My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke, My eiers

Camilla se Towerpaleis gee my slegte nagmerrie-drome

Ek het belowe, en ek weet beloftes maak skuld, dat ek vir ons ‘n spyskaart sou optrek vir die belangrike dinee waar Camilla en Marco offisieel gekroon gaan word as Koning en Koningin van Towerpaleis. Ek het ‘n webtuiste ontdek waar die heerlikste Middeleeuse-geregte resepte en spyskaarte beskikbaar is en ek was gereed om ‘n paar idees te gaan leen. Dit sal natuurlik heelwat navorsing (en tyd) verg om te besluit wat geskik sal wees vir die dinee.

MAAR, op hierdie stadium is ek so benoud en verbouereerd dat ek nie eens kan onderskei tussen roereiers en spinasietert nie. Ek het dae laas geslaap, want ek droom elke nag oor die Towerpaleis. Laat ek net ‘n paar van my drome vertel, dan sal julle verstaan wat my probleem is.

Eerste droom: Ek pak my tasse om na Towerpaleis toe te vertrek. Ek het ‘n paar pragtige uitrustings laat maak om saam te neem (sien die fotos daarvan hierbo), maar ek kan om die dood nie al die tabberds, die steweltjies, die hoede, die sambreeltjies en whatnots in my tasse ingepak kry nie. As ek een ding ingepak het, ontdek ek tien ander wat agtergebly het en ek staan later by ‘n hoop tasse wat in geen passassiersboot se skeepsruim sal inpas nie, maar die meeste van die tabberds hang nog daar teen my kamermure. Ek probeer inderhaas om aangetrek te kom, maar ontdek dan die uitrusting waarmee ek wou reis, is nou klaar in een van daardie tasse gepak en …

Tweede droom: ek arriveer by Towerpaleis in my ou verslete pienk kamerjas en my strandplakkies. Ek word met groot seremonie weggevoer na die troonsaal waar ek ‘n kniebuiging moet maak voor die toekomstige koningspaar. Daar staan ek verwese, want ek het vergeet om my curtsy te oefen. Ek besluit om tog maar te probeer en skuifel my stywe knie so ‘n aksie agtertoe, buig ietwat vooroor en slaat kerplaks! neer op die rooi tapyt. Marco, galante heer wat hy is, storm teen die troontrappe af om my op te help en Camilla, ongalante dame wat sy is, gil op hom. Jaloesie is ‘n lelike karaktertrek. Die volgende oomblik kom die paleiswagte in hulle rooi overalls aangestorm, tel my onseremonieel op en dra my daar uit met my pienk kamerjas wat oopwapper vir almal om my Sweet Dreams pajamas te sien. Een van my strandplakkies bly lê op die rooi mat en nou kry my voet koud.

Derde droom: Die ander Towerinne kom tot my redding en leen vir my (min of meer) ordentlike klere om te dra, maar niemand dra my skoengrootte nie, so ek loop nog steeds met een strandplakkie en my ander voet is nou yskoud. Dan word ek in die versoeking gelei deur Una en trawante om te gaan krap waar ons nie moes krap nie, en ek skraap so ongesiens ‘n paar juwele bymekaar – halssnoer, ring, oorkrabbetjies, borrspeld en so ‘n paar armbande. Die juwelekis was vol blinkers wat nou aan my brilraam vasklou en my heeltemal verblind. Sover as wat ek nou loop, val die juwele onder my rok uit en dan moet ek handeviervoet in die paleisgang rondkruip om op te tel.

Vierde droom: Ek weet ek gaan in die moeilikheid kom, want my spyskaarte is nog nie gereed nie en die kok, Mrs Cook, gee my vuil kyke as ek in haar spens rondloer. Daar in die koelkamer hang heel skape, ‘n paar speenvarkies, ‘n halwe bees, stringe wors, hase, trosse kwartels, ganse en eende en op die tafels staan bakke vol maalvleis, lewer. sweserik, lamspeertjies – ag noem dit op, dis daar. Mrs Cook wag net op instruksies om te begin kook. Sy loop al agter my aan en op ‘n stadium het ek by die wynkelder ingeduik waar ek ‘n paar mondevol cooking sherry gedrink het om my hartkloppings te laat bedaar. Nou is ek so vaak … net so ‘n bietjie slaap.


