Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

‘n Afrikaanse hygroman laat my hyg na my asem

Picture obtained from Pixabay free download

Ek het gister my eerste Afrikaanse hygroman gelees. Dit was ‘n ondervinding wat ek eenvoudig mòet oorvertel. Hoekom? Want ek het nie geweet Afrikaans is sò nie.

LEES HIERDIE VRYWARING: hierdie is my persoonlike mening en jy mag dalk nie saamstem nie. Jy mag van my verskil, maar wees ordentlik of bly weg.

Ek is seker ek het al voorheen genoem dat ek vir baie jare lank my Afrikaanse leeswerk afgeskeep het. Dit het alles verander toe ons vir drie maande sonder internet was (dankie Telkom!) en ek my noodgedwonge moes wend na die dorp se biblioteek om te voorsien in my leesbehoeftes. Ons dorp het een, ja, één rak afgestaan aan Afrikaanse boeke en ek het ewe koppig besluit dat ekke dan nou Afrikaans sal begin lees – dalk daag daar meer Afrikaanse boeke op as daar dan nou ‘n leser is.

Sò lees ek, nou al amper ses maande later, nog steeds Afrikaans en ek geniet dit. Ons het oulike skrywers. Vrydag was ek net vinnig by die biblioteek en het ‘n handvol boeke gegryp sonder om eers die agterblad opsomming te lees, en dis hoe ek op ‘n stil Sondagmiddag met ‘n hyroman op my bed beland het. Ai tog, Mills & Boon, sug ek en dit dan nog boonop in Afrikaans ook.

Die Mills & Boon boeke van my dae het gehandel oor suiwer liefde wat eers na ‘n hele boek vol struwelinge skaam-skaam bely is. Die verhaal was lelierein met net so ‘n sluwe ondertoon van seksuele strominge, ‘n skimp op gevoelens wat hoog op die golwe rondsurf, maar die brander het nooit regtig gebreek nie. Die soen in die slotparagraaf het amper die bladsy aan die brand gesteek, maar dit het nie verder gegaan as amper nie.

Hierdie Afrikaanse hygroman begin egter met ‘n eksplisiete, hoewel ietwat meganiese, sekstoneel op bladsy een van hoofstuk een. Ek snak hoorbaar na my asem. Never! Bo-aan bladsy drie vertel sy vir hom sy is swanger, onderaan bladsy drie vertel hy vir haar hy is ‘n getroude man. Die res van die hoofstuk word toegewy aan die reaksie van die beeldskone (natuurlik) heldin van die verhaal se verslae hartseer. Ek kreun van teleurstelling.

Op bladsy een van hoofstuk twee ontvang sy besoek van die held wat haar gaan oorrompel. Hoe weet ek dit? Hy is ‘n lang donker man met broeiende swart oë en ‘n somber houding. Hulle verhouding begin op ‘n krapperige noot, maar selfs in haar smart is haar lyf bewus van die aantrekkingskrag wat hy uitstraal. Dis hoe ek dit weet. Beeldskone heldin, smart en lyding, aantreklike man met magnetiese (lees oorheersende) persoonlikheid, misverstande en ‘n krapperigheid met die ondertoon van smeulende seksualiteit – ready, set go!

Dis net, hierdie held is ‘n Predikant. “Aaargh”, gil ek. Presies hoe droog gaan dit wees?

“Waddehel gaan daar bo aan?” vra my man van onder die trapreling.

“Seks”, sê ek.

Stilte.

“In Afrikaans”, verduidelik ek.

Stilte.

“Ek lees ‘n Afrkaanse liefdesroman”, probeer ek weer.

Daar onder proes ‘n perd. Hy weet ek lees verkieslik oor moord, bloed, derms en psigotiese afwykings vir ontspanning.

Ek lees verder en besef gou dat die hygroman baie goed geskryf is. Die taal verstom my effens; nie die Afrikaans nie, maar die kruie wat bygevoeg word. Dit skok my effens want in my Mills & Boon dae was dit nie algemene taalgebruik nie. In daardie dae het die ou tannies met hulle swart penne elke woord wat nie aan kuisheidstandaarde voldoen het nie doodgetrek in al die boeke voordat hulle dit op die biblioteekrakke beskikbaar gestel het.

