Ek bespeur ‘n besliste verandering in my leesgewoontes, veral wat die Afrikaanse taal aanbetref. Om die een of ander onverklaarbare rede steur ek my meer nie so baie aan die storie of die feite agter die storie nie – nee, ek lees agter die woorde en uitdrukkings / sêgoed aan. Ja-nee, om die waarheid te sê, my gunstelingboeke wat ek deesdae lees, is woordeboeke en taalrubrieke. Engels en Afrikaans. Daar! Nou is my geheim uit.
Wat het dit nou teweeggebring? Afrikaanse blogs natuurlik, veral wanneer ons so heerlik idiomaties gesels of woordsnoere pleeg. Ek het nuuskierig geword oor die Afrikaanse taal en hoe meer ek lees, hoe meer kom ek agter dat elke woord of uitdrukking ‘n geskiedenis, ‘n storie, het en van spesifieke afkoms is. En ek wil weet waaroor dit gaan.
Dis al baie jare my gewoonte om ‘n vreemde Engelse of anderstalige woord onmiddellik in ‘n woordeboek op te soek en dan gou by google in te loer om te luister hoe dit uitgespreek word (veral wanneer my seun chef-taal met my praat). Dis maar net vanoggend wat ek agtergekom het dat my Afrikaanse uitspraak ook nie altyd een honderd persent in die kol is nie. Dalk het ek voorheen nie genoeg aandag geskenk aan hierdie saak nie.
Vanoggend, het ek uitgevind dat die woord ja-nee, wat ek gewoonlik sommer as janee skryf (en ja, skynbaar is dit aanvaarbaar) op drie verskillende wyses uitgespreek word om drie verskillende betekenisse daaraan te heg.
Kom ek wys jou gou.
ja-nee (inligting verkry uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT))
Aanduiding, tekennegewing, betuiging van:
– Besliste instemming, nadruklike bevestiging (“ja seker, ongetwyfeld, stellig”) — gewoonlik met stygende intonasie en klem op nee: Ja-nee, dit moet gedoen word, dit kan nie anders nie. Ja-nee, dis waar wat jy sê, daar moet ‘n end aan kom.
– Oorwoë, nadenkende instemming — gewoonlik met gelykmatige klemtoon op albei dele: Ja-nee, dis darem ook weer waar. Ja-nee, ek dink jy is tog reg.
– Twyfel of onsekerheid — gewoonlik met dalende intonasie van nee: Ja-nee, nou verstaan ek die saak nie. Ja-nee, ek weet darem nie of dit reg is nie.
So, nou weet ek, afhangende van my bedoeling, moet ek my stemmetjie op sekere woorddele verhef of laat daal, net om seker te maak my gehoor verstaan my. Dis nou vir diégene wat nie tussen die lyne kan lees nie of wat my somer aspris wil verkeerd verstaan.
Dis ook nie al nie. Ek het ook die keuse om ander woorde te gebruik behalwe ja-nee: “a, aai, aha, ai, jislaaik, magtig, vervlaks, demmit, duiwels, allewêreld, genugtig, sowaar, wragtig, wraggies, wragtie, op dees aarde, grote griet, bid jou aan, aag, ag, ag nee, ag nee man, so by my kool, wragtig, wrintie, wrintig, wrintlik, jandorie, jou waarlik, haai” – alternatiewe woorde verkry uit die Tesourus: Afrikaanse SkryfGoed 5.
Haai, jislaaik, ek het nou so by my kool amper vergeet dat ek eintlik nie ‘n hele blog oor een woord wou skryf nie – ek wou eintlik ‘n storie vertel. Die storie agter die woord ja-nee. Van die twee ooms wat elke dag by die ouetehuis se voordeur op ‘n bankie gesit het. Groot vriende, maar nie groot praters nie. Hulle hele geselskap het gewoonlik soos volg verloop:
“Ja!” sug die een omie.
“Nee!” sug die ander omie.
Dis al. Die hele dag lank.
Toe eendag, kom daar ‘n derde omie hom aansluit by die geselskap. “Ja!” sug die eerste omie. “Nee!” sug die tweede omie. “Ja-nee!” sug die derde omie. En die eerste twee omies staan op en loop.
So in die loop sê die een omie vir die ander een: “Ek het g’n tyd vir mense wat so baie praat nie.”
Image by mohamed Hassan from Pixabay
Bondelsgedagtes
Hahaha dis kostelik. Ja-nee dis waar hoor😋, eintlik moet ek terug gaan skool toe net om afrikaans oor te doen. Ek raak ook al hoe liewer vir afrikaans….. dis net as julle pikante woorde begin uiter met die uitdagings dat ek eers bietjie moet terug sit en mooi dink voor ek my naam krater maak. Julle lag seker lekker in jul mou😉
HesterLeyNel
Ek moet ook maar op die googleloerbus spring wanneer ‘n onbekende woord verbykom. Maar dis die deel wat ek nogal geniet.
perdebytjie
Ja-nee Hester, daar het jy dit nou…die woordjie is uitgedop en omgeklink en op die kop getik!
HesterLeyNel
Nou moet ek dit net in my klapperdop bewaar en nie weer laat wegglip nie.
