Ons het verlede week op ‘n winderige dag besluit om ‘n orgidee-kweekhuis te gaan besoek. Ek kon nog nooit in my lewe ‘n orgidee aan die groei kry of aan die lewe hou nie en was baie beïndruk met wat ek gesien het, maar daarvan vertel ek later.
Terwyl ek na die blomme gekyk het, het my gedagtes teruggespring tot so amper ‘n kwarteeu gelede – Desember 1993, om presies te wees. Ons het in Bloemfontein gewoon, dit was skoolvakansie en Kersfees was op hande. Ek het besluit om my drie kinders en my Kodak 110 Film kamera op ‘n uitstappie te neem sodat ons ‘n paar foto’s kon neem om uit te stuur saam met kerskaarte vir die familie en vriende (wie doen dit deesdae nog?). Ons was onder meer by die Orgidee-huis en dit is hoe die geheuesprong ontstaan het.
Gisteraand het ek gaan soek na die foto’s en plaas ‘n paar van hulle hieronder. Die fotos is effens pixellated; die digitale era was nog ‘n paar jaar vorentoe in die toekoms.
Die twee boeties was duidelik net so aan die beginstadium van hulle tienerjare, vol nukke, reeds vasgevang in die tiener-bravade, hardegat-rebelse tydperk van hulle lewe. Daar is net ‘n jaar verskil in ouderdom tussen die oudste (die blondekop) en die jonger een (vandag die pa van ons enigste kleinkind). Kyk net na daardie diep donker uitdrukkings wat op die gesig geplak word vir die foto’s, terwyl hulle soos standbeeldjies poseer. Let ook op dat die kuiwe darem windmaker gekam is en die klere met sorg reggetrek is vir elke foto, wat natuurlik die feit weggee dat hulle wel nog omgee wat die wêreld van hulle dink.
Sussie, ‘n laatlam en baie rustiger as die boeties, het haar alles laat welgeval, want daar was immers die belofte van roomys mits almal hulle gedra. Ons het op die ou end gevriesde jogurt geëet, wat toe ook nog ‘n nuwigheid was.
Aan die einde van die dag het ‘n vriendelike verbyganger aangebied om al vier van ons af te neem op ‘n stel trappe wat ek nou om die dood nie meer kan identifiseer nie. Hy was so effe onhandig met ‘n kamera, maar die skewe foto het ‘n bekoring van sy eie en is nog steeds een van my gunsteling familiefoto’s.
Ek dink kind-grootmaak is net so onvoorspelbaar soos orgideë-kweek; hulle groei nie altyd soos wat jy dink die groeiproses behoort te verloop nie en ek is seker nie die enigste ma wat haar verwonder aan die feit dat haar kinders wel oorleef en gedy het ten spyte van onsekere opvoedingsmetodes nie. Maar my orgideetjies het nie te sleg uitgedraai nie, het hulle?












Hillechien
leuk die oude foto’s en orchideeën zijn toch best gemakkelijk te houden vind ik er staan er weer twee te bloeien bij me
HesterLeyNel
Hulle is pragtig, maar ons het voorheen in streke gewoon waar die klimaat nie regtig geskik was vir orgideë nie. Dit lyk asof hulle goed doen hier waar ons nou is. Dankie vir die inloer Hillechien.
travel460
Hulle was/is pragtig, Hester. Jy ook! Kan self nie glo ñ mens kry hulle in een stuk groot nie. Jou kleinkind, waar bly hulle?
HesterLeyNel
In die Kaap. My seun (en sy vrou) het by die Tygerberg College gekwalifiseer as chefs en hulle het sommer daar in die Kaap aangebly.
travel460
Eina. Dit is vêr van julle af! Hoe oud is jou kleinkind?
HesterLeyNel
Twee jaar en tien maande. Ons het lank gewag vir haar.
travel460
Klein dogtertjie. Ag ouma, sy is seker julle hele gesin se oogappel.🤗
HesterLeyNel
Ja en hulle woon by ander ouma en oupa, so sy is die middelpunt van alle aandag.
travel460
Ek glo jou. Jou hart trek seker soms op ń punt soontoe.
HesterLeyNel
🙂
Blog Andrew
Beautiful family photographs Hester 🙂 I don’t read Afrikaans but having written many family posts myself I have a good idea it will be full of nostalgia.
HesterLeyNel
It is. These photos are of my three children in earlier years. The pictures were taken during the December holidays 1993. Thx for dropping by Andrew.
Blog Andrew
Ahh 🙂 I see, lovely Post.
HesterLeyNel
Thank you 🙂
joke_dev
jouw twee orchideetjes zijn goed uitgegroeid :-)! Leuke herinnering, knap geschreven en ik heb ervan genoten. Orchideeën kweken is niet mijn ding, ze sterven allemaal, teveel of te weinig water krijgen ze 🙂
HesterLeyNel
Dankie Joke. Ek maak nie deesdae vreeslik tuin nie; ek verkies nou om ander mense se blomme te bewonder.
Lewies Mymer
Lekker so in Memory Lane, soms met ‘n bietjie hartseer.
HesterLeyNel
Ja dit is so. Die jare het vinniger verbygegaan as wat ons kon voorspel het.
rondomtaliedraai
Ai ek weet nie hoe kan mens vandag se dae kinders groot maak nie Dit kos darem ongelooflik baie geld. Dit maak my skoon benoud Oulike foto’s
HesterLeyNel
Ja, ek is baie bly ek is verby daardie stadium. Myne was klaar duur genoeg. Dit lyk ook vir my asof deesdae se jong ouers met mekaar kompeteer om te sien wie kan die duurste kinderpartytjies hou en die meeste speelgoed koop. My kinders was nie so gelukkig nie.
rondomtaliedraai
Ja en die troues is angswekkend
HesterLeyNel
Huwelike is angswekkend 😀
rondomtaliedraai
Hehehehe voorwaar!
perdebytjie
Dis lekker om so ‘n kykie in jou verlede te kry!Oilike foto’s en die seuns lyk nie té ongemaklik nie.😄
HesterLeyNel
O ek dink die meeste van die ongemak was ook maar net voorgee. Hulle hou van aandag – nou nog.