Die storielyn verloop egter vlot (ek vermoed daar is ‘n “resep” vir Mills & Boon) en die skryfstyl is van hoogstaande gehalte. Ek lees verder en cheat nie soos gewoonlik nie – die laaste bladsy word gebêre vir laaste.

In die voorlaaste hoofstuk breek daai brander, sommer net so, sonder waarskuwing. “Whaaa”, gil ek. Dis te vroeg! Daar is nog te veel berou wat uitgespel moet word, vergifnis moet nog geskenk word, die ring moet aan die vinger gesit word voordat daai brander breek en nou is alles reeds sopnat … En hy is ‘n Predikant! Ek is skoon in ‘n nuwe bloedgroep in geskok.

Die laaste hoofstuk was heel voorspelbaar ‘n bymekaarvat van alle los draadjies, die vergewende soentjies is uitgedeel, almal het hande gevat en mooi gesmaail, die ring het gearriveer en die beeldskone heldin het haar dominerende held voor die kansel ontmoet. Daai deel was toe ‘n anti-klimaks (no pun intended).

Dis ‘n goeie boek vir iemand wat hou van hierdie soort verhale, maar dis nie ek nie. Ek kan deel met bloed en derms (ja, ek weet dis ‘n anglisisme – sit en bly stil!). Ek is nog nie gereed vir die Afrikaanse hyroman nie, maar dalk sal ek weer op daai rak gaan loer wanneer ek oor my aanvanklike skok is.

Follow Dis Ekke

36 Comments

  1. My bou is beslis nie vir die tipe leesstof nie – ek neig beslis ook eerder na die meer bloeddorstige verhale, maar huidiglik lees ek veel eerder nie-fiksie nie, meer geestelike boeke en biografieë.
    Wat ek beslis op my lysie het is die Lord of the Rings van Tolkien-reeks wat nou in Afrikaans uitgegee gaan word. Deel 1 is nou op die rakke onder die naam van “Die kameraadskap van die ring, Die heerser van die ringe Deel 1. Ek kan nie wag om te sien hoe dit in Afrikaans gaan lees nie.
    Dit en Briewe uit Brielshoop van Helene Olivier, is ook op my kooplus lysie vir Desember.

    • HesterLeyNel

      Ek het gesien LOTR word vertaal, maar o liewe aarde, ek het die Engelse boeke gelees en al die flieks al drie keer of meer gekyk. Helene Olivier – ek het nog niks van haar gelees nie, maar nou gaan ek haar bekyk.

      • Ek wil dit hê, op my boekrak, en verkieslik die 1ste druk. Waarom? Net omdat ek dit rerig wil hê dit lyk so mooi 🙂

        • HesterLeyNel

          Dit sal ‘n waardige toevoeging tot ‘n boekrak wees, daarmee moet ek saamstem.

  2. Die laaste wat ek in Afrikaans gelees het was óf so vrot óf vevelig dat ek nou verby hou. Etienne van Heerden, Andre P Brink, Kerneels Breytenbach …

    Nee wat!

    Hier oor Ester van Kerneels:
    https://vuurklip.wordpress.com/2014/12/10/n-boek-en-resensies/

    • HesterLeyNel

      Ek het gaan lees. Dankie vir die verwysing.

    • Ek sien ons het destyds gedagtes geruil oor Ester. Op die stadium voel ek net so gatvol vir Afrikaanse boeke-volgens resensente word daar nie een swak boek in Afrikaans uitgegee nie, (net soos daar geen swak Afrikaanse musiek geproduseer word nie). Sal maar my heil elders gaan soek.

      • HesterLeyNel

        Verlang julle ook na die Sestigers?

        • Ek het die sestigers gelees en geniet, maar van sommige nie veel verstaan nie.

  3. Hester, noem my ‘n sissie, daai boude en blaaie skrywery sit my af, maak nie saak hoe mooi die taal is nie. Na my mening is ‘n goeie storie is die een waar die protagonis op soek is na die heilige graal en dit is nie die g-spot nie! 😉 Groete!

    • HesterLeyNel

      Hahaha, jy! Jy weet net hoe om ‘n regop kuif plat te kam.

  4. Dit is voor mij de eerste keer dat ik óver een hygroman (oh wat een mooi woord!) in het Afrikaans heb gelezen. Ik snap niet alles, maar proef de woorden en ik geloof dat het mij niet zou uitmaken wat voor soort boek ik zou lezen, van het Afrikaans geniet ik!

