My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

‘n Boom sal groei en gedy waar hy geborge voel

'n Boom wat groei teen die muur van 'n winkelsentrum

Boom en mens het vreeslik baie in gemeen. Elkeen het sy eie geite ook. Sommiges hou van ‘n mooi staanplek, vrugbare grond met baie te ete en te drinke sodat hulle geil kan groei. Ander hou van armer grond, ‘n eenvoudige lewe waar hulle gedy ten spyte van swaarkry en droogte. Baie boommense en mensbome kan enige plek in die wêreld aanpas en gedy; ander hou daarvan om in ‘n bekende omgewing te groei en hulle verplant nie maklik nie. Wanneer boommense egter hulle plek gevind het, sal hulle hulle daar bly en groei, maak nie saak hoe moeilik die omstandighede soms is nie. Met mensbome is dit nie altyd die geval nie.

Dis die soort gedagtes wat deur my kop gaan wanneer ek deur ons magdom fotos blaai en skielik ‘n tema raaksien soos wat hier gebeur het.

Die eerste foto, die een waar ‘n boom met alle mag en mening aan ‘n rytjie bakstene teen ‘n hoë muur sit en vasklou, is geneem by die Hibiscus Mall in Margate. Liewe aarde, was my eerste gedagte, wat presies het in hierdie boom se kop aangegaan toe hy daar begin groei het? Hy moet klou om bo te bly in wind en weer en hy kry sekerlik net water wanneer dit reën, tog lèèf hy, soos die talle groen blaartjies bewys. Mensbome verbaas ‘n mens soms op dieselfde manier. Dit maak nie saak hoe moeilik die lewensomstandighede soms is nie, hulle klou vas en hulle groei, ongeag die storms wat die lewe soms ongemaklik maak. Hulle onverwagte wittand-glimlagte wys dat hulle selfs hierdie soort lewe geniet. Dis waar hulle leef. Dis hulle gemaksone. Dan is daar ook die mensbome wat voortdurend kla en murmereer oor hulle lewens, maar hulle doen ook nie juis iets om dir vir hulleself beter te maak nie.

Boom wat groei in die skoorsteen van 'n ou verlate huis

Die foto van die boom wat in die skoorsteen van ‘n verlate gebou groei, is geneem in die Mpenjati Natuurreservaat daar tussen Margate en Port Edward. Hòòg bo al die ander boomtoppe groei hierdie boommens. Sy (ek dink sy is ‘n vrou) kan alles rondom haar sien, sy weet presies wat aangaan in die kuswoud, daar onder by die rivermonding en tussen die grasduine. Sy stel belang in haar omgewing, want hoekom anders sal sy verkies om daar bo te staan waar die son en die wind soms haar blaredos verbleik en deurmekaar krap. Tog bly sy sag en sorgsaam en laat ‘n voëltjie toe om in haar skaduwee te kom rus. Sy laat my dink aan daardie mensbome met hulle harte van goud, wat ook net ‘n klein staanpekkie in die lewe het, maar dit wat hulle het, deel hulle blymoedig met ander.

Kokerbome wat groei tussen die klippe

Die twee kokerbome is afgeneem in Nababeep, daar in die dorre Namakawaland. Daar het seker ‘n paar druppels reën geval, want kyk hoe groen vertoon elke bossie en blommetjie daar tussen die klippe, met die twee boommense wat trots in hulle midde staan. As jy nou mooi kyk, sal jy sien dat elkeen van daardie bossies, blommetjjies en die twee boommense letterlik net in ‘n paar korrels sand groei. Hulle is almal so tevrede met hulle lot, want hulle weet dat hulle aan ‘n besondere gemeenskap behoort waar almal dieselfde sorge deel. Hierdie boommense, en die mensbome wat ook van hierdie landstreek afkomstig is, se harte bly altyd verkleef aan hierdie dorre streek. Die mensbome kan jy verplant en hulle sal aanpas, maar altyd hunker na dit wat hulle agtergelaat het. Die boommense moet jy liewer maar los waar jy hulle gekry het. Hieroor het ek al geskryf in my blog Boompie Verplant.

Turksvybos wat groei op die sinkplaatafdak van 'n huis

Die turksvy wat daar bo-op die sinkplaatdak groei, is geneem deur ‘n treinvenster vanaf die Potfontein stasie, naby Philipstown. ‘n Turksvy is definitief ‘n bos en nie ‘n boom nie, maar verdien net soveel respek. Hierdie een groei seker maar in die stof, want wat anders is daar op die sinkdak? Tog het dit floreer en mooi gesond vertoon. Turksvye groei maklik en op enige plek, solank dit nie te veel water kry nie; hierdie bos sorg vir haarself. Sy is definitief ‘n vrou en dit boonop ‘n sorgsame een.  Sy gaar water op in haar blare vir die dae wat die reën wegbly en gee nie om om ‘n bietjie daarvan te deel met ‘n reisiger in nood nie. Sy sorg ook vir ander met die heerlike vruggies wat sy dra (en wat deesdae vrekduur is in die winkels).

