Dit is weer Meimaand en een van die dae Moedersdag. Die tweede week in Mei is ook die herdenking van die datum waarop my ma oorlede is in 2015. Dis geen wonder dat my gedagtes weer al in haar rigting begin dwaal nie.
Net vandag het ek skielik besef dat ek al so baie oor my ma geskryf het, maar feitlik nooit melding maak van my pa nie. Dalk is die rede daarvoor dat hy alreeds so lank terug oorlede is en ook dat ek so nòu saam met my ma geleef het vir die grootste deel van die 28 jaar wat hy reeds weg is.
My pa was ‘n wewenaar met ses dogters en 40 jaar oud toe hy en en my ma getroud is. Sy was 23. By my ma het hy drie seuns gehad. Ek was die sewende dogter en die jongste van sy tien kinders. Hy was reeds 50 jaar oud toe ek gebore is.
Ek het gaan sit en ‘n lys begin maak van die dinge wat ek wel van my pa onthou, want ek wil dit neerpen voordat hierdie herinneringe verlore gaan.
My pa het steil swart hare gehad wat hy kort laat sny en agteroor gekam het, so lank as wat ek hom geken het. Ek en my oudste boetie het sy reguit hare geërf, regte perdesterte, maar myne was blond en Boetie s’n was swart, soos pa s’n.
Ons het ook albei pa se punt-ore geërf (kabouterore het ons dit genoem), maar net Boetie het pa se groen oë gekry; myne is blou, soos my ma s’n. Pa en Boetie het albei vroeg reeds bril gedra as gevolg van swak sig. Ek onthou dat, in later jare toe ek die enigste kind nog in die huis was, pa altyd teen slaaptyd in die winter vir ons Milo gemaak het. Ons het elkeen ons eie beker gehad, myne blou, syne geel en ma s’n pienk, sulke ligte pastelkleure. Daardie tyd van die aand het hy reeds gebad en geskeer en sy bril op die bedkassie gebêre. Dan moes hy my roep om vir hom te wys watter beker aan elkeen behoort. Dit was belangrik om die onderskeid te tref, want ma het haar Milo sonder melk, net met kookwater en ‘n bietjie suiker gedrink; pa het syne gedrink met melk en suiker en ek myne met melk, maar sonder suiker.
Pa was ‘n baie netjiese man. Hy het gewoonlik in die aand geskeer, omdat hy so ‘n harde baard gehad het. Ma het altyd gekla dat sy baard haar gesigvel stukkend skuur. Sondagoggende voordat ons kerk toe gegaan het, moes hy dan weer skeer, want vroegdag het sy pikswart baard reeds begin deurslaan. Gedurende die week het dit nie saak gemaak nie, want as argitek-bouer het hy die grootste deel van sy dae buite deurgebring.
Hy wou altyd so graag ‘n snor gehad het, maar ma het vasgeskop soos ‘n steeks donkie; haar man moes skoongeskeer wees. Ek onthou dat ek en ma na my oupa se dood vir ‘n paar weke by haar suster in Ashton gaan kuier het; oupa het by ons gewoon en Ma het hom versorg tot sy dood. Met ons terugkeer het pa ons by die busterminus kom haal. So met die stilhouslag het ek al deur die bus se venster gesien hier kom vandag moeilikheid. Pa het ‘n weelderige swart snor vertoon wat baie goed gepas het by sy spierwit glimlag. Ma het uit die bus geklim, hom stip in die oë gekyk en baie kalm gesê: “Daardie snor slaap nie in my bed nie”. Toe draai sy om en klim in die motor. Nog voor aandete op die tafel was, was pa se bolip weer skoongeskeer.
Hy het op werksdae wanneer hy by die boupersele besig was ‘n spierwit overall gedra oor sy toeknoophemp en netjiese broek, met ‘n paar stewels daarby. Sy overalls is gereeld gewas en sy stewels elke dag skoongemaak. Wanneer hy iewers heen moes ry, het hy ‘n wit stofjas oor sy klere aangetrek. Vir Sondae se twee kerkdienste het hy ‘n wit hemp saam met sy pak klere gedra en wanneer ons by vriende gaan kuier het of gaste ontvang het, het hy een van sy deftige langbroek-safaripakke met ‘n krawat aangetrek. Ek het my pa nooit met ‘n kortbroek gesien nie, behalwe wanneer hy geswem het. Selfs sy pajamapakke het langbroeke gehad.