Tannie Frannie
Bwahahaaa vir die onverdraagsame ou omie 😀
HesterLeyNel
Ag Frannie, jy weet mos, ou mans …
rondomtaliedraai
Hehehehe te oulik!
HesterLeyNel
Dankie Tina 😊
vuurklip
Ja-nee, dis nou nie altemit nie. En so gesels jy ‘n hond uit ‘n bos uit …
HesterLeyNel
of ‘n dooie jakkals aan die draf.
woordnoot
Ek moet sê ek leer ook weer van vooraf. Ek het die Beter Afrikaans speletjie app afgelaai en dit op Vlak 2 gestel….o my wêreld! Ek kom nou agter hoe min ek eintlik weet! Deur net reg te spel weet mens eintlik maar min!
HesterLeyNel
Ek hoor jou. Ek het ook daai speletjie afgelaai – vlak 2 ook ja – en vir die eerste keer in dekades die een toets na die ander gedop. Eina, dit was seer! Dis toe dat ek besluit het ek beter ‘n plan maak met my verroeste taal.
woordnoot
Gorrelpyp….dis nogal n skok vir die sisteem as jy dink jy kry 100..en dan is dit net 50!!
sonell
Ja-nee hierdie was nou iets nuut wat ek geleer het. Het ook gewonder oor die afkoms daarvan.
Die grappie is vrek snaaks! 😂
HesterLeyNel
So algaande leert men. Daai grappie kom nog uit my jongdae – dit het seker al vergete geraak soos al die KoosvannerMerwegrappies wat ons destyds so vermaak het.
sonell
Ek lief nogsteeds die skoner grappies van toeka se tyd. 😁
HesterLeyNel
Dis nogal belangrik vir my ook ja – die skoner deel.
travel460
Ek hou van Afrikaanse grappies, want ek “vang” dit…🙈
HesterLeyNel
Dis waar.
Anne
Baie interessant. Ek is ook baie lief vir woordeboeke. DIe woordeskat wat ons gebruik om to praat is gewoonlik kleiner as die een wat ons vir skryf gebruik. Ek hou daarvan as ek onbekende woorde teëkom.
HesterLeyNel
Ek hou daarvan om te sien hoe die taal ontwikkel en aanpas by die moderne tyd. Nuwe idiome en gesegdes wat ontstaan en nuwe woorde wat gevorm word. Tog geniet ek die geskiedenis van die “ouer” taal ook.
Toortsie
Het ek nou jou storie geniet aan die einde, maar ook jou blog. Ek hoop regtig dat al hoe meer mense weer ‘n liefde vir ons taal sal aankweek en die taal in sy rykdom sal geniet.
HesterLeyNel
Ek wens dat almal ‘n Afrikaanse onderwyser kry soos wat ek gehad het in matriek. As die basis reg gelê is, bly die belangstelling altyd by.
scrapydo2.wordpress.com
Ja-nee, dis presies soos jy dit se(verskoon my kappie wil nie werk nie) Die drie ooms moet ook maar baie van mekaar opvreet as hul so sit en Ja en Nee!
HesterLeyNel
Mans is mos nie veronderstel om baie te praat nie. Sê diegene wat weet. My man praat my ore van my kop af.
scrapydo2.wordpress.com
Ha ha, as hul praat hou hul nie op nie!
HesterLeyNel
Net so.
ddupl3ss1s
Daardie taaltoetse het my hoof in skaamte laat sak.. Heerlik gelees Hester.
Hier "blok" Ek!
😂😂 En terloops Engelsprekende mense verstaan glad nie die Ja-Nee van Afrikaans nie, en sal maklik jou vra “what is yes-no for real, is it a yes or is it no?” Dit frustreer hulle nogal. 😁
HesterLeyNel
Hahaha, ek kan hulle nie kwalik neem nie.
Kameel
Ja-nee Hester ek sien al hoe ek my “classics” verruil vir ‘n woordeboek. Hoe sê mens nou “classics” in Afrikaans..klassieke werke? Sorry, maar dit klink te aansitterig 🤔 Ek lief jou grappie!!!
HesterLeyNel
Dis so ‘n ou grappie van my skooldae af. Ek is altyd verbaas as mense nie my ou grappies ken nie totdat ek myself herinner my skooldae is ses dekades in die verlede.
Kameel
My skooldae ook….maar ons het nie die grappie vertel nie. Ek onthou net die grappie wat my pa knaend vertel het. Die oom kom by die tannie met ‘n perd aan met ‘n voorstel dat hulle moet trou. Toe hy wil ry gaan dit maar sukkel-sukkel om op die perd te klim. Die tannie bekyk die gesukkel so en sê “Jy kom hier by met ‘n voorstel, maar jy kannie eers jou agterstel lig nie.” Dit is nie snaaks nie maar ek het elke keer gelag as my pa dit vertel.
HesterLeyNel
Ek het gedink dit was snaaks! Dis beter as die een wat my broer my vertel het. Ek was so tien jaar oud en het gehoor van vuil grappe, toe moes ek natuurlik ook een hoor. “Vertel vir my ‘n vuil grap, asseblief!” smeek ek my broer. Hy dink so ‘n oomblik na, kyk my stip in die oë en sê: “Jannie het in die modder geval.” Ek het daai een oor en oor vir my maatjies vertel.
Kameel
😂😂😂😂 Dis snaaks Hester!!!