Ek glo dat beide boommense en mensbome op hulle beste groei en vertoon daar waar hulle veilig en geborge voel, in hulle gemaksone. Gemaksone of die konsep van ‘n gemaksone, verskil en dit waarvan die een hou, is nie noodwendig die ander se keuse nie. Op die ou end hang dit alles af van die boommens of mensboom se geaardheid, gehardheid of vasberadenheid om sy eie plek in die lewe te vind.

Follow Dis Ekke

37 Comments

  1. Ja, sug, dis ook net mensbome wat verplant moet word of wil word. Dit bring maar sy eie swaarkry en lekkerkry. Van ons bome hier is werklik honderde jare oud. Hul weerstaan steeds wind en weer, droogte en vuur. Hul is altyd gewillig om weer verder te lewe waar die mensbome tog so graag skop teen waar hul geplant is.

  2. Baie interessant – ek geniet jou uitsig. Dankie hiervoor.

  3. monicahaddad01

    Dit het my nou groot lekkerkry gegee. Waar ‘n wil is, is ‘n weg!

  4. Ek dink baie dat bome meer interesant as mense is!
    Ek het jare terug ‘n versamelinf fotos gedoen ood bome/ plante wat oral groei. Ek he die versameling “Tenacity” genoem. Ek dink ek moet gaan soek…
    Baie mooi geskryf! Dankie!!

  5. Bomen en planten durven zich te verankeren op de gekste plaatsen!

  6. Je laat prachtige voorbeelden zien!

    De natuur vindt altijd haar eigen weg.

    Zonnige groet,

  7. Nature ALWAYS finds a way, last week my sibling saw parakeets in London, many years ago they escaped as pets, now you can walk through Regent’s Park and there’s a colony.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Good for them! I hate seeing birds, reptiles and animals in cages. I don’t mind them living in nature reserves, for their own safety; at least there they live in the wild as nature intended.

  8. Baie interessant en moenie vergeet van die towerboom wat binne Toweropstal groei nie ☺

  9. Dis ‘n baie mooi vergelyking. Pragtig geskryf, Hester!

  10. Yoh Hester, dis so mooi vergelyking en so pragtig gestel. Ek kon eintilk mense se name by hulle sit, dankie hiervoor

  11. Ja beslis waar… goeie insigte Hester

  12. Interessant. Ek hou van die uitkyk van doer bo die koorsteen af…. soek net nie my hare windverwaai nie.

  13. Dit was nou regtig ‘n verskriklike mooi stuk. Die wonder is dat, sou jy nou daai boom probeer verplant wat op die ongemaklikste plek groei, hy net daar doodgaan!

  14. pragtig = jou vegelyking van bome met mense. ek het nouu ‘n koerantberig geskryf, maar kry dit nie gelink nie. Hier is h. Dalk kan jy iets doen? https://seegogga.com/2018/04/10/die-perfekte-misdaad-verslaggewer-seegogga/

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Ag ja, jammer man, inlinkz het verlede week al gesluit; ons het ‘n bietjie oortyd gespeel. Ek het gou jou skakel gaan aanlas en gaan nou-nou kyk na jou pos.

  15. Dis nou een van die mooste vergelykings wat ek raakgelees het tussen mens en boom. Jy is vlymskerp met jou waarnemings.

    Wonder watse boom ek sou wees? Wonder waar ek myself sou gaan plant.

    My Pa het op sy verjaarsdae ‘n boom geplant. Ons ry destyds so in die mouter deur Graskop se wêreld dan wys hy 33-se-boom en 37-se boom…maar ek was te klein om als te onthou.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Wat ‘n wonderlike nalatenskap wat jou pa gedoen het – ‘n boom vir elke jaar van jou lewe. Dis jammer dat dit nie gedokumenteer is nie. Ek wil graag ‘n wilgeboom wees wat naby die water rondhang of dalk ‘n peperboom wat skadu verskaf in die somer.

      • Ja – ‘n peperboom, met die bye wat heel somer deur zoem daarin…

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Praat jy! Ek mis my reuse-peperboom wat ek agtergelaat het daar in Gauteng.

        • Loop uit lant iewers ene in ‘n park, dan sorg die staat eendag vir hom 😋 stap verby tot dan…. met 2liter water 💦

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Whaha, ek glo nie hy sal groei hier in die nat Natal nie en ons het reeds so baie bosse en bome waar ons bly. Hier bestaan “tuinmaak” meesal daaruit om die natuurlike groei terug te snoei.