Hy het altyd net twee pakke klere besit wat hy winter en somer gedra het en hy het nooit die nodigheid daarvan ingesien om nuwe pakke te laat maak terwyl die oues nog goed gelyk het nie. Ma moes altyd ingryp as hy te ver agter geraak het met die modes. Ek het in my tienerjare eenkeer vir maande lank gekla omdat sy broekspype so wyd is dat hy die “sypaadjies skoonvee” elke keer as hy deur die dorp loop. Ek is besrispe om nie snipperig te wees nie, maar kort daarna het hy tog twee nuwe pakke laat maak.
Pa was ‘n sterk man, sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie en hy was fiks vir sy ouderdom. Toe ek tien jaar oud was, was hy reeds 60 en dit is die ouderdom waarop ek onthou dat hy nog elke dag harde handearbeid verrig het. Hy het daarin geglo om saam met sy werksmense te werk.
Die ding wat ek egter die beste onthou van my pa, is dat hy so groot was. Wanneer hy in ‘n kamer ingeloop het, was almal onmiddellik bewus van sy teenwoordigheid. Hy was ‘n reus tussen gewone mense en almal het na hom opgesien.
Pa was in die outydse taal vyf voet vyf duim lank en het ‘n nommer ses skoen gedra.
Tannie Frannie
Ag dis sulke mooi herinneringe – bly jy het dit vasgelê.
HesterLeyNel
Dankie Frannie, ek is van plan om ‘n reeks hiervan te skryf, want ek het skielik baie om oor / vir my pa te sê.
Tannie Frannie
Sien uit daarna!
Anne
Ek het lekker gelees. Dit is so belangrik om hierdie herinneringe neer te skry – self oor jou eie kinder jare. Ons het eintlik gedurende ‘n interessante tyd groot geword 🙂
HesterLeyNel
Ons het. Aan die een kant was die vreeslike streng dissipline ftrustrerend, maar aan die ander kant was daar soveel sekuriteit dat ons nie bang of gestres was nie.
Kameel
Dis lekker onthou. Was jou pa werklik lank? Vra want manne in ons familie is laaaaank en hulle is 6 voet 6 duim. Ek was in jongdae 6 voet.
HesterLeyNel
Kyk na die laaste sin in my blog 😄 My pa was vyf voet vyf duim – ‘n kort mannetjie. Sy gees en teenwoordigheid het van hom ‘n reus gemaak. Niemand het hom ooit misgekyk nie.
Kameel
Ek het jou tweede laaste paragraaf geneem as jou pa wat in lengte lank en groot is…. toe maak die 5 voet…. nie sin nie. 😄
HesterLeyNel
Haha, toe krap ek jou kop deurmekaar! As jy hom beleef het, sou jy nooit aan hom gedink het as ‘n klein mannetjie nie. Hy het ook nie kleinmannetjie-sindroom gehad nie – niks van die cockiness wat sommige klein outjies al van jongs af aanleer nie.
HesterLeyNel
Jy is ‘n lekker lengte. My man en oudste seun is 6 voet, Karen is 5 vt 10 dm en tweede seun is 6 vt 5 dm. Ek is die pigmee 5 vt 7 dm.
Kameel
Jou pa se lengte laat my nou aan my pa se ses Iersebloed boeties dink. Kort maar jolig en vredeliewend. My pa was die langste… maar ek dink amper ek was langer as hy. Jou ma klink nie soos ‘n vrou wat nonsens gevat het nie!!! Heel interessant om van ander se ouers te leer.
HesterLeyNel
My ma was ‘n baie geliefde en effe bedorwe vrou; my pa baie vredeliewend maar ook net tot op ‘n punt.
Anonymous
Mooi onthou
HesterLeyNel
Dankie “Someone” (jy’s alweer undercover 😄). Ek maak nou ‘n punt daarvan om te onthou, want daar is so baie wat ek nie vergeet het nie, maar net nooit meer aan dink nie.
John Holton
Thanks to Google Translate, I was able to read this. Beautiful story.
HesterLeyNel
Thank you for the huge compliment John, both for thinking it beautiful and for going to the trouble of translating. I am afraid that Google is somewhat at a loss with our language which can be ambidextrous at times and then, of course, there is the syntax disparity.
trommeltjies
Pragtige skrywe oor jou pa, ek het besef toe ek sy lengte lees dat hy ń groot gees was, dit weerspieël ook vir my jou trots wees op hom.
HesterLeyNel
Dankie Trommeltjies, ja was ‘n man wat almal respekteer het.
scrapydo2.wordpress.com
Mooi herinneringe van n tyd wat reeds lankal verby is. Ek het ook aan lengte getwyfel soos Kameel want ek is 5vt 5dm! My man was ook 6vt 4dm gewees. Ek kan op jou pa se foto sien dat hy n ou was vir orde.