    • HesterLeyNel

      😊 Ek is bly jy geniet ons taal Anuscka. Dis ‘n taal wat nog altyd groei en soms vind ek dit nog moeilik om die taal te laat pas by die onderwerp waaroor ek skryf of lees. Ek geniet dit om te leer.

  5. oor, Briewe uit Brielshoop:

    In 1977, terwyl Henna en haar man Stone juis op soek is na ’n stukkie grond waar hulle saam kan ontspan, weg van die stadsgeraas en mensegedrang, sterf Henna se ma en word ’n familieplaas onverwags en onbepland haar erfdeel. In pleks van die plaasidille wat Stone voorgehou het, word Henna nou gekonfronteer met die harde werklikheid van volskaalse boerdery en alles wat daarmee gepaard gaan: droogte, peste, plae, veesiektes, vrektes en vrees.

    OOR DIE OUTEUR

    Ná vele omswerwinge is Helene Olivier terug in Pretoria waar sy gebore en getoë is. Sy en haar oorlede man, Pierre, het deeltyds in feitlik al die provinsies geboer. Wat hulle altyd getref het, was die kleinboere se liefde vir die grond en hul onwrikbare geloof dat dit vorentoe beter sal gaan. Hulle het veel geleer, maar nie veel wyser aan die ander kant uitgekom nie. Wat sy vandag die meeste mis, is die wydsheid van die plaaslewe in teenstelling met die elektriese heinings wat stadsbewoners in hulle “kampongs” vasdruk.

  6. Janee die soort hygstories is nie vir my nie. Maar ek het lekker gegiggel oor jou en jou man se gesprek….

  7. 😆

    Lekker lag ek vir jou!

    Ja nee nê, ek kan ook nie die Mills & Boon ding doen nie, alhoewel my ma mal is oor dit. Elke boek is net TE dieselfde, dis net die name en klere wat bietjie verskil 😆

    Ek lees ook veel eerder moord en bloed en mal 😉

    • HesterLeyNel

      Dis alles dieselfde ja, want daar is toe wragtag ‘n resep. Ek het dit nou met my eie oë op google gesien. Ek wonder, is dit ‘n betalende job om sulke verhale te skryf? Wat is my kanse?

  8. Watwou, ek sal dan ook maar so ñ boekie gaan soek in die bib…Glad nie te oud vir ñ skok of twee nie.

  9. Ek is bly jy het end-uit gelees. 😁

  10. Nee wat, ook nie my koppie tee nie…in geen taal nie. Ek dink my Calvinistiese preutsheid het seks totaal vir my bederf…lol!

    • HesterLeyNel

      Nee, ek dink dis die manier wat seks deesdae so in ‘n mens se keelgat afgedruk word. Ek is nou mooi gatvol vir elke Jan Rap en sy maat se mening ivm seksualiteit.

  11. I have had such a good laugh: those Mills and Boons from our youth … these days they are just like your hygroman: sex in explicit detail from page one. No wonder they give them away free with magazines now and then!

    • HesterLeyNel

      No!!! You know, I am really glad that I grew up in a more innocent (ignorant?) era. We still had Romance, yes, with a capital R; sweet dreams, fluttering hearts. Even though things may have turned sour later on, we now have the sweetest memories.

  12. Ek hou van wat jy vir Anne gesê het Hester. Al het ek ‘n Camilla wat elke nou en dan uit haar kassie spring lees ek nie nuwerwetse boeke nie…en definitief nie hygromanse nie.Ek struggle al vir weke om deur ‘n drie volume Engelse classic “Kristen Lavransdatter” te lees. Dit is meer soos jy vir Anne gesê het…begin met drome en dan treë die werklikheid in. Ek word so kwaad vir die vroumens dat ek sommer boos gaan slaap. 🤔 Gister vir my man gesê hoe de swernoot kan ‘n karakter in ‘n boek jou so omkrap. En ja….ek lees nie Afrikaans nie, behalwe Kringe in die bos ens.

    • HesterLeyNel

      Ek het Afrikaans gelees in die dae toe die Sestigers oorheers het en ek lees hulle nog steeds wanneer ek kans kry. Ek kan nie lekker vat kry aan die nuwe skrywers nie. En jaaaa, ‘n karakter in ‘n boek beïnvloed baie maklik my bui vir die dag.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: