My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Wanneer laas het jy ‘n trein hoor fluit?

Trein by spooroorgang Southportstrand, KZN

Wanneer laas het jy ‘n trein hoor fluit? Sit jou klank lekker hard aan.

Alhoewel die weer nog steeds effens wisselvallig is, het die temperature darem sodanig verbeter dat ons nou weer die huis kan verlaat sonder ons warm baadjies en termiese onderklere. (Google sê dis die regte vertaling vir thermal underwear en wie is ek nou om te stry?)

Ons woon sowat 1½ kilometer van die strand af – ‘n lekker 20 minute se stappie met ‘n grondpad langs, oor die treinspoor tot by die strand. Dis waar ons vroeg vanoggend weer, na lange maande se afwesigheid, ons trein raakgeloop het. Die treinspoor is uiteindelik weer herstel en hierdie lyk na nuwe lokomotiewe wat nou die trokke stoot en trek, so al langs die see af.

So nou en dan kry ons ‘n mooi dag wat die wind net so effentjies waai en die son lekker warm skyn. Ja, dis somer en ek het uiteindelik sover gekom om weer te gaan swem.  Op die heel eerste swemuitstappie het ek uit pure opgewondenheid vergeet om nie my kop onder die water te druk nie. So met die opkomslag het ek besef dat ek nou heeltemal doof is, nie net halfpad soos gewoonlik nie. Water in my ore is ‘n pes wat van jongs af my lewe versuur het.

Ek kry gewoonlik die water uitgeskud as ek so op een beentjie spring (ek oefen dit gereeld in die stort), maar hierdie keer wou dit niks help nie. Ek het aan ‘n rots vasgeklou en op en af gespring totdat ons besef het al die strandbesoekers staar ons aan. Nie dat ek hulle kwalik geneem het nie, want ek sal ook staar as ‘n ouvrou skielik uit die water begin spring soos ‘n wafferse dolfyn. My dogter het dit egter nodig geag om vir almal te verduidelik dat haar ma water in die ore het. Groot verleentheid.

Ons het maar so gou as moontlik padgegee na die strandrestaurant toe waar Pa vir ons gewag het om middagete te eet. Hy sit altyd buite onder die bome vanwaar hy kan dophou hoe ons swem en loop. Nie dat hy regtig geïnteresseerd is in wat ons doen nie; hy drink sy biertjie en geniet die geselskap.

Ek het ook probeer deelneem aan die geselsery (ek is uit die aard van die saak nogal goed met liplees), maar die glug-glug geluide in my ore het gemaak dat ek seker ietwat harder as gewoonlik gepraat het. Daar was definitief weer ‘n paar staarders (my woord ja) met opgetrekte wenkbroue. Gelukkig was daar ‘n man met ‘n elektriese kitaar wat begin het om golden oldies te sing en my dogter was baie verlig, totdat sy besef het dat haar ma kliphard saamsing en geesdriftig applous lewer.

Gelukkig het die ongemak en toenemende oorpyn veroorsaak dat ons direk na ete huis toe is. My arme kind. Sy begin nou eers besef hoekom ek altyd my oë so gerol het vir haar ouma.

Die les wat ons hieruit geleer het: dra oorstokkies saam in jou handsak.

 

 

Follow Dis Ekke

32 Comments

  1. Elke dag… treinspoor kruising naby die Landgoed

  2. Trains! I love trains! They were the only form of transport I could use to get home from university – a two day journey only to be shunted onto a siding at Nelspruit in the middle of the night while the rest of the train chuffed off to Mozambique. Sadly we no longer have a train service here and the tracks have become overgrown with grass and weeds.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      This side of Amanzimtoti we don’t have passenger service trains, only a freight train that services the crusher plant on the other side of Port Shepstone. After the latest storm damage to the railway tracks we didn’t think the train would make a comeback. We were quite surprised to see it again.

  3. Ag hoe lekker…. die swemmery, en ete by restaurant, en golden oldies, en saamsing!!! Vertrou jou ore nou weer reg!!! Sou nogal daardie gespringery wou gesien het 😀😀😀

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      My oor is nog steeds ‘n bietjie seer, maar dit sal oorgaan. Ek is altyd versigtig vir wind of water – swem met my kop bo die water soos ‘n speedboat of dra oorpluisies.

  4. Sweer memories…

  5. Die oorstokkies is ook my life savers as dit by water kom. Daardie spingery is ook baie bekend. Ek bly ook naby n treinspoor. So nou en dan sal die trei sy fluit gee voor hy ons stasie in ry. Dis seker so 2 kilometers weg. Ons het selfs n regte ou stoomtrein wat sekere Saterdae ry vir plesierritte. Hy blaas ook sy fluit en dan natuurlik die stoomenjin se “sakka-pakka-sout-en-peper-gee my -stoom-dan-loop-ek-beter.”

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Haha, ek hou van die stoomtrein se ritmiese rympie. My man is mal oor stoomtreine en begoort aan fb groepe waar hy elke dag na videos daarvan kyk. Hier het ons deesdae net diesel-lokomotiewe. Die rede hoekom die trein die hele pad so dringend fluit, is dat almal oor die spore moet loop om by die strand te kom en hulle doen dit sommer op enige plek. Selfs in die dorpe is die spooroorgange almal onbewaak. Ons hoor hom dus van ver af aankom.

      • Dis logies omdat dit onbewaak is en omdat so baie oor die spoor loop. Ons het ordentlike trein stoppe met ligte wat flits, klok wat lui en die arm wat die pad toemaak. Dankry mens nog ouens wat raakgery word omdat hul net gou wou oorry.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ja, hier word gereeld mense raakgery, maar dan gebeur dit op die snelweg ook, want hulle loop heen en weer oor die pad.

        • Hier gebeur daar gereeld ongelukke met treine en mense wat steeds oorloop al is die hek toe. Mense bly maar vreemde wesens.

  6. Treine bring soveel herinneringe..naby n stasie grootgeword.
    Haha vir die ore…tenminste is dit net water.Ek is sommer doof van al die permanente gesuis van ‘n ellendige sonbesie in my ore😳😵

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Oe dit moet irriterend wees. My ma het ook gedurig gekla van haar ore wat suis. Ek het as dertienjarige ‘n sist op my oordrom opgedoen (heeldag in die swembad!) en die vlies is beskadig. Dit raak nogal pynlik as ek oorstokkies moet gebruik om die water te dreineer, maar dit gebeur soms wanneer ek my hare was ook, so ek is al taamlik bedrewe daarmee.

  7. Ek het lekker gelag
    Gelukkig dat jy die trein kon hoor voor die swemmery

  8. Nou het ek heimwee na my dogter se huis in die VSA, waar mens die treine soms so veraf hoor fluit…

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Daar is iets so romanties aan daadie geluid, nè? Dis soos wat ek die ou mishorings langs die Weskus mis. Wonder of hulle nog steeds daardie diep brulgeluid maak.

  9. Og, ek sukkel net so met water wat nie in my ore moet kom nie! Jy het al my simpatie!

  10. Jy kan Swimmers Ear ook probeer (van die apteek) om die water uit te kry. Klink of mens jou oordromme kan seer maak met die stokkies 🙁

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      Dankie vir die raad, ek sal ‘n draai maak by die apteek. Ja, die stokkies is ‘n probleem – my huisdokter sê daar is net een ding wat jy in jou oor mag druk – jou elmboog! 😞, maar hoe gemaak as jou oor pyn van die water en jy sukkel om te hoor?

  11. Klink na n heerlike uitstappie!
    Ek hoor darem nog af en toe die trein daar naby die plaashuis, naweke – dan begun die honnekeners in n koor sing tot die trein nie meer gehoor kan word nie en dan bly almal skielik gelyk stil, nogal snaaks om te hoor.

  12. Kleintyd het ek aan die verkeerde kant van dietreisnpoor gebly en die trein gereeld hoor fluit. Was vir my baie gerusstellend om dit in die nag te hoor, erens is iemand wakker.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      In my kleintyd was die naaste treinspoor 180 km weg. Ons het in Springbok gewoon en die spoor het opgehou by Bitterfontein. Tussen die twee dorpe moes ons met die posbus ry. Ek onthou die rit van Bitterfontein tot in Kaapstad met ‘n steenkooltrein. Dit was ‘n groot okkasie. Jy het pikswart van die roet op die Kaapse stasie aangekom. Destyds kon jy nog ‘n bad huur op die stasie om eers te bad voordat jy die bus kry na jou eindbestemming. Dis heelwaarskynlik hoekom treine my vandag nog so fassineer.

      • Lekker herinneringe!Ons dorpie het ‘n stasiegebou maar geen spoorlyn nie! toentertyd toe die Kaapse spoorwee besluit het ‘n spoorlyn vanaf Botrivier na Hermanus aan te le is ‘n nuwe direkteur aangestel, ene William Hoy. Hermanus was sy liefligdorp en hy het besluit g’n spoorlyn hierheen nie. En dis nou nog so, en gelukkig ook, want dit verhoed ‘n toestroming van lawaaimakers.

        • Comment by post author

          HesterLeyNel

          Ek sien op fb die Kapenaars is kwaad vir julle, want iemand in Hermanus het gesê die Kapenaars kom net soontoe om te kom bad en wasgoed was. Die Kapenaars sê hulle betaal vir die geriewe en waddehel is Hermanus se probleem? Jy moet nou versigtig wees en net fluister oor die lawaaimakers. 😄

  13. Many of ours train crossing are equipped by booms. When we visit Oulu, trains pass very near to our home and they are silent.

    • Comment by post author

      HesterLeyNel

      All the crossings on this particular line are unguarded. It is a freight train and we can hear the whistle from afar.