My vreugdes en frustrasies

Dagboek, Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 12 & 13 en ek is steeds uit ritme

Wooden spoon

Liewe Dagboek, dit lyk asof my inskrywings van ritme verander het – ek gesels nou net so elke tweede dag en dit sal nie deug nie. Ons moet op datum bly, koers hou, oë vasgenael op die fakkel wat daar voor in die wapad brand.

Gister was natuurlik Moedersdag. Dis ‘n dag wat nie goed afgaan by my nie. My ma is oorlede in 2015 kort na die enigste Moedersdag wat ek in baie jare nié saam met haar spandeer het nie. En diepe berou oor gehad het. Nog steeds het.

Ek en Karen was onder by die strand toe Middelkind uit die Kaap gebel het. My kleindogter het met my gepraat, maar ek kon bykans nie ‘n woord hoor nie, as gevolg van die gedruis van die golwe. Dit maak nie saak nie, dit was ‘n ligpunt in my dag.

Karen is vanoggend douvoordag per bus saam met buurvrou-by-die-hek weg, Johannesburg toe. Sy gaan by Oudste kuier en ‘n paar kliënte sien. Sy is ook afgevaardig om by my broer te gaan kuier. Dis nou 16h30 en hulle is amper by OR Tambo waar Oudste reeds wag. Die huis is stil.

Die dakwerkers het nie vanoggend opgedaag nie. Ek lees tussen die lyne deur dat die ritme van betaling die oorsaak is hierdie keer. Niks nuuts daar nie. Hulle het so pas hier opgedaag om sement af te laai en nog ‘n hoop rommel op te laai. Môre gaan hulle die sand bring en dan die dak se nok terugsit. Ek het vrede. Ek gaan môre my man kliniek toe neem en deesdae wag ons baie lank voordat ons geholpe raak. Die werkers gaan doodeenvoudig uit die huis gesluit word totdat ons terug is.

Ek begin agterkom waar my dae heen verdwyn – dis my medeburgers wat dit insluk. Karen sê altyd sy ondervind ‘n dringende behoefte daaraan om iemand met ‘n paplepel oor die kop te slaan. Ek verstaan nou wat sy bedoel. Ek wil dit ook doen, op die ritme van Zorba the Greek se temaliedjie. Op repeat gestel.

Ek het vanoggend eers my yskas en vrieskas ontvries en skoongemaak. Die kombuis is gewoonlik Karen se terrein, maar siende dat ek nou vir twee weke die paplepel moet rondswaai, sal ek maar die hele kombuis uitpak, skoonmaak en oorpak. My dogter se filing system maak vir my geen sin nie. Toe het ek ‘n moerby-bredie gekook. Alles waarvoor ek nie meer plek in die yskas of vrieskas het nie, is bygemoer.

My man staan en sosialiseer met bure-langsaan, maar wanneer hy terugkom, gaan ek en my oorblywende huisgenoot Game of Thrones kyk en dan gaan ek bed toe. Of dalk gryp ek sommer net my kindle en gaan bed toe

Follow Dis Ekke

23 Comments

  1. Bwahahaaa – Zorba the Greek se temalied tel nogal spoed op – wee die ou wat oor die kop geslaan gaan word!

  2. Die ritme-skakelaar sal weer aangaan, geniet voluit wat nou voor jou is. Zorba op herhaal en goeie tuisgemaakte paplepels is in die pos….hehe.🌻🌻

  3. Hestertjie, jy moet sag wees op jouself oor daardie moedersdag wat jy gemis het. ❤️

  4. Elke keer as ek oor jou dag lees dink ek vinnig terug oor my eie. Skryf ek ook ń post in my kop.

  5. Oh no, dit klink tog so bekend met at die tyd wat ingesluk word deur … wat ook al! Hoop jy het goed geslaap en is reg vir die lang wag in die spreekkamer of what ever hul dit noem.

  6. Ek en ma het nou so lekker gelag en toe moes sy nou eers vir my verduidelik wie is die Griek. Toe lag sy eers! Ek is bly wanneer sy hier kom kuier, want dan lag sy lekker en ek lag net so lekker saam.

    Ma is gelukkig nie gepla met die moedersdag goed nie. Sy het ook nie ‘n ma nie en sy het vir pa en my boeties gesê sy het elke dag moedersdag en as hul gaan geld mors, gaan sy hul met die paplepel bykom. Ek dink hier gaan dit op die ritme van Footloose wees. 😀

    Baie dankie vir die lekker lees en lag. Ons geniet dit. 🙂

  7. Ai, ai, definitief nie ‘n sonskyn en rose dag nie. Vertrou darem daardie bredie was lekker….miskien kan jy hom langtafel toe bring, siende dat jou tyd ingesluk word.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ek dink ek moet liewer die kombuis aan Lorenzo oorlaat.

      • Ek stem!!! Nogal gedink die liewe Hester het omtrent woema om alles te doen wat jy gister in daardie kombuis gedoen het. Ek is stokoud teenoor julle flukses.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ekis nie so fluks nie, maar ek het ‘n hekel aan vuilheid en stof. Dis hoekom ek myself noual twee weke lank so opwen. Ek wil my huis skoon hê.