Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, My eiers

Lê-Jou-Eier Skryf-Safari: Skryf die storie klaar

Lekkervurig is hierdie week se gasblogger en sy het gevra dat ons ‘n einde moet skryf vir haar haar onklaar kortverhaal.


Betyds

Saar Minnaar kners op haar tande. Braam se vrolike gefluit irriteer haar. Waar sy kalmte geanker is, sal sy nie weet nie. Die droogte is allesverterend – veld, vee, water, selfs menswees verskrompel tot niks.

“Ons het ‘n wonderwerk nodig,” sê Saar mistroostig.

“Nee, my lief, ons het geloof en vasbyt nodig, en miskien ‘n bietjie toevallige geluk,” sê Braam terwyl hy die possleutels en sy loterykaartjie in sy hempsak druk. Hy sluk sy koffie en soen haar voorkop.

“Ek gaan gou dorp toe. Daar kom vandag lusern van die Hoëveld. Ons sal maar swaar trek as die land se mense nie so hulpvaardig is nie.”

“Gmmf, gekkebelasting. Dis al wat daai loterykaartjie van jou is. Die kanse dat die hemel val en ons blou mussies gaan dra is meer waarskynlik. So van hulpvaardig gepraat. Hier is my dorpslysie. Asseblief, moenie vergeet om by Tannie Malie by Dokter Soois aan te gaan nie. Sy het laat weet ons moet daar draai,” vra Saar.

Braam kla: “Ag Saar, Tant Malie praat so baie, kom saam.”

“Ek het goed wat ek moet doen, en ek sien nie kans vir die rit in die lorrie nie. Wie is nou hulpvaardig?” kom dit snipperig.

Braam haal sy skouers op en glimlag skeef.

Gou is die lorrie se gedreun ‘n herinnering, en die stilte sak soos die versengende hitte op die werf neer. Saar begin met haar dag se sleurwerk.

Die hoenders kry kos, eiers word uitgehaal. Die stoof voel koud, en sy gooi hout op die vuur. Saar pieker oor aandete, Braam gaan rasend wees van die honger na die dag op die dorp.

Sy begin water tap om wasgoed te was. Die kraan drup enkele druppels water in die wasbak.

Die tenk is leeg. Saar stap uit na die windpomp by die sementdam. Sy trek die handpomphefboom op en af sodat die watertenk kan vol word. Die boorgatpomp het die gees gegee en daar is nie geld vir herstel nie.

Die waterpomp se handvatsel hang opeens swaar in haar hand. Morsaf gebreek. Daar is geen manier om water te pomp nie. Moedeloosheid stroop haar van alle rede.

“Nou is ek klaar,” snik Saar en storm die huis in. Sy haal haar kerkpakkie en hakskoene uit die hangkas en verklee. Sy smyt haar tandeborsel, pajamas, smuktas, ‘n skoon stel klere en haar handsak in ‘n tas.

Met ferm tred stap sy eetkamer toe en haal die Familiebybel uit die buffet en haak die trouportret van die muur af. Braam glimlag uit die foto asof hy net goeie dinge in hulle toekoms sien.

Sy draai die kleinnode in ‘n blou kombersie toe. Die kombers wat bedoel was vir die seuntjie wat hulle nie het nie.

Sonder om terug te kyk, stap sy, tas in die hand en kosbaarhede styf teen haar bors geklem, by die plaashek uit.

“Klaar,klaar, klaar,” knars die klippers onder haar sole in ‘n koor.

Dit gaan sukkel op die hoë hakke, en gou loop sweet in riviere teen haar slape af. Sy sit een voet voor die ander. Omdraai is nie ‘n opsie nie. Genoeg is genoeg.

Die plaashuis word al hoe kleiner tussen die verskrompelde mielielande – soos ‘n bedremmelde geliefde in onvermoë om Saar tot inkeer te roep.

