My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

whatsapp – die boeties bak sjokolade kaaskoek

Die ganache is bygevoeg

Ek kan my soms net verwonder aan my kinders. Hoe op aarde het hulle dit reggekry om hulleself so goed groot te maak? Hulle pak goete aan en doen dinge wat hulle ma beslis nie vir hulle kon geleer het nie, want sy het dit self nog nooit gedoen nie, soos byvoorbeeld om kos te maak.

Die kinders kook al drie; een is ‘n gekwaliseerde chef in Kaapstad, een swaai die paplepel in haar ma se huis in KZN en die ander een hou daarvan om te eet, dus moet hy vir homself kook, in JHB. Ma kook wel baie idees op, stook die vure goed en laat dit dan aan die spruite oor om die kosmakery verder te voer. Dis wat die afgelope paar maande gebeur het met die uittoets van kerrieresepte, maar dis ‘n ander storie.

Hierdie storie begin toe Oudste (nie die chef nie) moes deelneem aan ‘n spanboupoging by sy korporatiewe werkgewer. Dit sou die vorm aanneem van ‘n “bake-off” – wie kan die beste gebak voorsit. Daar is twee mans in die span (waarvan ek weet) en dan ‘n hele paar dames, maar die mans sou hulle kant moes bring. Adapt or cry. Die eerste noodkrete is twee dae voor die tyd op die private familie-whatsapp-groepie oorgesein en toe begin die gesprekke:

Kleinsus: Jy gaan baie videos en fotos moet neem.

Oudste: En as dit flop … Ek het nog net een koek in my lewe gebak [skimptoe Ma vergeet het om een te koop vir Sussie se 10de verjaardag, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag]. DIE ANGS!!! 🤢 As ek nie wen nie [dit nie regkry nie] stop ek by die koekwinkel in Sandton City en lieg deur my tande. Plan B 😎 😂

Kleinsus: Die ergste flop wat ek ooit gemaak het was daai horrible Ellis Brown tert, onthou jy nog? Hy was so loperig dat ek hom in die freezer moes sit om te set en ons het hom soos roomys geëet. Nooit weer!

Oudste: Dis niks, ek het al koffie geflop. Het die soutpot mistake vir ‘n suikerpot.

Kleinsus: 😂😂😂Onthou julle Pa se suikerlose beskuit? Nog erger, die bierbrood wat ons gebak het wat so hard was dat selfs Bazil [die boerboel] dit nie wou eet nie? [Ek het ‘n idee dit was een van Ma se flops, maar ek hou my mond toe.]

Kleinboet (die chef) bied hulp aan en voorsien ‘n resep wat amper Ma se hart laat staan. Hy dink dis ‘n maklike resep; Ma dink dis Grieks soos al die ander kosterme wat hy gebruik. Nou gaan sy sit en haar hart vashou terwyl die koek per whatsapp gebak word oor ‘n afstand van ±1400 kilometers, want sy weet albei haar seuns se reputasie is op die spel; Oudste het klaar by die werk gaan spog dat sy kleinboetie se resep stof in almal se oë gaan skop, maar Oudste werk met dokumente en stelsels, nie met hombuisgereedskap nie. Eish.

Kleinsus maak van die geleentheid gebruik om sommer raad te vra oor haar suurlemoenterte wat deesdae effens verlep lyk – nie so mooi soos diè wat sy altyd in Gauteng gebak het nie. Fout met die stoof? Nee, dis die vog in die lug meen die chef. Minder vloeistof en ‘n knypie mielieblom of kremetart sal die saak regstel. Oudste beskuldig haar van thread hijacking. Hierdie show behoort aan hom en hy wil almal se volle aandag hê.

Dis die aand voor die spanbou en nou begin die fotos en raad heen en weer vlieg. Eers moet Oudste ‘n foto opsit sodat die chef die bestanddele kan goedkeur, asook die voorgeskrewe pan. Dan volg die instruksies stap vir stap en die fotos begin verskyn vir goedkeuring. Die KZN-familie sit toegewy voor die rekenaars en volg die reality show. Eers word die basis gewys, toe volg die sjokolade-mengsel volgens voorskrif gesmelt en afgekoel. Dan sien ons die vulsel, gereed vir die pan en uiteindelik is die kaaskoek in die oond.

Die KZN-familie sit terug en wag.

Intussen word die ganache voorberei daar in Johannesburg. Ganache. Uitgespreek soos Panache. Ma gaan google. Oudste kan nie worrie oor die naam nie, hy het werk om te doen.  Dan kom die koek uit die oond en van die Kaap af word gesein “voel met jou vingers of dit stewig is, dit moenie wobble nie”, of dis altans wat Ma verstaan van die gesprek. Beide koek en ganache word nou afgekoel en dan kry die koek sy tooisel.

Dis 10:45 pm volgens whatsapp. Meer as ‘n 100 whatsapp-boodskappe en fotos later sien ons die eindresultaat.

Die ganache is bygevoeg

Die poging word ‘n sukses verklaar en nou moet die kaaskoek oornag in die yskas.

“Ek is moer exited” en “Awesome”, sê Oudste vir Kleinboet, “Thanks vir al die hulp. Dit was friggin awesome”. Ja dit was, dink Ma, friggin awesome dat die hele familie van die Kaap, verby KZN tot in Jozi almal saambak aan een kaaskoek. Friggin awesome.

