My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Troeteldier – Karen se mak messelaarby

Die storie van die messelaarby lees so: Ek het ‘n dogter. O ja, julle weet dit, nè? Ek praat heeldag van haar. My dogter is mooi, slim, hardwerkend, sorgsaam … enige wonderlike beskrywing waaraan jy kan dink. Maar dit weet julle ook. Ek vertel julle elke dag. Wat julle nie weet nie is dat sy effe weird is, in diè opsig dat sy dieretaal kan praat. Diere, reptiele, insekte, goggas en alle ander klassifikasies van enigiets wat nie ‘n mens is nie, vrek oor haar.

Mense vrek ook oor haar. Daar is ‘n hele paar mense wat tou staan om haar aan te neem as ek die dag doodgaan, wat ook weird is, want sy is 33. Neem ‘n mens kinders van 33+ aan?

Die punt is net, sy het ‘n gawe tot kommunikasie. Hierdie gawe maak my gek, want dit beteken dat my huis altyd oopstaan vir enige weird diertjies wat saam met ons kom intrek en nou verwys ek nie na die bure se seun of hulle kat nie. Dis erger as dit. Deur die jare het ons baie weird babadiertjies gehad wat sorgsaam grootgemaak is in haar kamer. Dan bly hulle sommer ook permanent aan.

Die nuutste intrekker is ‘n messelaarby (die Mason bee, ‘n spesie wat deel is van die familie Megachilidae, wat ook Solitary bees genoem word). Hierdie bye woon nie in ‘n swerm nie, het nie angels nie en maak nie heuning nie. Hulle drink die nektar direk uit die blomme en gebruik dit om hulle kleintjies te voed wanneer hulle uitbroei. In die proses versamel hulle ook stuifmeel en word beskou as ‘n stuifmeelversamelaar wat 100% meer effektief is as die gewone heuningbye. Hulle is dus ‘n belangrike toevoeging tot ons eko-sisteem. (Bron: Wikipedia).

Die wyfie is ‘n alleenloper – nadat sy gepaar het, gaan die mannetjie spoedig dood aan natuurlike oorsake. Sy “bou” haar nessie in ‘n holtetjie wat reeds bestaan, byvoorbeeld klein gaatjies wat deur ander insekte in ‘n boomstam gemaak is. Sy lê haar eiers in die gaatjie, laat genoeg plantvoedsel en nektar in die gaatjie vir die kleintjies wat gaan uitbroei en messel dan die gaatjie toe met enige boumateriaal, bv. modder. Vandaar die naam messelaarby.

Hier in Natal het elke vertrek ‘n dakwaaier; ek noem hulle vlieëkak-versamelaars. Die dakwaaiers het onder aan die punt van die toutjies wat jy trek om die waaier en / of dakligte aan te sit, sulke houtklokkies wat hol is van binne met ‘n gaatjie aan die onderkant. My dogter se waaier en daklig word nooit aangesit nie, want ‘n  messelaarby het daar kom nes maak en mag nie gesteur word nie. Karen kry liewer warm en vind haar weg in die donker met ‘n flitslig.

Eers het sy met iets wat gelyk het soos modder ingevlieg en dit in die gaatjies probeer inprop. Toe het sy agtergekom dat die wondergom waarmee Karen die twee klokkies aanmekaar geplak het omdat dit raas as die wind waai, goeie messel-materiaal is.  Vir ‘n lang tyd het sy geduldig die wondergom opgebreek in klein stukkies en in die gaatjies ingeprop. Elke nag het sy in een van die gaatjies gesit en slaap, met die agterlyfie wat op die ou end so halfpad uitgehang het.

Soggens douvoordag het sy by die oop venster probeer uitvlieg, maar aan die begin het sy ‘n paar keer teen die ruit vasgevlieg en bedwelmd op die grond bly lê. Dan het Karen haar saggies opgetel en by die opening uitgesit. Na ‘n week of twee het sy dit reggekry om self die oop venster te vind en Karen het hierdie triomf met groot fanfare kom aankondig.

Die hele proses is natuurlik verfilm. Vanoggend het sy die laaste van ongeveer ‘n honderd fotos geneem om my te kom wys dat die gaatjies nou toegemessel is – sien die foto heelonder. Ek sê maar niks, maar ek wonder tog wat gaan gebeur as die klein baba-messelaarbytjies uitbroei en onmiddellik begin paar soos wat hulle in die natuur doen. Dit gaan ‘n orgie afgee in daardie kamer. Karen reken sy gaan vir hulle ‘n nessie bou en buite haar kamervenster opsit. Dis eintlik baie maklik, want jy hoef net ‘n klompie gaatjies in ‘n plankie te boor en dit iewers in die tuin ophang waar die bye dit sal vind.

Ns. Karen vertel vir my dat daar nou ‘n perdeby is wat probeer om ook nes te maak in haar kamer. Sy is vreeslik verontwaardig daaroor, want dit is een spesie wat selfs vir Karen, die gogga-whisperer, ook piets waar dit seermaak.

Follow Dis Ekke

22 Comments

  1. Ek is mal oor jou dogter – klink nes myne darem net effe minder kwaai en minder Veearts.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie Elanè 😊 Ek het in haar skooljare gewonder of sy dalk sal wil gaan leer vir veearts, maar ek dink sy sal haar doodhuil oor elke siek dier wat doodgaan.

      • Ek het ook so gedink met my dogter, maar ja, sy sê mens leer en besef ook dat daar ‘n fyn balans tussen lewe en dood is. Sy is baie ten gunste van genade dood by mense ook en verstaan glad nie dat mense so moet ly terwyl hulle in hul sterwens uur is nie.

  2. Jou Karen is ‘n besonderse omgee mens.

  3. Wat ñ pragtige post, Hester!!! Ek het regtig nou soveel inligting bygeleer. Jou kind is uniek, die wêreld het baie meer soos sy nodig.

  4. Dit is BAIE interessant!

  5. Fantastiese pos,Hester!Ek en jou kind sal goed klaarkom.Dis die tipe ding wat ek ook van hou…goggas in my huis,almal welkom!

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dan moet jy Natal toe trek. My garage en laundry is oorgeneem deur gekkos en geitjies. Om hulle kakkies uit te skrop, is ‘n daaglikse job. My buurvrou sê ek moet blokkies kamfer koop en daar neersit, want hulle haat die reuk, maar Karen “vergeet” om dit te koop elke keer as sy dorp toe gaan.

  6. Dis nou vrek interesant

  7. Tog te oulik! Miskien moet Karen ‘n klomp van daai kettingkies gaan koop en hulle onder die dakkap hang… mooi in ‘n ry! Kyk hoe lank dit neem om al die gaaitjies toegestop te kry! 😉