My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Om krismis te hou in styl het jy ‘n gemeenskap nodig

Free download from Pixabay

Krismis het nou weer ‘n nuwe dimensie aangeneem in ons lewe. Dit lyk vir my asof my gesin nou maar net eenvoudig nie by ‘n tradisie kan hou nie. So elke nou en dan moet die bestaande gewoontes en handelinge afgeskaf, oorgedoen of opgekikker word.

Ek het by verskeie geleenthede reeds geskryf oor ons kersvieringe gedurende my kinderjare, toe ons kinders klein was, later jare toe ons kersdag eintlik maar net gevier het terwille van my ma. Die trifle (“koekstruif” het een van die Towerinne my geleer), het natuurlik gekom om te bly en die bestanddele staan al gereed. Maar dis al tradisie wat oorgebly het van die vorige jare.

Hier in die nuwe fase van ons lewe, lyk dit nou asof krismis skielik weer ‘n oplewing ondervind. Om die waarheid te sê, ons hele lewensstyl is skynbaar afgegooi van die paadjie wat ons die laaste paar jaar in afsondering geloop het.

Ons het mos enkele maande gelede in ‘n nuwe kompleks ingetrek. Hier woon meesal bejaarde mense en my man het sonder huiwering die plek Coffin Dodgers’ Park gedoop, tot groot vermaak van die ouer mense. Maar hier is ook ‘n paar jonger siele en selfs ‘n paar kindertjies.

Soos wat dit maar in ‘n groot kompleks gaan, leef elke gesin maar sy eie lewe en ons leef soms so ‘n bietjie by mekaar verby. Ons huisie is in die middelste ry voor by die hoofhek en die ander inwoners moet almal verby ons huis ry of loop om by hulle huise te kom. My man het vir hom ‘n tuinbankie voor die voordeur geplant en kort voor lank het dit ‘n geselskapsbankie geword. Almal wat verbygekom het, moes maar eers ‘n rukkie stilstaan om te gesels. Almal wat kom gesels het, moes ook eers om die huis loop om na Karen se groentetuin te gaan kyk. Hare is nou ook nie meer die enigste groentetuin hier rond nie.

Deesdae stryk die ooievaars en die eende laat in die middag neer op die oop stuk gras skuins agter ons en menigmale vergader daar nou ‘n klomp mense om hulle te help voer. Ons dreig kastig om hulle vet te maak vir die krismispot, maar ek hoor dat sommige van hulle al name het – wat beteken dat geeneen ooit in ‘n pot sal beland nie.

Dis Karen wat die gedagte gekry het dat ons dalk ‘n paar krismisliggies moet ophang. Volgens die bestuurskring kon hulle geen fout daarmee sien nie en hulle het selfs gedink dis dalk ‘n goeie idee, want gewoonlik gaan krismis hier maar ongesiens en ongehoord verby.

Die eerste liggies is opgesit op 1 Desember, insluitende ‘n groot 5-punt ster wat flikker daar in ons woonkamer se venster. Vroegaand het ons opgelet dat die motors stadiger hier verbyry en dat meer mense by die geselsbankie stilstaan. Die aand van 2 Desember was daar skielik nog drie huise met liggies in die volgende ry en van hierdie kant af het die bure soos een man oorbeweeg om te gaan kyk wat aangaan. Wat ‘n verrassing! Daar was liggies wat teen die mure ronddraai, ligte wat flonker om ‘n boomstam en sowaar ‘n slee met ‘n takbok op iemand se voorste grasperkie.

Maar natuurlik, Karen is haar pa se dogter en hulle doen alles in oordaad. Die paar liggies tot ons beskikking was nou nie meer genoeg nie. Sy en Oudste daar in Johannesburg, wat krismis huis toe kom vir vakansie, het beraadslaag en nog liggies is afgelewer hier in CFD. Onder meer is daar so ‘n 20-meter lange LED rope light, bloedrooi, wat daar voor teen die dakbalke gehang moet word. Daarmee saam het twee sulke “gordyne” wit liggies gekom wat ook teen dieselfde balke opgehang moes word. Daar was net een probleem. Die dakbalke is hoog en ons het nie ‘n lang leer nie.

Maar watwou, toe ons weer sien, het die bure kom help en die ligte is opgesit. Saans ná donker lyk dit nou soos Amsterdam se Rooiligdistrik hier voor ons huis. Maar nog beter – daar is selfs nou meer huise met krismisliggies aan.

Die heerlikste ding wat egter hier gebeur het, is dat ons almal besig is om mekaar beter te leer ken. Ons gesels buite op straat, hardloop nou en dan by mekaar se huise in vir raad oor dit en dat, gesels in die middag wanneer almal uitkom om die eende en ooievaars te voer en loop saans almal straataf om elkeen se krismisliggies te aanskou.

Nou speel ons met die gedagte om ‘n komplekspaartie te hou. Sommerso vir krismis en nuwejaar vir ons klomp wat nie weggaan met vakansie nie. ‘n Bring-en-braai klink net na die regte ding. Trifle daarby sal goed afgaan.

Hier is besig om ‘n gemeenskap te groei.

*****

Vir my blogvriende, en veral die Towerinne, wil ek graag sê dat ek hoop elkeen van julle se mense sal die vakansietyd saam met julle deurbring, veilig reis en lekker kuier en mag daar baie liggies op julle pad wees.

Follow Dis Ekke

25 Comments

  1. Hester dit is ‘n pragtige skrywe…laat mens se hart warm klop om dit te lees. Nou net vir ‘n paar rooi stilettos om by die rooi ligte te pas. Die plakkies kan weer nuwejaar uitgehaal word 😗

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Haha fluister hier loop ons mekaar heel dikwels raak in pajamas, veral vroegoggend wanneer die vuilgoedsakke uitgesit word of laataand na die oumense en kinders se badtyd. Stilettos gaan net nie inpas nie.

      • Dan sal jy Camilla moet vra om te kom kuier 😗
        Hier is dit eweskielik chaos. 4 Grootmense en drie grooooot tienerseuns bygekom….. 🙄

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Oef! Dit klink na groot genot en groot lawaai. Jy moet maar net aandring op jou middagslapies – laai jou batterye wanneer jy kan.

  2. Wow – dit is hoe dit hoort gedurende die tyd vd jr waar almal kapoet is, en omgee met moeite kom.
    Nie ‘n towerin nie, wel ‘n virtuele tydlyn houer vd eie ek.
    Geseënde Kersfees aan jou en jou geliefdes met ‘n fantastiese 2019 word jou toegewens Hester. Ek sou graag ‘n mooi Geestelike bs saamstuur maar in jou geval nee, want jy ken my hart alreeds 💞💞

  3. Hester, dis absoluut wonderlik. Ons het nodig om weer na mekaar uit te reik en saam die lewe makliker te maak. Drie hoeras vir julle, en vir jou kinders wat so voortou neem met die liggies.

  4. Wat ‘n wonderlike gebeurtenis, Hester – en dit het met ‘n liggie begin 🙂

  5. Heerlik gelees en jy het die genot om in ‘n kompleks te bly pragtig raak geskryf Hester!

  6. En alles het begin by ‘n tuinbankie en ‘n paar liggies. Man, is ek nou opgewonde oor julle kompleks en alles wat daarmee saamgaan. Ek hou van samehorigheid, geselligheid, om te behoort, en dis presies wat daar by julle aan die gebeur is. Kyk net hierdie goeie ding wat Kersfees daar laat gebeur. 😊⭐️

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dis lekker ja. Ons het nou hier gestaan en reël vir diegene van ons wat kersdag by die huis is om saam te eet ook – jy bring slaai, jy bring broodjies … selfs hier rond is ons nie gretig om al die huise leeg te sien oor vakansiedae nie.

  7. Wat ‘n mooie ding! Ek het amper ‘n knop inni keel hier waar en sit en lees!
    Ja… tradiesies is miskien gemaak om gebreuk te word!
    Dit klink vir my julle is besig om die beste vriendskappe en gewoontes te stig!
    Lekker paartie gooi… sommer die hele vakansie… moenie te veel sherrie in die koek in smyt nie… 😉
    Net so btw… ek dink die res van SA weet nou waar al PESKOM se krag heen verdwyn!! Lekker lig maak… en ja, daai groot vet gans by name Hansie… hy hoort inni pot! Of… beter nog… oppi Krismis braai!
    🎄🔥🎅🤪🦆🍷🎁

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Arme Hansie, maar nee, ek dink hy sal liewer braaivleis gevoer word eerder as om self te braai. Sjerrie in die koek – ek het nie eens daaraan gedink nie. Jy praat nou met ‘n klomp vervelige nie-drinkers hier. Blykbaar drink die bure ook nie. Haha, koffie en chocolates vir krismis.

  8. Wonderbaar… julle het almal “saam en bymekaar getrek”
    Geniet die liggies, die verhoudings en die Kerstyd. Seën vir jou en jou mense.

  9. Geniet die vieringe!

  10. Fra det gule hus

    Ik heb genoten van je liggiesblog Hester! Mooi om te lezen hoe die saamhorigheid als vanzelf ontstaat!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die inloer, Anuscka. Ek was bly om weer jou website link te kry, want ek het ‘n paar van jou blogs misgeloop. Ek het gister daar by jou gaan lees oor die lewe in die geel huis. Dit klink asof dit goed gaan!

      • Fra det gule hus

        Dat heb je goed gelezen Hester, het gaat goed in die geel huis! 😊