My vreugdes en frustrasies

Dagboek, Dis Ekke

Liewe Dagboek: Dag 10 & 11 is verby en dis naweek

Natural amphitheathre formed by rocks in the shallow waters at Sea Park beach

Liewe Dagboek, ek is só bly dis naweek. Gewoonlik steur ek my nie te veel aan weeksdae of vakansiedae nie, want my tyd is immers my eie, maar met die gewerskaf in en om die huis is ek baie bly die week het tot ‘n einde gekom. En ons het ‘n dak. Soort van. Die werk is nog nie klaar nie, maar ons sal darem nie vannag weer natreën nie en ek kan nie meer die sterre deur die dak sien nie.

Vrydag was ‘n absolute traumatiese dag. Nie soseer oor die werkery nie, maar daar was ‘n paar verwante voorvalle wat my moer so gestrip het (verskoon my Frans) dat ek lus het om ‘n paar mense teen die oor te klap. En as hulle die wang draai, gaan ek hulle teen die ander oor klap. Daar is sommige dae wat ek skaam is oor my wit vel. Skaam oor my herkoms en my land se geskiedenis. Skaam vir die assosiasie met my volk. Sulke dae kan ek nie die wêreld in die oë kyk nie. Enough said.

Die laaste graspolle is op die dag gepak en vasgemaak. Die nok het ‘n ogiesdraad en ‘n plastiese bedekking gekry. Maandag moet die materiaal blykbaar geanker word met sement en riviersand – of so iets – en dan moet die afrondingswerk gedoen word. Eers dan kan ek begin rondkyk om die huis weer skoon te kry. Dinsdag se kant, dalk? Woensdag miskien.

Die meeste van die gemors is weggery. Die werkers was hier besig tot lank ná donker. Hulle is seker net so dankbaar dat die naweek aangebreek het. Ek hoop net die tydelike dakbedekking hou, want ek kan die plastiek hoor flap wanneer die wind opsteek.

Vandag het ek en Karen vroegoggend op die strand gaan loop. Ek het al genoem dat die strandlandskap in die winter heeltemal anders lyk as in die somer. In die winter is dit asof die aarde kantel en ‘n bietjie van ons seewater uitloop anderkant toe. Die oop rotsformasies (wat gewoonlik onder die water is) is ongelooflik mooi. Die foto heelbo is geneem in Sea Park, waar die rotse ‘n natuurlike amfiteater gevorm het. Die fotos van die blomme is geneem langs die straat net voor die strand.

Bush with blue flowers on the beach
Close-up of blue flowers on a bush at the beach

Na ons stappie is ons Port Shepstone toe om te gaan ligte koop. My ou oë kan nie cope met hierdie huis se mood lighting nie en ek het ‘n 2’ LED lig aan die dakbalk bo my kop wat op my lessenaar skyn. Bure-langsaan het die lig deur my venster gesien (ek hoop die lig is ál wat hulle gesien het, want ek vergeet soms van gordyne en sulke goed) en wou weet waar hulle ook daarvan kan koop.

Ek het vroeg vanoggend in my pajamas en pienk japon buite gestaan en die plante in die voortuintjie wat nié vernietig is nie, natgespuit, toe die bure, ook nog in pajamas, my lig van naderby kom bekyk het. Ons het toe sommer drie ligte gekoop, twee vir hulle en een vir Karen – nou kan ons saans na donker vir mekaar ligte flits as ons verveeld raak.

Ons het die gewone grootmaat vrugte- en groente aangekoop by Food Lovers Market in Shelly Beach en ‘n draai gemaak by die Factory Sweet Shop. Van laasgenoemde wil ek nou nie eintlik vertel nie, want dis ‘n plek waar ‘n mens sonde pleeg.

Beoordeling van hierdie twee dae

Traumaties. Die res van hierdie naweek gaan ek horisontaal verkeer met my kindle en ‘n sweetie in my kies. Want dis naweek.


Follow Dis Ekke

18 Comments

  1. Oooooo dit lyk so mooi… kyk net die spore.

  2. Ek hoop jou naweek wense is bewaarheid? Die ou morning glories lyk so vrolik. Sterkte met die dakdekkery.

  3. Ek is baie bly om te hoor die dakwerkery is amper klaar. Dit moet glad nie lekker wees nie.

    Toemaar, ma kan ook so lekker praat maar sy noem dit Viking taal en ek het al gesien hoe sy iemand teen die oor klap. Ek het haar nou vertel en sy sê sy weet presies hoe dit voel en sy stem saam.

    Ek en ma is mal oor die pragtige foto’s en ons stem saam. In die winter lyk dit heelwat anders hier en daar is ook meer skoenlappers. Ma is gek oor die Morning Glory blomme. Hier by ons is daar net so baie.

    Die ligflitsery klink na pret. Dis jammer ons bly so ver van mekaar af, dan kon ons dit ook gedoen het. haha!

    Ek het ook nou ‘n nuwe woord geleer : Traumaties. Ma moes my verduidelik het waaroor dit gaan. Ek dink ek verstaan nou en ek hoop dit gaan baie beter daar. 🙂

    Daar val ek nou amper van ma se skoot af toe sy die laaste deel vir my lees! “Baie cute en adorable pomeranian”. Ma en ek sê baie dankie vir die deel. Dit is baie dierbaar. 🙂 xxx

  4. Amper daar! Jy gaan heerlik leef in n droe skoon plek na dese. Daardie “wit” skaamte maak my sommer ongelooflik ongelukkig. Hoe kan mense so verwoestend teenoor mekaar optree en praat. Hier het hul nou begin met n program wat gaan oor “wit” agressie teenoor jode en muslems. Dis tog nie net hulle nie! Elke geval wie is ek om iets te se, eks nog m “indringer” ook.

  5. Ek is jaloers…nie op jou nuwe dak of lig nie, maar dat jy daar kan rondloop. Verlang sommer toe jy Shelley Beach sê. Bly vir jou part dat julle so te sê deur die drif is. Hester ek het my ook al geskaam vir my ras en hulle optrede…dit maak my ook kwaad.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ou Kameeltjie, as ek nou daar in Gauteng gesit het met al hierdie probleme en nie by die see kon loop nie, sou hulle my lang jare terug al toegesluit en die sleutel weggegooi het.

      • Dis wonderlik dat jy op ‘n plek kan aftreë waar jy gelukkig is. Nie almal kry dit reg nie.

  6. Om op die strand langs te stap is seker die beste meditasie wat daar is.
    Lekker naweek 😉