboek: Pizza beland nie gereeld op die spyskaart in ons huis nie, maar vandag was dit net die regte trooskos ná ‘n stresvolle week. Ons, die ou wederhelftes, het vroegoggend al gekonfereer oor die vraag “om te kook of nie te kook nie” en op die ou end het ek in die vrieskas geduik en opgekom met boerewors. Wors en eiers. Boereworsrol. Mmm. Ons sal sien.

Ons het die dag begin deur al die los hopies gemors te versamel en op die groot hoop te gaan gooi. Dalk, net dalk, daag die werkers op om die rommel weg te ry. My man het die sement wat die werkers net so gelos het, losgeskraap met die graaf. Swaar werk vir ‘n man op krukke. Toe het ons begin om die potplante en die voortuintjie te versorg. Klein L, die blonde dogtertjie met die pragtige blou oë wat aan die anderkant van die kompleks woon, het vir die “uncle” ‘n vetplantjie gebring. Kort voor lank het ons almal land en sand gesels oor plante – sy is nog maar ‘n tjokkertjie, miskien agt jaar oud, maar sy ken haar plante. Sy werk ewe handig met die selfoon om fotos te neem, en te wys van al die plantjies in haar eie tuintjie. Wat ‘n heerlike manier om ‘n dag te begin – met so ‘n vars briesie in jou dag. Ek dink die uncle is verlief.

Ek het al begin kriewelrig voel ná die lang week en die gebrek aan strandlug. Gelukkig het my man dit begryp en het sonder teëstribbeling in die kar geklim om te gaan gatskuur (sy bewoording).

Ons het eers ‘n vinnige draai gegooi by die Umtentweni Whale Deck waar vrywilligers hierdie week ‘n toilet en braaigeriewe opgerig het vir besoekers. Hulle gaan vanaand met die volmaan daar vergader om ‘n glasie te klink terwyl die maan oor die see opkom. Wil ons dalk …? Uhm, nee, ons twee oues alleen ry nie juis rond ná donker nie – klink maar ‘n glasie op ons.

Daarvandaan het ons in die algemene rigting van Margate gery. Eers in Shelly Beach by die Factory Sweet Shop gestop om suigsweeties te kry en toe verder aan tot by Margatestrand. Dit was ietwat winderig en die inwoners is besig om die dryfhout wat rivier-af gespoel het, in klein hopies te verdeel en aan die brand te steek. Dis broodnodige werk, maar nie goed vir ou sinusse nie. Ons is kuier-kuier verby die ou pier waar ‘n paar vissermanne doelloos rondgestaan het. Daar was duidelik ‘n gebrek aan vis. Stilgehou by ‘n paar uitkykplekke om na die golwe te kyk.

In Ramsgate het ons verby die Waffle House gery. Amper verby gery. Op die laaste sekonde het ek die karretjie met ‘n geoefende draaibeweging in die sypad afgestuur, agterom die Waffle House, om by die Blue Lagoon stil te hou.

“Ek het my beursie,” sê ek.

“Toemaar, ek het my wallet,”, antwoord hy, en ons proes van die lag.

Dis net twintig minute oor tien, maar gistermiddag se vis en skyfies lê ver. Binne die restaurant berei hulle voor vir ‘n huweliksonthaal en buite is net twee hoë tafeltjies voor die kroeg beskikbaar.

“Seekos of biltong?” vra hy.

“Seekos,” sê ek.

“Oukei, maar ek gaan dit onthou. Volgende keer beslis biltong,” sê hy en teug aan sy Black Labeltjie.

Uh huh,” sê ek. Die man leer maar swaar. Ek wen hierdie geveg elke keer. Hy kry net sy sin wanneer die kinders by is en ons meer as een pizza kan bestel. Hierdie pizza is enorm.

Hy eet vier-en-‘n-half skywe gelaai met kaas, olywe en stukkies seekos, en drink twee biere. Ek eet twee-en-‘n-half skywe en drink niks – ek moet bestuur. Ek kry nog twee groot skywe in ‘n brakpakkie.

Op pad terug stop ons by vriende in Oslo Beach. Lanklaas gesien. Ons gesels totdat my man lang gape begin gee. Hy is moeg en dis tyd om huis toe te gaan.

Dis die dag van wonderwerke. Die hoop rommel en sement is opgelaai en weggery. Dankie buurman-langsaan wat toesig gehou het.

Hy klim in die bed. Tyd om te rus. Ek dwaal so ‘n keer op en af met die trappe en gaan verkeer ook horisontaal. Dis baie later eers dat ek weer wakker word en terugdwaal teen die trappe af. Ons deel die oorgeblewe pizza. Die blondekoppie is weer daar, hierdie keer met ‘n verband om die voet en sy loop ook met ‘n paar krukke. Die voet lyk nie juis seer nie – ek dink sy gebruik dit uit simpatie met die uncle wat vanaand swaar leun op syne.

Dis donker en hy roep my om na die maan te kom kyk. Helder oranje hang hy in die lug daar aan die see se kant. Ek glimlag. Ek hoop die mense daar by die Whale Deck geniet die maanlig en klink ‘n glasie op ons.