Die volgende dag:

Dis 06:56 en die koek is gereed om werk toe te gaan.

12:46 en ons kry fotos van al die koeke wat ingeskryf is. Die hele familie is ingeskakel om te sien wat gebeur.

Om 13:00 begin die beoordeling en ons sien fotos van die beoordelaars wat besig is om te kyk en te proe.

14:26 en Oudste laat weet “Die komplimente … ek bloos al soos ‘n skooldogtertjie”.

Om 14:40 kom die nuus uit Jozi “Meh. Ek wen nie.” En net daarna “[maar] dit was ‘n awesome probeerslag”.

Jy’s verkeerd Ouboet, jy het gewen, ‘n hele aand en daarna ‘n halwe dag se kwaliteit-samesyn met jou Kleinboet, en die res van die familie wat cheer van die kantlyn af. En jy’s reg ook Ouboet, dit was awesome. My kinders is awesome. Julle is almal wenners.

Follow Dis Ekke

33 Comments

  1. Louis

    Dis sommer ‘n mooi storie.

  2. Wat ń wonderlike storie! Wat ń wonderlike getuienis van die liefde, samewerking en samesyn tussen ons families! Hierdie is ń wenresep, Hester!!🎂🍹

  3. Wonderlik! I kan sommer die verband tussen julle voel. DeesdaeWhatsapp speel ‘n groot rol: my twee seuns en een dogter stuur mekaar fotos van hulle kos en gee advies oor enige iets van gas stowe tot hoe om water te spaar; wat om vir Ma as ‘n present gee; en het Pa hierdie boek al gelees.

  4. Ag maar dit was mos nou awesome! Julle kwaliteit tyd oor al die km heen is soveel werd!

  5. Dit was spanbou op sy beste. Stene wat nooit sal vergaan of bars nie. Lyk in elk geval . goed. Baie baie goed.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Almal wat kon proe beskryf dit as baie goed. Dis nou die een ding wat ons nie oor so ‘n afstand kon doen nie 😄

  6. Almal wenners elkeen op sy eie terrein. My seun het ook so n koekbak sessie gehad toe hy net begin werk het. Hy moes daarna gereeld inspring en koek voorsien. Dis wonderlik hoe as die nood druk almal op n ander manier reageer!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      En met soveel geesdrif! As iemand my sou vra om aan ‘n “bake-off” deel te neem, sou ek soos ‘n geitjie in ‘n gleufie verdwyn het. Dis goed om so nou en dan uit jou gemakzone te beweeg en dan kry jou medewerkers sommer respek ook vir jou.

  7. Terwyl jy nou vreemde woorde gebruik, Well Done! JA!

  8. Kosbaar!
    Lyk vir my heerlik – wens ek kon proe 😉
    Goeie spanwerk – jy het hulle tog iets geleer.

  9. Griet

    Dis nou regtig LIEFDE IN AKSIE.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ja. Hoe wens ek dat ek hierdie interaksie met my eie sibbe gehad het. Ek probeer nog steeds uitfigure presies wat verkeerd geloop het in ons familie. Dink jy ek moet maar net ons dysfunctional gene blameer en dit daar laat?

  10. Familie-Whatsappgroepies is wonderlik!

  11. Een mooi verhaal.

  12. Mooi storie deur ‘n woord chef! Ons het ook al suikerlose beskuit beleef, gee dit toe vir skoonpa en se dis diabetiese beskuit. Maar hy val nie daarvoor nie en doop die beskuit in ‘n suikerstroop en maak dit voor die fen droog. Toe smaak dit glo beter, maar nie juis lekkerder nie!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Lewies. Diabetiese beskuit, whaha. Ek kan op my kinders vertrou om al hierdie flopsies van jare gelede te onthou en oor te vertel! Dit maak tenminste ‘n goeie storie en hopelik waardeer ons kleinkind eendag al die ou staaltjies.

  13. Ag ek hou van hierdie storie…. dis my hartklop dié. Familiebande stywer gebind!!! Hoe voel die ore?

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Die oor is beter – ek het darem geslaap verlede nag, maar hy gee so elke nou en dan ‘n steek en dan hardloop Karen met die druppels. Ek verseg mos om pynpille te drink. Hoe gaan dit daar aan jou kant?

      • Ook beter dankie. Nog ‘n kursus antibiotika om klaar te drink…. dan oor maand terug uroloog toe. Weer toetse, dan sal ek hoor wat sê hy.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek haat antibiotika, hoewel dit wondere verrig op sy tyd en plek, maar dit krap my maag om en die nagmerries! Kry jy ook nagmerries daarvan? Ek hou duim vas dat jou probleme gou iets van die verlede sal wees.

        • My huisdokters sit met hande in hare oor my allergiese reaksies op antibiotika. Van Feb af deur vyf verskillende antibiotikas om probleem te probeer oplos. Mag hierdie behandeling net ASB werk. Dink nie ek kry nagmerries nie…. droom soveel nonsens aanmekaar dat dit een groot nagmerrie is. Wens ek was ‘n droomlose mens!!!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Jô, vyf antiobiotikas, dis erg. Dit breek ‘n mens se liggaamskragte af. Dankie tog, ek het jare laas ‘n kursus nodig gehad. Touch wood.