Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Sardientjiekoors op die KwaZulu-Natal Suidkus

'n Net vol sardyne by Pumula Beach, KwaZulu-Natal

Wat het diep depressie, ver verlange en spartelende sardyne in gemeen? Alles. Dis ‘n omvattende omskrywing van my lewe: die emosionele swart put waarin ek myself bevind as gevolg van my hardhandige verwydering uit Blogland, die skreiende begeerte na die geselskap van mense wat my psige verstaan en die sardientjiekoors wat my vroegoggend uit die bed gejaag het.

Sardientjiekoors loop weer hoog by die Suidkus hierdie jaar. Kort-kort hoor ons berigte van sardientjies wat in aantog is, met die roofvisse kort op hulle hakke. Dis ons vierde jaar by die Suidkus en ons het nog nooit gesien hoe sardyne uitgetrek word op die wal nie – dis nie ‘n geleentheid wat enige Suidkusser maklik laat verbygaan nie.

Sedert my onwillige afstanddoening van Blogland se kalmerende invloed drie weke gelede, kry ek die tyd om deur te eet (gewigstoename ter waarde van 1 kilogram per week) of te baklei met my huisgenote (met gevolglike skade aan my stembande en hulle oordromme). Die gevolg is dat almal bly is om my te sien bed toe gaan in die aand, en so sag as moontlik deur die huis te sluip in die oggend, ten einde te verseker dat ek so lank as moontlik aan die slaap bly. Verbeel julle dus my verbasing toe ek vanoggend douvoordag, so skuins na agtuur skat ek, baie versigtig wakkergeskud word met die nuus dat die sardyne by Pumulu Beach opgedaag het.

Blykbaar het Oudste (daar in Johannesburg) en sy sussie, van vroegoggend af die roete van ‘n skool sardyne dopgehou en op whatsapp mekaar moed ingepraat om hulle ma wakker te maak wanneer genoemde sardyne in die net beland. Hulle is ook maar versigtig, siestog, met die gevolg dat die wakkermaakslag so lank as moontlik uitgestel is. Ek het agterna op whatsapp die benoude gesprekke gelees en besef dat die sardyne reeds in die net was voordat ek uit die slaap gewek is. Die gevolg is dat ek holderstebolder aangetrek het, my bloeddrukpille saam met my mondspoelmiddel afgesluk het en die roep van die natuur geignoreer het in my haas om in die motor te kom.

Pumula is net so ‘n spoeg ver van ons tuisdorp af en die karre het reeds sulke lang rye ingeryg gestaan langs die pad toe ons daar aangeland het. Met ‘n benoude gebed het ek die klein karretjie ook van die pad af getrek, waar al vier sy wiele terstond in die lang gras verdwyn het. Ons het afgehardloop strand toe verby ‘n stroom mense met visstokke, vismandjies, wasgoedmandjies, emmers, plastiekbakke en -sakke, in kort, enige soort houer waarin sardientjies gelaai kan word. Die walskippers verkoop die vissies sommer daar op die strand en jy moet iets hê om mee te skep. Al houers wat ek gehad het was my pienk tekkies wat enorme hoeveelhede sand geskep het omdat ek so knyp-knyp moes hardloop; teen hierdie tyd was die roep van die natuur al ‘n gillende stemmetjie in my oor.

Teen die tyd wat ek by die plek aangekom het waar die eerste net uitgetrek is, het my dogter al vriende gemaak met die bemanning van die boot en het haar fotos deurgesein na Oudste toe om dit op facebook te gaan publiseer. Blykbaar is dit ‘n groot eer om die eerste fotos van die vangs te kan plaas. Ek het sommer bo-oor die net geploeg en die bootsman wat kaalvoet tussen die sardyne in die net gestaan het beduie dat ek asseblief net een vissie soek. Ek het darem nog genoeg krag gehad om te glimlag vir die foto van my met my sardyn, maar toe het ek hom blitsvinnig teruggegee vir die man wat hom gevang het en begin terughobbel kar toe.


Sardientjiekoors het hierdie een dag vir my opgehelder, maar ek verlang my vrek na Bloglandgeselskap. Ek steel so ‘n bietjie data om gou hierdie geselsie te plaas en vir julle die fotos te wys, net om seker te maak julle vergeet my nie. Telkom sou al verlede week Maandag ons lyne oorgeplaas het na die nuwe adres toe, maar toe was daar iets verkeerd met die ondergrondse kabel en hulle moes dit herstel. Ons het weer ‘n afspraak gemaak vir die 21ste, maar toe blyk dit dat daar fout is met die toerusting op die paal. Nee, ek weet nie hoe ondergrondse kabels en toerusting bo-op pale met mekaar kommunikeer nie, maar blykbaar is hulle darem besig om ons weer aanlyn te bring, hopelik nog voordat ons intrek. Ons byt maar vas.

Ons gesels weer.

Sardine run

 

 

 

 

 

 

 

 

Follow Dis Ekke

29 Comments

  1. Yapoooooo, jy is terug🌻

    • HesterLeyNel

      Nee nog nie; ons wag nog. Ek werk so nou en dan op geleende data, maar sal eers weer aan die gang kan kom wanneer Telkom so besluit.

  2. Dit moet iets wees om te beleef!

    • HesterLeyNel

      Ek dink dit was meer pret in vroeër jare toe die sardientjies nader aan die strand gekom het. Toe het die mense kniediep in die water gestaan en die vissies gevang in hulle voorskote en t-hemde. Nou moet jy maar wag vir die boot om die net in te trek. Dis egter mooi om te sien hoe kleiner vissies gejaag word deur die groot roofvisse, haaie en dolfyne, asook die seëvoëls.

    • HesterLeyNel

      Ons volgende uitdaging word Donderdag na 12:00 gepubliseer deur Tannie Frannie van http://www.frandr.wordpress.com. Moenie misloop nie!

  3. Great fishing, dear Hester! You look stylish in your navy blue jacket!

  4. Wow! 😱😁 In my kinderjare het ek dit nogals beleef as hulle harders getrek het op Struisbaai. Dit is GROOT. Spesiaal. En ‘n harder op die kole was tog te lekker.
    So bly jy kon dit beleef. 😁

    • HesterLeyNel

      Harders! Nog ‘n heerlike herinnering aan my kinderdae.

  5. Hi Hester ek ook maar min in blogland maar darem vir ander rede as jy. Bly om jou hier te sien en vertrou die pale en ondergronde sal met mekaar gesels. Ek nou week op verlof en sal dan kans kry om mense se blogs te lees en hopelik gebeur daar iets met my wat blogmateriaal kan word. Sterkte met die lyne se pyne

    • HesterLeyNel

      Dankie Abrie. Ek sien ook uit daarna om weer terug te trek Blogland toe. Intussen sal ek in die regte lewe maar eers nes skrop by die nuwe adres om my besig te hou. Geniet jou vakansietjie.

  6. SO LOVELY to hear from you again! That dark hole emanating from no connectivity is a very dark one indeed. Holding thumbs that Telkom will eventually come to your rescue!

    • HesterLeyNel

      Anne, I think Telkom has placed me at the top of their hitlist, haha. I know how to make a nuisance of myself.

  7. So bly om weer ietsie van jou te hoor, al is dit tussen vis deur! Ons het juis hierdie week gewonder wat van jou geword het. Hopelik kry Telkom nou hulle storie reg.
    Verstommend hoeveel vis daar uitgehaal word. Mens wonder altyd wat die impak op die natuurlewe is.

    • HesterLeyNel

      Dankie Perdebytjie, ek sien jy het ook ‘n bietjie gaan vakansie hou. Dalk is ons weer een van die dae voltallig. Ek moet ophou rondskuif, dan sal ek en Telkom beter oor die weg kom, maar die voete bly jeuk.

  8. Ag vaderland Hester dis so lekler om weer jou stories te hoor…. en te lag. Vir jou gesin…. en ons onthalwe hoop ek julle Telkom probleem word uitsorteer. Jou foto vir my seun gestuur… en toe gesels ons lekker oor die foon oor sardientjies 😀😀😀😀 Tot later dan…. mooi bly.

    • HesterLeyNel

      Ja, as ek in die beskawing wou woon, sou ek en Telkom nie so dikwels vasgesit het nie. Maar dis so lekker hier wanneer die son oor my skyn!

  9. Lekker om jou hier te sien! Ons mis jou!

    • HesterLeyNel

      Ek mis julle net so Frannie. Sit noual so ewe op my selfoon tik en ek háát selfone. Wys jou net.

      • Eish…

        • HesterLeyNel

          Frannie, sorry, jou uitdaging begin eers Donderdag, nie môre nie. My kop raas.

        • Heheheh – my kop ook! Het ewe pligsgetrou begin skarrel – ook maar goed so, want ek is ho-pe-loos met spertye!

    • HesterLeyNel

      Frannie, ek het solank jou uitdaging wat môre begin op InLinkz geskep. Jou kode is 787126. Jy moet net die nuwe kode invoek op die skakel wat jy onderaan jou blog copy en paste. As jy vashaak, sal enigeen van die ander veterane jou kan help – ek is jammer dat ek nou effe gestremd is met my internetprobleme.

  10. Jy maak my naweek met jou vertel…spesifiek die stukkie hoe jou huisgenote en ver kinders jou benader… Dis regtig skreeusnaaks weergegee, Hester!!! Ek begeer om hierdie sardientjie-run te beleef.

    • HesterLeyNel

      Het jy toe jou wegbrekie geniet? Ja man, ek mis my elke dag se bloggeselsies. Ek sien net nie kans om van ‘n selfoon af te blog nie en ek is bang om my laptop aan te sit – ons server sal my aanrand. Ek hoop hierdie sal ons laaste internetlose naweek wees.xt

  11. Een hele belevenis! En nu terug blogland 🎉. Zag eens in Ethiopië vis aan wal halen, terplekke kuisen en verkopen. Het zou hier niet kunnen…

    • HesterLeyNel

      Dis nogal baie opwindend Joke. Almal hou die see met groot oë dop hierdie tyd van die jaar.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: