Daar is alweer oorlog in hierdie huis, die vrede is verby, maar ek het mos voorspel dat die onvrede op een of ander stadium gaan hervat. Kyk maar in my vorige blogpos van drie jaar gelede Ma wil nie grootword nie. Ek dink ek is met die helm gebore.
Met hierdie veranderde weersomstandighede aan die Suidkus kon dit natuurlik nie anders nie; ek moes krapperig raak. Ek meen te sê, verlede jaar het ons nie juis ‘n somer gehad om van te praat nie; daar was sowat drie maande wat amper leefbaar was. Hierdie jaar het ons onophoudelike reën, koue en ‘n snerpende wind van Aprilmaand af. Daar is ook geen teken daarvan dat die weer gaan verbeter nie. Hier sit ek vandag (die 11de Desember) nog steeds met ‘n dik sweetpak aan.
Oei, en ek is verveeld. Ek is moeg vir my gewone tydverdrywe en niks stel my tevrede nie. Ek kla aanhoudend. Tweede seun daar in die Kaap besluit hy gaan die saak beredder en vanoggend vroeg kry ek ‘n SMS van Postnet af – daar is ‘n pakkie vir my, al die pad van die Kaap af. Krismis breek vroeg aan. En in die pakkie? ‘n Nintendo tv game console met al die ou speletjies wat ons voorheen gespeel het.
Dit het net ‘n paar minute geneem om die stelsel aan die gang te kry en siedaar – oorlog. “Jy skiet my! Ek is daai groen tenk, moenie op my skiet nie. Dêmmit!!! Dis ek daai, HOU OP OM MY TE SKIET!”
Gelukkig is ons bure amper nooit hier deur die dag nie. Ons kan laat waai en lawaai. En so nou en dan ‘n onlekker woord uitspoeg. Dit reën buite dat die water spat, maar ons kom niks agter nie, want ons speel Battle City.
Dankie aan ons Kaapse kinders 😍
perdebytjie
Hahaa, lekker Hester!
Lewies Mymer
Haha! Kajuitkoors se moses!
Hester Ley Nel
Jy weet dan!
Anonymous
Hello…
Hester Ley Nel
Hello Anonymous, jy was in my spambox ☺
Tannie Frannie
Bedagsame Kaapse kinders!
Hester Ley Nel
Ja ☺ hulle weet hulle ma raak (ru)moerig as die weer nie toelaat dat sy op die strand kan kom nie.
Anonymous
Hester, ek huil sommer. Hoekom word ek spamboks toe gestuur! My hele ellelange kommentaar is ook weg. Ok, dis nou verby, sal weer probeer. Ek wou dadelik ń vliegtuigkaartjie koop toe ek by jou begin lees…julle het oorlog! Ek moet gaan help! Gelukkig lees ek toe klaar. Drie hoeras vir jul Kaapse kinders. Hulle ken hulle ma.🤣💐
Hester Ley Nel
Jip, jy’s weer in die spambox. Is dit net op my blog of gebeur dieselfde met ander mense se blogs?
Anonymous
Dit is net op jou blog.
Kameel
Moenie sleg voel nie anonymous…. Hester het my sommer uitgeskop. Gedink dis die Kaapse weer…. ag bedoel die Suidkus se weer, se skuld. Gelukkig het sy my weer met ope arms terug verwelkom na haar nuwe adres toe.
Hester Ley Nel
Hoor nou! Kameel praat mos nooit onwaarhede nie, maar ek dink sy het nou daai spek gerek.
Kameel
Die spek gerek 😁😁😁😁😁😁
Hester Ley Nel
I’m a poet and I didn’t even know it.
scrapydo2.wordpress.com
Waar is die dae? Julle sn is weer terug met die ou speletjies. Hier is alles mine craft waarvan ek geen kop of stert van weet nie. Die kinders is mal daaroor, sal ure sit en speel.
Hester Ley Nel
Ek het daai een ook gespeel, maar het hom verloor met een of ander Windows update.
scrapydo2.wordpress.com
Tot die heel kleintjies speel dit as hul n kansie kry. Ons het 8 ipads en n PSF . Daar is elke middag n gehardloop om eerste op lysie te kan kom.
Hester Ley Nel
Oei, hoe beny ons julle. Hier sukkel ons om potlode, penne, uitveërs en liniale bymekaar te maak vir die kleintjies wat volgende jaar skool toe gaan.
travel460
Ek dink ek kry nou weer by jou geskryf.
Hester Ley Nel
Jip, ek kan jou sien 😉
Kameel
Waar was ek die jare toe die speletjie gespeel is? Ken hom van geen hoek of kant nie. Bly jy glimlag weer daar waar jy in jou sweetpak sit en speel. Of skyn die son vandag?
Hester Ley Nel
Battle City? Dis deel van die standaard tv games van nintendo (so 1984). Onthou jy vir tetris? Die son is so effentjies en die wind waai, maar dis ‘n bietjie warmer. Ons het nou-net afgedraf strand toe vir oefening. Die endorfiene het ingeskop en ek smaail weer. 😄
Abrie Joubert
Hier kom die Mother of all Battles!!
Hester Ley Nel
Dis nou wanneer ek ‘n beurt voor die tv kan kry!
rondomtaliedraai
Ag hoe wonderlik. Die jong man is ‘n man so na my hart!
Hester Ley Nel
Myne ook! 💗