Skielik, asof in ‘n droom, voel Saar hoe die horison kantel toe haar voet swik en die tas uit haar hand vlieg. Sy klou verbete aan die kombers met sy kosbare inhoud. Glas splinter en haar arms en knieë brand soos vuur. Sy bly in die rooi stof lê.

“Ek gaan nou net hier bly lê. Iemand kan oor my ry, of die aasvoëls kan maar my kom oë uit pik. Ek verstaan nou vir Job wat sommer so in sak en as kon sit en sy sere krap!”

Saar hoor nie die donkiekar nader kom nie. Moos, haar skoonpa se bejaarde regterhand, kry haar plat op die grond, trane in leivore oor haar stofbesmeerde gesig, onbedaarlik aan die snik.

“En as Saar nou hier in die middel van die pad sit en grens?” vra Moos besorg.

“Ek wil hier weg, Moos. Ek kan nie meer nie.”

“Kom ek help jou op. Bella en Koos sal ons gou daar onder daai doringboom se koelte staanmaak. Kry nou al jou seer bymekaar en vee af die huil. Mens is nie sommer net so klaar nie. Almal kry swaar. Dit is nou tyd om geduldig te wees. Net soos Vader Abram in die Bybel. Hy was oud voor die Jirre se woord waar geword het en daar ‘n kjênd vir hom en Sara gebore is. En later toe hy Isak moes gaan offer, het hy bly glo, en die Jirre se voorsienigheid het hom gespaar. Die Jirre se tyd is Sy tyd,” raas Moos.

Saar sit kop onderstebo. Moos is reg. Wat is anders op ‘n ander plek. Stadig kom sy tot haar sinne. Sy kyk af na haar verkreukelde romp, nerfaf knieë en haar hakskoene. Wat het sy gedink?

“Ag, Moos, ek is sommer simpel. Dis net alles te veel…”

Sy kry nie kans om klaar te praat nie. Rooi stof slaan om hulle op. Dis Braam. Hy slaan remme aan toe hy hulle sien….en staar verbysterd na die toneel voor hom. Wat op aarde? Hoekom staan Saar hier op die hitte van die middag rond in haar hakskoene en met ‘n tas?

“Saar! Moos?” skreeu-vra hy met sy hart in sy keel. “Wat gaan aan?”

“Ag, Braam”, sê Saar, “die handpomp het gebreek toe ek water wou tap vir die wasgoed en ek kon nie … ek het nie geweet wat … dit was net te veel”.

Skielik bars Braam uit van die lag. Saar gluur hom aan en Moos se mond hang oop. Is Braam ook nou besig om sy varkies te verloor? Hy staan daar en snik soos hy lag en skielik loop die trane ook oor sy wange. Saar hardloop na hom toe, slaan haar arms om hom en verseker hom dat sy nie sal weggaan nie, dat sy net hier by hom wil wees en nêrens anders nie.

“Ja, ek weet my Saar”, sê Braam en hik-snik nog ‘n slag. “Ek weet jy sal deur dik en dun by my staan … veral noudat ons die lotery gewen het!”

Nou hang Saar se mond oop en sy staar na Braam. “Wat? Hoeveel?”

“O”, sê Braam, “darem seker net een, maar is dit nie genoeg nie?” Dan skaterlag hy weer.

“Een? Een wat?”

“Een paar pienkvoete!” Braam tel vir Saar op, swaai haar in die rondte en soen haar dan totdat sy na asem snak. “Tant Malie het die uitslae gekry. Ons gaan ‘n baba hê, Saar”, babbel Braam en vroetel in sy hempsak. “Kyk Tant Malie het vir my ‘n afskrif van die laboratorium se brief gegee. Tant Malie sê ek moet jou nou mooi oppas en ondersteun, nie met jou baklei as die hormone jou eienaardig laat optree nie en jy moet gereeld vir Dokter Soois gaan sien.”

“Moos, wat sê jy hiervan jong?” gesels Braam eenstryk voort en vroetel in sy hempsak, “hier, vat die geldjie en gaan koop vir jou ‘n ietsie om te drink op die nuweling!”

Moos kry nie kans om Braam te bedank nie, ook nie om die paar geluk te wens nie, want hulle dans soos twee kinders daar in die stofpad rond. Hy kyk af na die onopgeëiste loterykaartjie in sy hand. Watter soort geld is dit dan kastig nou? Nog voordat hy vir Braam kan vra, druk Bella haar kop oor sy skouer en gryp die kaartjie behendig uit sy hand met haar groot geel tande.

“Hiert, jou vervlakste donkie!” sê Moos, lag dan oopmond vir Bella wat haar happie papier geniet, en vir Braam en Saar wat net oë het vir mekaar. Die wêreld is weer reg, soos dit hoort. Braam het net betyds die goeie nuus gebring.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in die Lê-Jou-Eier uitdaging te geniet of om self ‘n blog wat jy geskryf het aan te heg by hierdie skakel, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=777222

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposts Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Follow Dis Ekke

50 Comments

  1. Dis nou ‘n lekker vrolike einde 😀😀😀 en wie weet…Bella kou miskien onwetend aan duisende Rande!!!

    • HesterLeyNel

      Ja, nou sal ons nooit weet nie. Onthou jy nog daai liedjie van die donkie wat ‘n koerant vreet. Wie het dit gesing? Kyk hierdie https://www.youtube.com/watch?v=Q1tQk3IHF3M

      • Dis so lekker vrolik…. my pa was lief om dit te sing. Het Al Debbo dit nie op ‘n stadium gesing nie. Dis ook soveel jare terug…. en my liewe kop voel al meer in die wolke.

        • HesterLeyNel

          Ek dink ook dit was Al Debbo

    • miljoene

      • Volgens Lewies miljoene 😢

        • Sy is beter af as die Saar is Lewies se storie. Sy het pienkvoete en die liefde van haar man

        • Nou ok wat van Saar in my storie…. beter met of sonder Braam?????

        • HesterLeyNel

          As ek mag sê: dieselfde – ons het maar almal bagasie wat ons saamdra. Soms moet die maat maar ‘n hand uitsteek en ‘n tas optel om te help dra.

        • Dis mooi gestel Hester. Net partykeer is ‘n ander ou se tas so swaar dat ‘n mens sukkel om by te hou.

        • HesterLeyNel

          Ja ek ken van

        • Sê sommer hier vir jou geluk met jou eerste plek. Welgedaan!!!

        • HesterLeyNel

          Thank you, thank, thank you (bowing from the waist Elvis-style) 😄

  2. So blerrie donkie. Hehe….en al die mooi nuus. Ek sien hulle dans!

  3. Ag ja, dis nou ñ heerlikie einde!!! Jy beur sommer die dag op, Hester.

  4. uitstekende einde!

    • HesterLeyNel

      Dankie Seegogga. Ek is bevrees fiksie is nie my sterk punt nie – ek vertel makliker stukke uit my eie lewe en dan kan ek sommer ‘n stukkie fiksie bylieg, haha.

  5. Dis ‘n slim manier waarop jy die titel van die verhaal motiveer!

    • HesterLeyNel

      Dankie Frannie, ek het in my kop gehad dat iets of iemand betyds moes wees anders sou dit mos nie die titel gewees het nie.

  6. Jy is SKITTEREND! Sjoe! Ek het hierdie een geniet, het al lankal gewonder wanneer iemand die loterykaartjie inbring.

    • HesterLeyNel

      Dankie Toortsie! Dis seker omdat ons gewoonlik nie dobbel nie. Ek sê mos elke dag “as ek die Lotto wen … ” maar sonder ‘n kaartjie gaan ek ook nie ver kom nie.

      • Ek het ook nog nooit die Lotto gewen of verloor nie. ☺

      • Maar ons BOER en dis dobbelspel vervolmaak.

