My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Al die baie rivierwater wat in die see instroom

Ek het al in so baie van my vorige blogs gewys hoe lyk die vele riviere hier rondom ons in die reëntyd wanneer die mondings oopmaak en die rivierwater see toe stroom. Tik maar net rivier of river in by die soekglasie op my blog en jy sal weet hoe die vloeiende water ons steeds fassineer. Dit bly ‘n lieflike gesig en hier is ‘n oorvloed riviere. Jy is altyd net so ‘n spoeg ver van die volgende rivier af.

Die dae raak nou koeler en die water se temperatuur is besig om af te koel. Dis ‘n sekere teken dat die winter op pad is. Ons maak dus gebruik van elke moontlike geleentheid om strand toe te gaan, want met die klimaatsveranderinge is jy nooit seker hoe lank die lekkerte gaan aanhou nie.

Gister het ons gaan swem by Umtentwenistrand. Dit was hooggety en die golwe wat uit die see gekom het, was verfrissend koel teenoor die bloedige hitte van die son op die sand. Ons het so ‘n bietjie gaan rondloop op die rotse en toe stamp ek my toon. Seer. Vloekseer. Ek het so ‘n rukkie in ‘n rotspoeletjie bly sit en die toon (die een langs die groottoon) saggies vertroos en vertroetel tot ons albei beter gevoel het.

Dis toe dat ons besluit het om liewer in die rivier te gaan loop. Die rivierbedding het baie min water ingehad en ons het ‘n hele entjie stroomop geloop. Ongelukkig het ek nie rekening gehou daarmee dat die plat rotse in die rivierbedding maandelank onder modderige rivierwater was en dus so glad soos s…seep is nie. Ek en Karen het nogal hande vasgehou, maar ek het net tyd gehad om te sê “Oeps! hier gaat ek.” Toe slaat ek neer in daardie swart modder. So met die opkomslag sien ons daar sit ‘n knop so groot soos ‘n hoendereier op my maermerrie. Iewers teen ‘n klip gestamp. Na so ‘n sprongetjie op en af het ek besef dis nie seer nie en niks voel gebreek nie, dus het ons voortgegly, stroomop. Kyk net die pragtige fotos wat Karen geneem het (die moddervoete is hare – nie myne nie).

In die kar op pad huis toe het ek gevoel die koppelaar (die clutch, man) is so effens moeilik om in te trap met my seer toon, maar verder was alles reg. By die huis gekom het ek reguit onder die stort ingeloop. Toonnaels skoongeskrop om ontslae te raak van die swart modder. Spesiale sorg bestee aan die seer toon. Dis mos eers toe ek ná die stort weer my bril opsit dat ek agterkom die vertroetelde toon makeer niks – dis die een langsaan (middeltoon) wat persblou en stokstyf opgeswel is.

Vanoggend is die knop op die maermerrie weg en die toon is beter, maar die wind waai en ons het nie gaan swem nie. Ons het Spar toe gery om die eerste sakkie lemoene van die seisoen te gaan koop – altyd ‘n groot bederf – en daarna het ons gou ‘n draai gegooi by die walvisdek in Umtentweni. Hierdie foto is van die dek af geneem in die rigting van Port Shepstonestrand – die ligtoring is links van die geboue, op die punt van die land en regs is die Umzimkulurivierbrug.

Kyk net na die verskillende kleure van die water – die Umzimkulu het ook water (en modder) in die see gestort.

Follow Dis Ekke

39 Comments

  1. Dis altyd lekker om jou water en rivierstories te lees. Daardie modder het seker lekker gestink? Ai, en toe troetel jy die verkeerde toon! Ek hoop dit voel vandag beter.

  2. Eina!

  3. Nou waar was Richardo tog! Hy sou jou opgeraap het!

  4. Ag sterkte met al die pyne

  5. “Soekglasie” – watter mooie woord! Jy is ‘n tawwe vrou.

  6. Ek geniet jou vertellings van jou strandlewe baie al lewer ek nie altyd kommentaar nie. Baie dankie

  7. Geniet jou vertel , mooiste fotos op die koop toe .

  8. Ek geniet dit so dat jy die natuur so geniet.

  9. Lekker het ek nou saam met julle gestap, my toon is darem heel en ek sit in ń berghuisie in Montagu.

  10. Ai Hester ek het heimwee na die see. Sou baie graag ook daar wou slenter en ja, selfs in die modder loop. Lees altyd lekker by jou

  11. Anonymous

    ❤️ Sterkte met daai toon! 😉 Klink hemels om te bly waar julle bly.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie. Ek probeer al vier jaar lank om in te haal op al my agterstallige vakansies by die see en ek geniet nog elke dag (behalwe wanneer die wind waai 😜).

  12. Jy laat my nou ernstig Suid-kus toe verlang! Jammer oor die toon…

  13. Weet nie hoe ek dit gemis het nie….maar ek het nooit daardie inskrywing gelees nie. Het jy hierdie toneeltjie probeer namaak met jou laaste eskepades (spelling)?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja, maar daar was, helaas, geen Henrico wat my kom red het van my eie stoepitgeid nie.

      • Ag Hester ek sien hoe ‘n Henrico jou in werklike lewe optel en dra 😂😂😂 Wonder net wat onse Hester sal doen.