Eveline Lenderink
Raar he, als je dergelijk foto s bekijkt denk je ” waar is de tijd gebleven” je knippert even met je ogen en je bent gepensioneerd en je kinderen zijn allang volwassen.
HesterLeyNel
Dis nou die reine waarheid!
aj vosse
Elke keer as ek daai laatjies van jou sien dink ek aan die vuilbek insident! 😉
Net so by the way… dis die eerste keer dat ek Bloem in die dag van Naval Hill af sien!! 😀
HesterLeyNel
He who is devoid of the power to forgive is devoid of the power to love. MLK Jnr. Haha. Bloem is nogal ‘n mooi stad met al die ou geboue (dié wat nog nie afgebrand is nie), sy breë strate en talryke bome. Ons was baie lief om daar te gaan ontspan, maar mense sê dis dalk nie deesdae meer so veilig nie.
aj vosse
En die rose… en die onderwys kollege… skrikwekkend! Het my eerste vrou daar ontmoet! 🙁 Skrikwekkend!
HesterLeyNel
😀
scrapydo2.wordpress.com
Ha ha, dis te dierbaar. Ek dink nou ver terug toe my oudste suster verloof geraak het doer in 1960s,. Swart en wit fotos van ons by die Hetzog toring! Daardie eendsterkuif van my swaer laat my nog steeds lag, Ja die “jeug” fotos van die kinders wat nou self kinders het is darem maar heerlike herinneringe wat terugkom. Ek het vandag weer klein Bea vasgehou en so gewens my man kon sy seun sien, hoe trots hy op die kleinding is.
HesterLeyNel
Dink net hoe lekker dit sou gewees het as ons sulke fotos van ons voorgeslagte en onsself kon hê. Ek het baie min fotos beskikbaar van my ouers en myself / my man, omdat die tegnologie nog nie so ver gevorderd was soos vandag nie.
scrapydo2.wordpress.com
Beslis so. Ek het n klompie swart en wit fotos wat my pa geneem het. Hy was nooit op n foto nie omdat hy dit geneem het. Toe ek my eerste kamera gekry het het ek gereeld fotos geneem. Dis egter vandat ons kinders al groot was.
HesterLeyNel
My pa was self ‘n ywerige fotograaf, maar destyds was die kleurskyfies mos in die mode. Ek het nog ‘n kis vol skyfies, maar hulle het heeltemal uitgebleik en jy kan beswaarlik sien wat op hulle aangaan. Dis heelwaarskynlik te wyte aan die warm ligte van die projektors wat ons gebruik het om daarna te kyk.
scrapydo2.wordpress.com
Ek het self ook tonne skyfies geneem wat steeds nog heel goed lyk. Dis egter so duur om dit oor te sit. Ek het self n klomp oorgedra maar dis maar nie te goed nie. Tog, die herinneringe is darem daar. Ek en Tina was Sud Amerika toe gewees. Sy het fotos geneem en ek het skyfies. Interessante fotos daartussen gekry.
HesterLeyNel
Ek kyk so nou en dan op die internet of iemand al ‘n ordentlike DIY app geskryf het om skyfies te skandeer, maar ek raak sommer noeg as ek dink aan al daardie 1000’de skyfies wat ek sal moet sorteer.
scrapydo2.wordpress.com
Ja, my kassie met my Sudwes skyfies het eenkeer uitgeval en ek het hul sommer deurmekaar teruggesit. Ek sug ook sommer as ek daaraan dink. Ek hou van orde en opvolg en die klomp is beslis deurmekaar.
scrapydo2.wordpress.com
Dit vat lank om een skyfie deur die masjien te sit. Hy moet nog op regte manier ingesit word ook.
Toortsie
Jpu orgideë is pragtig!
HesterLeyNel
Dankie Toortsie 🙂
dromer777
Dis so oulik. Ek wens ek het meer fotos geneem toe my kinders klein was.
HesterLeyNel
Ja, ‘n mens dink jy sal altyd die kindergesiggies onthou presies soos wat hulle was, maar jy vergeet tog maar. Ek het gelag toe ek hierdie klompie fotos bekyk en weer die vreeslike kuiwe raakgesien het.
Hier "blok" Elanè
love jou memory lane…
HesterLeyNel
🙂
Abrie Joubert
Tmidde van al hierdie kommentare word daar te veel gese van jou kinders en te min van jou. Helaas is ek ‘n teruggetokke knaap wat deur groepsdruk intimideer word en gaan eerder nie se wat ek wil se nie. Nee wag net om te wys ek is nie so intimdeerbaar gaan ek tog iets se wat die ander nie gese het nie… lyk of dit lekker weer was toe doe fotos geneem is 🙂
HesterLeyNel
Grapkas! Dit was inderdaad. Bloemfontein se somers was hemel op aarde en die winters ‘n bittere beker om te drink. Ek het my eerste winter daar omgehuil, maar absoluut verlief geraak op die plek toe die somer aangebreek het. Ons het twee keer daar gewoon – van 1981 af vir 5 jaar en weer van 1993 af vir 7 jaar.
shadowwhisper
Pragtige gesin. Dankie vir die deel.
HesterLeyNel
dankie 🙂