In my wakker tye in die werklike lewe, het die tyd my doodeenvoudig ingehaal. My seun is hier en ons geniet familietyd, son en see. Ek moet ook nog sewe blogs skryf vir die A-Z uitdaging voor die einde van die maand 😨 😱 😠 😡 😤 😖 Ek weet julle sal my vergewe omdat ek sommer vir Mrs Cook opdrag gegee het om die vleis op te sny en die vure aan te steek sodat die Boerinne-Towerinne en metgeselle hulle eie vleis kan braai. Ons Afrikaners weet hoe om dit te doen. Dis ook wat ons nou gaan doen 😄, ek het gou die blog geskryf terwyl ons wag vir die kole. Ons gesels weer 😘.


Om die inskrywings van verskillende bloggers in Lê-Jou-Eier te lees of om jou deelnemende blog aan te heg, klik op die InLinkz skakel net onder die paddatjie:

http://www.inlinkz.com/new/view.php?id=776174

Vir die reëls van hierdie uitdaging, om raad te kry oor hoe om deel te neem en om elke week se aankondiging van die nuwe onderwerp te sien, besoek die volgende skakel by Dis Ekke. Onder hierdie kategorie, kyk na die blogposte Lê-Jou-Eier: Reëls (2017-08-22) en Lê-Jou-Eier: Hoe neem ek deel? (2017-08-22).

Hierdie week is die uitdaging gerig deur die gasblogger Toortsie.

Follow Dis Ekke

73 Comments

  1. Jy skryf so lekker, Hester. Ek geniet jou drome. Gelukkig was daar nie een waar jy kaal voor die menigte moes kniebuig nie! Dit is gereeld een van my nagmerries. Die geluk is, dat niemand ooit ‘n oog knip nie…dis net ek wat weet ek is kaal.😄

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      O ek droom daardie een baie. Hulle sê dis ‘n teken van onsekerheid, maar ek dink dis baie braaf!

      • Hehe, o jinne, dan is dit waaraan ek al jare lank ly! Ek droom dit baie.😜

    • Joe! Jy’s waaghalsig! 😂

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Ek twyfel darem of ek in die publiek sonder klere sal loop, maar aan die ander kant sal ek ook nie sommer ‘n kaelnaeler raaksien nie. Ek is geneig om my nie te steur aan voorkoms nie. Hier by ons kry jy nogal skinny dippers (jongmense) en dit pla my niks.

  2. Ek smile al die pad terwyl ek lees. Stem saam met Perdebytjie, jy skryf so lekker. Ek het jou drome nou baie geniet!!!

    • Eintlik is dit so jammer jy konnie in daardie elegante rokke in Towerpaleis verskyn het nie…. sou jou graag wou sien 😄

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Dit sal ‘n verandering wees. Ek dink ek het laas rokke gedra in die vorige eeu. Letterlik.

        • Ek het een enkele romp wat ek vir jare nie gedra het nie want geen bloes het reg gelyk nie. Nou het ek uiteindelik ‘n top gekry wat daarby pas. Nou wonder ek hoe dit gekom het dat vroue broeke bo rokke verkies.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Dis geriefliker. Ek het in die dae van mini-rokke grootgeword en vind langer rokke ongemaklik. Ek wil nie graag ‘n mini dra nie (wat sal die mense dink????), maar loop in elk geval die hele dag rond in ‘n kort- of kniebroek.

        • Ek is baie lief vir rok dra.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek hou nogal van die lang los rokke wat die Indiërs dra – dis lekker koel, maar andersins verkies ek ‘n ligte langbroek en los bloes wanneer ek uitgaan.