Follow Dis Ekke

26 Comments

  1. What a wonderful turn of events!

    • HesterLeyNel

      It was such an ordinary day, but such fun and relaxing after all the stress we’ve been through these past two weeks.

  2. Dit klink nou sommer so lekker! Ek hoop julle stres is nou verby.

    • HesterLeyNel

      Nee, môre (Maandag) is hulle terug vir die finishing touches. Dan eers begin die groot huis skoonmaak. Na dese gaan ek ‘n nuwe stel tande nodig hê.

  3. Wens ek kon daardie oranje maan so oor die see sien opkom… Wil glo julle was bly dat julle so hard gewerk het om die rommel te “konsolideer” en dat alles toe weggery is.

  4. Klink lekker … hoop dis ‘n mooi rustige week!

  5. A delicious pizza, I must say, dear Hester! 🙂

  6. Dit was n blue moon Saterdag aand! n Pizza so want endan is ook heerlik veral as dit seekos is. Nou nog net die laaste doodsnikke van jul dak. Hoop die weer hou uit sodat dit klaar kan kom.

    • HesterLeyNel

      Dankie, ja, hulle het so pas opgedaag (10h00am) om die sement op die nok en sykante te verf en dan is hulle glo klaar. Ek het ook lus om halleluja te sing.

  7. woordnoot

    Dit klink na ‘n dag uit die hemel…

    • HesterLeyNel

      Ja, sulke dae maak al die gesukkel irritasies die moeite werd.

  8. Dit was rowwe pad maar amper oor die bult!!! Oooo daai waffle house is my groot liefde….wafels, roomys en sjokoladesous. Weet nie waar julle parkeer as julle Blue Lagoon toe gaan nie…maar indien julle Mark (kort blonde vriendelike man wat karwag is) sien, stuur groete. Ek is bly jy kon ‘n bietjie ontlaai Hester. Daardie dogtertjie laat my alte veel aan die kind in die Fees van die Ongenooides dink. Sy was met die helm gebore.

    • HesterLeyNel

      Ek was net een keer by die Waffle House – ek het nie ‘n soettand nie. Ons kuier altyd by die Blue Lagoon. Ek dink hulle gebruik dieselfde parkeerplek. Fienatjie – ek onthou 🙂 dalk moet ek ook daai boek ‘n slag weer lees, hoewel ek baie eerlik moet wees as ek sê dat oorlogboeke my nie aanstaan nie. Dit maak my sommer depro.

      • Dis die eerste boereoorlog boek wat ek lees. Voel toe so sleg dat ek so baie weet van ander lande se geskiedenis en basies niks van ons eie nie. Sê vir Una ek is so spyt dat ek nie my oupa en ouma meer uitgevra het oor die konsentrasie kampe waar hulle as kinders was nie. Gelukkig het my oupa ons die een verhaal vertel van hoe die kakies op die plaas gekom en die huis afgebrand het. Hy was elf jaar oud en in die veld toe hulle opdaag. Het in ‘n jakkalsgat weggekruip totdat hulle weg is….en sy ma en broers van die plaas weggeneem het. Hy is ‘n dag later gevang en op trein met al hierdie mense gesit. Wonderbaarlik weer by sy gesin uitgekom. Siek geword, en in hospitaal uitgeteer dat hy net vel en been was. Dood verklaar…wat sy ma geweier het om te glo, en met ‘n veertjie voor sy neus bewys het daar is nog asem. Hy is tussen die dooies uitgehaal….voor gebid deur ‘n predikant…en stadig maar seker herstel. Wonder hoeveel lewendiges is begrawe in daardie tyd? Omtrent morbied om oor daardie tyd te lees. Ek sukkel net met hierdie boek se taalgebruik. Dink jy die vroue het so grof gepraat daardie jare. As ek dink hoe pruuts alles was in my opvoedingsjare en dat daar nie eers openlik oor maandstonde met jou gepraat is nie, wat nog te sê van seks….dan wonder ek hoe realisties is dit geskryf.

        • HesterLeyNel

          Ek het ‘n idee dat die preutsheid wat ons leer ken het, eers mettertyd ontstaan het. Onthou, ons voorouers was meesal van Hollandse afkoms en hulle was nog altyd bekend vir hulle reguit manier van praat. Om die waarheid te sê, ek dink ná afloop van die tweede Wêreldoorlog, het preutsheid die nuwe mode geword.

        • Laat jy my nou vêr terugdink toe ons kinders nog klein was en ons vriende maak met ‘n Hollandse paartjie. Hulle was nog nie lank in die land nie. Hulle het ons gehelp met die kinderwerk wat ons Vrydaemiddae van ons huis af gedoen het. O.a het dit ook speletjies ingesluit. Die eerste keer wat Annemarie die speletjies aangebied het was ek hoogs geskok oor die platvloerse manier van praat om te dit te verduidelik.

        • HesterLeyNel

          Yep, they call a spade a spade.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: