Dis Ekke

My vreugdes en frustrasies

Dis Ekke

Om kinders groot te maak

Snaaks hoe die simpelste gebeure deesdae my gedagtegang kan terugstuur op ou paadjies waar ek jare gelede gestap het.

My dogter en ek staan gister daar in die ry by PnP en wag vir ons betaalbeurt. Die pappa voor ons in die ry is besig om vir sy twee seuntjies, seker so vier en vyf jaar onderskeidelik, elkeen ‘n speelgoedkarretjie koop.

Hy wys hulle die karretjies en verduidelik baie mooi dat hy een blouetjie (vir ouboet) en een groenetjie (vir kleinboet) gekoop het. Dis net die kleur wat verskil, sodat hulle elkeen hulle eie karretjie kan uitken, maar verder is hulle presies dieselfde. sê hy, en voeg by: “… en albei ry ewe vinnig. Ek wil nie hoor dat julle twee hieroor baklei nie.”

Hy vang my oog en sien dat ek agter my hand glimlag, sê dan verskonend: “Hierdie twee maak ons klaar met hulle onderonsies.”

Ek weet jong, ek weet, dis nie nodig om verskoning te maak nie. Ek het ook op ‘n tyd twee klein seuntjies gehad (ek het hulle nog steeds, maar die storie gaan nou oor die skermutselings van daardie tyd toe hulle ook so vier en vyf jaar oud was – deesdae kom hule darem beter oor die weg).

Ons het vroeg-vroeg al die stryd opgegee om hulle te leer om speelgoed te deel. Ons het doodeenvoudig twee van alles gekoop op Oudste se verjaardag, omdat Jongste so kort voor Kersgees verjaar het. Kersfees is weer twee van alles gekoop, soms ook net in verskillende kleure. Soms het hulle besluit om uit te ruil en soms het die groen en die blou deurmekaar geraak, maar ons het relatiewe rus en vrede geniet … totdat die Knight Rider reeks sy verskyning op TV gemaak het.

Oudste het lank voor die tyd reeds begin soebat dat hy ook ‘n K.I.T.T. wil hê vir sy verjaardag en in ‘n onbesonne oomblik het ons belowe om dit te kry. Ek het die winkelrakke begin deursoek vir die swart karre wat ek nie regtig kon bekostig nie, maar daar was net een probleem: in die hele Bloemfontein was daar net een van hulle beskikbaar.

Paniek.

Op die laaste minuut het ek besluit dit kon nie anders nie, Oudste sou die swart kar kry, want ‘n belofte is ‘n belofte, en vir Jongste het ek ‘n groot, geel (en heelwat duurder) “tip”lorrie gekoop waarmee hy kon sand aanry uit die tuin – een van sy geliefkooste speletjies. Met die oorhandiging van die geskenke het ek ook mooi en op redelike wese probeer verduidelik wat my probleem was.

Ek kon ook maar gesjarrap het, want Jongste het net daar opgestaan en ‘n hamer uit sy pa se toolbox gaan haal. Hoe hy die swaar hamer opgetel het, weet nugter, maar hy het vir K.I.T.T. so plat geslaan dat daar nie eens ‘n I.T. oorgebly het nie. Oudste het sy beurt afgewag en die geel lorrie dieselfde eer aangedoen.

Daardie Kersfees het daar geen geskenke opgedaag nie. As ‘n man sterk genoeg is om ‘n hamer op te tel, moet hy sterk genoeg wees om die nagevolge ook te dra.

Free Knight Rider Live Wallpaper

wallpapersafari.com

Follow Dis Ekke

35 Comments

  1. Ai, kinders grootmaak is nie vir sissies nie! Kersfees was seker ‘n droë ervaring vir die twee.

    • Mmm, kon wees, maar om verskeie redes was kersfees nooit ‘n “ding” in ons lewens nie. Ek dink die weerhouding van verdere geskenke was meer teleurstellend.

  2. Lekker smile em nou in die stilligheid.

    • Geen simpatie nie? Jip, gelukkig kan ‘n mens agterna smile, maar solank jy jou in daardie situasie bevind, het jy meer lus om al jou hare uit te trek.

      • Ek het darem self ‘n tweeling seuns gehad. Sout en peper. Kerrie en borrie. Skuur skuur skuur.

        • Ai tog. Ek weet nie altyd hoe ek dit oorleef het nie; ek het voltyds gewerk en deeltyds studeer ook nog. Hierdie twee is nou groot vriende, maar daar is nog steeds die neiging om te kompeteer.

  3. Ja, die wedywering tussen kinders. Almal doen dit en daar is net nie n oplossing voor nie. Dis baie moeilik om te deel. Dis ook lekker om die jonges te sien hoe hul die dinge oplos. Presies soos jy dit gedoen het ha ha.

    • Ja, jy kry nie ‘n handboek om kinders groot te maak nie. Of, sal ek liewer sê – daar is baie handboeke, maar nie een van hulle werk juis nie. Kinders is komplekse wesens.

      • Jy vertel my. Elkeen het ook sy eie -geite wat uitgestryk moet word voor hul volwasse lewe kan aanpak. Party bereik ook maar nie die volwasenheid nie.

  4. Ons het ook op daardie pad geloop – dankie vir die herinneringe.

  5. The joys of parenthood!

    • Soms is ek bly myne is groot, want deesdae lyk ouerskap soos ‘n mynveld van kompeteer met ander ouers en kinders. Ten minste het ons kleintjies nog ongestoord gespeel en eers in hulle tienerjare agtergekom dat klere ontwerpersname moes hê, maar toe het hulle ook reeds geweet om liewer nie te vra nie … 😄

  6. Ek glimlag ook maar net. Drie dogtertjies was dalk bietjie makliker, maar ons het ook altyd dieselfde moes aankoop. Daar was die tyd toe Dianna en Charles getroud is, en daar maak hulle sowaar die stelle trou- Barbie en Ken poppe. Ons was bankrot! Maar gelukkig het Kersvader onbeperkte voorraad gehad…

    • Weet jy wat het my teen die mure opgedryf? Die idee dat die koeldrank in die glase tot op die laaste millimeter afgemeet moes word sodat die een nie meer kry as die ander nie! O ja, en die Marie Biscuits – een vir jou … en een vir jou … en een vir jou 😄

  7. Dit klink soos ek en my jonger suster, die male version… ons sin was presies so… die female version. My arme ma en pa met 2 dogtertjies so bymekaar…

    • Ja, dis hard, maar my skoonma het altyd gesê die beste deel van ouerwees is wanneer jy al jou kinders nog onder een kombers kan toemaak. Sy was reg. Mens verlang soms terug na daardie dae.

  8. Hehehehehe … ouerwees is nie vir sissies nie

  9. Wel Hester dis ‘n klassieke voorbeeld van tough love – optrede dra gevolge. Toe ek klein was het ek seker maar ‘n meganiese ingenieur streep in my gehad. Ek het al die speelgoed uitmekaat gehaal want ek wil sine wat binne aangaan maar ek het nie vermoe gehad om dit weer aanmekaar te sit nie. Eenmaal het ek ‘n radio uitmekaar gehaal en my pa wou niks weet van dat ek die mense biine in gesoek het nie – my boude het gebrand

    • Wel Abrie … wees seker jou pa het agterna lekker gelag oor daai verskoning.

      • As klein kind het ek regtig gedink daar is mense in ek het self gedink daar is mense binne in die bioskoop skerms maar dan ek is maar ietwat blond want ek het mos as volwassene gewonder hoe weet WordPress wat “more in WordPress” is…

  10. Foitog – lekker lag ek nou! Ek sou hulle n vet hou op die boud gegee het.

    • Ek het meermale lus gehad om dit te doen, maar het in ‘n huis grootgeword waar lyfstraf net so kort duskant mishandeling omgedraai het. Ek was een van daardie ma’s wat sulke diaboliese strawwe uitgedink het – geen TV vir twee dae, niks maatjies Saterdagoggend nie, Sondagmiddag se poeding is hierdie week afgeskaf, maar meesal was net die KYK nodig om die peleton op aandag te bring.

      • Jammer om te hoor! Baie bly as die KYK vir hulle gewerk het. Bitter min help vir andag se kinders. Want dit is mos GEHOORSAME OUERS!

  11. Jy is ‘n wyse ma. Goed gedaan! Veral omdat arme K.I.T.T deurgeloop het!!!! Hy was my held in die 80s!

  12. Og, en nou sit ek met daardie temaliedjie in my kop…

  13. Ai, ai….. moes nou lag al was dit ook ‘n duur les; vir jou en die twee seuns.

    • Jong, en ek weet nie aldag of hulle “makliker” word soos wat hulle ouer raak nie.

      • Nee Hester hulle doen nie…. soos my ma gesê het dit is maklik wanneer jy hulle almal onder een kombers kan toemaak, maar wanneer hulle eers daar uitklim en hulle eie pad vat. Dan kry hulle nog vrouens, en mans en kinders by…. en soos ‘n taxi laai jy almal in jou hart. En daar lê die ding!!!

Leave a Reply

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

Theme by Anders Norén

Back to Top
%d bloggers like this: