“As jy nou iemand wil seermaak, regtig pynig,” sê my broer, “watter metode van marteling sou jy verkies?”
Ek het nie nodig om baie lank na te dink nie: “Daar bo in Afrika is ‘n barbaarse stam wat hulle slagoffer aan ‘n boom vasmaak. Hulle dans rondom die boom met hulle skerp byltjies en kap hom in stukkies: eers die tone, een vir een, dan die voete en die bene, so stukkie-vir stukkie. Dan begin hulle met die vingers …”
“Ja,” sê my broer geesdriftig, “of hulle maak hom vas aan die boom, trek hom kaal uit en drup heuning oor sy hele lyf om die kommando-miere aan te lok. Hulle kom vreet hom lewendig op, happie-vir-happie. Dit brand soos ‘n helse vuur.”
“Of,” sê ek, “wat van daai ouens in die Saharawoestyn wat hulle slagoffers ook kaal uittrek en hulle voor sonop op die grond oopspalk. Hulle sny sy ooglede af sodat hy reg in die son in kyk en los hom net so sonder water of enigiets. Wanneer die son begin opkom, kry daai ou warm, sy oë word jellie, sy lippe begin bars en hy brand blase op sy vel. Eintlik word hy sommer net gaar in daai son.”
“Dit klink goed,” sê my broer goedkeurend, “maar ek ken ‘n beter metode. Ek sal sy oë uitruk. Dan sal ek ‘n dun koperdraadjie vat en in sy bloedige oogkaste sit en krap vir ure aaneen.”
Ek knik my kop instemmend – dit sal inderdaad eersteklas marteling wees – en ek tel kalmpies my boek op om verder te lees. Dis 1962 (of daar iewers) en ek is sowat elf jaar oud. Ons was pas by die biblioteek om nuwe boeke uit te neem.
Waddehel het ons daardie jare gelees? Ek onthou sulke flitse van stories: barbare, huursoldate, oorlog, seerowers, gouddelwers, diamantsmokkelaars en ja … marteling en moord.
Diè (werklike) herinneringe nou alles na aanleiding van ‘n argument wat ek pas op die internet gelees het. Iemand het aanbeveel dat gewelddadige internetspeletjies verbied moet word. Daar is mense wat daarmee saamstem en reken geweld op straat sal afneem as hierdie tipe invloede nie toegelaat word nie. Daar is diegene wat meen dis ‘n onnosele aanname. En wat gaan volgende verban word vra hulle – flieks? televisie? boeke? Dan kan ons almal elke aand agtuur met ons pantoffels aan sit en Scrabble speel. Nog een meen dat sulke speletjies aangemoedig moet word, want dis ‘n goeie uitlaatklep vir agressie. Teen die tyd toe die Bybelse wreedhede ook by die argument ingesleep is, het ek opgehou met lees.
Ek wil nou nie eintlik betrokke raak in ‘n argument nie (ek hou nogal van Scrabble), maar sal nogal graag wil hoor wat die bloggers dink van blootstelling aan geweld.
Ns. Ek mag dalk byvoeg dat ek nog nooit enigiemand gemartel het nie (my broer ook nie, sover ek weet), hoewel ek moet toegee dat daardie koperdraadjie-idee soms aanloklik klink 😊
Rob Alberts
Vredelievende groet,
HesterLeyNel
Ja, mag ons altyd in vrede leef Rob 😄
travel460
Simbad die Seeman, dit was so ń dik boek, soos die ou Skatkis boeke. Simbad het al die martel maniere moes deurstaan, en nog vele meer. Wreed, wreder, wreedste. Wreedsterer. Ek het sulke storie verslind! En ek het ook nog niemand ooit fisies aangerand nie.🤤
HesterLeyNel
Ek onthou die ou Skatkisboeke. Maar selfs ons kinderliedjies was wreed. Buitendien sien ons elke dag erger dinge op TV en in die koerant.
Hier "blok" Ek!
Grusaam verby – ek hou nie van marteling nie – behalwe as mens dalk politici se name daar mag ingooi – ek dink dit is hoogtyd dat iemand hulle vir ‘n slag martel, want “darn” dit is ‘n daaglikse geestelike en emosionele marteling om na van hulle se uitlatings te luister en te sien hoe hulle uitlatings volk en vaderland raak!
HesterLeyNel
Dis die metode wat hulle gebruik om ons te martel 😄 Lanklaas gesien Elanè, gaan dit goed?
Hier "blok" Ek!
Dit gaan goed ek kry net so hier en daar gou geloer – die vlg 4 mnde is besig in my wereld, maar ek voel nogal positief huidiglik dat ek nie die jr “krismis blues” gaan kry nie maar wel “Christmas” saam met my mense gaan vier sonder om vir die vlg 3mnde die tyd om te soebat. Maw ek gaan die seisoen op ‘n hoë noot in en vertrou dat dit so gaan bly 😊
HesterLeyNel
Dis wonderlik Elanè. Ek hou duim vas dat dit goed gaan.
Storieklong
Ek was ‘n heel onskuldige klong wat Uile, Fritz Deelman en Asterix gelees het. Marteling was ‘n goeie taai klap of ‘n kleilat projektiel tussen die blaaie. Ek het goed grootgeraak, maar toe groot sleg geraak. Vandag sal ek lag-lag kan martel vir pret.
My huidige gunsteling. Jy maak die persoon aan sy gemakstoel vas en laat hom die parlement kanaal op TV kyk. Voor middagete het hy sy eie oë met sy toonnaels uitgekrap en sy oogballe in sy ore gestop om weg te kom van die stroom verbale diaree.
Dit gesê, ek dink daar is meriete daaraan om jonger kinders weg te hou van geweld op TV en speletjies vir so lank as moontlik. Dit tel nie veel nie, want ek dink ook daar is meriete daaraan om die week se swakste politikus in die openbaar te hang as sport vir die mense.
HesterLeyNel
Oef! Daai een van die TV-kanaal is heerlik diabolies. Ek kon nooit my kinders weghou van enigiets af nie (hulle pa se invloed was te sterk), dus was ek gisteraand verstom toe een my seuns whatsapp “Watse gewelddadige goed blog ma nou? Liewe vader eks deur ‘n psycho groot gemaak 🙄”. Hahaha.
perdebytjie
Ek het die Grimm broers se sprokies verslind. Daar was omtrent in elke storie iemand wat afskuwelik gemartel is. Ek onthou spesifiek een waar die skuldige in ‘n drom vol spykers, teen ‘n bult afgestoot is. Ek is nie gewelddadig nie, maar ek kan nie sê of sulke leesstof of gewelddadige speletjies nie tog sommige persoonlikhede wel aanmoedig om gruweldade te pleeg nie.
HesterLeyNel
Dit is seker moontlik ja. Die mens se psige is moeilik om te verstaan, maar soms dink ek ook alles word deesdae as verskoning gebruik vir enige wandade.
perdebytjie
Ek stem saam. Dit kom weer neer op blaamverskuiwing en nie self verantwoordelikheid neem nie.
HesterLeyNel
Net so.
A. Shepherdson
I’m very intrigued? Is it equipment used inside a torture chamber?
HesterLeyNel
Yes. These days there are endless debates about children being influenced and encouraged to use violence by TV games, books, movies, etc. We were discussing the uncensored violence in the books and movies that we grew up with. I was saying that my siblings and I turned out peace loving citizens despite our exposure to such material.
A. Shepherdson
😮 what awful equipment and so wrong. 🙁
scrapydo2.wordpress.com
Noudat jy dit ophaal, ons was aan gewelddadige boek blootgestel in die jare voor TV ens, Vandag kom almal in aanraking met geweld op die televisie. Ek sien nie n groot verskil van toe en nou nie. Kinders speel Minecraft(wat dit ook al beteken) dis gedurig n geweghardloop en doodmaak van goeters. Hul bou darem “huise” om in te bly. Dan gebruik hul vuur of lawa om dit te verwoes. Ons speel darem speletjies met regte speletjies ook. Pophuis, kombuis-kombuis.
HesterLeyNel
Ek dink kinders het ‘n baie goed ontwikkelde vermoë om te onderskei tussen reg en verkeerd, speletjies en die werklike lewe, sommer van jongs af al.
scrapydo2.wordpress.com
Ja, is so. Die klomp jonger seuntjies by skool bou gewere en skiet mekaar. Dis maar deel van grootword ook.
VirgoC
Ek het nooit geglo dat dit wel invloed op mense het tot ek besef vandag, jare en jare later hoor ek steeds daai “Jaws” liedjie in my kop as daai water so donker is, dit was 1975. En eerlik, tot vandag hou ek nie van tonele wat onder die water geneem is na boontoe nie, daai girl wat so spartel… en ‘n lilo van onder af. Nope, nee dankie. Dink dit het tot die ou westerns se martel tussen Cowboys en Indians uit my kop laat verdwyn
HesterLeyNel
Jaws! 😄 Ons het ook so ‘n paar flieks wat ons so nou en dan nog die skrik op die lyf jaag, maar dit spoor my darem nie aan om aan ‘n ander ou te hap nie.
VirgoC
😂😂👍👍👍
Kameel
As Pinnochio so ‘n slegte invloed op my kinders gehad het…. kan ek net dink wat al hierdie ander invloede doen. Ek is dood ernstig 😇
HesterLeyNel
Pinnochio het darem ook op die ou einde uitgedraai in ‘n liewe ou seuntjie.
HesterLeyNel
Kameel, ons het nou die dag gesels oor jou naam wat nie die regte skakel by het nie. Gaan kyk bietjie by Toortsie se blog https://toortsie.com/2018/08/31/hoe-weet-mense-van-my-nuwe-blog/ – sy het prentjies geplaas van hoe jy jou URL moet regmaak wanneer jy kommentaar lewer. Ek is seker dit gaan jou help.
Kameel
Dankie Hester. Ek was nog van plan om jou te bel as ek van hierdie gehoesery, loopneus en branderige oë kan ontslae raak. Klink op oomblik soos ‘n stoomlokomotief. Sal Toorts se prentjies probeer…. sy het my ook met prentjies op whattsapp probeer help… to no avail 🙄
HesterLeyNel
Hierdie griep is lelik hoor en dit hou ‘n lang tyd aan. As iemand naby my hoes hol ek weg soos ‘n vlakhaas.
Kameel
Ek het nou amper in trane uitgebars… nie oor die griep nie… maar oor my onbeholpenheid (wou sê onnosel… but be kind to self) wanneer dit by blogs ens kom. Sukkel nou heeltyd om by plek te kom waarvan Toorts prentjies opgesit het… kry dit nie. Nou gedink ek werk op my foon, miskien moet ek eerder op laptop kyk. My foon is darem nog in een stuk en het nie teen muur beland nie 🙄
HesterLeyNel
Gaan na die plek toe waar jy gewoonlik kommentaar lewer onder aan die blog en kliek in die kommentaarblokkie. Onder die blokkie langs jou naam sal jy sien daar is ‘n keuse tussen “logout” en “change”. Kies change en verander dan jou URL soos wat Toortsie beduie.
Vlindersag
Daai koperdraaitjie idee agter die oë klink na dit wat ek ervaar as ek sinus-hooikoors het. So, ek kan dink dat dit ‘n baie erge vorm van marteling kan wees. Ek voel ons moet die kinders spasie gee om hulle wêreld te ontdek, maar seker maak dat ons die kommunikasie kanale oophou en balans bied deur opbouende gesprekke en gesonde debat oor wat hulle ontdek. Nie een van my kinders was of is lief vir gewelddadige films of speletjies nie. Maar dit beteken nie dat daar nie ander invloede is wat nadelig kan wees nie. Solank ons hulle help om balans en persprektief te behou, sal hulle wel die kaf van die koring kan skei. Soos ons ook maar. Ek sal nooit kan vertel waarop ek al my oë gelê het toe ek klein was met ‘n ouer broer in die huis nie. En dit het niks eers met geweld te doen nie. En ek het oorraait uitgedraai 😀
HesterLeyNel
Ek stem heelhartig saam met jou. Soms kry ek die indruk dat die groot ophef en bohaai wat gemaak word meer skade doen as die speletjie of media wat so veroordeel word.
Vlindersag
Absoluut. Ek lees dit nie eers nie. Ek fokus liewer op my tienerkind en maak seker hy het hope ondersteuningsmeganismes in die vorm van ons as gesin, vriende en die kerk se jeuggroep waar hulle geleer word om dinge wat binnekant stoei te kan verbaliseer. Die grootste euwel van rekenaarspeletjies is vir my meer dat die kinders voeling kan verloor met hulleself of hulle emosies. Dit is dus baie belangrik dat hulle gereeld sosialiseer waar hulle kan lag en gesels en ook so die gemoed skoon te kry. Dit is ons ouers se taak om te verseker dat hulle sosiaal bly. Ons kan nie ons kinders aanvat nie as ons nie die kanale vir hulle oopmaak nie.
HesterLeyNel
Dis waar. Ek en my dogter het vanoggend gesels oor ‘n video waar daar weer gegil word oor die “verslawing” van mense aan selfone. Hier rondom my sien ek nie sulke probleme nie. Dalk is almal wat ek ken verslaaf aan geselskap of ek meng net met ‘n klomp babbelbekke.
Olga
Laat my dink aan ‘n whats app boodskap wat ek onlangs uit Namibia gekry het. Van gemene uitvaagsels wie kinders steel, hoe ligter en hoe blonder, hoe beter die arme kindertjies aan monsters verkoop vir wat as “rape and kill” bekend staan te gebruik. Net die gedagte daaraan behoort die monsters al daardie metodes op die lyf te haal.
HesterLeyNel
Vir hulle sou ek graag ‘n nog meer spesiale marteling wou bedink.