        • HesterLeyNel

          Enige werk, veral die stryd om dit te behou onder sekere omstandighede, is deesdae ‘n dobbelspel. Altwee my seuns sit vanoggend steen en been en kla by hulle ma. Jy moet net hoor hoe ping my whatsapp.

  7. Blerrie Bella!

    • HesterLeyNel

      😄 dis wat donkies doen, maar sê nou net daai was die wenkaartjie … !

  8. Mooi man. geluk aan die toekomstge ouers. Saar beter nou mooi loop. Hoop nie sy loop weer weg met hoëhakskoene nie. Ek het ook al gedink om die loterykaartjie in te bring.

    • HesterLeyNel

      Ek wou eers vir Braam die lotery laat wen, maar toe dog ek dit sal darem net té gerieflik wees.

      • Dis baie goed vertel dat die pienkvoetjies die lewenslotery is en ou Bella wat die kaartjie opkou. Jy mag maar skryf hoor!

        • HesterLeyNel

          Dankie scrapy!

      • Ja-nee wat dis nie so maklik om dit te wen nie. Dalk gee Bella die papiertjie terug sonder te veel kousels, ha ha.

        • HesterLeyNel

          Ek gaan nie my hand in daai bek druk nie 😝

        • Nee wat. Ek het vroeër jare n raai gevat maar nooit eers een Rand gewen nie. My Ma en Tina het gereeld gekoop.

        • HesterLeyNel

          My man speel so nou en dan, maar ek hou hom in toom, want daai geld keer nooit weer terug nie.

        • Dis goed, veral as mens bereken hoeveel alreeds daarop uitgegee is.

  9. Toe ek lees van die loterykaartjie wil ek jou uittrap omadat jy Leekervurig se oorspronklike luiy einde gebruik het maat toe is daat ‘n twist in die lotto en nog ‘n paar twists in Bella se ingewande

    • HesterLeyNel

      Whaha, daar is dalk miljoene twists in Bella se ingewande.

  10. Vrek oulik geskryf! Ek het dit nou baie geniet. Ek sien ek is ‘ge-link’ deur seegogga, maar nou weet ek nie wat om te doen nie. 🙈

    • HesterLeyNel

      Dankie Sonell 😊 Seegogga het blykbaar per ongeluk skakels op haar blog gesit, maar toe weer afgehaal. Hierdie is nie ‘n vervolgverhaal nie, so jy hoef niks te doen nie. Onthou net, as jy wil stem vir die wenners, moet jy dit voor vanmiddag 12:00 doen.

  11. Mooi! Maar (sug) miskien was dit die groot wenkaartjie!

    • HesterLeyNel

      Jaaaa, ek sug ook oor daai ding. Dankie vir die inloer.

  12. Mmm ekbeouvook dat hulle kaartjie wenven dan weer verloor maar kon nie dink hoe om dit te verloor nie. Roof? Ni op si n klein dorpie nie. Ongeluk? Te erg en te obvious. Donkie? Briljant! Ma toe het ek bietjie te lank gedink en te laat geskryf

    • HesterLeyNel

      Ai tog. Dalk kon jy die kaartjie in die pad laat val het waar ek dit later kon optel en gaan opeis … WAT? Ek mag mos maar droom.

      • nee jammer jong. Die wind het al gister darie kaartjie weggewaai die karoovlaktes in.

  13. Geluk met die wen, Hester!!!!!xxx

    • HesterLeyNel

      O oeps! Ek het vir Lekkervurig gesê ek hoop nie ek wen nie, nou-nou dink iemand ek het die stelsel gemanipuleer (soos in ‘n casino) 😄 Maar ek weet julle is nie sulke lelike mense nie, dus sê ek baie dankie vir diegene wat vir my gestem het.

  14. Wonderlike einde, ek sien hulle dans dat die stofwolke staan.

    • HesterLeyNel

      Dankie 😊 dis darem maar ‘n ander soort vreugde daardie wanneer jy lank gewag het vir die verrassingspakkie.

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: