Ek benodig ‘n time management tool. Iets soos die Time Turner wat Hermione in die Harry Potterreeks gebruik het. Dit kos net R868. Vir diegene wat nie Harry Potter se boeke gelees of die flieks gekyk het nie – Hermione het die Time Turner gebruik om tyd terug te rol sodat sy meer ure in haar dag kon inprop.
Gedurende my korporatiewe dae moes ons afdeling eenkeer ‘n time management kursus gaan loop nadat ons aangespreek is oor agterstallige werk. Ons het gekla oor te veel werk en te min hande.
“You must manage your time more effectively!” het die bestuurder gebulder.
“How the hell do you expect us to manage something we don’t have?” was een van my dapper spanmaats se antwoord.
Toe word ons ingeskryf vir die kursus. Het dit gehelp? Hahaha. Ons het wel geleer dat daar iets soos time management tools bestaan en ek het nou uiteindelik een opgespoor. Die Time Turner.
Ennihoe, dis nou ‘n lang aanhef omdat ek alweer om verskoning moet vra dat ek nie gereeld genoeg in blogland kuier nie. Ek lees wel nog blogs, maar dit is ook maar ‘n hop-skip-jump-bedryf op die oomblik, want … Want:
- Daar is Kersfees gehou – braaivleis en trifle saam met die bure
- Daar is ‘n suksesvolle blokpaartie gehou – braaivleis en bier saam met die inwoners van die kompleks
- Daar is nog vleis in die vrieskas wat gebraai moet word
- Daar is water in die see waarin geswem moet word en visse in die see wat gevang moet word
- Daar is vriende saam met wie gekuier moet word / flieks wat gekyk moet word / plekke wat besoek moet word
- Tussenin is daar natuurlik ook beddens wat opgemaak moet word, vloere wat gevee moet word, wasgoed / skottelgoed / inkopies / kosmaak – die gewone schlep.
Maar ek weet julle sal my vergewe, want Oudste is hier vir sy jaarlikse vakansie en daar word vakansie gehou. Dit beteken al hierdie gebrek aan tyd is sy skuld en dit gaan nog aanhou tot ongeveer die 14de Januarie.
Nou moet julle my verskoon. Ons gaan gou vleis braai 😜 en regmaak vir môre se uitstappie na Ushaka Marine World. Dis glo tyd dat ek weer ‘n slag op ‘n waterglybaan moet ry 🙄 Die laaste keer wat ek dit gedoen het, was by Maselspoort in die Vrystaat doer in die middel negentigs. Dink maar aan my asseblief.
Kameel
Ons verstaan. Geniet terwyl daar nog tyd is 😊
Bondelsgedagtes
Geniet elke oomblik, tyd is net geleen…
Toortsie
Dis die lekker van blogland, dat jy nie verskonings hoef uit te deel nie. As jy by regte mense kwaliteittyd kan geniet, moenie een oomblik huiwer nie asb.
Anne
Ek dink ons wil almal graag ‘n paar ekstra ure in die dag kry – my kinders dink omdat ek afgetree is het ek baie tyd om te doen wat ek wil. Hulle sal nog ontdek dat daar is altyd “beddens wat opgemaak moet word, vloere wat gevee moet word, wasgoed / skottelgoed / inkopies / kosmaak – die gewone schlep.” Geniet die vakansie tyd met jou Oudste – dit is belangrik om tyd met jou kinders deur te bring 🙂
HesterLeyNel
Dankie Anne
rondomtaliedraai
Geniet dit
HesterLeyNel
Dankie!
travel460
Ek dink julle is weer van môre af hard aan die werk? Glo jy het heerlik gekuier.
HesterLeyNel
Werk is nog nie op die menu hier nie – Oudste gaan eers die 14de terug JHB toe. Tot dan is dit speeltyd. Ons sal later wroeg oor werk. Is julle al terug by die dam?
travel460
Gistermiddag hier aangekom.
Positief
Lekker, lekker, tot die schlep-werk word lekker wanneer jy kan tyd spandeer saam met geliefdes. Geniet dt
HesterLeyNel
Dankie! 😁
trommeltjies
Daai glybaan ding klink nou vir my vrek lekker. Jou enigste moet nou is om jou kind se kuier te geniet.
HesterLeyNel
Ja, die tyd vlieg so vinnig verby. Ons probeer die beste maak van die tydjie wat hy wel hier is.
Tannie Frannie
Vertrou jy het heelhuids van die glybaan afgekom?
HesterLeyNel
Oorpyn van die landing onder in die swembad was gelukkig die enigste probleem, Frannie. Dis nou buiten die doodse vrees dat die ding my oor die kant gaan uitpoeg nog voordat ek by die water kom.
Tannie Frannie
Bly jy’s veilig! Janee, dis wat ‘n sterk verbeelding mens kan aandoen…