        • Ek het so gesien ja. Jy lyk goed in ‘n rok. Ek dra al te jare broek…. vir my soveel gemakliker.

        • In die winter verkies ek ‘n langbroek, sykouse is nie ‘n plesier nie. Dankie vir die goed lyk in ‘n rok.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Waar’s die dae toe ons winter en somer moes sykouse dra werk toe? Eisj! En die rokkies was so kort, jy moes versigtig wees dat die donkerder rand van die pantyhose nie uitsteek wanneer jy gaan sit nie. Daai dae moes jy jou sit en jou staan ken. Hoëhakskoene (pynbankies) waarop jy die hele dag moes aanploeg.

        • En dan is daar steeds meisies wat dit verkies. Dit was darem netjies, hoor!

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, dit was. Ek is deesdae soms verbaas om te sien hoe mense aantrek in publieke plekke soos staats-/munisipale-/korporatiewe kantore.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Kameel.

  3. Hoe kan jy Camilla “onelegant” noem? Sy het dan rooi stiletto’s (gehad)!
    O aarde, daardie cooking sherry…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Twee vrouens (waarvan een nie te nugter is nie) en een man is nie ‘n resep vir goeie vriendskap nie.

    • Hester het mos haar oog op Marco gehad Frannie (asof Pablo en Carlos haar nie besig genoeg hou nie.) Nou is sy lelik met Camilla 😕

      • Aijaijai…

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Camilla is so jaloers, Frannie. Sy gaan af soos ‘n bansjee as ek en hy net in dieselfde vertrek is – en dit boonop voor al haar onderdane.

        • Luister jy…. in die werklike lewe laat jy my lag. Word in middel van nag wakker en eerste prentjie wat by my opkom is jy wat met flappende japon deur manne in rooi overalls weggedra word 😀😀😀😀
          Frannie moet nie vir een oomblik glo wat Hester jou sê nie. Ek is nou afgerond…. ‘n dame by uitstek. Sal mos nooit so vir Marco in die skande steek deur al akellende in die paleis tekere te gaan nie. Ons wag vir jou aankoms dan kan jy self sien hoe ‘n gedaanteverwisseling Camilla ondergaan het.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, nou sit jy daar in die sneeu in plaas daarvan dat jy hier op die Suidkus is. Ons het skielik ongekende wonderlike weer, net betyds vir my seun se huistoekom.

        • Ek is bly vir julle…. nou kan julle ordentlik seevakansie hou. My man sit daar by Suidkus by my seun hulle…. dié keer wat ek nie saamgaan nie is die weer mooi.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Kan jy dit glo! Na al hierdie maande se gesug oor slegte weer.

        • Miskien moes jy vroeër gedreig het jy gaan Kaap toe trek 😊

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          O, is dit soos wat ‘n mens die weer aanmoedig om homself te gedra? 😄

      • Ja Kameel ek sien onse Hester probeer onmin saai en kan dit gerieflik op die drome blameer

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Wa..wa..wat nou? Die hele probleem is dat ons heeltyd deurmekaar is met die ge-Tower-y. Ek hoop nie ons volgende bestemming is Hogwarts School of Magic nie. (Indien wel, sal ek graag Professor Snape vir myself toe-eien.)

  4. Ja-nee dreams are sometimes not good friends, hul is wille nagmerries. So n paleiskuier sit nie in almal se broek(langbroeke of kortbroeke) nie. Sterkte met jou laaste week van A-Z dis amper klaar. Ek is bly dis sommer n braaivleis en nie n hele stywe gedoente nie. Nou hoef ons ook nie te dress om te gaan eet nie.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Scrapy, dat jy my nie kwalik neem omdat ek die paleisgaste in die steek gelaat het nie. Ja, hierdie AtoZ – hoekom doen ‘n mens dit aan jouself?

      • Jong as dit verby is voel mens trots daaroop dat jy aangehou het. Egste was dat hul soort van verwag dat jy ander se poste moet ondersteun. Daardie tyd om dit te doen het my meestal gevang. Jy is nog ekstra dapper om dit nog in Afrikaans ook te doen.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Die ding wat my die meeste pla is dat daar nie ‘n “like” knoppie op blogpost is nie en 80% van die mense wat deelneem, is van blogpost af. Ek het darem ‘n paar goeies opgespoor met wie ek nou lekker gesels.

        • Ek weet. Ek het toentertyd ook n par lekker kuier ouens gevind.

    • Nee Scrapy, Hester se braai gaan nie werk nie. Sy wurm haarself nou lekker uit Mev Cook se kombuis…. haar seun kom kamtig kuier. Gedink ons sal maar Toorts se hulp moet inroep…. wat dink jy?

      • Comment by post author

        HesterLeyNel

        Toorts het gesê sy gaan vakansie hou, nie kook nie.

        • Dink jy werklik Toorts sal nie haar neus daar in die kombuis insteek nie. Wanneer ons ons oë uitvee bant ons almal…. tot die paleispersoneel en al die hogere gaste ook. Dan sal daardie spul vleis van jou en lekkervurig se room wat sy jou en Abrie wou injaag handig te pas kom. 😕

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          O en ek is juis nie ‘n vreeslike rooivleis-eter nie. My seun bring gewoonlik vleis saam van JHB af as hy kom kuier, want die vleis aan die Suidkus is maar pateties. Gister het hulle weer hier gebraai en geëet tot ek gewonder het hoe ‘n mens soveel kos kan wegpak. Ek verkies hoender, maar volgens my man is dit ‘n soort groente.

        • Daar sal ‘n ou stukkie hoender ook wees en lieflike groentes. Jy kan ontspan.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Haha, ek het vanoggend hier geraas oor die baie rooivleis van die afgelope paar dae, so vandag kry ek glo kerriehoender en rottis.

        • En gebraaide aartappels, Basmati reis, versuikerde patats…

      • Hoop Toorts se Banting kookboek le oop en wag vir n heerlike uitdaging. Sy het mos n Engelse een vir Mrs Cook om te gebruik alhoewel ek wonder of Mrs Cook Engels magtig is.

  5. Pntspan, Hester, ontspan. Ek belowe jou Mnr Cook sou hom in elk geval nie aan jou steur nie, hy weet wat hy doen! Hy sal sorg dat die een gang op die ander van de beste sal wees. Nou kan jy lekker rustig slaap en bedags jou seun se geselskap geniet en as hy weg is, laat spaander jy Towerpaleis toe. 😁

  6. Very cool post.

  7. Hester met jou happie vir happie eet klink dit asof jy vir die grand dinee oefen 😊

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      In die Towerkasteel sal dit heerlik wees. Jy eet so een gereg, dan gaan dans jy of kyk na ‘n opvoering, luister musiek en so aan totdat die volgende gereg opdaag. In die werklike lewe loop ek die hele dag sulke happies en eet – ek hou nie van ‘n groot bord kos op een slag nie.

      • Nou wonder ek of dit met die jare kom. Kan ook nie meer ‘n bord kos op een slag eet nie. Waar is die dae van ‘n groot Sondagmaal…. rys, vleis, aartappels, twee groentes, slaai en dan nog ‘n bak poeding daarna.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Jy het die koppie koffie na die maal vergeet. Dan het jy net genoeg krag om jouself bed toe te sleep vir ‘n middagslapie. On nee, ek kan daardie gevoel van ongemak net nie meer verduur nie.

        • Presies net so….. maag propvol, oë val toe. Neeeeee ek sal myself ook nie meer so oorhoeks kan eet nie. Sal maar net die poeding vat 😄

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Klink na ‘n goeie idee.

  8. Ek bly maar uit gevaar uit in die biblioteek.