HesterLeyNel
Dankie Ineke.
travel460
Jou skrywe raak my hart so aan, Hester. Jou pa klink vir my soos ń droompa, al was hy dit dalk nie. Myne is vroeg vroeg dood, en ek het nie goeie herinneringe aan hom nie. Ek beny jou, dankie dat jy hom met ons kom deel het.
HesterLeyNel
Dankie Una. hy was ‘n goeie pa en ons het net op een gebied koppe gestamp – godsdiens. Dit het albei van ons skade berokken en ons verhouding het daaronder gely.
Net Ek
Lekker om sulke mooi herinneringe te hê!
HesterLeyNel
Dit is. Dankie vir die inloer Net ek 😊
Anonymous
Mooi hester. Dit is Karin Ley op ronel se rekenaar. Baie mooi skrywe. Gaan goed met ons.
HesterLeyNel
O haai skoonsus. Bly om te hoor dit gaan goed; sê groete vir my broer. Ek dink baie aan julle in hierdie tyd. Die hart bly maar seer.
Anonymous
Dink Dries aard dalk na jou pa. Groete Karin Ley.
HesterLeyNel
Ek dink so – ons het almal so ‘n strepie van die Ley-nukke en die Hanekom-iesegrimmigheid, haha.
Griet
Dit was nou regtig ‘n lekker-lees, dankie…
HesterLeyNel
Hi, ek’s bly om jou hier te sien. Ek is van plan om nog baie oor my pa te sê. Skielik duik daar ou herinneringe op wat ek die afgelope jare iewers gebêre het. Dalk leer jy iets oor jou oupa waarvan jy nie geweet het nie. Het jy al besluit of jy saam met ons gaan blog (die weeklikse Afrikaanse uitdaging?) Ons het twee vervolgverhale geskryf and great fun was had by all. Kom spring in as jy tyd het.
aj vosse
Shoe… dis mooi geskryf!
Inderdaat ‘n reus!
Soos ek lees kom ek agter die appel het nie ver van die boom af geval nie!
Laat sy herhindering bly leef… reuse word legendes!
HesterLeyNel
Dankie maatjie, maar daardie reus se lewe het hy op hoë waardestandaarde geleef – ek sou nie kon bykom nie.
aj vosse
Sou enige van ons kan byhou?
Ek dink jy doen heeltemal goed genoeg… ek laaik die manier wat jy jou lewe geniet! Uit die kokon kom daar so nou en dan ‘n vlinder. Party vlinders is vaal… andere, soos jy, is met die mooiste kleure bedek! Innerlik en uiterlik! 😉
HesterLeyNel
Ag dankie, jy het nou my dag gemaak.
perdebytjie
Noudat jy so oor jou pa skryf, kom baie herinneringe oor my eie pa ook terug. Tog interessant dat meeste van ons gewoonlik op ons ma’s fokus.
Pragtig geskryf en ek het heerlik gelag oor die snor storie. Ek hoor en sien al jou ma..haha!
HesterLeyNel
Daar was 17 jaar verskil tussen hulle, maar dit het gewèrk vir hulle vir digby 50 jaar.
perdebytjie
My pa en ma het elf jaar verskil…ook nogal ‘n groot afstand, maar hulle het ook goed oor die weg gekom. My pa was ook ‘n ou pa…hy was 45 toe ek gebore is. Ten spyte daarvan, was hy vas op die aarde en het ons baie humor saam met hom beleef.
Anonymous
Ek onthou natuurlik jou ma, maar dit is lekker om van die ander in jou familie te lees. Ek was soveel jonger en behalwe vir en jou en Tannie Ley ken ek nie nog van jou familie nie. Gerrit de Beer
HesterLeyNel
Hi Gerrit, ek is seker jy het wel my pa gesien wanneer hy my ma kom oplaai het by die winkel, maar ja, jy was toe nog baie klein.
Louis
5 voet 5 duim? Reus? Ma is seker sarkasties. Teensy ander mense verskriklik klein was in daai dae. ☺
HesterLeyNel
Lees tussen die lyne, dan sal jy agterkom sy grootte het niks met sy lengte te doen gehad nie. Hy was ‘n groot gees. Mense (en ek) het hom ervaar as ‘n reus van ‘n man omdat sy teenwoordigheid soveel ontsag ingeboesem het. Ek het in my skrywe ‘n teenstelling geskep om te verduidelik dat my pa klein was van persoon, maar groot van gees. Julle het nooit regtig julle oupa geken nie, nè? Hy was al ±80 jaar oud toe jy gebore is.