Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Mense wat onder ‘n grasdak woon … moet stilletjies leef

Photo credit https://maison-monde.com/hutte-peuple-nama/

Lank, lank gelede – bàie lank gelede – toe ek nog ‘n klein dogtertjie was, het ek smiddags na skool saam met Dora Syster oor die rantjies geloop tot in die lokasie waar die bruinmense gewoon het. Die wêreld was toe nog anders en Dora was oud; ek het saamgeloop om kastig te help dra aan haar kos en die houtjies wat sy langs die pad opgetel het, maar eintlik sommer net omdat ek lief was vir haar en graag by haar gekuier het.

Op die hitte van die somermiddag het ek dan saam met haar by haar ronde matjieshuis se deur ingebuk en gehelp om die rietmatjies op te rol, sodat die koel namiddagwind die bitsige hitte kan verdryf. Dan het ek en Dora plat op die sandvloer gaan sit en van die lekker koel water uit haar wateremmer gedrink. Soms het ek ‘n blik koue magou wat my pa van mieliemeel gemaak het, saamgedra.

Dora se bure was gewoond aan die wit kind wat daar gekuier het en het doodluiters voortgegaan met hulle daaglikse bedrywighede. Ek en Dora het stil gesit en luister na hulle geselse, die gejil van die spelende kinders en die musiek uit die transistor radiotjies, totdat dit tyd was vir my om huis toe te gaan. Ek het altyd gewens dat ek eendag ook ‘n matjieshuis kan hê soos Dora s’n; dat ek ook so onder my rietmatjies kan uitloer om te sien wat die mense doen en waaroor hulle gesels.

Vandat ons hier by die pophuis met die grasdak ingetrek het, dink ek baie keer aan die middagkuiertjies by Dora. Hierdie huis is op twee vlakke gebou: opstêrs (soos my man sê), is twee slaapkamers, ‘n badkamer en portaal bo die trap ruim genoeg vir ‘n kantoor. Downstêrs is die motorhuis, ‘n slaapkamer met badkamer, die oopplan TV-kuierhoekie-eethoekie-en-kombuis. As ons so oor die trapreling leun, kan die opstêrs en die downstêrs mense gemaklik met mekaar kommunikeer.

Ons kan ook, met redelike gemak, alles hoor wat buite aangaan: die bure wat gesels, die honde wat blaf, ‘n buurvrou wat haar kat soek, die waterpompe wat die groot tenks vol water pomp, die kolganse op die grasperke en die honeysucker wat die riooltenks kom uitpomp. Ons is voortdurend bewus van alles wat rondom ons aangaan, want die huise is redelik naby aan mekaar. Vir ons is hierdie soort lewe nuut en ons ore bly gespits – ons moet immers op die hoogte van sake bly! My man ken reeds al ons bure en die buurvroue stop gereeld vir ‘n geselsie daar by sy gesteelde spoorwegbankie voor die voordeur.

Die een ding wat ons voortdurend laat giggel, is die opstêrs plankvloere. Hier moet jy maar redelik suutjies loop, veral in die nag, want daar is net ‘n paar planke tussen jou en die persoon wat downstêrs slaap of die persoon wat in die kombuis staan en kook. Elke keer as as die opstêrsmense gehoor gee aan die natuur se roep, of as die maer kat wat minder as twee kilogram weeg soos ‘n perd oor die plankvloer galop, tik die downstêrs-bewoner met sy kruk teen die houtplafon. Dan proes ons eers almal saam.

Nog ‘n bonus is dat jy opstêrs kan hoor (en ruik) as iemand kos of koffie maak in die kombuis. Nie lank nie, dan storm die honger opstêrsburgers teen die trap af om te gaan help eet en drink. Die enigste probleem is dat die derde trap van bo kraak en dit demp onmiddellik jou eetlus – “liewe magtag, is ek dan so swaar?”

Liewe Dora, mense sal sekerlik dink daar is nie regtig ‘n vergelyking tussen jou matjieshuis en hierdie grasdakhuis nie. Ek dink hulle is verkeerd, want hoekom gaan my gedagtes so ver terug wanneer ek saans die bamboesriet-blindings toetrek? of miskien is dit tog net ‘n teken van ouderdom as ‘n mens so voortdurend terugdink aan jou kinderdae. Ek mis jou matjieshuisie en Pa se magou, en ek weet jy is al meer as vyftig dekades weg, maar ek mis ook vir jou.

Follow Dis Ekke

32 Comments

  1. Hester, hierdie is die beste skrywe! Ek het nou behoorlik saam met jou by Dora Syster se huisie, en jul nuwe een gekuier. Ek sien jou sommer daar op die sandvloer saam met haar sit, en die lewe beluister. Kyk, ek en Bertus is totale gras/rietdak mense.

    • HesterLeyNel

      Ek het my altyd verwonder aan die opstal op die ou familieplaas (aan my ma se kant) waar die gaslampe en die dekriete teen die plafon my eindeloos gefassineer het. My man is algeheel gekant teen enige huis wat nie dakteëls het nie. Ek geniet die hitte onder die dak en ek kan alles hoor – selfs die rivier wat hier verbyvloei en die branders wat klap daar onder op die strand.

  2. Laaik …

  3. O dis so mooi geskryf.

  4. 🤔 I’m intrigued, what are they?

    • HesterLeyNel

      These are the traditional reed huts of the Nama people (an ethnic group in South Africa / Namibia). The hut is round and consists of beautifully woven reed mats draped over and fastened to a skeleton of sticks. These days the huts can still be found in the region where I grew up, but nowadays they are additions to the houses in which the Nama people live. You can read about them on this site: https://maison-monde.com/hutte-peuple-nama/ (it’s in French but should offer Google’s English translation option).

      • Afrikaans to English doesn’t translate so well………….. however can make for fascinating reading! 😁

        • HesterLeyNel

          Haha, yes, the Boere and the Kakies still have trouble understanding each other. That’s why I gave you a French – English link. That article was definitely professionally translated.

  5. Jy het beslis jou vertelling baie mooi ingekleur met woorde. Ons huishulp het ook magou gemaak. Ek proei dit sommer toe jy dit noem. Dan het ek my jongtyd in n rondawel geslaap wat my pa eiehandig self gedek het. Ek kon ook ure le en my verkyk aan die dak. Die rondawel was vasgebou aan die huis. Dit was naby stal van ons bokke en as daar gelam word kon ek hoor as een besig is om te gesels voordat sy lam. Dan was ek by om te kyk of alles goed gaan. Wonderlike tye. Julle moet maar soetjies loop op die planke.

    • HesterLeyNel

      Ai, ons kinderdae! Dit raak al verder weg, en terselfdertyd voel dit soms nader, so asof die jare nog nie regtig weggeraak het nie.

  6. Baie mooi vertelling.Maak my sommer verlang na ek weet nie wat nie. (Hier ter plaatse noem hulle die honeysucker ook die jemlorrie 🙁 )

    • HesterLeyNel

      “Ek verlang sommer na mense wat ek nooit geken het nie”, het my ma altyd gesê. Ek is seker daai lorrie het baie name opgedoen deur die jare. Hier rond is dit ‘n baie bedrywige en winsgewende besigheidsgeleentheid en die lorries is sommer windmaker van voorkoms. Dankie vir die lees Lewies.

      • Soos die plumber se lorrie met die spreuk: Your shit is my bread and butter.

        • HesterLeyNel

          Oei! Ek probeer daai prentjie uit my gedagtes weer, maar dis raak gesê.

  7. Mooi vertelling! Maak my sommer verlang na ek weet nie wat nie.

  8. Dis ‘n lekker vertelling Hester. Dimk amper die opsters mense het dit beter as die downsters mense…. ken van daardie lawaai bokant jou kop. (ewe skielik wil my foon nie die kappetjie e tik nie)

    • HesterLeyNel

      Downstêrs is darem geriefliker vir die mense sonder knieë. Jy laat my nou dink aan ‘n lieflike woonstel waar ek en Karen gebly het in Florida terwyl sy haar graad 11 en 12 skooljare voltooi het. Ouerige gebou, maar pragtig opgeknap met parquet vloere, die lot. In die woonstel bo ons het ‘n vrou gewoon wat soggens 5-uur haar spykerhakskoene aangetrek het en dit aangehou het tot na middernag. Daai klak-klak geluid sal my nog lank bybly.

      • Presies!!! En daardie weet wat gaan in ander ouens se woonstelle aan laat my dink aan ons bly in ‘n woonstelblok in Sunnyside. Dit was in square gebou met ‘n kleinerige opening in die middel waar die waterpype geloop het…. en badkamervensters op oopgemaak is. Die opening het soos ‘n luidspreker alles wat in die sesverdieping gebou aangaan weergalm. Kon lekker in bad lê en luister na ander se gesprekke. 😊

        • HesterLeyNel

          En hulle na joune! dis die probleem; ons probeer stiller leef en nie so vokaal soos gewoonliknie, want die grasdak het ore 😄

  9. So mooi vertel ❤️

  10. Dankie! Lekker gelees.

  11. Ai… so mooi vertel.
    Nou laat jy my terug dink aan die strooise op die plaas waar ek die eenigste wit klonkie in die trop was…
    Die grasdak en plank vloere… hier moet ons ook suukies in die nag… die opstêrs is ook plank! Nou sal ek aan jou en Dora dink wanner ek my nagtelike vloer plank polka trap! 😉
    Neem vir ons ‘n foto van daai bank… miskien hoort ek ok so ‘n rusplek aan te skaf!! 🙂

    • HesterLeyNel

      Daai bankie het ek geërf by ‘n vorige huiseienaar (fluister: hy het by die spoorweë gewerk) – kyk in hierdie blog van my is ‘n klompie fotos https://wp.me/p9ruaE-2Ch

      • Wat’s daai ou storie oor die deeler en die steeler wat ewe skuldig is??? 😉

        • HesterLeyNel

          Ek woon in Afrika, I’m entitled!

        • Mmmmmm… ja, ek het al gehoor van daai filosofie. baie ex-Afrikaaners try daai tricks hier ook… v*kk3rs… 😀

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: